God se kinders mag nie treur soos die wat geen hoop het nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR DEUTERONOMIUM 14: 1, 2

LITURGIE:
L. Hebr. 2: 5-16 & 1 Thess. 4: 13-18
Ps. 103: 7, 8
Ps. 103: 9
Ps. 145: 2, 5, 8, 10, 12
Ps. 30: 3, 8
Ps. 27: 4, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is mense wat in die léwe glo. Ons glo dat die dood klaar oorwin is en dat ons lewe vandag alreeds die voorsmaak is van die ewige lewe eendag.

Want ons ken vir Jesus Christus, die Seun van God, ons Here, wat in ons plek die dood gesterf het maar na drie dae weer uit die graf opgestaan het.

Elke eerste dag van die week kom ons as sy gemeente bymekaar om dit saam te gedenk dat ons Here op dié dag die bande van die dood verbreek het en met 'n verheerlikte liggaam dood en graf agter Hom gelaat het. Om te gedenk dat Hy op dié dag ook vir ons almal die lewe weer oopgesluit het, lewe tot in ewigheid.

En na ons so die week begin het, gaan ons die lewe in. Om orals ons geloof in die lewe uit te dra, met woorde en dade: by ons werk, in die skool en universiteit, in die ouertehuis en die hospitaal. Om ook ander mense tot geloof in die lewe te beweeg.

Ek het verlede sondag u opgeroep om selfs aan tafel van u geloof in die lewe te getuig. U moet tot in u ete en drinke toe demonstreer dat u die betekenis van Pase ken.

Maar, broeders en susters, van tyd tot tyd kom daar vir ons almal die proef op die som. Daar kom dae waarin ons geloof in die lewe in die smeltkroes gewerp word.

Want ons kom almal op 'n dag oog in oog met die dood te staan. Elkeen van ons moet op 'n stadium met 'n skok agterkom dat die laaste vyand dan oorwin mag wees, maar dat hy darem nog nie dood is nie. Die dood is nog springlewend.

Hy slaan nog telkens onverwags toe, partymaal blitsvinnig: 'n breinbloeding, 'n hartversaking, 'n ongeluk.... Partymaal ook tergend langsaam: 'n slopende siekte, verval van kragte in die ouderdom.

En elke keer weer moet ons magteloos toesien hoedat die dood een van ons geliefdes graf toe sleep. Hy slaan 'n gat in ons midde, hy skeur 'n mens wat met sterk bande aan ons verbonde was, van ons af sodat daar 'n skrynende wond oorbly....

Ja, en dan moet blyk hoe stérk ons geloof in die lewe is.

Hoe verwerk ons daardie slag?

Bly ons in die lewe glo, al moes ons ook ons eie vlees en bloed aan die dood afstaan?

Dié vraag is ook die sentrale vraag in ons teksverse van vanoggend, broeders en susters.

In ons teks klink die oproep om selfs in dae waarin ons met die dood gekonfronteer word, die geloof in die lewe nie te verloor nie. Omdat ons die volk van die Gód van die lewe is!

Ek wil vanoggend saam met u na hierdie oproep luister.

Ons hoor in ons teks, as ek dit saamvat:

GOD SE KINDERS MAG NIE TREUR SOOS DIE WAT GEEN HOOP HET NIE

WANT GOD SE VOLK IS

  1. GEEN SLAAF VAN DIE DOOD NIE
  2. MAAR VRYGEKOOP VIR DIE LEWE

1. Daar word in ons teks twee rougebruike aan die volk Israel verbied, gemeente. Die HERE staan nie toe dat sy kinders in dae van rou hulleself verwondings toedien nie. Hulle mag nie hulself met 'n mes stukkend kerf sodat die bloed langs hul vel afloop nie.

Die HERE verbied ook om die hare voor op die kop af te skeer of uit te ruk, sodat daar 'n kaal kol ontstaan.

Sulke rougebruike sal ons nie so gou meer toepas nie, maar blykbaar was soiets in Israel se dae 'n algemeen bekende gewoonte.

Wanneer God net hierdie twee snaakse rougebruike verbied, wys hy daarmee nie énige vorm van rou en verdriet in verband met 'n sterfgeval af nie.

God gee vir sy volk wel plek vir verdriet en trane. Hy verlang nie dat ons die smart wat die dood veroorsaak, onderdruk en wegsteek agter 'n onnatuurlike opgewektheid nie.

Ons hoef regtig nie 'n houding aan te neem asof die dood nou maar eenmaal die natuurlike keersy van die lewe is nie. Want as daar Een is wat weet dat die dood nie by die lewe behoort nie, is dit God die HERE. Doodgaan is geen natuurlike saak nie. Die dood is en bly 'n vyand wat op 'n rampsalige dag in ons lewe binnegestap het toe die mens sy rug vir God gedraai het. Die dood is die loon op die sonde, die straf van 'n God wat in sy eer gekrenk is. "Stof is jy, en tot stof sal jy weerkeer".

Daarom mág ons nie eens met die dood leer lewe nie. Die dood moét elke keer weer by ons 'n gevoel van ontsetting losmaak. Ons mag ons trane skrei so dikwels die dood toeslaan. Dan word mos die gevolge van ons opstand teen God benouend sigbaar en voelbaar. 'n Menselewe, eendag sterk en veelbelowend, word ontluister, 'n liggaam wat soveel betekenis gekry het vir sy geliefdes, word aan ontbinding prysgegee. Die mees intieme bande, bloedsbande, huweliksbande, word stukkend geskeur.

Juis 'n kind van die lewende God kan soiets nie koud en gevoelloos aansien nie.

Dit moet en sal vir hom iets vreesliks bly, totdat God self eendag alle trane van die oë afvee. Maar dit sal eers gebeur as die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal. Want eers dan sal daar geen dood meer wees nie, en dus ook geen droefheid en geween en moeite nie. Maar tot dié tyd mag en moet ons die dood as 'n vyand bly ervaar.

Net-nou, as Moses sy laaste preek vir die volk Israel beëindig het en God hom op die berg Nebo wegneem, sal Israel 30 dae lank intens rou bedrywe oor hierdie kneg van die HERE. So het hulle dit ook gedoen toe Aäron gesterf het. 30 Dae gee hulle hul aan hul verdriet oor, en die HERE verkwalik dit glad nie vir hulle nie.

Ons is meestal maar geneig om ons verdriet op te krop. Ons wil dit liewer nie die vrye loop laat as daar ander mense by is nie. Ons keer soveel as moontlik ons trane en skaam ons as 'n ander nogtans agterkom dat ons moet huil.

Maar 'n Oosterling het altyd baie uitbundig aan sy smart uiting gegee. Luidop klaend en huilend deurleef hy sy verdriet terwyl hy homself op die bors slaan.

Ons ken uit die Skrif meer as een tipies Oosterse rougewoontes, soos dat mense hul klere skeur, dat hulle 'n spesiale rougewaad van growwe stof aantrek wat soos 'n skort voor die heupe gebind word, hulle het stof en as op hul kop gestrooi.....

Al daardie gewoontes word in ons teks nie verbied nie. God het dit toegestaan om uiting te gee aan die verdriet oor die afsterwe van 'n familielid, verloofde of vriend.

Net die twéé handelinge wat in ons teks genoem word, is nie toegestaan nie. Jou eie liggaam stukkend kerwe, 'n kaal kol op jou kop skeer- dit het blykbaar te ver gegaan.

Die HERE het dus 'n grens gestel aan die rou van sy volk. Ook verdriet het sy grense. Want God se kinders mag nie treur soos die mense wat geen hoop het nie.

Dit het by Israel se buurvolkere veel voorgekom dat mense by 'n oorledene en aan 'n graf hul eie liggaam aangetas het. In 'n histeriese verdriet het hulle hul gesig en bors oopgekrap, hulle het hulself met hul sandale bont en blou geslaan, ja, hulle het selfs met messe hul vel stukkend gekerf sodat die bloed op die grond afgeloop en hul liggaam en klere besmeur het. Wilde tonele het hom by Oosterse begrafnisse afgespeel: aangrypend, maar ook beangstigend.

Want die agtergrond van so'n histeriese roubetoon was die begeerte om die gemeenskap met die dooie so lank as moontlik vas te hou. Hulle kon die geliefde wat gesterf het, nie loslaat nie, hulle wou hom of haar die liefste maar volg in die dood. Noudat hul man, hul vrou, hul kind, hul vader, hul vriend in die doderyk neergedaal het, het die lewe vir die nabestaandes ook sy betekenis verloor. Hulle wou nou almal wel dood wees. En dis dié dat hulle hulself vermink en verwond het, as 'n gebaar dat hulle die dooie wel wou volg in die graf. Die lewe het mos geen uitsig meer nie.

Dieselfde agtergrond het ook die ander rougebruik wat in ons teks verbied word, gehad: die wegskeer of uitrus van die hare voor op jou kop.

Ook dit is 'n gebruik waarvan ons die nut nie meer so mooi kan verstaan nie. Maar u weet dalk uit die Bybel hoeveel simboliese waarde aan die hare geheg is. Haar was 'n sieraad, maar ook 'n teken van vryheid. Mens kon jou amper nie meer beledig as deur jou baard en die hare op jou kop af te skeer nie. U ken dalk die geskiedenis dat koning Dawid 'n aantal gesante na die nuwe koning van die Ammoniete stuur om sy simpatie te betuig weens die afsterwe van sy pa. Toe het mos daardie koning hierdie vrienskaplike daad van Dawid beantwoord deur daardie afgesante met 'n verknipte baard en verknipte klere terug te stuur. Daardie manne het hulle so geskaam oor hul haardrag dat Dawid hulle toegelaat het om in Jerigo, die grensstad, te bly totdat hul hare weer die normale lengte gehad het.

Wie sy haar verloor het, het sy sieraad verloor. Daarom het 'n geskeerde voorkop ook 'n teken van slawerny geword. By krygsgevangenes en slawe is die haarlok voor op die kop opsetlik weggesny sodat elkeen kon sien hy is 'n slaaf.

Nou maar goed, wanneer mense dan in dae van smart oor 'n dooie by hulsélf daardie haarlok op die voorkop weggesny of uitgetrek het, wou hulle met daardie gebaar duidelik maak dat hulle hulself soos 'n slaaf van die dood beskou het. Hulle het nie meer omgegee vir lewe en vryheid nie; alles het mos geen sin meer nie. Vandag is hulle die oorlewendes, maar hoelank bly hulle dit? Môre is hulle die volgende slagoffer. Die dood wen dit mos tog altyd. Jy kan die dood nou eenmaal nie ontvlug nie. Daarom het hulle hul by voorbaat aan hom oorgegee en hulle as slaaf aan sy heerskappy onderwerp.

Maar dan verstaan u natuurlik, broeders en susters, hoekom die HERE vir sy kinders hiér die grens getrek het. So ver mag sy volk nie gaan nie. Hulle mag geen slawe van die rou en van die dood word nie. God se kinders mag hulleself nie willoos aan die dood uitlewer nie. God se kinders mag nie treur soos die wat geen hoop het nie.

Dié boodskap geld nog des te meer vir ons vandag, wat na Pase lewe, gemeente.

Verdriet mag daar wees, en as jy in dae van smart geen behoefte het aan sierade en klere met vrolike kleure nie, is dit heeltemal verstaanbaar.

Die dood lê nou maar eenmaal 'n skaduwee oor jou lewe en baie van dit wat vroeër kleur aan jou lewe gegee het, het nou baie betreklik geword. En dit vat 'n hele ruk om aan die leë plek bietjie gewoond te raak en die pyn nie meer so fel te voel nie.

Maar ook dan mag die dood nie die allerbeheersende plek in ons lewe kry nie. Ons mag nooit so diep wegsink in die put van ons verdriet, dat ons in hierdie lewe geen uitsig meer oorhou nie. Dit is nie goed nie as iemand dermate opgaan in sy verdriet dat hy homself begin verwaarloos, nie meer wil eet nie, nie meer wil slaap nie, homself nie meer behoorlik bad en aantrek nie.....

Dalk ken u wel triestige voorbeelde daarvan, gemeente- mense wat hulself heeltemal in hul verdriet opgesluit het weens die gemis van man of vrou of 'n kind, sodat hulle hulself vir hul omgewing toenemend begin afsluit het, en op die ou end self ook in die dood weggekwyn het.

Sulke mense het 'n slaaf van die dood geword. Hul verdriet het vir hulle die uitsig op die verdere lewe beneem.

Maar dit moet by God se kinders nie so wees nie. Dit hoéf ook nie so te wees nie. Hoeveel verdriet die HERE ook in ons lewens kan veroorsaak, Hy laat ons nooit sonder troos nie. Selfs as die dood op sy vreeslikste toegeslaan het, hoef ons nie so te treur dat ons ontroosbaar is nie.

2. Want ons is geen slaaf van die dood nie, maar vrygekoop vir die lewe.

Kyk 'n bietjie hoeveel aandag Moses in ons teksverse daaraan gee waaróm die HERE aan Israel se roubetoon 'n grens stel.

Hy benadruk hoe 'n spesiale intieme band daar lê tussen Israel en God die HERE.

Hulle weet mos Wie die HERE is: is Hy nie die lewende God met Wie alle lewe op aarde begin het nie? Deur Hom leef ons, beweeg ons en is ons hier.

Hy is ook die God wat self die dood in die wêreld ingebring het as sy laksman om opstandige mensekinders te straf.

Maar op dieselfde dag waarop Hy die dood aan die werk gesit het, het Hy tog ook die herstelde lewe in die vooruitsig gestel. Die dood het vir Hom nie 'n aanvaarbare saak op aarde geword nie. Want God het geen behae in die dood van die sondaar nie, maar liewer dat hy hom bekeer en lewe.

Daarom mog die mens wat so pas die doodstraf hoor uitspreek het, nogtans sy vrou Eva, moeder van die léwendes, noem.

En toe het die HERE Abraham, Isaak en Jakob uit alle geslagte op die aarde uitgekies om uit hulle nageslag vir alle geslagte die lewe op aarde terug te gee.

Dié God is dan júlle God, sê Moses. Hy het julle, die volk van Abraham, Isaak en Jakob, uitgekies uit al die volke wat op die aarde is, om sy volk te wees. Julle vorm vir Hom 'n heilige volk. Afgesonder van die ander volkere om saam met die lewende God weer die pad van die lewe te loop. En kyk hoeveel moeite het die HERE gedoen om julle vir die lewe terug te wen.

Julle onthou mos hoedat Hy op 'n indrukwekkende wyse julle as sy eiendomsvolk aan die voortdurende sterwe in Egipte ontruk het. Die lewe het in Egipte in 'n doodloopstraat geraak. Die Farao wou Israel se lewe stadigaan dooddruk. Daar was geen uitsig en geen toekoms meer nie. God se volk het alreeds met een been in die graf gestaan. En toe het die HERE ingegryp. Hy, die God van Abraham en die God van Isaak en die God van Jakob het sy beloftes van léwe nooit vergeet nie. Op 'n magtige manier het Hy sy volk uit die dood van Egipte uitgehaal en weer teruggeplaas op die pad van die lewe, die pad van die verbond met Hom.

Die geskiedenis bewys dit dat Israel vir die HERE 'n spesiale kosbare besit is waarop die HERE baie suinig is.

Ja, die HERE se liefde gaan selfs uit na elke lid van sy volk afsonderlik.

"Julle is kinders van die HERE julle God... ", sê Moses. Vol liefde skenk God soos 'n Vader aandag aan elkeen afsonderlik. Hy hou almal stuk vir stuk dop. Hy hou almal by die hand om hulle geduldig saam te neem na die ewige lewe toe.

Maar as die HERE sy kinders met soveel liefde en sorg uit die dood uitgehaal en na Hom toe gehaal het, sou Hy hulle dan sommer weer daarin terug stoot? ! Sou Hy die pad van die lewe by die dood skielik weer opbreek? Dit kan mos nie wees nie! Nee, Hy noem Homself nog steeds "die God van Abraham, Isaak en Jakob", alhoewel daardie mans al lank gesterf het. Want hulle lééf vir Hom. En ook al die ander kinders van Hom wat inmiddels gesterf het, het nie in die dood teruggeval nie, maar is deur Hom vir altyd aan die dood ontruk en in die rus van die hemel geplaas. Na hul dood was die lewe vir hulle bereid, hul 's opgeneem in God se heerlikheid

Al is dit by 'n sterfbed en 'n graf ook nie te sien nie, dit mag God se kinders vas glo. As hulle terugsien op die pad wat God met hulle geloop het, kan hulle ook vooruitsien, oor dood en graf heen, omdat hierdie pad na die ewige lewe toe lei.

Sien, gemeente, dis dié dat Israel nie mog treur soos die heidene wat geen hoop het nie. Daarom het God beperkings aan hul rougebruike opgelê. Hulle moes altyd bly besef wie hulle danksy God se genade en danksy die bloed van die Pasgalam in Egipte mog wees nie: kinders van die lewende God. Selfs in die dae van die dood moet God se kinders hul geloof in die lewe bly bely. Die trane mag die oë nie soseer verblind dat hulle die troos nie meer sien nie.

Want God is geen God van dooies nie, maar van lewendes.

Die verbod van ons teksverse is dus vol troos en vol Evangelie, gemeente.

Maar as u by die latere profete kyk, soos Jesaja, Jeremia, Amos en Miga, sal u 'n snaakse ding agterkom: daardie profete het later God se volk aangemoedig om presies dit te doen wat die HERE in Deut. 14 verbied: jouself vermink van verdriet en jouself kaalskeer in rou. Kyk byvoorbeeld Miga 1: 16 waar die profeet in die naam van die HERE die Israeliete oproep: "Maak 'n kaalte op jou hoof en skeer jou weens jou troetelkinders; maak die kaalplek groot soos dié van 'n aasvoël omdat hulle van jou af weggevoer is in ballingskap".

Hoe kan die profeet van die HERE so sê? !

Wel, daarvoor is maar net een rede: Israel was in daardie tyd die pad na die lewe lankal kwyt! As eiewyse, ongehoorsame kinders het hulle hul eie koers gekies. Hulle het die besondere verkiesing om God se heilige eiendomsvolk te wees onwaardig geword. Moedswillig het hulle hulself weer tot slawe van die sonde en die dood gemaak. Ja en dán kan Israel ook maar treur soos die ander mense wat geen hoop het nie. Want dan is daar ook vir hulle geen hoop meer nie. Dan het die lewe inderdaad sinloos en uitsigsloos geword. Dan mag die dood maar die hele lewe verwoes.

Hoe groot is dan God se genade, broeders en susters, dat Hy spyte van Israel se sondes nie die hele lewe vir altyd aan die sonde en die dood prysgegee het nie. Maar dat Hy sy eie eniggebore Seun as die seun van Abraham, Isaak en Jakob gegee het, sodat Hy deur sy dood hom tot niet kon maak wat die mag oor die dood het- dit is die duiwel, en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Ons ken die HERE vandag as die Vader van ons Here Jesus Christus. En ons weet dat ons om Christus ontwil God se uitverkore eiendomsvolk, ja, sy geliefde kinders en erfgename mag wees. Erfgename van die lewe wat Christus vir ons vir ewig terugverdien het.

Daarom mag en hoef ons nie te treur soos mense wat geen hoop het as ons oog in oog met die dood kom te staan nie. Ons hoef nie ontroosbaar te wees as ons geliefdes deur die dood van ons af weggeskeur word nie.

Ons kan verder kyk as dood en graf. Ons kan tot in die hemel sien en tot op die nuwe aarde. Want ons kyk ook telkens terug: na die kruis en die leë graf van ons Heiland.

En as ons glo dat Jesus gesterf het én opgestaan het, dan sal ons Vader ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom weerbring.

Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde, sodat ons saam, ook in dae van die dood, in die lewe bly glo!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)