Die geding tussen God en Satan oor die egtheid van Job se vroomheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 1
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 3: 1, 2
Ps 84: 1, 2
Ps 84: 5, 6
Ps 46: 1, 2, 6
Ps 128: 1, 2, 4
Lees: Job 1: 1-12
Teks: Job 1: 8-12

Brs en srs,

Kan mense wel werklik vroom wees?

Kom dit wel voor dat mense God werklik liefhet?

Dink 'n bietjie aan jouself. Het jy die Here werklik lief?

Gaan sy Koninkryk bo alles vir jou?

Sê nie te gou 'ja natuurlik ' nie, want so natuurlik is dit glad nie. Dink daaroor na, hoe jy oor geloof en kerk sal voel as dit vir jou groot offers begin verg.

Stel dit begin lewensgevaarlik raak om kerkdienste by te woon. Sê nou jy kan geen werk kry of geen skoolopleiding volg solank jy nog as 'n christen bekend staan nie.

Sal jy dan nog God kan liefhê?

Sal jy dan nog kan sing van sy goedheid en genade?

Dit is vrae brs en srs, sns en dgtrs, wat mens benoud kan maak.

Sal ons ons geloof kan volhou in 'n situasie waarin die geloof niks vir ons oplewer nie, maar waarvoor ons alleen maar 'n hoë prys moet betaal?

Ek sal vir u vertel hoekom ek hierdie vrae vra.

In ons laaste preek uit Efese 2 ( vs 8-10 ), het ons probeer verduidelik dat die hele lewe uit geloof 'n gawe van God is.

Dit is enkel genade as die Here in jou die geloof werk. Dit is 'n geskenk om dankbaar voor te wees. Selfs jou lewensheiliging is 'n geskenk wat God vir jou gee. Alles is genade.

Nou keer ons terug na ons eerste vraag: Kan mense werklik vroom wees? Kan jy God werklik liefhê?

Verstaan u nou dat hierdie vraag nie soseer 'n vraag is na wat mense kan nie (namelik eg vroom wees), maar eerder 'n vraag na wat God kan?

Kan God werklik liefde vir Hom in mense teweegbring, ja of nee?

Of is liefde vir God by mense maar 'n saak van so lank as wat dit duur? As dit nie teveel offers vra nie, dan is daar geloof en liefde, maar as dit moeilik raak, dan val al die gelowiges skielik deur die mat?

Gemeente, dit is die vraag wat in die boek Job aan die orde gestel word.

Van Job word in vers 1 betuig: Hy was vroom en opreg. Hy was godvresend en het hom ver gehou van die kwaad.

Die vraag waar alles om draai is nou: Waarvandaan kom die vroomheid van Job? Wat is die bron van sy liefde tot God?

Kom dit voort uit Job self?

Of is sy liefde tot God 'n geskenk wat God vir hom gegee het?

Ons kan die vraag nog effens anders stel: Is God werklik in staat om by mense liefde tot Hom en sy ryk te bewerk, ja of nee?

Oor die kernvraag waarmee heel die bybelse boodskap staan of val gaan God 'n konfrontasie aan met sy teëstander, die Satan.

Dit is dan ook die tema vir ons preek van vanoggend:

Die geding tussen God en Satan oor die egtheid van Job se vroomheid

  1. Die egtheid deur die Here betuig
  2. Die egtheid deur die Satan betwis
  3. Die egtheid deur die Here beproef

Omdat dit 'n eerste preek is oor die boek Job moet ek vir u eers iets vertel oor die vorm van die boek. Die hoofdeel van die boek is 'n groot digwerk. In die lang gedig kom 'n aantal persone aan die woord. Job se vriende, Job self en die Here.

Aan die digwerk vooraf gaan 'n voorwoord in prosa.

Aan die einde is daar 'n slotwoord.

Vandag kyk ons na die eerste deel van die voorwoord. Immers in die voorwoord kan ons agterkom wat die skrywer bedoel met sy hele verhaal oor Job.

Die meeste mense is maar gewoon om te dink dat dit in die boek Job gaan oor die probleem van die lyde in die wêreld.

En seker, oor die saak word heel wat gesê. Waaaroor praat Job se vriende anders?

Maar tog is dit na my oordeel nie die eintlike doel van die boek nie. Dit is veel meer as 'n worsteling om die lyde wat oor 'n mens kom in die lewe te kan verstaan.

Immers as ons die boek as 'n geheel lees, dus veral ook let op die eerste hoofstuk dan ontdek ons dat die skrywer 'n heel spesifieke boodskap het.

Kyk, vir hom was dit nie 'n vraag hoekom Job so moes ly nie.

Hy het geweet. Job se lyde en hoe hy daarop sou reageer was die inset van 'n geding tussen God en die Satan.

En ons as lesers weet dit ook.

En daarom moet ons eerste die voorwoord lees.

Die beeld wat ons daar geteken word, is die volgende:

Die Here hou 'n vergadering in die hemel waar al sy dienaars byeen kom. Ook die Satan meld hom daar. Hy loer steeds rond op die aarde of hy op een of ander manier die werk wat God daar besig is om te doen, skade kan toebring.

Hy kla mense aan by God. Kyk hoe sondig hulle! Hulle is in my mag!

U sal nooit in staat wees om u Koninkryk op hierdie aarde te vestig nie. Daardie ryk is definitief verlore. Die liefde waarop u Koninkryk gebou moet word bestaan eenvoudig nie. Mense kan maar net hulle self liefhê en gee tenslotte nie om vir u en U Ryk nie. So praat Satan oor die mense op die aarde.

Maar dan roep God hom tot die orde.

Luister Satan, Ek hoor jou aanklagtes teen die mense.

Maar, het jy wel my kneg Job gesien?

My kneg. Dit is 'n erenaam. Job is anders as ander mense.

Hy is 'n opregte dienaar van my. Hy soek nie homself nie.

Hy wil maar een ding. Dit is my dien en in my weë wandel.

Sy vroomheid is 100 persent eg.

Gemeente, dit beteken nie dat Job heeltemal sonder sonde is nie. Maar wel dat Job hom heeltemal aan die Here toevertrou het. Hy stry teen sy eie sondes. As dinge verkeerd gaan dan het hy werklik berou daaroor en soek weer die aangesig van die Here. Van Job kan ons rustig sê: Hy is 'n man na God se hart.

Waarom? Omdat Job se hart volledig by die Here is.

Dit blyk aan alle kante uit sy dade.

Hy is vroom, hy dien God en hy hou hom ver van die kwaad.

Dit is die getuienis wat God self van Job lewer.

Hoe is Job dan so? Is hy so uit homself? Is die bron van Job se vroomheid sy eie vrome hart?

As ons die Bybel ken, weet ons, die antwoord is 'nee'. Dit is nie Job se eie werk nie. Dit is die werk van die Here in Job.

God self het van Job 'n nuwe mens gemaak.

God self het van 'n sondaar in wie slegs die dood lewe, nuwe lewe gegee.

God kan dit doen. Hy het daarvoor die krag.

Dit is die krag waarmee Hy sy volk vergader van die begin van die wêreld tot aan die einde daarvan. Daar sal altyd mense wees wat die Here opreg dien. Die Here het dit gegee in die tyd van die O.T. Reeds aan Adam en Eva beloof Hy dat die saad van die vrou sal standhou in die stryd wat sal kom. En so is die Here besig om sy Koninkryk op hierdie wêreld te vestig.

In die tyd van die N.T. kry die Koninkryk nog 'n ekstra impuls. Dan stel God sy Heilige Gees beskikbaar om mense tot geloof te bring en van hulle vrome en godvresende mense te maak.

Hierdie werk van God strek dus oor die hele geskiedenis van die wêreld.

Die Here maak van sy kinders dus nuwe mense. Mense wat vroom is en hulle ver hou van alle kwaad.

Die getuienis wil die Here dan ook van al sy kinders kan gee. Ook vandag. Ook van julle.

Hoe dikwels word oor kerkmense nie die verwyt uitgespreek: Almal skynheiliges. Hoor hul woorde, maar moenie kyk na hul dade nie!

Waar soiets gebeur gemeente, daar is nie ons naam in geding nie, maar die naam van die Here.

God skenk mos vir julle almal die hemelse gawes. Hy gee vir u die kragte om te glo, om lief te hê, om u ver te hou van die kwaad.

Wel, wat doen u met daardie gawes? Stuur u dit netso terug na die Gewer? Of sê jy dankie en doen verder niks daarmee nie? Of aanvaar u dit met 'n dankbaar hart en begin u u lewe te heilig tot eer van die Here.?

Laat die Here van ons almal kan betuig net soos hy van Job gesê het: Satan, het jy my kneg 'die-en-die' gesien (vul jou eie naam maar in).

Het jy gesien, Satan? Hy is vroom en opreg. Hy dien My en hou hom ver van die kwaad.

2. Die egtheid van Job se vroomheid deur Satan betwis

God roem dus teenoor Satan oor die werk wat Hy in sy kneg Job gedoen het.

God het van Job 'n ware gelowige gemaak.

Let op hom, Satan, Job is 'n opregte vrome wat My werklik liefhet met heel sy hart.

Ek glo niks daarvan nie, sê dan die Satan.

Egte liefde bestaan nie.

Geen mens op aarde sal God werklik liefhê net terwille van Godself. Ook Job nie.

Natuurlik sal Job u liefhê. Hoekom sou hy nie? Dit gaan mos goed met hom!

Maar, Job vrees u nie verniet nie.

Sal ek sê hoekom Job u vrees?

U het vir hom mos alles gegee wat sy hart kan begeer?

Kyk, hoe ryk is hy?

Kyk, hoe gelukkig is hy in sy gesin?

Natuurlik sal 'n man soos Job bereid wees om by soveel welvaart sy God dankie te sê.

Maar, vat van hom af wat hy besit en u sal sien, die liefde van Job vir sy God sal verdwyn soos sneeu vir die son. Hy sal u in u aangesig seën!

Dit beteken, hy sal u netso vaarwel sê. Hy sal sy God vervloek.

Sien u wat gebeur?

Satan betwyfel om te begin die opregtheid van Job. Maar dit gaan nog dieper.

Satan ontken feitelik die moontlikheid dat 'n mens op aarde God kan liefhê net om Godself.

En dan kan ons nog een stap verder gaan. Satan ontken dat God aan 'n mens 'n werklike geloof en liefde kan gee.

En daarmee is ons aan die laaste konsekwensie. Satan beweer dat die koms van die Koninkryk van God in elk geval 'n onmoontlike saak is.

Want die Koninkryk sal net daar wees waar mense in liefde God sal dien. Satan ontken pertinent dat God mense tot geloof kan bring.

Dit is onmoontlik dat mense opgeneem word in die Koninkruyk van God. Hulle kan moontlik 'n tydlank u dien maar dit is nie meer as skynvroomheid nie. Dit is alleen maar omdat dit vir hulle pas om u te dien.

So tart Satan die Here. Hy ontken nadruklik die moontlikheid van autentieke geloof.

Nou is Satan daarin nie die enigste nie.

Sê ons nie nou en dan ook soiets nie, brs en srs?

Ag, die gemeente, die kerk. Die meeste mense is maar lid daarvan uit konservatisme. Of hulle soek daar 'n bietjie sekuriteit. Dit is al wat hul geloof is.

Laat ons maar heel versigtig wees daar.

Want dan praat ons nes die Satan. Ons speel presies in sy kaart.

Dit sal waar wees, in die kerk is daar veel skynvroomheid, veel ondiep geloof, veel bou op verkeerde sekuriteite.

Maar tog bly dit die gemeente van Jesus Christus waaroor ons geen generaliserende oordele mag uitspreek nie. Want in die gemeente werk Hy ook opregte geloof hoop en liefde.

Dit is sy werk. En dan sal dit waar wees dat die een meer begrip het van dinge as 'n ander. Maar so gou jy jou daarmee bo 'n ander begin verhef, blyk dat jyself nie van genade lewe nie. Niemand het die reg om van Christus werk in die gemeente kwaad tespreek nie.

Laat dit maar oor aan Satan. En laat dit oor aan God om dit te bestraf.

Want jy is sommer besig om die werk van die heilige Gees te laster. As jy probeer vroomheid en geloof weg te redeneer deur dit uit 'n ander bron te verklaar dan doen jy presies dieselfde as wat Satan hier doen.

Hy ontken eenvoudig die moontlikheid dat God mense kan bekeer. Dat God werklik geloof in mense kan werk.

Satan bestry dat God in staat is om egte vroomheid as geskenk van sy genade aan mense te gee.

Teen hierdie laster God in verweer. Daaroor in punt 3.

3. Die egtheid van Job se vroomheid deur die Here beproef

Lastering van die werk van Gods Gees. So het ons Satans bevraagtekening van die egtheid van Job se geloof genoem.

Dit kan God nie laat gaan nie. Hy gaan iets doen.

Omwille van die eer van sy eie Naam.

Kyk, Job het in heel sy lewe die eer van die Naam van God besing. Sy loflied op God se goedheid was elke dag daar.

Loof die Heer, het Job gesing, loof die Heer want Hy is goed!

Loof Hom met 'n bly gemoed!

'n Goedkope loflied, het die Satan smalend gesê.

Dit beteken niks om deur mense geprys te word wat so geseënd is met welvaart.

Op hierdie aantyging reageer God met die antwoord aan Satan: Kyk alles wat Job het, is in jou hand. Vat alles van hom af en kyk wat gebeur.

En so moet Job gaan dien as die bewys dat God wel in staat is om werklik liefde vir Hom by mense te wek. God sal Satan verkeerd bewys.

Dit is waaroor dit in die boek Job sal gaan.

Sal Job se loflied op God se genade bly klink? Of sal Job sy God wat hom so teleurstel vervloek?

Job sal deur 'n vreeslike tyd gaan. Hy sal bitter swaar kry. Hy sal propvol vrae kom. Maar hy sal sy vertroue in sy God nie opsê nie. Hy sal bly volhou: die Here is goed. Dit is goed om naby my God te wees.

Onthou, hierdie proef gaan vir Job 'n blinde toets wees.

Ons is al van tevore ingelig wat die oorsaak is van Job se ellende wat sal kom. Dit is die geding tussen God en Satan.

Maar Job self weet niks daarvan nie.

As hy geweet het wat op die spel was sou dit vir hom soveel makliker gewees het om vol te hou.

As hy geweet het dat die hele hemel as het ware op die tribune sit en luister en kyk wat gaan Job doen, dan sou dit vir Job 'n geweldige ondersteuning beteken het.

Maar Job wet nie daarvan nie. Hy moet heeltemal alleen deur sy lyde gaan. Net met sy geloof in God. Net met sy vertroue op die Here.

Die Here vat 'n groot kans, sou ons amper sê.

Ja, as ons sien op die mens, dan is dit waar. As ons let op die geloof wat van Job gevra sal word, dan sê ons dit gaan hy nie maak nie. Dit is teveel vir 'n mens.

Maar dit gaan hier nie oor Job se werk nie.

Dit gaan hier in die eerste plek oor God se werk in Job.

God se genadekragte word hier beproef.

God durf dit aan. Hy stel 'n groot vertroue in die opregtheid van Job.

Waarom?

Daarop is maar een antwoord: omdat Hyself die geloof by Job gewerk het.

Wat God se hand begin het, laat Hy nie sommer vaar nie.

En gemeente, dit is vir ons uiters troosvol.

Ons lewe kan ook in die beproewing kom. Soos ons in die begin die benouende vraag gestel het, wat gaan met ons geloof gebeur as ons werklik omwille van die geloof vervolg word?

Maar dan mag ons sê: God het 'n werk in ons begin. Ons gee volledige erkenning aan sy genade. As dit vandag alles genade is dat ons mag glo, dan sal God dit ook doen in omstandighede waar in dit moeilik is om te glo. God sal krag gee namate van die kruis wat Hy my wil laat dra.

Het die Here nie self belowe dat ons nooit bo vermoë versoek sal word nie?

En as daar dan versoekings in ons lewe kom, as ons deur beproewings gaan wat ons ruk, as daar dinge gebeur waarin ons op geen manier as mense enige sin en doel kan ontdek nie, laat ons dan aan hierdie verhaal van Job dink.

Vanuit die hemel word na elkeen van ons gekyk.

Elkeen kry sekere laste te dra.

Ons almal is die inset van 'n permanente geding tussen God en sy teëstander.

Ons almal kom in die sif. Ons word geskud. Satan sal hard skud om ons deur te laat val. God sal skud en ons bly toeroep: Hou vol, Ek is met jou. Jou eie kragte is wel klein maar jy sal my Naam nie verloën nie.

Ek het vir jou mos my Gees gegee. Hy sal jou lei. Hy sal jou laat volhou, al word dit hoe swaar.

Vergeet nie. Ek het die Satan gebind.

Maar my Heilige Gees is vry.

En Hy is naby jou. Hy is in jou.

Hy sal jou laat volhard in enige beproewing wat oor jou lewe mag kom.

Amen.

(Oggenddiens 13 september 1992)

Liturgie: 

(kyk in preek)