Die evangelie van alleen genade

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 33
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOB 33: 14-30

Votum en seëngroet
Ps. 30: 2, 8
Geloofsbelydenis
Ps. 30: 3
Kort Nagmaalsformulier
Ps. 103: 2 terwyl die tafel gereed gemaak word
viering Nagmaal, gevolg deur danksegging
Ps. 103: 3 by die afsluiting van die tafel
Dankgebed
Kollekte
Ps. 116: 1-5, 7
(L.) Job 32: 1-5 en Job 33
Prediking oor Job 33: 14-30
Ps. 103: 1
Gebed
Ps. 116: 8, 9, 10
Slotseën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het ons die laaste weke besiggehou met die boek Job.

Ek het ook vir vanaand my teks uit hierdie bybelboek gekies.

Ons het reeds gesien hoe dat die HERE Self Hom aan Job laat hoor het nadat Job Hom as 't ware daartoe uitgedaag het, en Job met sy opstandige klagte op sy plek gesit het: hoofstuk 38 e. v.

Maar vanaand gryp ons nog bietjie terug voor daardie laatste hoofstukke. Want ons het nog nie aandag gegee aan die bydrae wat Elihu in hierdie drama gelewer het nie.

Wanneer Job se drie vriende Elifas, Bildad en Sofar na 'n al hoe heftiger debat met Job klaar gepraat het, blyk daar mos nog 'n vierde vriend te wees: Elihu.

Enuit sy woorde kom ons al gou agter dat Elihu 'n ánder. 'n beter kyk op dit wat Job oorgekom het, gehad het as die ander drie vriende.

In 34: 36 gebruik hy die woord "toets" m. b. t. die lyding wat Job moet verduur: Job word deur die HERE getoets, beproef. Elihu verstaan: al hierdie ellende het Job getref sodat duidelik kan word dat God se herskeppingswerk in die mens die proef kan deurstaan. Daarom sal hy probeer om Job in die proef nie te laat beswyk nie. Dit wat hy aan Job voorhou om hom in sy lyding te bemoedig is dan ook baie beter as wat die ander vriende gesê het. Aan die einde van die boek lees ons dat die HERE vir Elifas, Bildad en Sofar verkwalik dat hulle nie reg van Hom gepraat het nie. Maar dié verwyt klink nie aan Elihu se adres nie.

Dit is dus die moeite werd om na Elihu se bydrae aan die debat te luister.

Ek het sy bydrae opsetlik vir vandag bewaar, aangesien Elihu die duidelikste van almal in sy trooswoorde aan Job verwerk het dit wat ons vandag saam gevier het: die hoë losprys wat daar vir ons lewe betaal moes word: Christus se dood. Elihu was die eerste wat die Evangelie van alleen genade in ronde woorde ter sprake gebring het. Dit wil ek vanaand graag vir u wys. Sodat ook u uit dié Evangelie sal bly lewe.

Met toenemende verontwaardiging het Elihu nie net na Job se ander vriende nie, maar ook na Job self geluister.

U onthou: Elifas, Bildad en Sofar het 'n baie simpele redenasie gehad: God gee elkeen loon volgens sy werke. Met ander woorde: Job kry seker maar wat hy verdien het. Hy het ongetwyfeld 'n groot sonde gedoen waaroor die HERE hom nou straf. Eers as hy sy skuld bely en hom bekeer, sal alles weer reg kom.

Elihu stem met Job saam: so eenvoudig werk dit nie by die HERE nie.

Maar Elihu het darem ook gemerk hoedat Job in sy weerwoord op die aanklag van sy vriende al hoe meer enige skuld teenoor God in sy lewe begin ontken het. Job het hom op die ou end gedra asof hy 'n sondelose mens was. Sien 33: 8, 9.

En dis dié dat Job hom deur die HERE veronreg gevoel. Waarom is al sy geluk in een dag vergal? ! Waarom sit hy hier so siek en ellendig? !

Job kry die gevoel dat God 'n wrede speletjie met hom speel. "Want as ek Hom vra, hoekom Hy so met my maak, kry ek nie eens antwoord nie", kla Job.

Kyk, en op dié klag wil Elihu graag reageer. Daarop het hy wel iets te sê. Want hierin misgis Job hom baie beslis.

Elihu sal aan Job duidelik maak dat die HERE wel deeglik aan 'n mens laat weet waarom Hy soms sy lewe in die ellende onderdompel.

Elihu sê in ons teksverse vir Job: Jy verwyt God Hy stort eers die een na die ander ellende oor 'n mens uit, en daarna hou Hy Hom heeltemal eenkant. As jy vra waarom Hy dit gedoen het, gee Hy nie antwoord nie.

Maar jou verwyt is nie tereg nie.

God gee wél antwoord, en Hy maak 'n mens wel deeglik duidelik waarom Hy so met 'n menselewe besig is.

Maar ons is in ons ellende meestal maar dermate met onsself besig dat ons daar nie op let nie.

Let maar op:

God is op meer as een manier met die mens besig om hom klein en nederig te hou. Dis die kern van Elihu se hele betoog.

God kan daarvoor drome gebruik. Angstige drome wat jou onrustig en onseker maak. Wat jou weer laat besef dat jy die lewe tog nie so onder beheer het as wat jy dink nie.

U moet bedink, gemeente, dat Elihu praat in 'n tyd waarin die HERE nog reëlmatig in 'n droom Homself aan mense geopenbaar het: Jakob het in 'n droom in Betel 'n leer vanuit die hemel gesien waarlangs engele op en afgeklim het, u weet van Josef se drome, God het die Farao van Egipte deur drome onrustig gemaak, en later koning Nebukadnesar van Babel. Job weet sélf ook daarvan: in 7: 14 het hy gesê: "As ek in die slaap rus en ontspanning soek, my ellende 'n oomblik wil vergeet, dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte".

Elihu sê: in daardie naggesigte bemoei God Hom met hoogmoedige en eiewyse mense om hulle weer klein en nederig voor Hom te maak, ja, weer heeltemal van Hom afhanklik.

Want ons is almal maar trots en selfversekerd

Vandag openbaar die HERE Hom aan óns nie meer so duidelik op hiérdie wyse nie, broeders en susters, om rede sy Woord inmiddels baie duideliker geword het.

Maar die ander manier waarop God die mens weer klein, nederig en afhanklik maak, ken ons vandag nog baie goed.

Elihu wys vervolgens op 'n ernstige siekte waardeur 'n mens alreeds met een been in die graf kom te staan. God maak hom doodsbenoud. En die verderfengele van God staan gereedheid om sy lewe af te sny.

Job weet ongetwyfeld hoe of dit voel!

Is dit 'n wrede, sinlose gril van God?

Waarby God hardvogtig en onverskillig toekyk?

Glad nie!

Kyk hoe noem Elihu dit in vs. 19: 'n mens word op dié wyse "getugtig". En as die HERE tugtig, gebeur dit vir ons beswil.

Ons word weer ontvanklik vir sy Woord van genade.

Daarom stuur God in so'n situasie ook dikwels 'n gesant na sy doodsieke kind toe.

Ja, en nou moet ons sorgvuldig lees, gemeente. Want Elihu se woorde is veral in vs. 23 en 24 nie maklik om te verstaan nie. U kan heelwat verklarings lees waarin sondermeer gesê word: daardie gesant waarvan Elihu praat is ons Here Jesus Christus. Hulle vertaal dan die woordjie "tolk" in vs. 23 met "middelaar" en betrek vs. 24 heeltemal op Hom: die Middelaar ontferm Hom oor daardie doodsieke mens en vra van God om hom nie in die grafkuil weg te stoot nie, want, so mag Hy sê: "Ek het die losprys gevind". Die woorde in vs. 23, dat hierdie gesant "een uit duisend" is, moet volgens hul verklaring natuurlik beteken: so'n gesant van God wat terselfdertyd by God as Middelaar optree, is uniek.

Ander verklaarders aanvaar dat Elihu hier nie regstreeks nie, maar wel indirek van die Christus geprofeteer het. Volgens hulle het Elihu toe hy van dié gesant gepraat het, aan 'n besondere engel gedink -die Hebreeuse woord vir gesant word ook telkens gebruik as 'n engel bedoel is; 'n engel is mos 'n gesant van God- Hierdie engel tree dan op as bemiddelaar tussen God en die mens wat op sterwens na dood is en vra teenoor al die verderfengele wat sy dood soek, om sy redding. Omdat daar 'n losprys betaal is.

Elihu het dan dalk self nog nie ten volle besef van Wie hy gepraat het nie, maar ons weet nou, dat God se eie Seun, die Engel van die HERE die vervulling van hierdie woorde van Elihu is.

Die rede waarom so veel verklaarders die gesant in vs. 23 op die een of ander wyse aan Christus wil verbind, is dat hulle almal 'n direkte band lê tussen hom en die losprys waarvan in vs. 24 gepraat word. Almal aanvaar dat dié gesant die losprys vir die lewe van die doodsbenoude mens aan God betaal het.

Maar so'n onmiskenbaar duidelike band tussen die losprys en die gesant het Elihu darem nie gelê nie. Ek aanvaar, soos die meeste uitleggers, dat dit in vs. 24 die HERE is, en nie die gesant nie, wat sê: "Verlos hom wat Ek het 'n losprys gevind". Maar die woorde van die HERE impliseer nie soos vanself dat dit die gesant van vs. 23 is wat daardie losprys betaal het nie.

Ek wil daarom liewer die mees versigtige verklaring volg, in die lyn van Calvyn en die Kanttekeninge by die ou Hollandse Statenvertaling en nie alreeds in vs. 23 op die een of ander wyse aan Christus se Middelaarswerk dink nie. Dis ook nie nodig nie. In vs. 24 word sy verlossingswerk duidelik genoeg ter sprake gebring.

Ons kan by die gesant wat deur God na 'n mens wat al met een been in die graf staan, gestuur word, gewoon aan 'n medemens dink. Miskien ook aan 'n engel wat in 'n droom 'n in sy ellende kortsigtige mens mag help om 'n oog te kry vir God se beleid in sy lewe. Maar kom ons dink maar eenvoudig aan 'n medemens. 'n Vriend, 'n broer of suster, 'n ouderling of die predikant. Een wat jou help om God se hand weer raak te sien en te aanvaar. Dit beteken daardie woordjie: "tolk".

Mense wat ernstig siek raak, of op 'n ander manier baie swaarkry, word gelukkig meestal nie aan hulle lot oorgelaat nie. Daar is mense wat omgee, hulle kry besoek, en dikwels stuur God ook iemand wat nie net oppervlakkige menslike trooswoorde spreek nie, maar op 'n hoër vlak wys en versigtig met sy sieke medemens nadink oor die verband tussen sonde en siekte. Om hom bo kortsigtigheid uit te tel en om hom die sin van sy lyding te leer verstaan. Sodat hy hom geduldig onder God se hand sal verneder.

Elihu wil so 'n gesant van God vir Job wees, broeders en susters.

Job se ander vriende het in só'n direkte band tussen sonde en siekte geglo - siekte is die dadelike straf van God op 'n duidelike sonde- dat Job dit tereg as Godslasterlik verwerp het.

Maar Job het ten gevolge daarvan wel heeltemal na die ander uiterste geswaai en enige verband tussen sonde en siekte en lyding ontken.

Elihu probeer nou vir Job duidelik maak dat die waarheid tussen daardie twee uiterstes in lê. Daar ís 'n verband tussen die ellende wat ons in hierdie lewe almal op God se tyd moet verduur, en die sonde. Maar dan moet ons nie aan spesiale sondes dink waaroor ons direk 'n spesiale straf ontvang nie. Dit kán wel in party gevalle gebeur: wat van VIGS as gevolg van 'n sondige seksuele gedrag? Maar dis by God nie reël nie; hoeveel mense is met VIGS besmet sonder enige skuld? Ongekontroleerde bloedoortapping, of na versorging van 'n VIGS- pasiënt.

Nee, as ons praat van verband tussen sonde en siekte moet ons dink aan ons gemeenskaplike sondeval in Adam in die paradys. Vanaf daardie oomblik verdien ons almal saam die vreeslikste siektes, ja, die dood.

Siekte, ellende, verdriet- dit is 'n hardhandige middel van God wees waardeur Hy ons aan ons gemeenskaplike skuld herinner.

Maar dan laat Hy ons nooit alleen met ons moeite worstel nie; Hy stuur dan ook iemand wat saam met ons worstel en ons die regte houding in ons moeite leer. Partymaal moet jy so'n helper met 'n lanterntjie soek, want die meeste mense doen nie moeite om in jou worsteling te verdiep nie. Nogtans stuur God so'n medemens, een uit die duisend, wat jou voor God plaas jou leer dat jy nie die reg het om te kla nie, maar wel die plig het om jou te verootmoedig.

En as dan so'n doodsieke mense genadiglik van God genesing ontvang; as God die verderfengele verbied om daardie uitgeteerde mens nou alreeds graf toe te sleep en hy weer mag lewe en gesond word- dan sal voortaan sy lewe een groot loflied op die HERE word.

Want waarom het hy nog die lewe terugontvang? Omdat hy dit verdien het? Omdat hy met sy verootmoediging op sy siekbed God vermurwe het?

Nee, die enigste rede daarvoor is dat God kan sê: "Ek het die losprys gevind".

Hier raak Elihu 'n snaar aan wat nog nie eerder in die gesprekke tussen Job en sy vriende geklink het nie, gemeente: geen mens het reg op lewe nie. Ons almal verdien die dood. Job, ek, u. Selfs die in ons oë mees voorbeeldige en regverdige mens.

En niemand het dus reg om by God te kla nie. Inteendeel:

as God nogtans die lewe vir ons wil skenk, is dit uit genade alleen.

Dan is dit omdat Iemand anders die lewe vir ons terugverdien het. Omdat ons uit die dood losgekoop is.

En eers hiér is dit onmiskenbaar, broeders en susters, dat Elihu aan ons Here Jesus Christus gedink het. In Elihu se tyd kon God nog nie sê nie: "Ek het die losprys ontvang". Geen mens of engel kon dit vir Hom betaal nie. Maar Hy het toe alreeds wel die losprys gevind. Die Lam wat vir ons sondes die losprys sou

betaal, het alreeds op 'n gereedheidsgrondslag gestaan. Soos ons vanmôre in 1 Petr. 1: 19 gelees het: "Hy was vooruitgeken voor die grondlegging van die wêreld... ".

Elihu plaas Job voor hierdie Lam.

Ons lees twee keer in hierdie bybelboek dat Job vir ander mense offers bring: in die eerste hoofstuk vir sy kinders, en in die laaste hoofstuk vir Elifas, Bildad en Sofar. Maar hy sal moet besef dat daar ook vir homself 'n offer vir die sondes noodsaaklik is. Die offer van God se eie Seun.

Job probeer homself dermate verontwaardig teenoor die aanklagte van sy vriende staande hou, dat hy amper sou vergeet dat enige mens teenoor die HERE alleen maar diep kan kniel.

En God moet dit 'n mens dikwels maar op 'n harhandige manier leer. Deur 'n ernstige siekte, 'n skielike verdriet, 'n plotselinge teleurstelling.

Want eers as 'n mens klein gemaak word, leer hy weer besef hoe groot die losprys is wat daar ook vir sy lewe betaal moes word. Hy leer ook besef hoe 'n wonder dit is dát daar ook vir hom 'n losprys betaal is!

Dan verdwyn alle vanselfsprekendheid uit die lewe en verander van nature hoogmoedige mense in beskaamde skepsele. Hul opstandige klag word 'n verwonderde loflied: "Ek het gesondig maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. Hy het my siel verlos en my lewe mag hom verlustig in die lig". Die verdriet word nie altyd weggeneem nie, die teleurstelling bly dalk nog lank pla, en hy wat van 'n ernstige siekte weer gesond mog word, weet dat hy eendag weer siek sal word en dat dan waarskynlik wél die dood volg. Dit gebeur selfs dikwels dat die pasiën nie weer gesond word nie, maar aan sy siekte sterf.

Maar hy kla nie langer nie. Want die lewe het vir hom 'n wónder geword: hy het weer leer besef dat die lewe een groot geskenk van God is, waarvoor Hy die hoogste prys, die offer van sy eie Seun wou betaal. En die wetenskap laat hom in weerwil van alles in die lig van die lewe wandel. Elke nuwe dag wat hy nog kry het vir hom 'n voorskot op die ewige lewe geword. Elke asemhaling 'n bewys dat ons die lewe uit die dood weergekry het en dus nooit meer kan doodloop nie.

Kyk Job, sê Elihu, so is God met sy kinders besig in hierdie lewe. Soms 2 of 3 keer. Om vir hulle maar te leer dat die lewe geen reg is nie, maar genade, gekoop met die hoogste prys.

Dis regtig nie so dat God 'n sínlose lyde oor die mense uitstort nie. Hy werk volgens 'n wys beleid. Sodat ons klein vir Hom sal bly.

So mog Elihu self 'n gesant van God wees om Job weer klein, skuldbewus teenoor ons God en Vader te maak en om hom te leer dat ons by God maar liewer nie moet eis wat ons verdien het nie; maar dat ons beter verwonderd kan aanvaar wat een Ander vir ons verdien het. En so het God hierdie Elihu dus gebruik om Job in die proef waaraan satan Job mog onderwerp, nie te laat beswyk nie. Satan het gesit en wag dat Job sy rug op God sou draai as God sy godvresende lewe nie langer met voorspoed en geluk sou beloon nie. Maar God skakel Elihu in om Job weer te laat besef dat die enigste beloning wat ons verdien, die ewige dood is sodat elke nuwe dag onverdiende, nee: deur 'n Ander verdiende genade is.

Vir ons het die HERE Elihu se bydrae aan die toets wat Job moes ondergaan, ons in die Heilige Skrif bewaar. Sodat ook ons vir mekaar 'n middel kan wees om juis in siekte, teleurstelling, rou en verdriet mekaar te help om daarin die goeie hand van onse God op te merk wat daardie ellende gebruik om ons des te meer na die offer van sy Seun toe te drywe as die enigste grond onder ons bestaan.

Ons het vandag weer die Nagmaal gevier. Ons mog hoor en sien, tas en proe hoedat ons Here Jesus Christus die losprys vir ons betaal het. Wys mekaar daarop, juis in moeilike dae as die ellende ons kortsigtig dreig te maak! Wys mekaar daarop dat ons, wat van nature eiewyse en hoogmoedige mense is, telkens weer hardhandig kleingemaak moet word om weer des te beter te besef wat ons feitlik in die Nagmaal vier.

Maar wys mekaar dan ook daarop dat ons andersom ook die Nagmaal nodig het om onder die ellende in ons lewe nie te beswyk nie. Die Nagmaal leer mos vir ons dat die ellende nie die laaste in ons lewe kan wees nie. Die losprys ís mos betaal! En ons het danksy Christus uit die dood in die lewe oorgegaan. Ellende kan vir ons geen straf meer wees nie. Nog slegs 'n middel om eendag die ewige vreugde nog groter te laat wees. Ons het uit die duisternis oorgegaan in die lig. En ons weg kan nou nooit meer so donker wees nie dat daar nie lig vir ons sou wees nie.

Wys mekaar daarop. Herinner mekaar aan wat ons vandag weer gevier het.

As ons so maak, as ons moeite doen om mekaar vanuit die Nagmaal te bemoedig, en as ons bereid is om na mekaar se bemoediging ook te luister, mag ons vir mekaar, net soos Elihu vir Job, 'n middel wees waardeur die HERE bewerk dat ook in ons lewe sy herskeppingswerk die proef kan deurstaan.

AMEN.

(Pretoria, 12 Augustus 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)