In die uur van die groot krisis laat Christus Sy dissipels rus

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 26
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Ds. H. Geertsma te Goes

Liturgie vir erediens op 25 September 1988 om 10h00
AFKONDIGINGS
VOTUM EN SEËN
PSALM 124: 1 - 4
GELOOFSBELYDENIS
SKRIFLESING: Mattheus 26 vers 30 tot 46
GEBED
KOLLEKTE
PSALM 32: 1, 3, 4 en 6
TEKS: Mattheus 26 vers 45A.
PREEK
PSALM 145: 1, 5, 10, 11 en 12
DANKGEBED
PSALM 60: 4
SEËN

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Elke mens het op sy tyd slaap nodig. Na 'n dag se harde werk kan 'n goeie nagrus 'n verkwikking wees. En as u baie bekommernisse het, is dit 'n seen as u snags goed kan slaap. Dan kan die gees 'n bietjie tot rus kom.

Slaap is belangrik. Alleen: u moet wel weet wanneer dit tyd is om te slaap. En wanneer dit tyd is om wakker te wees. Sondae in die kerk is uiteraard nie 'n tyd om te slaap nie. In die week, wanneer u u werk moet doen, ook nie. Die Bybel het geen goeie woord vir mense wat hul tyd verslaap nie. "Hy wat vas slaap in die oestyd, is 'n seun wat skande maak", se Spreuke 10 vers 5 byvoorbeeld.

Nou weet u dat "slaap" in die Bybel ook dikwels 'n geestelike betekenis het. U kan liggaamlik wakker wees en geestelik slaap. Die liggaam waak, maar die hart slaap. Dit beteken dat u nie bedag is op die aanvalle van die vyand nie. U is nie paraat, soos soldate paraat moet wees in die oorlogstyd nie. Gereed om te veg, sodra dit nodig is. U laat uself rustig deur die sonde oorweldig. En dit beteken dat u ook nie meer lewe in die verwagting van die wederkoms van Christus nie.

Die geestelike slaap, daaroor spreek die Bybel natuurlik glad nie goed nie. Die HERE verwag van sy kinders dat hulle altyd wakker sal wees. Self is Hy altyd wakker. Psalm 121 vers 4 se: "Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. " Dag en nag waak Hy oor die heil van sy volk. As ons 'n God het wat altyd wakker is, sou ons dan maar gemaklik aan die slaap kan raak?

Nou gaan dit in ons teks ook oor mense wat slaap. Slapende dissipels. Dit is 'n liggaamlike slaap, sou u se. En u het gelyk. En tog is dit nie net dit nie. In daardie slaap is daar ook wel deeglik 'n geestelike element. Daarop kom ons later terug.

Maar as dit so is, is dit dan nie vreemd nie, dat die Here Jesus vir sy dissipels se dat hulle maar verder moet slaap? Hoe dikwels het Hy nie vir hulle gese dat hulle wakker en waaksaam moet wees nie? Vers 41: "Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. " Hoe kan Hy dan nou se: "Slaap maar voort en rus"? Hoe moet ons hierdie woord van ons Heiland verstaan?

Ons sal sien. Ek som die boodskap van die teks so vir u op:

IN DIE UUR VAN DIE GROOT KRISIS LAAT CHRISTUS SY DISSIPELS RUS.

Dit beteken drie dinge:

  1. Hy ontdek hulle aan hulle ellende;
  2. Hy troos hulle met sy verlossing;
  3. Hy open vir hulle die weg van die dankbaarheid.

1.

Broeders en susters, hoe slaperig was die dissipels nie daar in die tuin van Getsemane. Drie van hulle het saam met die Here Jesus in die tuin ingegaan: Petrus, Johannes en Jakobus. Op 'n gegewe oomblik het Jesus vir hulle gese: bly julle hier. Self het Hy toe 'n entjie verder gegaan. Daar het Hy sy gebedstryd gevoer. En dit het 'n uur geduur, die eerste keer. Maar hulle was nie in staat om vir daardie een uur wakker te bly nie.

Nou kan ons natuurlik wel goeie redes aanvoer om dit te verklaar. Wat 'n dag het die dissipels dan ook nie gehad nie. Alles het in die teken gestaan van die naderende afskeid. Sterker as ooit tevore het Jesus met hulle oor sy dood gepraat. En daar was nog meer sake aan die orde. Dat Hy hulle sou verlaat om terug te keer na sy Vader in die hemel. En dat Hy hulle dan sy Heilige Gees sou stuur as sy plaasvervanger.

Hulle het glad nie alles verstaan nie. Dit was alles so buitengewoon; hulle het nog nie halfpad besef wat alles op hulle gewag het nie.

En dan nog al die ander dinge. Die mededeling van Jesus dat een van hulle Hom sou verraai. Die waarskuwing aan Petrus dat hy Hom drie keer sou verloen. Hoe beklemmend was dit alles nie!

En dan veral die ervaring van sopas, toe hulle Getsemane binnegegaan het. Dat hulle Meester so verskriklik bedroef en beangs begin word het. Hulle sterk Meester, wat 'n legioen duiwels uitgewerp het en wat die storm en die golwe met een woord tot bedaring kon bring, Hy het begin bedroef en benoud word, so staan daar in vers 37.

Hulle het inderdaad baie gekry om te verwerk. Is dit dan nie verstaanbaar, dat hulle hul oe nie meer kon oophou nie? En dat hulle, moeg van al die emosies, aan die slaap geraak het nie?

Maar, broeders en susters, as ons dit net van daardie kant af sou beskou dan sou ons tog tekort doen aan die erns van hierdie gebeurtenis. Want, begryplik of nie begryplik nie, dit is tog maar 'n feit dat hulle in hierdie spannende uur gele en slaap het. Die mense wat die naaste aan Jesus gestaan het, het op die kritieke oomblik Hom alleen laat worstel. Hulle was op geen enkele manier betrokke by sy lyding hier in Getsemane nie. Van meelewing was daar totaal geen sprake nie. Terwyl Hy daarom so dringend gevra het: "bly hier en waak saam met My". Was daardie medelye ook nie vanselfsprekend gewees nie? Hulle was tog lief vir hulle Meester? En hulle het tog gesien hoe moeilik Hy dit het? 'n Mens kan tog saamworstel in die lyding van iemand vir wie hy lief is, ook al ondergaan hy nie self daardie lyding nie?

Maar die dissipels kon nie daarvoor wakker bly nie. Die slaap het hulle oorweldig. En ons hoor die klank van die verwyt in die woorde van die Heiland toe Hy die eerste keer by hulle terugkom: "Was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? " Hy het hulle gemeenskap gesoek, maar nie gevind nie. Reken maar, dat sy verwytende woorde deur hulle siel gesny het. Hulle sou hulle weggeskaam het.

'n Mens sou se dat hulle die tweede keer wel versigtiger sou wees, dat dit hulle nie weer sou oorkom nie. Maar toe Jesus die tweede keer terugkom, het hulle weer geslaap. En by die derde keer! Tot drie keer het Jesus geen gemeenskap by hierdie drie dissipels gevind nie. Petrus, met sy stoere woorde: "Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie" (vers 33), hy le en slaap. En Johannes en Jakobus, die manne met die indrukwekkende bynaam Boanerges, seuns van die donder (Markus 3: 17), hulle het hier niks indrukwekkends gedoen nie. Hulle het geslaap. Slapend het hulle die Heiland alleen gelaat.

En dan kom ons teks. Met daardie merkwaardige woord. As die Here Jesus vir die derde keer weer by sy dissipels kom en hulle aan die slaap vind, se Hy: "Slaap maar voort en rus". Dit is tog iets heel anders as wat Hy eerder gese het!

Goed, u kan se: die gebedsworsteling in Getsemane is verby; daarvoor hoef hulle nou nie meer wakker te bly nie; daarvoor is dit te laat. Maar daar wag tog nog heelwat meer vir Jesus as wat Hy hier deurgemaak het? Hy se dit immers Self, direk na die woorde van ons teks: "Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars". Die soldate is al in aantog met hulle swaarde en stokke. Die verraaier kom al. Is dit dan 'n oomblik om te slaap? Word dit nou nie heeltemal tyd om wakker te wees nie? En om aandag te he vir die dinge wat gaan kom? Moet hulle nie nou skouer aan skouer langs Jesus staan nie?

Maar Jesus se: "Slaap maar voort en rus". Slaap maar verder. Letterlik vertaal staan daar: slaap nou maar vir die res van die tyd. Die res van die tyd, dit is die uur waarvan Hy dadelik daarna spreek: die uur van verraad en arrestasie, die uur waarin sy lyding 'n dieptepunt gaan bereik. In daardie uur mag hulle slaap.

U voel wel dat die Here Jesus dit nie letterlik kon bedoel het nie. Want onmiddellik daarna se Hy: "Staan op, laat ons gaan". Daar is regtig geen geleentheid om weer in te sluimer nie, soos hulle dit tot nou toe steeds gedoen het.

Wat bedoel die Here Jesus dan wel? Hy bedoel dat hulle in die uur wat nou aangebreek het buite sy lyding sal staan. Soos hulle die afgelope ure hier in Getsemane ook buite sy stryd gestaan het. Dat hulle telkens weer aan die slaap geraak het, dit beteken dat hulle nie betrokke was by sy gebedsworsteling nie. As Jesus dan se: slaap nou maar verder, dan beteken dit: u sal ook nie betrokke wees by my verdere lyding nie. Die dissipels is afgekeur vir die saamgaan op die lydensweg.

Hier in Getsemane het 'n keuring plaasgevind. In hierdie nag is hulle almal gekeur - die Here Jesus ook! Hy is gekeur as Offerlam. By Hom moes dit blyk dat Hy werklik die Lam kom wees wat die sondes van die wereld sou wegneem. Of Hy bereid was om tot die uiterste toe te gaan om sy mense te verlos. En Hy het die keuring geslaag. Dit het inderdaad geblyk dat Hy tot die uiterste wou gaan. Hy het gese: Vader, U wil geskied. Ek sal die beker drink wat U aan My gee.

By die keuring van die dissipels het dit gegaan oor die vraag of hulle die Offerlam sou kon volg op sy weg na die slagting. Of hulle langs die Heiland sou kon staan in sy bittere stryd. En hulle het die keuring nie geslaag nie. Dit is proefondervindelik bewys dat hulle die gemeenskap met Christus nie kan volhou in sy lyding nie. Daarom se Christus: slaap maar verder.

In die tema van die preek is dit so geformuleer: Christus laat sy dissipels rus. Wanneer u met 'n bepaalde saak nie vorder nie, dan kan u op 'n gegewe oomblik se: ek laat dit daar rus. So se Christus hier in feite van sy dissipels: Ek laat hulle maar rus. Hy kom met hulle nie verder nie. Hy kan met hulle niks doen nie. Hy sal dit regtig alleen moet doen.

O ja, hulle gaan nog wel met Hom saam, die vyand tegemoet. Maar dit beteken nie ware gemeenskap in die stryd nie. Petrus probeer nog wel iets, met sy swaard. Maar daarmee is Christus nie geholpe nie. En dit word dan ook dadelik deur Hom afgestraf. En vir die bende wat Hom kom arresteer se Hy: as julle My soek, laat hulle dan weggaan. U kan se: dit is die goeie sorg van Jesus vir sy dissipels; die Herder waak daarvoor dat daar niks met sy skape gebeur nie. Maar dit is ook 'n kwessie van buite-spel-plasing. Laat hulle maar gaan, die dissipels! Dit het geen sin dat hulle saamgeneem word nie. Hulle kan vir Hom tog niks beteken nie. Laat hulle maar rus.

U voel wel, hierdie woord van die Here Jesus in ons teks is nie baie lekker vir die dissipels nie. Dit spreek hulle eintlik nog harder aan as Jesus se woorde van pas gelede: Was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Dink maar aan 'n vader wat vir 'n onwillige kind se: Jy hoef my nie meer te help nie; op jou kan ek tog nie staatmaak nie. Dit is tog harder as wanneer hy sou se: Kon jy my nie vir een uur gehelp het nie?

Hierdie woord, broeders en susters, ontdek die dissipels aan hulle ellende. Die ellende is dat hulle niks, maar dan ook niks, kan bydra in die stryd om die verlossing van die mensheid nie. Christus en die Satan stry oor die groot vraag wie voortaan die wereld onder sy heerskappy sal he. En wie regte op die kerk kan laat geld. Op God se uitverkore kinders. In die stryd sal Christus die Satan moet verslaan. En dan sal Hy 'n verloste kerk moet tuisbring by sy Vader in die hemel: Kyk, Vader, hulle is myne, en dus is hulle U s'n, u kinders. Ek het gestry om hulle uit die mag van die duiwel te verlos.

Maar Hy sal dit heeltemal alleen moet doen. Sy dissipels staan magteloos opsy. Afgekeur in Getsemane. Hulle kan niks anders nie as rus.

En die rustende dissipels, broeders en susters, hulle verteenwoordig 'n rustende kerk. Op die slagveld tussen Christus en die Satan le dir kerk en slaap. 'n Magtelose kerk. 'n Kerk wat niks tot sy eie redding kan bydra nie. As u en ek daar sou gewees het, daar in Getsemane, dan sou ons dieselfde van Christus gehoor het as wat die dissipels gehoor het: Slaap maar voort; Ek kan niks met julle uitrig nie.

Hierdie woord is vir ons 'n vernietigende woord. Wie is ons eintlik? As dit gaan om die saak wat van die hoogste belang is in die wereld, staan ons volkome buite spel!

2.

So ontdek Christus ons dus aan ons ellende. Maar Hy troos ons ook met sy verlossing. Dit is die tweede punt waarvoor ons aandag gevra word.

Wanneer Christus vir sy dissipels se: "Slaap maar voort en rus", dan is daarin tog ook 'n positiewe klank. Hy kan sy dissipels ook laat rus. Want Hy is nie van hulle afhanklik nie. Dit is die majesteit van u Heiland, broeders en susters, dat Hy dit sonder sy dissipels kan doen. Niemand hoef bang te wees, dat daar niks van sal kom nie, noudat Hy alleen staan nie.

Daar klink geen wanhoopskreet in ons teks nie. Soiets as: As julle maar net kan slaap, dan moet Ek in vredesnaam maar alleen regkom. En dan moet Ek maar sien wat daarvan word. Nee, as Christus se: "slaap maar voort", dan se Hy dit in alle rus. Hy weet wat daarvan sal word. Die volk van die HERE sal verlos word van hulle sondes. En die duiwel sal van sy troon gestoot word. God se Seun kan dit regtig alleen regkry.

Die Here Jesus, gemeente, het sopas aan die einde van sy gebedstryd gekom. Hy weet dat Hy die beker van die toorn van God sal moet drink. Hy het Hom oorgegee aan die wil van sy Vader. Daarin het Hy berus. Met die rus staan Hy nou hier by sy slapende dissipels en se Hy: slaap maar, Ek doen dit wel alleen. U Meester weet wat Hy van mense kan verwag. Hoe swak van moed en hoe klein van krag u is. Maar u onmag bring nie vir Hom probleme nie. In die krag van sy Godheid kan Hy die bitter lyding deurstaan. En die verlossing gaan waarlik voort.

Wat 'n evangelie, gemeente! Die woord van ons Heiland is 'n rusgewende woord. Ook vir u. U kon geen enkele bydrae tot u redding lewer nie. Die kerk het magteloos gestaan in die enorme stryd tussen Christus en die Satan. Maar daarom het dit wel deurgegaan! U kan die lied van die verlossing sing: "die strik is los en ons het vrygeraak". Jesus Christus kon die strik deurbreek. Want Hy is God, bekleed met mag! Wanneer u eendag weer met 'n Jehowas-getuie praat oor die Godheid van Christus, wys hom dan maar op hierdie teks. As Christus nie God was nie, sou Hy nooit in alle rus vir sy dissipels kon se: "slaap maar voort en rus" nie.

Intussen gaan die stryd tussen Christus en die Satan vandag nog verder. Die beslissende slag is gelewer; Christus is al Oorwinnaar, maar Satan veg nog so veel hy kan. Hy wil voor die einde van die wereldgeskiedenis nog so veel as moontlik probeer bereik. U staan vandag midde in daardie stryd. As mense, wat swak van moed en klein van kragte is. Dink aan wat daar in die laaste Sondag van die Kategismus staan: "Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie". As dit van ons afhang, het die duiwel ons sommer weer in sy greep. Hoe vatbaar is ons nie vir sy aanslae nie!

Ons seuns en dogters kom dit ook wel agter, as hulle die lewe leer ken: hoe ontvanklik is jy nie vir allerhande versoekings wat na jou kant toe kom nie. Hoe dikwels word jy nie pynlik gekonfronteer met jou eie swakheid nie.

Ons red nie onsself nie. Ons red nie die kerk nie. En ons red nie die kerkjeug nie. As die toekoms van die kerk van ons afgehang het, dan het dinge nie baie goed gelyk nie. Ampsdraers kan die kerk ook nie red nie. Die heel eerste ampsdraers van die nuwe-testamentiese kerk is al afgekeur oor hul magteloosheid, in Getsemane.

Wat moet u dan as mens doen, as Christus dit nie doen nie? En as dit gaan om die wereld te bevry van ongeregtigheid - wat moet ons as Christus dit nie doen nie? Ons kan niks doen nie. Maar dit gaan wel alles deur! Die wereld word vry van ongeregtigheid. En die kerk kom behoue in die koninkryk van God. En God se kinders word vasgehou wanneer hulle gelowig, biddend, hulle toevlug soek by hulle Heiland. Hy doen dit! Hy het heeltemal alleen die beslissende slag geslaan.

Hy gaan nou ook onstuitbaar verder na die eindoorwinning. Na die nuwe aarde, waar alle stryd gestry is. Rus my siel, Christus is Koning! Dit kom reg met die verlossing!

3.

Natuurlik beteken dit nie dat ons die slaap van gerustes kan slaap nie. Ons moet regtig wakker wees. Daaroor gaan dit in ons derde punt. Ek herhaal die tema nog 'n keer: In die uur van die groot krisis laat Christus sy dissipels rus. Die derde punt is dan dat Hy daarmee die weg van die dankbaarheid vir hulle open.

Die slaap waaroor ons teks handel, teken die dissipels in hulle ellende. En dit is geweldig, as u in die ellende mag hoor dat die verlossing wel deurgaan. Maar as die verlossing dan daar is, as die kerk bevry is uit die mag van die duiwel, dan le daar nog 'n pad voor. Die pad is die weg van die dankbaarheid. As kerk moet u ook laat blyk dat u dankbaar is vir u verlossing.

Hoe moet u dit laat blyk? Deur wakker te wees. U moet as wakker mense staan in diens van die HERE. En die stryd aanknoop teen die sonde. U kan as verloste mense nie weer insluimer nie!

Wanneer Christus vir sy dissipels se: "Slaap maar voort en rus", dan is dit nie 'n woord wat vir altyd geld nie. Dit het hier uitdruklik betrekking op die uur wat op daardie oomblik aanbreek. Die uur van die groot krisis. Die uur van verraad, veroordeling en kruisiging. In daardie uur laat Hy hulle rus.

Maar daardie uur is ook eenkeer verby! En dan is dit klaar met daardie slaap. Iemsnd het eenkeer gese: Christus neem hier afskeid van sy dissipels tot Pase. Inderdaad. Die dissipels staan buite spel tot op die dag dat hulle Heiland weer uit die dode opstaan. Daarna betrek Hy hulle weer.

Kyk 'n bietjie na vers 31. Daar het Jesus gese: "Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My". Hy staan alleen. Maar dadelik daarna, in vers 32, se Hy: "Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galilea gaan". Dan kom hulle weer daarby! En dan sal hulle daar ook bly.

Die beslissende slag, daar staan hulle buite. Maar as daarna die stryd deurgaan - o ja, dan bly dit nog wel heeltemal die stryd van Christus; Hy doen dit alles. Maar dan word hulle weer ingeskakel. Hulle moet in die wereld ingaan om van Christus te getuig. En hulle moet hulle verweer teen die duiwel, wat hulle gedurig sal dwarsboom. Daarvoor moet hulle wakker wees. En dit geld vir elkeen wat by Chritus hoort en sy dissipel wil wees. Dit geld dus ook vir u en vir my. Dit geld vir ons seuns en dogters wat opgroei in die kerk: ons moet wakker wees!

As daar vandag vir ons gese word: slaap maar voort, dan is dit nie Christus wat dit se nie, maar die duiwel. Hy wil dit natuurlik graag he. Satan sien graag dat mense slaap. Dan mag u nog wel kerk toe gaan en so aan, maar verder - verder moet u uself nie vermoei nie. Bestudeer veral nie die Bybel nie. Moenie dat iemand u vertel dat u opbouende lektuur nodig het nie. En dat u Skriftuurlike voorligting nodig het oor allerhande sake waarmee u in aanraking kom nie. Wees nie te krities teenoor uself nie. Lewe maar die lewetjie wat u lekker vind. Verlustig u maar in u werk en in u ontspanning. En as jy jonk is, doen jy tog net wat jy wil? Wat verhoed jou? Preke?

Ag, laat die preke maar oor jou heen gaan. Slaap maar verder en rus. Dit is die wagwoord van die Satan.

Maar Christus se: wees wakker, dien die HERE na sy Woord. En bewapen jou met daardie Woord om die goeie stryd van die geloof te kan stry.

Daar het, broeders en susters, weer 'n uur naby gekom. In Getsemane het die uur van verraad, veroordeling en kruisiging aangebreek. Aanstons breek die uur van die wederkoms van Christus aan. En Paulus se in sy brief aan die Romeine dat "ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word;... Die nag het ver gevorder en dit is amper dag" (Romeine 13: 11 en 12).

As u wakker bly, gemeente, dan sal die dag vir u 'n feesdag wees. Dit kan u gerus aan Christus oorlaat. Hy sal sorg dat dit 'n fees word.

Sodra die nag verby is mag u ingaan in die ewige rus. Wat origens bepaald geen ewige slaap sal wees nie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)