Die Here bewerk die bewaring van Sy Kerk langs 'n weg van beproewing

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 39
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GENESIS 39 EN 40

LITURGIE:
L.+T. Genesis 39 en 40
Ps. 77: 4, 6
Ps. 77: 7
Ps. 105: 5, 10, 11, 12
Ps. 66: 4
Ps. 66: 7, 8

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek het vir vanmôre twee lang hoofstukke vir my een preek gekies. Omdat hierdie hoofstukke wel baie vertelstof gee, met allerhande besonderhede, maar daar nogtans een duidelike hooflyn sigbaar word.

Die Psalm wat ons nou net gesing het, Psalm 105, help ons om diè hooflyn raak te sien. Ons het mos gesing, in vers 11, dat Josef nadat sy broers hom Epipte toe verkoop het, eensaam moes wag, deurlouterd in die lydensnag, totdat die HERE sy Woord vervul het.

Die eintlike teks in Psalm 105 is nie so maklik nie. Ons vertaling sê: Josef moes wag "tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die Woord van die HERE hom beproef verklaar het".

Ons sal hier by "sy woord" en "die Woord van die HERE" wel aan een en dieselfde saak moet moet dink: die drome wat Josef gedroom het oor die vorstelike eer wat hy sou ontvang, selfs van sy eie familie. Dit was nie sommer net 'n droom nie, dit was 'n woord van die HERE aangaande Josef, 'n goddelike openbaring, en Josef het hom dan ook verplig gevoel om dit aan sy pa en sy broers deur te gee.

Maar wat bly daar van Josef se mooi drome oor as hy Egipte toe verkoop word, as hy daar in die tronk beland, as die skinker van die Farao hom selfs vergeet?? Sal sy drome, sy woord aan sy pa en sy broers nog wel uitkom?

Maar dan leer Psalm 105 ons, broeders en susters, dat die woord van die HERE wat Josef in sy drome ontvang het en wat hy self aan sy familie deurgegee het, Josef eers danig op die proef gestel het. Om hom, soos ons gesing het, te "deurlouter". Josef kon daardie woord van die HERE aangaande hom maar nie uit sy kop uitkry nie. Maar die HERE lei hom in so'n situasie dat hy ook niks van 'n vervulling daarvan kan ontdek nie.

So sal ons dus Genesis 39 en 40 moet lees, gemeente.

Ons sien hier die HERE besig om Josef te beproef. Hy het hierdie seun van Jakob uitgekies en deur daardie drome aangewys as die instrument waardeur Hy sy verbondsvolk in die lewe sal bewaar. Deur hierdie Josef hou Hy die pad na die vervulling van sy beloftes aan Abraham oop.

Maar Josef moes eers leer, en ons moet weet, dat by die HERE bewaring en beproewing saamgaan. So het ek die boodskap van my preek dan ook saamgevat:

DIE HERE BEWERK DIE BEWARING VAN SY KERK LANGS 'N WEG VAN BEPROEWING.

Ons sal sien hoedat die HERE Josef veral op twee punte beproef:

  1. Sal Josef vir God se eise bly ywer?
  2. Sal Josef aan God se beloftes nie twyfel?

1. Ons vind in Genesis 39 Josef, wat deur sy broers vir twintig sikkels silwer aan koopmans verkoop is, terug in Egypte.

In die huis van 'n hofdienaar van die Egiptiese Farao: Potifar.

En op die eerste gesig gaan dit met hom darem nie te sleg nie.

Ons lees tot twee maal toe dat hy "voorspoedig" was. Sy heer het hom nie mishandel nie, hy het nie vernederende en uitputtende werk hoef te doen nie. Maar hy het opgeklim tot die belangrikste kneg in sy heer se huis.

Nou het dit inderdaad aanvanklik nie te sleg met Josef gegaan nie -ek sal daarop nog wel terugkom- maar ons sal nie moet vergeet dat hy nogtans 'n slaaf was en noodgedwonge in Egipte moes bly.

Verstaan u wat dit vir Josef beteken het? Ja, hy is wreed losgeskeur van sy pa en sy klein boetie Benjamin. En sal hy hulle nog ooit weersien?

Maar ons moet meer sê.

Josef is ook wreed losgeskeur uit die gemeenskap van die heiliges, al het sy broers hulle ook glad nie soos heiliges gedra nie. Ons lees hier mos kerkgeskiedenis? En Jakob se geslag was in daardie tyd die kerk.

Hoofstuk 38 het vertel hoe Juda vrywillig en onverskillig met die kerk gebreek het. Maar Josef, wat met hart en siel die opbou van die gemeenskap van die heiliges gesoek het, is deur sy broers uit die kerk geban en die wêreld ingestuur.

'n Goddelose wêreld!

Dit val op dat in Psalm 105 Egipte 'n paar maal "die land van Gam" genoem word. Daardie naam het in God se Woord 'n ongunstige klank. Die Bybel tipeer daarmee nie 'n bepaalde ras of velkleur nie. Ons moet by hierdie naam nie spesiaal aan swartmense dink nie. In Egipte het mos nie swartmense gewoon nie. Nee, die naam "Gam" tipeer in die Bybel 'n bepaalde gees. Die gees van goddeloosheid en onverskilligheid, soos die eenmaal Noag se seun Gam beheers het. Die gees ook wat ander mense in die sonde wil saamsleep! Soos Gam sy broers in sy spot oor sy dronke pa wou saamsleep.

Josef het in Jakob se kerktent teen hierdie gees van Gam gestry. Hy het dit by sy eie broers ontdek en daar teenoor vir die heiligheid van God se verbond en vir die reg van God se eise op die lewens van sy kinders geywer. Noag het mos, nadat hy weer nugter geword het, die gees van Gam, wat blykbaar ook in sy seun Kanaän gewoon het, vervloek: "'n kneg van die knegte moet hy bly!" Met ander woorde: hierdie gees van onverskilligheid en goddeloosheid mag nie die oorhand kry nie, maar God se kinders moet juis telkens weer daaroor baas word.

Daarvoor het Josef geywer.

Maar met watter resultaat?

Dat hy na die land van Gam verban is en nou heeltemal deur hierdie gevaarlike gees omring word! Want u moet maar daarvan uitgaan, gemeente, dat Egipte toentertyd, ten spyte van sy hoë beskawing, aan die ergste sondes gewoond geraak was. Die HERE sal later in sy wette aan Israël, na die uittog uit Egypte, waarsku teen allerlei tipe van sondes, met name ook seksuele sondes, wat hulle in Egipte daagliks raakgeloop het.

Ek dink dat Josef ook in Potifar se huis met allerlei goddeloosheid te make gekry het.

En verstaan u nou dan, broeders en susters, wat die gedwonge verblyf in Egipte vir Josef beteken het? Hoén beproewing dit vir hom geword het? Sal hy teen die voortdurende verleiding van die gees van Gam bestand wees? Sal hy God se verbondeise in sy hart bly saamdra?

Of sal hy, noudat sy hele stryd vir die heiligheid van God se verbond in Jakob se tente tog niks gehelp het nie, ook onverskillig word en hom aan die gees van Gam oorgee?

Ons het al gesien: aanvanklik gaan dit Josef nie te sleg nie. Die Bybel laat nadruklik weet dat God Josef wel laat verban het, maar hom nogtans beslis nie losgelaat het nie. God bly met hom. Immanuel. Hy het Josef mos gekies om sy kerk te bewaar.

Die HERE maak Josef so voorspoedig dat ook Potifar opmerk dat daar van hierdie slaaf iets besonders uitgaan. Sodat hy sy hele huis en besit aan hom toevertrou. En daar vervolgens ook dankbaar die vrugte van pluk.

Ons mag sê, gemeente: ons sien hier al 'n bietjie van die vervulling van God se belofte aan Abraham, dat in hom en sy geslag al die geslagte van die aarde geseën sal word. Die heiden Potifar kom agter dat hierdie Hebreeuse slaaf orals waar hy kom of gaan 'n seën saamdra. En hy mag daar sommer van profiteer.

Maar ek dink dat Josef se voorspoed onder die seën van die HERE veral in Genesis 39 vir ons beskrywe is as 'n inleiding op die nuwe, nog swaarder beproewing wat in Potifar se huis na Josef toe sal kom.

Want dit gaan so goed met Josef dat hy amper sou vergeet hy woon in die land van Gam. Hy sou amper vertroud raak met sy situasie. Hy is lankal geen veragte Hebreeuse slaaf meer. Hy is inmiddels deur elkeen aanvaar, gewaardeer en selfs geëer. Hulle aanvaar ook sy eie prinsipes en gewoontes. Ons kan dit dalk aflei uit wat in vs. 6 gesê word, naamlik dat Potifar alles in sy huis aan Josef oorgelaat het behalwe "die brood wat hy geëet het". Die meeste uitleggers dink dat Josef nie deur Potifar met die toesig oor die maaltye belas is, aangesien dit volgens heidense rituele berei moes word en Josef daarteen besware gehad het.

Josef hoef dus glad nie meer te stry in Potifar se huis nie. Al is hy ook 'n bietjie anders as die ander, hulle het hom heeltemal geaksepteer.

Maar so'n situasie word altyd 'n gevaarlike situasie. Juis in hierdie situasies sal die duiwel altyd probeer om verbondskinders tot ongehoorsaamheid te verlei. Hoe maklik kan 'n mens mos in so'n situasie die strenge eise van God se verbond vergeet en die kompromie gaan soek omdat jy graag jou gewaardeerde posisie wil behou. As almal jou vrees kan 'n mens so ydel word dat jy die vrees vir die HERE vergeet. Jy kan jouself so groot gaan voel dat jy nie meer bewus is van jou swakheid nie. En dan vind die duiwel die poort oop.

Die duiwel gebruik teenoor Josef die vrou van Potifar om hom tot ontrou aan die HERE te verlei. Hierdie vrou raak beïndruk deur Josef se aantreklike verskyning en bied haarself openlik aan hom aan.

Daar is uitleggers wat die hartstog van hierdie vrou verklaar uit die feit dat Potifar self 'n ontmande was, sodat hierdie vrou met haar eie man dus nooit geslagsverkeer kon hou nie. Die woord wat in ons vertaling met "hofdienaar" vertaal is (Potifar was 'n hofdienaar van Farao), beteken inderdaad dikwels "eunug", gekastreerde. Maar diè woord het wel 'n breër betekenis gekry en kan ook gewoon "dienaar" beteken. Ons sal dus versigtig moet wees om te veel afleidings uit hierdie woord te maak.

Die verleiding bly vir Josef omtrent dieselfde. Hier word hom onverwags 'n aantreklike troos in sy eensaamheid aangebied. Die liefde van 'n vrou wat haarself aan hom heeltemal wil oorgee. Waarom sal hy dit weier? Kanaän is ver, sy broers doen mos ook dergelike dinge en sy ywer vir 'n heilige lewe in die verbond het mos tog sinloos geblyk....

Maar Josef het God se eise nog nie vergeet nie. Hy weier beslis.

Hy beskou die aanbod van Potifar se vrou as ontrou sowel teenoor sy heer op aarde as teen sy Heer in die hemel.

Die duiwel het Josef egter nie sommer weer gelos nie. Potifar se vrou bly haarself aan hom opdring. Al hoe verleideliker. En as woorde nie help nie, dan probeer sy op die ou end Josef maar met die daad te verlei.

Moenie dink, Josef was ongevoelig vir haar bekoring nie, broeders en susters. Genesis 39 vertel eerlik hoe moeilik die stryd teen die sonde vir hom geword het: As Potifar se vrou tenslotte hom probeer ontklee, lees ons dat Josef sy kleed in haar hand laat agterbly en buitentoe vlug.

Vir wie vlug hy? Vir daardie vrou? Maar hy is as man mos sterker as sy en as hy nie lus het om aan haar verlangens toe te gee nie, kan hy dit haar mos desnoods hardhandig aan die verstand bring.

Nee, Josef vlug vir homself en sy eie verlangens. Die verleiding kom vir hom te naby en hy weet hy is van homself nie so sterk dat hy hierdie vrou nog langer kan weerstaan nie. Dis hoekom hy alleen nog maar kan vlug!

Josef ken sy eie swakheid, broeders en susters.

Hy het al geweet wat ons vandag in ons Kategismus bely: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. En ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld, maar ook ons eie sondige vlees, hou nie op om ons aan te val nie.

En toe het hy gedoen wat 'n swak en sondig mens in so'n situasie alleen maar kan doen en ook moet doen: die sonde haat maar daarom ook daarvan wegvlug (Sondag 33).

En deur te vlug het hy oorwinnaar geword. Want so oorwin ons alleen die duiwel en sy bose geeste: nie as ons dink ons is sterk genoeg om die verleiding te weerstaan nie. Soos so veel mense nog altyd hulleself oorskat. Ons moet maar net vlug.

Die gees van Gam en Kanaän het nie baas oor Josef geword nie. Want die God van Sem is getrou en laat nooit toe dat sy kinders bo hulle kragte versoek word nie. Hy gee altyd saam met die versoeking ook die uitkoms, skryf die apostel Paulus aan die Korinthiërs. Dit beteken nie dat daar geen stryd kom nie. Kyk na Josef en ken uself. Maar daar is altyd 'n uitweg -dit beteken daardie woordjie "uitkoms" wat Paulus gebruik eintlik- God laat altyd 'n pad oop om te kan ontvlug.

Josef het gevlug. Omdat hy God se wet in sy hart gedra het en daarom die sonde -hoe verleidelik ook al- as sonde bly raaksien het.

Maar wat is die gevolg van sy gehoorsaamheid? Prys Potifar hom? Ontvang hy nog meer vertrouwe van sy heer?

Glad nie. U ken die gevolge. Josef beland in die tronk omdat hierdie gevaarlike vrou in haar woede oor die vernedering soos sy dit ervaar het, Josef as 'n aanrander swartsmeer by die ander slawe en by haar man. Niemand glo Josef en as 'n gevaarlike misdadiger sluit hulle hom in die tronk, sy voete in boeie geknel, hyself in die ysters vasgemaak, soos ons in Psalm 105 kan lees.

God gaan 'n eienaardige pad met sy kinders, gemeente.

So'n moeilike pad, dat mens amper sou gaan dink dis sinloos om nog langer aan sy gebooie gehoorsaam te bly.

Maar ons moet leer dat God ons nie genadig is weens ons gehoorsaamheid en ywer nie. Josef het vir God nie skielik meer bruikbaar geword omdat hy die verleiding ontvlug het nieHy verdien dit nie om onderkoning in Egipte en redder van Jakob se geslag te word nie.

'n Ander moes dit vir hom verdien: die groot Koning wat God vir sy kerk sou gee en wat langs 'n pad van nog veel swaarder lyding die kerk moes gaan red. Wat Homself tot in die diepte van die hel moes verneder en nie die duiwel kon ontvlug nie maar Homself eers aan hom moes oorgee om hom sò te oorwin. Weens ons ongehoorsaamheid aan God.

Ons het nooit die reg om te kla as God ons laat swaarkry nie, broeders en susters. Want dan leer Hy ons weer dat sy verbond met ons alleen berus op genade, wat Christus vir ons verdien het.

In die nuwe Testament skryf die apostel Petrus daarom dat ons ons dus maar nie moet verbaas oor die vuurgloed wat tot ons beproewing dien, asof iets vreemds oor ons sou kom nie. En Jakobus wens ons selfs geluk as daar allerhande bepreowings kom.

Want dit bewys dat ons ons op die regte pad bevind: die pad van die verbond wat Christus deur sy lyding vir ons gebaan het, sodat ons sy voetstappe kan navolg. Dis wel 'n pad waarop God ons klein hou, naar waarop hy ons nogtans vashou. Vashou by 'n lewe uit genade alleen. En daarom 'n pad van lyding na verlossing. 'n Pad waarop Hy deur beproewing ons bewaring bewerk.

2. Die opsluiting in die tronk is vir Josef nog nie die eindpunt van die beproewing nie, gemeente. God sal die louteringsvuur nog feller laat brand.

Daar in 'n duidelike afdraande in die pad wat God met Josef gaan. Maar dan so daar in hierdie pad telkens ook opdraans voorkom waardeur Josef daarna nog dieper afsak.

Ons het al gesien: dit begin as Josef Egipte toe verban word. Dan buig sy weg af na die diepte. Maar in Potifar se huis buig die weg tog weer 'n bietjie omhoog, totdat hy na die verleidingspoging deur Potifar se vrou nog baie dieper weggestoot word en as 'n gevaarlike aanrander in die tronk beland.

Maar hier kom opnuut tog ook weer 'n opdraande. Want opnuut lees ons dat die HERE Josef nie loslaat nie, vs. 21: goedertierenheid aan hom bewys, sy genadige verbondstrou, sodat Josef na 'n rukkie pleks van gevangene amper tronkbewaarder word. Hy is uit die ysters losgemaak en mag die versorging van en die toesig op die ander gevangenes reël.

Maar dan kom die ontmoeting met die skinker en die bakker van Farao se paleis. en die konfrontasie met hul drome. Kan u u voorstel wat dit vir Josef beteken het, broeders en susters?

Deur hul drome is hy weer fel herinner aan sy eie drome! En God gee hom die insig om hierdie drome as 'n openbaring van die HERE te kan verklaar. 'n Verklaring wat al na drie dae reg blyk te wees! Maar dan moet mos ook die verklaring wat Josef aan sy eie drome gegee het, reg wees. Dan moet dit tog ook 'n openbaring van die HERE wees? Ek dink, gemeente, dat Josef se hoop opgeleef het nadat die Farao sy skinker uit die tronk laat uithaal het. Sal die HERE dan nou ook Josef uit die tronk laat vrykom, hom na Kanaän laat terugkeer en hom 'n vorstelike posisie skenk?

Maar wat word Josef se geduld op die proef gestel! Hy wag dae, weke, maande.... Maar die skinker het Josef blykbaar lankal weer vergeet. Twee lange jare moet Josef nog in die tronk bly, sonder enige uitsig op verandering van sy situasie.

Sou die HERE Josef dan ook vergeet het??

Sou God sy gena vergeet het?

Van sy onheil nie geweet het?

Is dalk sy beloftenis nie onverbreekbaar en gewis nie? !

Josef sak al hoe dieper weg in die put.

En dit word vir hom hoe langer hoe moeiliker om nie aan God se beloftes te twyfel nie.

So beproef die HERE Josef in die geloof aan sy beloftes, gemeente. En ons herken ook hierin die styl van ons Verbondsgod, wat Hy nog altyd handhaaf.

Hy roep sy kinders om aan ander mense sy Woord voor te hou. En tegelyk kan Hy ons self solank laat wag op die vervulling daarvan, dat die twyfel ons begin bekruip of God se Woord wel waarheid is. Ons sien mos niks daarvan nie!

Die HERE kan dit in u lewe so donker laat word, deur so veel teleurstelling en verdriet en ellende, dat mens geneig is om die Bybel maar toe te laat en die HERE maar te vergeet. Hy vergeet ons mos ook? !

Maar leer dan uit God se weg met Josef, gemeente, dat die HERE nooit meer vergeet wat Hy eenmaal gesê het nie. En dat 'n lank en moeilike pad vir Hom geen ompad is nie. As ons volhard tot die einde toe, dan sal ons gered word.

Want as God ons beproef, bewaar Hy ons ook.

AMEN.[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)