Flink is die vrou wat die Here vrees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Spreuke 31
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SPREUKE 31: 10 EN 30

LITURGIE:
Ps. 19: 4, 5
Gebed
L.Spreuke 31: 10-31
Preek
Ps. 128: 1, 2
Geloofsbelydenis
Ps. 128: 4
Huweliksformulier
Ps. 119: 6 voor die gebed
Ps. 119: 7 na die gebed
Kollekte
Ps. 25: 2

Broeders en susters,

Ons het hier vanmiddag saamgekom in verband met 'n huwelikssluiting. Twee jong mense wil as man en vrou 'n lewenslange verbintenis aangaan. En hulle begeer om dit hier in die kerk te laat bevestig.

So'n huwelik dreig om deesdae al hoe meer 'n kwesbare saak te word. Om lewenslang in 'n trouverbond te bly saamgaan- dit word toenemend iets uitsonderliks.

Baie jongmense besluit om voorlopig nog maar nie so'n lewenslange verbintenis aan te gaan nie. Hulle verkies om saam te woon sonder 'n huwelik. Dan kan jy die ander mos makliker los as die verhouding verkoel.

En hoeveel huwlike wat nog wel gesluit is, draai jaarliks op 'n egskeiding uit?

Ek sou heelwat kan sê oor die oorsake van hierdie ondermyning van die huwelik wat God ingestel het. Maar in verband met die Skrifgedeelte wat ons vir hierdie diens gekies het, wil ek met name wys op die veranderde siening op die vrou. Dit is ongetwyfeld een van die oorsake waardeur die huwelik al hoe meer ondergrawe word.

Die emansipasie-strewe, wat elke onderskeid tussen man en vrou tot in die grond wil afbreek, het op baie vrouens, maar ook mans vat gekry. Die geykte rol vir die vrou en vir die man, waarby die man "die sterk geslag" is en die vrou "die swakke geslag"- dit moet radikaal verander.

Hoekom sou 'n vrou vir 'n dienende taak in die samelewing voorbestem moet wees? Waarom sou 'n vrou beslis die rol van 'n sorgsame eggenote, huisvrou en moeder op haar moet neem?

Waarom sou die man nie by die huis kan bly en die kinders oppas, terwyl sy vrou die geld verdien nie?

Hierdie emansipasierevolusie is nie nuut nie. Dis al eeueoud. Maar dit het in die twintigste eeu wel nuwe, kragtige impulse gekry; dit het nou met die vaste voorneme gekom om hierdie eeueoue ideaal nou eindlik ook te verwesenlik.

Selfs die moderne teologie is nou ingeskakel. Daar is 'n feministiese teologie gelanseer wat hom inspan om ook die Bybel ten gunste van die emansipasiebeweging te laat praat.

Op hierdie wyse in vandag mans en vrouens besig om hulle aan die plek wat die HERE aan hulle toegewys het, te ontworstel. Hulle draai hul rug op die taak wat God self aan hulle toebedeel het.

Ja, God self!

Want jy moet God se Woord wel wonderlik verdraai as jy daaruit hierdie strewe wil goedpraat en propageer.

In die Bybel is dit sonneklaar dat die HERE man en vrou nie as twee volkome identiese wesens met presies dieselfde moontlikhede en gelyke opdragte geskep het nie. Inteendeel, hul Skepper het hul verskillend gemaak.

Nie: die een meer as die ander nie.

Maar wel: de vrou anders as die man.

God het aan elk 'n eie posisie met eie moontlikhede gegee. En dienooreenkomstig 'n eie taak. Waaraan hulle hul nie moet ontworstel nie, maar onderwerp.

Die wortel waaruit soveel huweliksondermyning en huweliksellende ontspruit vandag -die emansipasiestrewe- kom weer voort uit die nog diepere wortel dat hierdie roeping deur God verag en verwerp word.

Want God se Woord leer ons, ook om die huwelik gesond te hou, dat nie dié vrou wat haar uiterste bes probeer om die sogenaamde tipiese vroue-rol te deurbreek en daarom haarself aan man, moederskap en gesin probeer ontworstel, 'n flinke vrou is nie. Maar flink is dié vrou wat die HERE vrees en haar daarom gehoorsaam skik in die posisie wat Hy in sy skepping vir haar toebedeel het.

Ons wil vanmiddag uit God se Woord gaan hoor dat Hy dit ons so leer. Ek bedien u God se Woord onder hierdie tema:

FLINK IS DIE VROU WAT DIE HERE VREES

God se Woord bevat in Spreuke 31 'n aansporing

  1. aan vrouens om so'n flinke vrou te wees
  2. en aan mans om so'n flinke vrou te soek.

1. In die slot van die Spreukeboek word 'n deugsame huisvrou aan ons getoon, broeders en susters. Sê maar 'n flinke vrou wat weet om die hande uit die mou te steek. Een wat met hart en siel, van smôrens vroeg tot saans laat haar gee aan haar tipies vroulike taak.

Ons kry hier by wyse van spreke 'n hele aantal skyfies, momentopnames te sien oor hoedat so'n flinke vrou in die weer is om haar huishouding so goed moonlik te versorg.

Ons sien haar besig agter die spinwiel en weefstoel om te sorg dat haar man en kinders goed aangetrek sal wees.

Ons sien haar op pad om inkopies te doen, al moet sy daarvoor ook ver loop.

Ons sien haar besig om die kos vir haar gesin en die hulpe klaar te maak.

Ons sien haar werk in die wingerd en 'n groentetuin.

En ons kry selfs te sien hoedat sy omgee om die behoeftiges en hulle met raad en daad tersyde staan.

Haar dag is met dit alles meer as gevul, maar sy het duidelik plesier in haar vroulike besigheid: "sy lag oor die dag wat kom" (vs. 25).

Dit is natuurlik wel 'n bietjie verouderde beelde wat vir ons op die doek geprojekteer word, gemeente. In 'n meer moderne serie sou spinstok en weefspoel vervang wees deur die naaimasjien en dalk 'n breimasjien.

Ons sou die deugsame huisvrou te sien kry in die Hyperama of Pick 'n Pay; en besig om dagvoordou die broodblikkies vir haar man en kinders klaar te maak; En die omsien na behoeftiges sou nou miskien 'n besoekie aan 'n sieke of bejaarde namens die vrouevereniging wees.

So sou ons vandag die beeld van 'n flinke vrou 'n bietjie kan moderniseer. Maar saaklik bly dit wel gelyk aan dit van Spreuke 31.

So lyk 'n flinke vrou.

Nogtans sou dit vir baie vrouens, en ook wel mans, nog altyd 'n hopeloos verouderde beeld bly van wat 'n flinke vrou is, ten spyte van die meer eietydse invulling van die opnames.

Ondanks die modernere toestelle en masjiene en die aangepaste omgewing, sou hulle ook die hier vertoonde beeld van 'n deugsame huisvrou volslae oudtyds en oer-konservatief vind.

Die tyd is mos verby dat 'n vrou nog haar dae in 'n huishouding wil slyt, ja daar selfs bevrediging in vind? So'n vrou is geen flinke vrou nie, maar 'n slome huishen wat haar nog altyd nie van verouderde prinsipes losgemaak het.

Is 'n huisvrou soos Spreuke 31 haar vir ons teken rêrig nie verouderd nie, broeders en susters? Verlede tyd?

Hoegenaamd nie. Ten spyte van alle moderne emansipasie-idees is die flinke huisvrou van Spreuke 31 nie verouderd nie!

Sy kan nie verouder nie, aangesien sy al so oud is as wat die skepping oud is. Die vrou van Spreuke 31 ken en aanvaar van harte die taak wat alreeds by die skepping aan haar toegewys is. Die vrou soos ons haar hier te sien kry, is volop vrou ooreenkomstig die oorspronklike bedoeling van haar Skepper.

Dáárom is hierdie vrou 'n juweel - nee, meer nog: haar waarde is ver bo korale.

Want daardie uitdrukking in ons teks (vs. 10) is veelseggend, gemeente! As van die deugsame vrou gesê word dat haar waarde ver bo korale is, dan is dit nie sommer 'n komliment nie.

Hierdie uitdrukking lees ons naamlik nog 'n aantal kere in die Bybel -ook in die Spreukeboek. Maar dan telkens in verband met wysheid.

Ons lees in Spreuke 3: 15 van die wysheid: "... dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie". En omtrent dieselfde word in Spreuke 8: 11 gesê: "Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie". Ook in die boek Job kan u dit lees. Daar staan in hoofstuk 28: 18: "die besit van wysheid is meer werd as korale".

Dit beteken dus dat van die flinke vrou, soos wat in Spreuke 31 beskyf word, diesélfde gesê word as van die wysheid: "haar waarde is ver bo korale".

En dit wil sê dat aan 'n flinke vrou die hoogste lof toegeken word wat ons ons maar kan indink. Sy word met die wysheid op een lyn gestel!

Met ander woorde: 'n flinke vrou is maar nie 'n juweel nie- sy is 'n wyse vrou, sy is een en al wysheid.

Wat van die wysheid gesê word, mag mens ook van haar sê. 'n Vrou wat weet om die hande uit die mou te steek en haar tipies vroulike gawes goed gebruik, is dus nie net flink, knap, deeglik nie- sy is veral wys.

Want weet u wat wysheid is, broeders en susters? Wysheid is iets anders as kennis, verstand. Mens kan 'n groot verstand hê en baie diplomas en onderskeidings en nogtans nie wys wees nie, maar so dom soos 'n donkie.

In die Bybel word die wysheid in die eerste plek aan die HERE toegeskryf, en dan veral as dit gaan om die skepping van hierdie wêreld. "Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak", lees ons byvoorbeeld in Psalm 104: 24. U vind dit ook in Spreuke 3: 19: "Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel". En in die bekende hoofstuk Spreuke 8, waar die Wysheid self aan die woord is, hoor ons haar sê: "Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af" (vs. 22). In sy hele skepping het die HERE Hom dus deur hierdie wysheid laat lei. Die hele skepping getuig nou van God se wysheid.

Maar nou kan ook alleen dít maar wysheid op aarde wees, as 'n mens hierdie skepperswysheid van God insien en eerbiedig. As 'n mens die wysheid van God se skeppingsplan ken en hom in sy doen en late daaraan gehoorsaam onderwerp- so'n mens is wys.

Dis hoekom die Bybel dit op meerder plekke kort en goed so sê: "Die vrees van die HERE is wysheid" (so staan dit in Job 28), of: "Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid" (so sing ons dit in Psalm 111 en so staan dit ook omtrent in Spreuek 1: 7).

Maar word dit ook nie in ons teks, vers 30, van 'n flinke vrou gesê nie? : "'n Vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word"

Die vrou van Spreuke 31 vrees die HERE, en die vrees van die HERE- dit is wysheid, die beginsel van alle wysheid. En dáárom is haar waarde ver bo korale.

Maar waarin blyk dit nou dus dat sy die HERE vrees? In watter opsig is hierdie vrou dus wys?

Nie net hierin dat sy vroom kan práát nie. Maar hierin dat sy vroom weet om aan te pak! Haar vrees van die HERE, haar wysheid blyk hierin dat hierdie vrou die wysheid van haar Skepper eerbiedig en daarom haar eie vroulike taak in sy mooie skone skepping verstaan.

Is die vrou van Spreuke 31, met al haar vroulike besighede van smôrens vroeg tot saans laat, 'n huishen, 'n aspoestertjie, 'n ongeëmansipeerde vrou? Glad nie! So'n vrou vrees die HERE, het 'n wyse insig in die plek wat Hy aan haar toebedeel het en daarom is sy meer werd as die kosbaarste juwele.

Spreuke 31 wys ons in 'n klompie opnames hoedat die vrou wat die HERE vrees lyk: so'n vrou is gewoon flink en benut haat vroulike gawes volop. Sy is so wys dat sy aanvaar dat die HERE in sy wyse skeppingsplan haar die hulp vir die man gemaak het. Nie as 'n slavin, nie om die man se voetveeg te wees nie. Maar om die man te help om die beeld van God te vertoon hier op aarde. Om, as die HERE dit gee, met 'n eie man 'n gesin te stig en te versorg en daarin aan God se koninkryk te bou.

So'n vrou kry ons hier te sien: 'n flinke vrou wat dit as haar roeping sien om hulp van haar man en moeder vir haar gesin te wees. Sy weet by die huis so'n sfeer te skep dat haar man sy manlike roeping des te beter kan vervul. En sy is so'n goeie ma dat haar kinders later met dankbaarheid aan haar sorg en opvoeding terugdink en trots op haar is.

Sy is nie in haar gesin opgesluit nie. Haar huishouding is vir haar geen tronk nie. Sy durf rêrig wel selfstandig op te tree en aktiwiteite te ontplooi ook buite die huis. Maar by dit alles bly vir haar haar gesin wel die middelpunt. Sy soek nie haar éie ontplooiing nie, maar die bloei van haar gesin. En dié taak is vir haar nie minderwaardig nie. Nee wat, sy geniet dit om so'n vrou te mag wees. Omdat sy die HERE vrees.

'n Wyse vrou!

Vandag is daar al hoe minder wat nog so vrou wil wees. Pleks daarvan kom daar al hoe meer vrouens wat nie gebind wil wees nie; hulle wil wel saamwoon, maar nie trou nie. Hulle begeer geen kinders want kinders vorm maar 'n belemmering as jy jou in die lewe verder wil ontplooi. Of hulle wil net een of twee kinders om mee te kan spog en omdat dit so oulik is, maar al gou word dié kinders in 'n crèche afgelewer. Hulle eis van hul manlike partner dat hy 'n eweredig deel van die huishouding vir sy rekening neem...... en so voorts.

Maar sulke geëmansipeerde vrouens is in God se oë dwaas!

Hierdie emansipasierevolusie is een van die gevolge van die dwaasheid waarvan hierdie wêreld vol is. Vanaf die sondeval het die mens hom van die wysheid van sy God en Skepper afgekeer en, soos Paulus dit skryf in sy brief aan die Romeine: "Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword". Dwaas, omdat hulle hul verset teen die wyse plan van hul Skepper. U moet dit rondom u in hierdie wêreld leer raaksien, gemeente, en u moet dit al vroeg vir u kinders leer raaksien: hoe dwaas die mense as gevolg van die sonde geword het. Alle wysheid waar God buite gehou word, is in wese dwaasheid. En u kan dit self vasstel hoe al dié dwaasheid die lewe regtig nie gelukkiger maak nie.

Ook ons is van nature so dwaas. Ook ons is geneig om ons teen God se wyse skeppingsplan te verset; in staat om daar dwars teenin te gaan. Ook vrouens en dogters in die kerk is nie ongevoelig vir die aansteeklike emansipasiestrewe nie!

Alleen deur die geloof in ons Here Jesus Christus kan mans en vrouens weer wys word. Want het God Hom nie vir ons tot wysheid en volkome verlossing gegee nie, toe Hy die wysheid van die wêreld beskaam het deur die dwaasheid van die kruis? Daar aan die kruis het Christus ons sondes versoen en het Hy ons weg weer na ons God en Skepper teruggebuig. Hy het ons weer die vrees van die HERE as die beginsel van die wysheid geleer en deur sy Gees ons weer ons oorspronkelike plek as mans en vrouens, seuns en dogters in die Skepping van sy Vader aangewys. Dis hoekom alleen die geloof in Jesus Christus vandag vrouens tot flinke vrouens kan maak.

God roep deur Christus vrouens en meisies op om 'n juweel te wees, ja, meer as dit: 'n vrou wat haar Skepper vrees en daarom haar wil toewy aan die taak wat Hy haar aanwys. Die HERE roep ook jou........., op om so vrou te wees. 'n Vrou wat dit nie minag om haar man te dien nie, wat die huishouding nie as minderwaardig beskou nie, die moedertaak nie as 'n belemmering van jou ontplooiingskanse nie, die huwelik nie as 'n inperking van jou vryheid nie; maar wat in hierdie take 'n dagtaak en 'n lewenstaak wil sien.

Ek weet: Spreuke 31 teken vir ons 'n ideaalbeeld. Wie probeer om hom voor te stel hoe ter wêreld een vrou dit alles wat hier opgesom word in een dag moet regkry, kom tot die konklusie dat dit onmoontlik is- sy sou skaars tyd oorhou om te kan slaap.

Daar is geen vrou gelyk, en geen situasie gelyk. Nie elke vrou ontvang van die HERE die geskenk van die huwelik nie -en dan moet jy soek om op 'n ander wyse as vrou in te pas in God se skeppings- en verlossingsplan. Nie elke getroude vrou mag ook moeder word nie; nie elke vrou is ewe gesond nie.

Maar die ding is dat 'n vrou vrou moet wil wees, en haar eie vroulike moontlikhede ten volle in die diens van haar Skepper wil ontplooi. Elke dogter en elke vrou wat so vrou wil wees, moet geprys word. Nee, die wêreld sal sulke vrouens nie prys nie. Eerder bespot. Maar nogtans is so'n vrou meer as 'n juweel. Sy is kosbaar in God se oog (1 Petr. 3: 4).

2. Dalk dink die mans en seuns dat hierdie preek spesiaal vir die vrouens en dogters bedoel is. Dalk het die bruidegom al gewonder of daar maar net vir die bruid gepreek word vanmiddag.

Maar dit sou 'n vergissing wees, broeders.

God se Woord in Spreuke 31 bevat wel deeglik waar ook 'n boodskap vir die mans en seuns.

Ons teks sê mos: So'n flinke vrou waarvan die waarde ver bo korale is- "wie sal haar vind? ".

En wat beteken dit anders as: daar 's nie so baie van hierdie tipe van vrouens nie. 'n Vrou wat die HERE vrees- jy sal daarna moet soek. Jy sal daarna moet soek met die lig van God se Woord. Want daar is baie meer dwase vrouens in die wêreld as sulke flinke vrouens soos in Spreuke 31 gewys word. Rêrig flinke vrouens vind jy nie volop nie.

Dus, seuns, as jy 'n flinke ma het, wat die HERE vrees en daarom ook gewoon haar taak in huis verstaan- hou haar in ere! Moet haar mooi oppas: sy is meer werd as die duurste juwele.

En bereik jy die leeftyd waarop jy vir jouself 'n vrou gaan soek: jy weet nou dus waarop jy moet aggee. Vers 30 van ons teks sê: "Die bevalligheid is bedrog, die skoonheid is nietigheid". Moenie jou verkyk aan die buitekant nie. Jy mag bly wees as jy 'n pragtige meisie mag trou, maar die liggaamlike skoonheid kan gou verander. En boonop: agter 'n mooie en aantreklike uiterlik kán ook 'n lelike en afstootlike karakter skuilgaan. En 'n mooie gesiggie kan 'n leë kop verberg. Alreeds baie seuns en mans het dit moet agterkom, dikwels te laat!

Terwyl 'n meisie wat uiterlik maar heel gewoon lyk, innerlik so gaaf kan wees dat sy 'n kosbare geskenk is vir die man wat haar kry.

Die belangrikste ding is of 'n meisie werklik die HERE vrees en daarom weet wat dit beteken om as vrou geskape te wees. 'n Meisie wat in haar lewe die HERE wil behaag, ook in haar daaglikse taak, is oneindig veel meer werd as 'n meisie wat maar net met haar uiterlik die aandag van die manlike geslag wil trek.

Want "die wysheid van die vrou bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af" sê die Spreukeboek ook (14: 1). En: "'n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos 'n verrotting in sy gebeente" (12: 4).

Wie sal 'n deugsame vrou vind?

En dus, mans, en jy, bruidegom, as u so'n vrou gevind hét, hou haar in ere. Daar staan ook in die Spreukeboek: "Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die HERE verkry" (18: 22).

Bedink dat dit ook anders kan: die Spreukeboek spreek ook oor vrouens met wie 'n mens nie in een huis kan bly woon nie: "Om te woon op die hoek van 'n dak is beter as by 'n twisgierige vrou in 'n gemeenskaplike huis" (25: 24).

Ja, daar is vroue wat 'n krag van verderf is: "Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood. Baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is" (26, 27).

Wie daarom 'n flinke vrou van die HERE ontvang het, moet haar as 'n geskenk beskou en nie as 'n slavin nie. En hy moet nie net haar liggaam liefhê nie, maar haar wysheid.

Hy moet in haar die vrees van die HERE ook lewendig hou, deur sy profetiese taak as haar hoof na te kom. 'n Man behoort in die vrees van die HERE vooraan te gaan. Hy moet sy vrou daarin lei.

Hoe meer hy self die HERE vrees, des te meer sal hy leer waardeer die vrou wat die HERE vrees.

Want so'n vrou is 'n kosbare besit. Kosbaarder as juwele. 'n Geskenk van God in hierdie wêreld vol ontevrede vrouens.

AMEN.

(Pretoria, 3 Sept. 1988 Huwelik Roux-Kampman)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)