Die rigter Gideon laat die wins van sy reformasie direk weer verlore gaan

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rigters 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 8: 22-27 EN 29-31

LITURGIE:
Ps. 85: 1, 2
Ps. 97: 3
L. Rigters 8: 22-35
Ps. 50: 3, 4, 7
Ps. 50: 8, 11
Ps. 85: 3

Broeders en susters,

God se Woord vra vanmôre ons aandag vir die laaste dade van die rigter Gideon. Die Engel van die HERE het hom as reformator geroep. Kerkhervormer moes hy wees. Ja, hy moes die Amelekiete en Midianiete uit Israel verdrywe. Maar daardeur moes hy Israel self na die HERE terug drywe. Was sy eerste opdrag wat hy gekry het nie om die altaar vir die afgod Baäl in sy vaderstad Ofra af te breek nie?

In ons teks, as die Bybel die verhaal van sy optrede gaan afsluit, word hy nog een keer nadruklik "Jerub-Baäl" genoem. Diè bynaam wat tegelyk sy program bevat het: "Bevegter van Baäl" moes Gideon in Israel wees. Yweraar vir die regte van die HERE alleen.

Maar wanneer daardie veelseggende naam nogmaals gebruik word, moet die Bybel terselfdertyd vertel dat die Rigter Gideon sèlf al dadelik die vlak van sy reformasie weer loslaat en die terugval in die afgodediens in die hand werk. Die reformator maak self meteens ook weer 'n begin met die deformasie.

Ek het hierdie verhaal as teks vir my preek gekies, vanmôre.

Ons moet hiervan leer. Want ons sien dit soos 'n refrein deur die geskiedenis: na 'n reformasie val die lewe met die HERE al gou weer plat en val die kerk terug in nuwe sondes wat meestal al ou sondes was.

Die kerkgeskiedenis wys vir ons dat daar telkens nuwe reformasies nodig is, aangesien dit na 'n kerkhervorming maar moeilik blyk te wees om in die hernieude gehoorsaamheid aan die HERE te volhard. Hoe is dit met ons? !

Wat maak ons met die verbond van die HERE?

Bly ons gehoorsaam in die diens aan Hom?

Kom ons luister na die Woord van die HERE in ons teks, wat ek soos volg kan saamvat:

DIE RIGTER GIDEON LAAT DIE WINS VAN SY REFORMASIE DIREK WEER VERLORE GAAN,

  1. IN DIE PUBLIEKE EREDIENS
  2. IN SY PERSOONLIKE LEWENSSTYL

1. Wanneer Gideon van sy indrukwekkende oorwinning op die Amelekiete en Midianiete teruggekeer het, kry hy 'n vererende aanbod: die Israeliete bied vir hom die koningskap aan. Hulle vra vir hom: sal jy ons koning word om vir ons voortaan leiding te gee asseblief? Ons het gesien wat jy werd is. Mense soos jy wat met 'n leërtjie van maar net 300 manne teen 'n teëstander van wel 135. 000 manne durf te veg, is seldsaam. By jou sal ons ons veilig voel.

Ja, hulle bied vir Gideon se geslag selfs die erflike troonopvolging aan. Soveel vertrouwe het hulle in die familie waaruit Gideon afkomstig is. Hierdie geslag moet hulle koningshuis word.

U verstaan dat dit 'n aanloklike aanbod vir Gideon moet gewees het, broeders en susters. Nogtans gaan hy nie daarop in nie. Hy wys dit beslis van die hand: "Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die HERE moet julle Koning bly!"

Gideon het blykbaar dadelik deursien watter verkeerde motiewe daar by Israel agter hierdie mooie aanbod gelê het.

Mog hulle nie 'n koning vir hulle begeer nie? 'n Nuwe leier noudat Josua gesterf het en die volk daarna in 'n krisis beland het? Het God dan in die wette wat Hy vir Moses gegee het, ook nie die moontlikheid geopen dat Israel 'n koning sou kry, nes al die ander volke? Deuteronomium 17. Uit die midde van sy broers mog hulle 'n koning oor hulle aanstel.

Mog Gideon dan geen koning word nie? Was hy nie 'n geskenk van die HERE self vir sy volk nie?

Maar die Israeliete wou uit bloot wêreldse motiewe vir Gideon koning maak. Hulle soek 'n waarborg vir die toekoms dat hulle voortaan nie weer so onder die gesel van vreemde volke sal teregkom nie. En hulle meen hulle het in 'n kragtige leier, 'n samebindende figuur, diè waarborg gevind. 'n Kòning- dit het tot nou toe makeer. Dis hoekom hulle so'n maklike prooi vir die volkere rondom was. Maar met 'n koning soos Gideon, so'n dapper veg-generaal, sal hulle definitief meer indruk op hulle vyande maak. Diè sal dan nie so maklik meer die land durf binneval nie.

Die Israeliete het nog altyd nie verstaan nie, waarom hulle so lank deur die Midianiete verneder en geterg was. Hulle het nog nie raakgesien dat dit hulle eie skuld was omdat hulle aan hulle Koning in die hemnel ontrou geword het nie. Omdat hulle die verbond met die HERE nie onderhou het nie.

Daarom het hulle ook nie verstaan dat hulle nie aan Gideon nie maar aan die HERE die verlossing te danke het nie. Hulle het in Gideon maar net groot 'n politieke leier gesien, geen kerklike reformator wat hulle tot nuwe gehoorsaamheid aan hul enigste Koning, die God van die verbond, moes terugroep nie.

Dis hoekom Gideon vir die eer bedank.

Dis hoekom hy maar net kan sê: broers, julle maak 'n groot fout as julle dink julle vryheid en toekoms hang nou van my af. Diè eer kom die HERE toe. Julle moet my nie op die troon sit nie. Maar julle moet Hom op die troon laat. Hy het deur my hierdie groot oorwinning gegee om ons by Hom terug te kry. Hy moet ons Koning wees.

As Gideon hiermee nou maar volstaan het, gemeente, dan sou sy laaste werk as rigter nog voluit reformasie-werk gewees het.

Maar die Bybel voeg hier dadelik aan toe dat Gideon darem wel gedeeltelik aan die verlangens van die volk tegemoet kom. Hy maak 'n groot hoeveelheid goue ringe bymekaar, uit die buit wat op die Amelekiete behaal is. En daarvan maak hy 'n Efod (daardie woord staan daar eintlik) om dit in die publieke erediens in sy vaderstad Ofra te gebruik.

Ek wou ek kon vir u sê hoe of hierdie efod gelyk het, broeders en susters. Maar die uitleggers weet nie mooi nie.

Ons ken uit die boek Exodus 'n efod as 'n onderdeel van die ampsklere van die hoëpriester. Dit was 'n skouerkleed, met op die skouers in goud gemonteer 12 stene, 2 maal 6, waarop die name van die 12 stamme van Israel gegraveer was.

Maar verderop in die Bybel lees ons meer as een keer van 'n efod wat gebruik word as 'n middel om die HERE te raadpleeg. By Dawid, as hy vlug vir koning Saul, lees ons 'n paar maal dat hy vir die HERE om raad vra met behulp van die efod wat die priester Abjatar saamgeneem het. Dis hoekom party uitleggers liewer nie meer aan 'n kledingstuk nie, maar aan 'n tas of doos waarin die Urim en Tummim bewaar is, wil dink. Die Urim en Tummim was waarskynlik twee klippies waarvan die een "ja" en die ander een "nee" beteken het en waarmee Israel die oordeel van die HERE mog vra.

Dalk moet ons dit so kombineer dat Gideon altwee laat vervaardig het: so'n hoëpriesterlike skouerkleed met daarop 'n tassie vir die Urim en Tummim. Want Aäron het die Urim en Tummim ook òp sy skouerkleed gedra.

In elk geval: wat maak Gideon? Hy wil vir die volk 'n middel om die HERE gou te kan raadpleeg, gee. Die volk het gesê: Ons het nie 'n koning nie. As ons 'n koning sou gehad het sou al daardie ellende ons nie oorgekom het nie. Kom ons maak vir Gideon tot koning.

Maar Gideon sê: nee man, ons het wel 'n Koning gehad: die HERE. En Hy moet ook ons Koning bly. Maar weet u wat was die ding? Ons het feitlik nooit mooi geweet watter bedoelings ons Koning met ons gehad het. Ons het nie geweet wat ons te wagte gestaan het nie. En dit gaan ons nou verander. Ons sal daarvoor sorg dat ons voortaan die HERE sommmer dadelik kan raadpleeg. Ek maak 'n efod, dan kan ons vir die HERE raad vra so dikwels as wat ons dit nodig ag.

Dit mag dalk so lyk asof Gideon hier 'n verstandige ding doen. Is dit nie 'n voortgaande reformasie in die publieke erediens nie? Bind hy met hierdie efod die volk nie nog meer aan die HERE alleen nie?

Maar die Bybel sê reguit: hierdie efod het vir Gideon en sy mense 'n valstrik geword.

Want met hierdie efod het Gideon sy volk nie op die pad van verdere bekering voorgegaan nie. Hy moes hulle opgeroep het om voortaan weer te hoor na die Woord van die HERE en om dit te gehoorsaam. Hy moes vir hulle gesê het: wil julle voortaan vry bly? Begeer julle dat die lewe weer opbloei en dat die vrede in Israel weerkeer? Wel, daar is maar een manier om die verlossing wat God opnuut vir ons gegee het, nie weer te verspeel nie, en dit is: om met 'n hart vol liefde te luister na dit wat die HERE van ons vra. Ons moet Hom weer gehoorsaam wees en sy gebooie onderhou. Dan sal dit weer goed gaan met ons. Dan hoef ons nie bevrees te wees vir nuwe vyande nie. Dan sal die Engel van die HERE weer soos vroeër die vyande voor ons uit verdrywe. Dan hoef julle oor die toekoms nie bekommerd te wees nie. Ons moet maar net op die HERE vertrou. En die verbond met Hom weer onderhou.

God het destyds vir sy volk 'n moontlikheid gegee om hom te raadpleeg. Daardie Urim en Tummim in die tassie op die efod van die hoëpriester. Maar Israel mog daarvan slegs in uitsonderlike gevalle gebruik maak. Om in 'n heel spesiale saak God se "ja" of "nee" te vra. Want Israel het geen God nodig gehad wat vir hulle telkens prsies die toekoms voorspel het nie. Israel moes lewe met die God wat in die verlède sy mag en majesteit, sy liefde en trou oortuigend bewys het. Aan Hom kon hulle hul in geloof rustig oorgee. Hy sal ook in die hede en die toekoms wel sorg.

Tot so'n rusgewende geloof moes Gideon sy mense opgeroep het. Maar Gideon maak nie so nie. Inteendeel, hy wil sy volk op 'n heeltemal ander wyse rus gee. Hy wil voortaan elke nou en dan die wil van die HERE presies uit die Urim en Tummim agterkom.

Daardie een efod van die hoëpriester was in die tabernakel in Silo. In die gebied van Efraïm. Dit was vir baie Israeliete te ver weg. Dis hoekom Gideon'n ekstra efod laat maak. Om voortaan die HERE dadelik te kan raadpleeg. Nog 'n efod in die erediens sal 'n goeie waarborg wees om vorentoe onaangename verrassings te kan voorkom.

Verstaan u, gemeente, dat Gideon met hierdie sogenaamde deurgaande reformasie in die erediens juis 'n struikelblok vir sy volk opwerp om die HERE weer vol vertroue en in gehoorsaamheid te gaan vrees? Deur daardie efod word die omgang met die HERE in die verbond gereduseer tot 'n aantal kultiese handelinge wat so nou en dan verrig moet word om seker te maak dat alles nog goed bly gaan. Terwyl die hàrt ver van die HERE af kan bly. Gideon maak die godsdiens tot 'n saak van uiterlike formaliteite, waarby die Woord van die HERE nie meer die hele lewe beheers nie. In die aldagse lewe kan elkeen op sy eie gang bly aangaan, hulle moet net nie vergeet om reëlmatig kerk toe te kom om die efod te gebruik nie.

Dis diè dat die Bybel hierdie sogenaamde verryking van die erediens 'n valstrik noem. En 'n afhoereer van die HERE. Dit is die eerste stap op die pad na 'n volledige terugval in die afgodery. Gideon het wel moedig die altaar vir Baäl in Ofra afgebreek en 'n altaar vir die HERE daarvoor in die plek gebou. Maar hy verknoei daardie reformasie ook meteens weer deur sy efod. Want die volk begin die Urim en Tummim-tas al gou met afgodsbeeldjies vul, terafim. En wanneer Gideon eenmaal gesterf het, kom al gou die hele Baäl- en Astarte-diens weer terug.

So gou kan die wins van 'n reformasie weer verlore gaan, broeders en susters! Hoe diep sit die sonde in die hart van die mens! Hoe gevaarlik bly die duiwel!

Want dit wat by Gideon gebeur het, was geen uitsondering nie. Die hele kerkgeskiedenis bewys dat dit reël is. Op 'n reformasie volg daar telkens weer deformasie sodat nuwe reformasie nodig word.

Maar hoe 'n wonder is dit dan, gemeente, dat die HERE God in sy genade tog deur telkens nuwe reformasies sy kerk instandgehou het. Dit moet ons beskaamd en verwonderd maak dat ons al op soveel hervormingsdade kan terugsien.

Ons het dit dan ook alleen te danke aan God se eie Seun, aan sy offer vir die aanhoudende sonde in die kerk. Alleen deur sy dood leef daar vandag nog 'n volk van God op aarde.

Maar dan moet ons ons deur hierdie Skrifgedeelte nou ook laat waarsku.

Ons leef vandag in 'n Vrye Gereformeerde Kerk. Diè naam spreek dubbel van verlossing en terugkeer tot die gehoorsame diens aan die HERE.

Ons het geen efod, of terafim, geen altare vir Baäl nie.

Nogtans kan ook by ons die lewe in die verbond met die HERE sommer weer 'n saak van die buitekant word, sonder die diepgang van die hartlike omgang met Hom.

Ons hele godsdienstige lewe, in die sondagse eredienste, maar ook by die huis, kan sommer weer 'n uiterlik ritueel word, 'n religieuse formaliteit waarmee ons die HERE meen om agter die hand te kan hou vir as dit moeilik word.

Kerkgang, ons gebed en Bybellees- dit kan vir ons noodsaaklike verrigtings word wat ons reëlmatig moet uitvoer vir ons eie beswil. Terwyl ons verder in die verbond met die HERE ons nouliks deur sy Woord laat lei.

Die doop van ons kinders, die viering van die heilige Nagmaal- dit kan vir ons 'n tipe van godsdienstige lewensversekeringe word wat mens maar liewer wel moet afsluit. Terwyl die hart vèr van die HERE af bly.

'n Bevestiging van jou huwelik in die kerk- dit kan sommer 'n mooie tradisie word, om jou troudag tot iets plegtigs te maak, terwyl jy in die voorbereiding op jou huwelik glad nie die opbouing van die kerk gesoek het nie.

Gemeente, ons dra die naam "Gereformeerd".

Daardie naam vertel wat ons is.

Maar ons moet dit wat ons is, ook bly!

En daarvoor is 'n deurgaande reformasie nodig. Dis nie voldoende as ons uiterlike kerklike organisasie goed gereël is nie. Ons publieke eredienste vorm nie outomaties die waarborg vorentoe dat dit met ons wel goed sal bly gaan nie.

Die HERE vra u hart! In vertroue en oorgawe. In gehoorsaamheid en 'n daaglikse bekering.

2. Toe Gideon die publieke erediens tot 'n saak van die buitekant gemaak het, het dit ook in sy persoonlike lewensstyl misgeloop. Dit sien ons vervolgens in ons teks. Ons lees in vs. 30 dat hy in sy huis gaan woon het. Gideon het nie, soos Samuel later, rondgegaan in Israel om orals sake in orde te bring en die hart van die volk weer heeltemal op die HERE te rig nie. Gideon gaan blykbaar op sy louere rus.

As net vs. 30 in die Bybel sou gestaan het, sou ek diè gevolgtrekking nie durf maak het nie. Maar ons lees meteens daarby dat Gideon die allures van 'n Oosterse vors begin aanneem het. Immers, hy vat baie vrouens. 'n Komplete harem. Sodat hy maar liefs 70 seuns verwek. En dan praat ons nog nie eers van die dogters nie!

Selfs het hy 'n byvrou geneem. En u moet daarby maar dink aan 'n Kanaänietiese vrou. Die HERE het enige verbintenis met daardie vrouens streng verbode. Hulle moes oor hulle afgodediens uitgeroei gewees het. Gideon bewandel dan ook in hierdie geval 'n middeweg: hy neem haar nie as hoofvrou in sy harem op nie. Maar as byvrou bly sy in Sigem woon, waar hy reëlmatig by haar kuier.

Gideon kan wel baie vroom vir sy broers sê: "Die HERE moet oor ons heers". Maar in sy eie lewe trek hy hom nie baie van die HERE aan nie.

Hy kan wel sê: "Ek moet geen koning oor julle word nie". Maar hy gaan gedra hom darem wel soos 'n koning. Wanneer daardie Kanaänietiese byvrou vir hom 'n seun in die wêreld bring, noem hy hom met die veelseggende naam: Abimelek. Weet u wat dit beteken? "My vader is koning"! Met die mond bely Gideon dit baie mooi dat die HERE alleen Koning is, maar in die praktyk van sy lewensstyl verloën hy hierdie Koning sommerso weer.

Hy vertoon nie die styl van God se Koninkryk nie, maar hy haal die styl van die wêreld in huis. Die styl wat die apostel Johannes so treffend omskryf as: die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe.

So gaan dit altyd, broeders en susters, as die vrees vir die HERE verdwyn en die diens van die HERE 'n saak van net nog uiterlike rituele word. Dan word die lewe in die verbond met die HERE toenemend uitgehol en kom die styl van die wêreld daarvoor in die plek.

Ook dit het die kerkgeskiedenis al baie kere te sien gegee. Na 'n reformasie, as die duiwel die stryd om die kerk verloor het, het hy altyd sy aanval op die kerkvolk gerig. Op hulle lewensstyl. En altyd met sukses. As hy by die voordeur afgewys was, het hy met die agterdeur weer ingekom.

Dit moet ons dwing tot selfbeproewing, gemeente. Hoe is dit met ons? Loop ons ook onder ons nie die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe toenemend raak nie? Nee, ek oordryf nie graag nie, en ek wil ook nie swartgallig wees nie. Maar ons moet wel eerlik wees.

Die begeerlikheid van die vlees: in die wêreld word die mense beheers deur wat plat genoem word: seks. Die selfgesentreerde begeerte na liggaamlike omgang met die ander geslag. Met as gevolg: geslagsverkeer voor die huwelik, samelewing sonder huwelik, owerspel, egskeiding, homoseksualiteit ens.

Moenie dink dat dit òns nie bedreig nie! Dit begin al by ons kerkjeug as hulle by hul keuse van 'n lewensmaat maar net kyk na 'n aantreklike gesig en 'n pragtige liggaam, en nie allereers let op 'n aantreklike lewe in die verbond met die HERE en 'n diep gelowige hart nie! En dit ondergraaf vervolgens huwelike as die enigste fondament wat daaronder lê feitlik maar net die hartstog vir mekaar se liggaam is.

Die begeerlikheid van die vlees: in die wêreld sentreer by baie mense die lewe maar net om eet en drink, braaivleisaande en partytjies. Met 'n oordaad aan kos en alkoholiese drank.

Staan by ons heeltemal ander sake in die middelpunt? Of verskil ons lewensstyl nie so baie van die styl van die wêreld nie? Hoe staan dit met die drankgebruik onder ons, broeders en susters?

In die wêreld is daar ook die begeerlikheid van die oë: jou vergaap aan allerhande wat maar net slegte begeertes in jou wakker maak: fliek, televisie, blaaie soos Scope, Huisgenoot e. d.

Maar is ook dit nie besig om in die kerk op te dring nie? Ons ouderlinge loop dergelike lektuur ook in Gereformeerde gesinne raak. Ek is oortuig daarvan dat in baie van ons gesinne die televisie veels te veel en veels te kritiekloos die aande beheers.

Tot die wêreldse lewensstyl behoort volgens Johannes ook nog die grootsheid van die lewe. 'n Gevaar wat ons baie beslis ook aanhoudend bedreig: die onweerstaanbare behoefte om met die mense rondom jou te kan wedywer in uiterlike prag en praal. Al hoe groter en al hoe mooier huise, die nuutste inrigting daarvan, dure motors om mee te kan spog, ver vakansies....

Wanneer so'n lewensstyl opruk in die kerk, en ons terselfdertyd moet vasstel dat die kennis van God se Woord al hoe oopervlakkiger word, dat die kerkgeskiedenis nie meer geken word nie, dat die verenigings swak besoek word en die voorstudie minimaal is, word dit hoog tyd vir selfbeproewing, gemeente.

Of liewe: vir bekering!

Ons noem onsself: Gereformeerd. En ons stel prys op daardie naam. Tereg. Maar daardie naam vra om meer: om 'n deurgaande reformasie. Wie gereformeerd wil wees moet daagliks reformeer, dit is: daagliks bekeer. in die kerk. Maar nie minder in sy persoonlike lewe nie.

Want as dit nie gebeur nie- dan sak ons onvermydelik weer terug in die wêreld sonder God. Dan is ons nie langer Gereformeerd nie. Maar gedeformeerd. Dan is ons ook nie meer Vry nie. Want dan het ons onsself weer tot slawe van die wêreld van die bose gemaak.

Want dan maak ons vir onsself die toekoms toe.

En dit is dan nie God se skuld nie. Want Hy het al baie baie kere die toekoms weer vir sy volk oopgemaak. Hy het ook vanmôre, deur hierdie preek, die toekoms vir u wil oophou.

AMEN.

(Pretoria, 5 November 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)