'n Hemelse leër veg vir God se volk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Daniël 10
Preek Inhoud: 

PREEK OOR DANIËL 10: 12, 13

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 18: 1, 3, 9
Wet
Ps. 18: 12
Gebed
L. Daniël 10
Ps. 35: 2
Prediking
Ps. 91: 2, 6
Gebed
Kollekte
Ps. 69: 6, 12
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het 'n nuwe muurkalender opgehang en 'n nuwe dagboek in gebruik geneem. Die jaar 1993 het begin.

Miskien is ons aan die begin van hierdie nuwe jaar met meer onsekerheid en onrus vervul as die voorgaande jare.

Daar is mos baie wat 'n mens bekommerd maak deesdae.

Die toekoms lyk, as ons Here Jesus Christus ook in die jaar 1993 steeds nie terugkom nie, nie baie rooskleurig nie.

Orals in die wêreld neem die oorlogsgeweld toe. Pleks van om al hoe meer in vrede langs mekaar te lewe, bly volkere en etniese groepe mekaar in haat en onverdraagsaamheid beveg.

En dit wat orals in die wêreld gebeur, daarvan is ook ons eie land Suid-Afrika vol. Terwyl ons op soek is na 'n nuwe vorm van samelewing, sien ons al hoe meer dat rasse en stamme en partye nie deur redelike onderhandelinge nie, maar deur geweld en terreur hul ideale probeer verwesenlik. Name soos Apla, Umkontho we Sizwe, Wit Wolwe spreek wat dit aanbetref boekdele.

Mense laat hulle lei deur haat en selfsug.

En daaragter steek weer gevaarlike filosofieë en ideologieë, goddeloos en onchristelik.

Maar wat steek uiteindelik dááragter, broeders en susters? Wat besiel die mense om so te maak? Aan watter bose kragte is ons uitgelewer? En wat kan óns daarteenoor maak?

Dié vraag kan 'n mens aan die begin van hierdie jaar nogal besighou.

Op dié vraag wil ek daarom in hierdie preek graag ingaan.

Ek wil u met behulp van ons teks uit Daniël 10 'n bietjie agter die skerms laat kyk van wat in hierdie wêreld en in ons land aangaan.

Want hierdie teks help ons om te verstaan watter bóse kragte daar agter die chaotiese en benouende wêreldgebeure skuilgaan.

Maar hierdie teks maak veral ons oë oop vir die teëkragte van God in die hemel wat eweneens agter die skerms aan die werk is. En wat op die ou end die oorwinning sal behaal. Sodat ons nie vol angs nie, maar vol vertroue die nuwe jaar kan ingaan.

Ek mag u verkondig:

'N HEMELSE LEËR VEG VIR GOD SE VOLK

  1. TEEN DIE GEWELD VAN DUIWELSE GEESTE
  2. OP DIE GEBED VAN GOD SE KERK

1. Ja, ons kry in Daniël 10 'n blik agter die skerms, gemeente. Veral ons teksverse gee ons 'n bietjie insig in die onsigbare stryd wat agter die sigbare botsing van kragte hier op aarde in die hemelse geweste gevoer word.

Daniël het, blykens vs. 12, die HERE vir so'n insig gevra. Hy wou so graag bietjie meer weet as wat hy met sy oë kon sien en met sy oë kon hoor. Want dit wat hy moes sien en hoor het hom maar bang en onrustig gemaak.

Daar staan in hierdie hoofstuk nie presies hoekom Daniël so van stryk geraak het dat hy sommer 3 weke aaneen getreur en gevas en aanhoudend gebid het nie.

Maar as ons op die datering van Daniël 10 let, is dit nie so moeilik om die rede daarvoor vas te stel nie.

Ons bevind ons hier in die derde jaar wat koning Kores, die koning van die Perse, aan die regering is in Babel. Dit is dus omtrent 2 jaar nadat hierdie

Kores vir die Joodse ballinge toestemming gegee het om na Jerusalem terug te keer en daar die tempel van die HERE weer op te bou. Kores het mos direk in sy eerste regeringsjaar in Babel daardie koninklike besluit uitgevaardig. Ons weet dit uit die eerste verse van die boek Esra.

Daardie vrylating was 'n wonder van God gewees. Dit was soos 'n droom toe die HERE die gevangenes van Sion laat weerkeer het, sing Psalm 126.

Ek reken ook Daniël was toe diep ontroerd. Al het hy self ook nie meer saam teruggegaan nie -hy was al oud en boonop het die HERE vir hom 'n taak gehou aan die hof van Babel- het hy in hierdie verlof om te mag teruggaan 'n nuwe toekoms vir God se volk sien oopgaan. 'n Magtige toerkoms! Hy het mos indrukwekkende visioene gesien: 'n klein klippie wat eiehandig deur God losgemaak is en tot 'n groot berg geword het wat die hele aarde op die ou end bedek het- God se Koninkryk wat alle ryke van die aarde sou vergruisel.

En 'n Seun van 'n mens wat met die wolke tot voor God se troon genader het en alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het. God se volk sou tog weer 'n toekoms hê. Al het God hulle eers ook totaal van die wêreldkaart gevee.

Maar nou, omtrent twee jaar later, het Daniël se dankbaarheid en ontroering in kommer en onrus omgeslaan. Dit gaan nie goed met die Israeliete wat na Jerusalem teruggekeer het nie. Die nuwe begin lyk nou al vas te loop.

Blykbaar het Daniël aan die hof allerhande berigte verneem oor die ontwikkelinge in en rond Jerusalem.

Die tempelbou wil maar nie vlot nie. Die moed het al gou in die skoene gesak toe daar teenwerking van die kant van die Samaritane af gekom het.

En wat erger is (u kan dit lees in Esra 4: 5)- die vyande het met steekpennings gewerk om daarmee raadsliede aan die hof van koning Kores teen die judeërs om te koop.

Dit gaan nie goed in Jerusalem nie. Daniël raak al hoe meer bekommerd. En hy verstaan dit ook nie mooi nie. Hoekom gebeur dit nou so? Hoekom laat die HERE dit so gebeur? Wat van die beloftes en visioene wat Hy gegee het?

Dis dié dat hy besluit het om te treur en te vas en te bid, hopende dat die HERE hom meer insig in sy planne wil gee.

Hy gaan stormloop by die HERE met sy gebede, 3 weke aanmekaar.

En dan ontvang Daniël na daardie 3 weke van aanhoudende gebed 'n hemelse verskyning, broeders en susters. 'n Baie besondere verskyning hierdie keer. Nie slegs 'n engel nie. Ook nie die spesiale engel Gabriël nie, Maar 'n oogverblindende verskyning wat uitvoerig vir ons beskryf word in vs. 5 en 6.

U moet hierdie beskrywing 'n slag vergelyk met wat ons in Openbaring 1 lees. Dan sal u 'n verregaande ooreenkoms ontdek tussen die verskyning aan Daniël en die verskyning wat die apostel Johannes op Patmos gesien het.

Ons mag daarom aanneem dat dit God die Seun, ons Here Jesus Christus, was wat hier al voor sy menswording in 'n hemelse gedaante na Daniël toegekom het.

U weet: so het ons Heiland onder die Ou Verbond dikwels sy verskyning gemaak by sy volk, as "die Engel van die HERE", die hemelse Generaal van God se engeleleër. Voortdurend het Hy toe al sy volk te hulp gekom en voor sy volk uit die stryd ter verlossing gestry.

Hy het Moses Egipte toe gestuur en was aanwesig by die uittog uit Egipte. Hy het saamgegaan deur die woestyn. Hy het die verowering van Jerigo bewerk, Hy was daar in die donkere tyd van die regters....

En Hy is nou ook hier, om vir Daniël oor sy kommernis heen te help.

Wanneer Daniël sy hart vashou oor die ontwikkelinge, meld die groot Generaal hom present om Daniël gerus te stel. Die Engel van die HERE van Wie ons so pas in Ps. 35 gesing het: "Die Engel Gods, laat Hy hul -die vyande- vind, verstrooi, verjaag op donker pad. "

Hierdie goddelike Generaal het gekom om vir Daniël die begeerde insig te gee. Uitvoerig sal Hy vir hom vertel watter toekoms God vir sy volk beplan het. En dat alles sál regkom, al moet hulle ook eers 'n moeilike pad loop.

Hierdie uitvoerige beskrywing van die toekoms loop tot die einde van hoofstuk 12, die einde van die boek.

Maar -en daartoe beperk ons vanoggend- in sy relaas gun die Engel van die HERE ook 'n oomblik 'n kykie agter die skerms aan ons. Hy vertel nie net van allerlei verbete stryd hier op aarde, sigbaar, moeite waar God se volk nou maar eenmaal deurheen moet gaan nie. Hy gee nie net 'n oorsig van die aktiwiteite van soldate en diplomate, van politieke omwentelinge, magstryd, en onderdrukking hier benede nie.

Masar Hy gee ook 'n bietjie insig in die stryd wat daarágter en daarbó in die hemelse geweste gestry word.

Die mededelings bly kort en beperk.

Ons sou graag baie meer wil weet. Daar word net 'n tippie van die sluier gelig. Maar wel soveel dat dit vir ons duidelik word dat daar in die geestewêreld, die wêreld van die engele 'n belangrike botsing van kragte plaasvind waarmee ons alles te make het.

Die hemelse Generaal maak melding van 'n treffe met die "vors van die koninkryk van die Perse". Toe Hy, aangespoor deur Daniël se gebed, aksie begin onderneem het, het hy op 'n duiwelse teenstander gestuit wat hom met sy divisie helse geeste besiggehou het met die ryk van die Perse.

As daar in ons Ou Afrikaanse Vertaling van 'n "vors" gepraat word, broeders en susters, moet u nie aan 'n aardse maghebber dink nie; maar aan 'n bevelhebber oor duiwelse geeste. Dis dié dat die Nuwe Vertaling met "engel" vertaal het. Moet maar kyk: ook die aartsengel Migael, die aanvoerder van God se getroue engelebrigade, word in vs. 13 'n "vors" genoem: "een van die vernaamste vorste".

Die duiwel het, op aarde onsigbaar, maar wel deeglik merkbaar, een van sy handlangers met 'n afdeling bose geeste op die Persiese hof afgestuur. Daniël se gebed was regtig nie oorbodig nie. Daar is wel deeglik iets aan die hand.

Maar dit wat Daniël op aarde bemerk het, het sy agtergrond in 'n gevaarlike ontwikkeling in die hemelse geweste. Daar is duiwelse kragte werksaam. Bose geeste word uitgestuur om mense te beïnvloed, om raadsliede aan die Persiese hof ontvanklik te maak vir steekpennings, om adviseurs van koning Kores op te hits teen daardie handjievol Israeliete in Jerusalem, om Kores self teen daardie Jode in die harnas te ja.

Ons moet dit weet.

Ons moet daarmee ernstig rekening hou. Die stryd van die kerk hier op aarde moet nie net teen vlees en bloed gestry word nie, maar teen die owerhede (die vorste!), teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis, teen die bose geeste in die lug (Efes. 6: 12).

As hier op aarde 'n oorlog uitbreek, steek daar onsigbare duiwelse kragte agter wat agter die skerms die ontwikkelinge beslissend probeer beïnvloed.

Agter rewolusionêre kragte orals in die wêreld werk duiwelse geeste. Opstande, betogings, geheime vergaderings is die gevolg van duiwelse beïnvloeding. Ateïstiese filosofieë, kommunistiese maatskappybeskouings- hulle word ingefluister deur bose geeste. Die angswekkende opkoms van die Mohammedanisme orals in die wêreld, aggressief deesdae bv. in Servië en Bosnië, daaragter werk die Bose met sy leër.

Politieke ontwikkelinge, onderhandelinge of juis die mislukking daarvan, daarin speel die duiwel saam.

Maar ook: dwaalleer in die kerk waardeur aan die mense die betroubaarheid van

God se Woord ontneem word- dit word ingeblaas deur daardie wêreld van die duiwelse geeste waarvoor die meeste mense helaas hul oë toe hou.

Insinking op die sendingsterreine, verslapping en gemaksug in die kerk- dit bewys dat die bose geeste besig bly.

Die leërs van die duiwel beïnvloed die geeste op talle maniere. Hulle infiltreer die koerante en tydskrifte, die televisie en die radio, die musiekwêreld, die wêreld van vermaak, ja enigiets.

En die duiwel het met dit alles slegs een doelwit: hy wil God se wêreld in 'n chaos verander en voorkom dat God vanuit die kerk sy herskeppingswerk regkry.

Dis hoekom hy in Daniël se dae 'n aanvoerder van sy helse leër na die Perse toe gestuur het. Dis hoekom hy ook vandag nog orals in die wêreld en hier in Suid- Afrika gevaarlik aktief is: die wêreld moet vol verskriking wees, die kerk mag geen toekoms hê nie.

Ons moet dit weet, broeders en susters, en daarmee terdeë rekening hou. Ons moet weet wat agter die skerms aangaan.

Maar as ons dit weet en huiwer vir dit wat nog alle kan gebeur, hoor ons in ons teks vir ons sê: "Wees nie bevrees nie!".

Daar is alle rede om te huiwer, maar ons staan darem nie alleen nie. Die wat by ons is, is tog meer as die wat by hom is. As ons ons sonder hulp moes verdedig teen so'n onophoudelike offensief van bose geeste- ons sou ten onder gaan.

Die kerk sou lankal nie meer bestaan nie.

Maar, en dit is die bemoedigende boodskap in ons teks: daar is 'n sterke Held wat ons help. Die opperbevelhebber van die hemelse leër in eie persoon het Hom vir ons in die stryd gewerp. Die Engel van die HERE het Homself opgewerp as die voorvegter van die kerk. En Hy beskik oor alle hemelse legioene van engele om vir ons in die bres te spring.

Met name word daarby die aartsengel Migael genoem waarvan later, in hoofstuk 12, gesê word: "die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan", of, soos die Nuwe Vertaling duideliker vertaal het: "die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou". Die duiwel het spesiale bevelhebbers om die volkere en die leiers teen die kerk op te steek, maar die HERE het die engel Migael tot die spesiale beskermengel van God se volk gemaak. En daar is nie alleen derduisende duiwels geeste nie. Daar is ook ontelbare gehoorsame engele van God wat op God se bevel die bose geeste die baas is.

'n Hemelse leër onder aanvoering van Migael breek die duiwelse kragte en invloede en maak ruimte vir die Heilige Gees.

Hoe, gemeente? Ek sou graag meer daarvan kon vertel, maar ek weet dit self ook nie. Dit maak ook nie saak nie. Ons weet die vernaamste: en dit is dat die stryd vir ons gestry word. Dit was al so in Daniël se dae. Maar toe moes die beslissende geveg nog gevoer word. Die Engel van die HERE moes, nadat Hy 'n mens soos onsgeword het, heeltemal alleen, sonder die hulp van engele, die konfrontasie met die duiwel aangaan om hom vernietigend te verslaan.

Ons weet egter dat ook daardie stryd inmiddels klaar gestry is. Paulus kon skryf in sy brief aan die Kolossense, 2: 15: "Hy het die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer".

En Johannes het in een van sy visioene op Patmos gesien (Openb. 12, Ds De Boer het onlangs nog daaroor gepreek) dat Migael met sy brigade op die hemelsvaartsdag van ons Heiland die duiwel en sy engele vir altyd uit die hemel uitgegooi het. Dáár is hulle rol uitgespeel. Op die aarde het hulle nog wel die ruimte, vir ons hier is die gevaar nog nie verby nie. Maar in Christus is ons vandag tog reeds meer as oorwinnaars. Ons staan nie alleen teenoor die geweld van die hel nie. Inteendeel, Christus veg vir ons met die hele hemelse leë van engele. En ons mag versekerd wees dat selfs geen bose engele of magte ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

2. Ja, u mag sélf Christus se engeleleër tot aktiwiteit aanspoor. Deur u gebed. My tweede punt.

Dit is naamlik nog 'n belangrike onderdeel in ons teks.

Alles begin mos in Daniël 10 daarmee dat Daniël besluit om te bid, aanhoudend te bid. Al moet dit vir 3 volle weke wees.

Dit was "in die eerste maand", lees ons in vs. 4. Die eerste maand is die maand waarin die Pasga gevier is. Die fees wat herinner aan God se groot verlossing wat Hy in Egipte bewerk het. Waar is die God van die uitredding uit Egipte wat inmiddels 'n nog groter uitredding uit Babel gegee het?

Daardie gebed het iets losgemaak in die hemel. Die Engel van die HERE vertel vir Daniël dat sy woorde vanaf die eerste dag wat hy begin bid het, in die hemel gehoor is. En nog daardie einste dag het die hemel in beweging gekom.

Al is dit inmiddels 3 weke later, 21 dae, die hemel het regtig nie teruggesit en niks gedoen nie. Die gebed is rêrig nie tevergeefs gebid nie.

Inteendeel, daar is in die afgelope dae al 'n hele stryd gestry, vertel die Engel van die HERE. Dit was op die aarde nie sigbaar nie, maar dit was wel baie belangrik. En dit alles as gevolg van Daniël se gebede.

Soveel beteken die gebed by die HERE, broeders en susters. Die HERE laat Hom daardeur aanspoor. Hy het ons gebede as 'n meewerkende en meebeslissende faktor opgeneem in die uitwerking van sy raad. En daarom mag op ons gebede die engele tot aksie oorgaan.

As u die duiwelse kragte om ons heen hul verwoestende werk sien doen, in die wêreld, maar ook in die kerk, dalk in u eie gesin by een van u kinders, mag u 'n beroep doen op die leër van ons Here Jesus Christus. En meteens werp Hy sy engele in die stryd.

Maar dan moet u in u gebede wel vir meer sake 'n oog hê as net vir u eie kleine lewentjie met sy bekommernisse en probleme. Ons moet dan uitgroei bo die selfgesentreerde gebed wat net vra om gesondheid en kos, genesing van siekte, 'n goeie nagrus, voorspoed vir die familie e. d.

Ons moet dan nes Daniël, ons betrokke weet by die geskiedenis van God se Kerk en voorbidders word vir God se groot saak op aarde.

Ons moet op hoogte wees van die politieke ontwikkelinge, die stand van sake by samesprekings, ons moet bekend wees met allerhande filosofieë en teorieë wat deurentyd in die geskiedenis die denke van die mense beïnvloed het.

Ons moet meeleef met die kerklike ontwikkelinge, hier en orals in die wêreld, meeleef met die voortgang van die sending- en evangelisasiewerk.

Al daardie dinge moet in ons gebede die bo-toon voer.

As ons so aanhoudend bid, is ons gebed 'n magtige wapen in die stryd teen die bose, duiwelse geeste, gemeente.

Dan bid ons, ons weet dit nou ook uit Openb. 8, dan bid ons die hemelse kragte los wat nodig is om God se kerk en wêreld na die uiteindelike bevrydingsdag toe te lei.

Ons sê soms: nou kan ons alleen nog bíd! En dan voel ons nogal magteloos. Kon ons maar meer doén...

Maar as ons bid, doen ons juis baie. Ons doen dan beslissende werk. Ek sou byna sê: die res wórd dan wel vir ons gedoen. Agter die skerms beveg Christus se engele dan die oorwinning vir ons.

Ons sien dit nie altyd dadelik nie. Soms moet ons 'n hele ruk wag voordat ons iets daarvan bemerk dat God met sy engele agter die skerms wel verder werk. Daniël moes ook 3 weke wag waarin hy gedink het sy gebed word nie gehoor nie. Terwyl daar tog al die tyd wel deeglik iets met sy gebed gedoen is.

Dit kan ook gebeur dat dit lyk asof dit as gevolg van ons gebed net slegter word.

Maar ons hoef nooit en te nimmer te wanhoop nie. Ons bid nie 'n tevergeefse gebed nie. Al sien ons ook niks nie, ons mag glo dat Christus vanaf sy troon in die hemel nou, waar Hy al as die Oorwinnar sit, bly stry met inskakeling van Migael en sy divisies vir die uiteindelike glorie.

Net so lank totdat Hy, soos daar staan in 1 Kor. 15: "alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het"- die hele bende van die Bose.

In dié geloof mag ons leef.

In dié geloof moet ons bid.

In die geloof kan ons aan die begin van weer 'n nuwe jaar vol vertrou die toekoms tegemoet gaan.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)