Hoofstuk 2 - VERWERPING VAN DIE DWALINGS

Die regsinnige leer is nou uiteengesit.

1.  Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het sy Seun tot die kruisdood bestem sonder 'n vaste en bepaalde besluit om iemand uitdruklik salig te maak. Die noodsaaklikheid, nuttigheid en waardigheid van die verdienste van die dood van Christus sou gevolglik ongeskonde, in alle opsigte volmaak, volkome en as een geheel kon bestaan, selfs al sou geen enkele mens ooit werklik gedeel het in die verlossing wat Hy verwerf het nie.
Die Sinode leer: Hierdie leer verag die wysheid van God die Vader en die verdienste van Jesus Christus en is in stryd met die Skrif. Ons Verlosser sê immers: Ek lê my lewe af vir die skape, en Ek ken hulle (Joh. 10:15, 27). En die profeet Jesaja sê van die Verlosser: As sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees (Jes. 53:10).
Verder weerspreek dit die geloofsartikel waarmee ons ons geloof aan die kerk bely.

2.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die doel van Christus se dood was nie om die nuwe genadeverbond werklik deur sy bloed te bevestig nie. Dit was slegs maar om vir die Vader die blote reg te verwerf om opnuut met die mense 'n verbond van die genade of van die werke, net soos Hy wil, te kan sluit.
Die Sinode leer: Dit is immers in stryd met die Skrif, wat leer dat Christus Borg en Middelaar geword het van 'n beter, dit wil sê, van die nuwe verbond (Heb. 7:22) en dat 'n testament eers by 'n sterfgeval geldig is (Heb. 9:15, 17).

3.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het deur sy voldoening vir niemand met sekerheid die saligheid verdien nie; ook nie die geloof waardeur hierdie voldoening van Christus kragdadig tot saligheid toegeëien word nie. Hy het, daarenteen, slegs die mag of die volkome wil vir die Vader verwerf om opnuut met die mense te handel en om nuwe voorwaardes, soos Hy wil, voor te skrywe. Die uitvoering daarvan sou van die vrye wil van die mens afhang. Dit sou dus kon gebeur dat òf niemand òf alle mense die voorwaardes sou kon nakom.
Die Sinode leer: Hierdie mense minag die dood van Christus geheel en al en aanvaar op geen wyse die vernaamste vrug of weldaad wat daardeur te weeggebring is nie. Hulle roep weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug.

4.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het 'n nuwe genadeverbond met die mense deur die tussenkoms van die dood van Christus gesluit. Hierdie verbond bestaan nie daarin dat ons deur ons geloof, vir sover dit die verdienste van Christus aanneem, voor God regverdig en salig gemaak word nie. Dit bestaan daarin dat God, nadat Hy die eis van die volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet afgeskaf het, nou die geloof self en die onvolmaakte geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet beskou en dit dan uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te beloon.
Die Sinode leer: Hierdie mense weerspreek die Skrif: Hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof (Rom. 3:24-25). Met die goddelose Socinus voer hulle 'n nuwe en vreemde regverdigmaking van die mens voor God in. Dit is in stryd met die eenstemmige belydenis van die hele kerk.

5.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Alle mense is in die staat van die versoening en in die genadeverbond opgeneem, sodat niemand vanweë die oorspronklike sonde aan die verdoemenis skuldig is of verdoem moet word nie maar dat alle mense van hierdie sondeskuld vry is.
Die Sinode leer: Hierdie mening is in stryd met die Skrif, wat verklaar dat ons van nature kinders van die toorn is (Ef. 2:3).

6.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat die onderskeid tussen verwerwing en toe-eiening misbruik om by die onversigtiges en onervarenes die denkbeeld in te prent: Dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die weldade wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sonde en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af, wat hom aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word. Dit hang nie van die besondere gawe van die barmhartigheid af wat kragtig in hulle werk, dat hulle, anders as ander mense, hierdie genade vir hulleself sou toe-eien nie.
Die Sinode leer: Daardie mense wat voorgee dat hulle hierdie onderskeiding reg voorstel, probeer om die volk met die verderflike Pelagiaanse dwalings te vergiftig.

7.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus kon en moes nie vir hulle gesterf het vir wie God volkome liefgehad en tot die ewige lewe uitverkies het nie. Inderdaad het Hy ook nie vir hulle gesterf nie, omdat sulke mense die dood van Christus nie nodig gehad het nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek die apostel wat sê: Christus het my liefgehad en het Homself vir my oorgegee (Gal. 2:20). Met dieselfde strekking sê hy: Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het (Rom. 8:34), juis vir hulle. Hulle weerspreek ook die Heiland, wat sê: Ek lê my lewe af vir die skape (Joh. 10:15), en: Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee (Joh. 15:12-13).