God se kandelaar sal bly brand

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Sagaría 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SAGARIA 4

LITURGIE:
L. Openb. 11: 1-6
T. Sagaria 4
Ps. 80: 1, 4
Ps. 80: 10
Ps. 74: 2, 3, 5, 9
Ps. 52: 4
Ps. 9: 7, 10
Ps. 27: 4

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die agterwand van hierdie kerksaal is 'n groot, sewearmige kandelaar aangebring.

Dit is mos een van die pragtige simbole vir die kerk, vir God se volk op aarde, soos ons dit uit die Skrif leer ken het: die kerk is die draer van die lig van God in hierdie wêreld.

Dit was al die simbool in die Ou Verbond, vir die volk Israel.

U weet dalk dat die huidige staat Israel nog altyd die kandelaar, die Menorah as sy amptelike wapen dra. 'n Kandelaar met sewe arms en regs en links 'n olyftakkie soos ons daarvan gelees het in Sagaria 4.

Maar ons glo dat daardie staat nie meer die reg het om hulleself die kandelaar van God in hierdie wêreld te beskou nie. Die volk van die Jode het mos dié Lig van die wêreld, die Messias Jesus verwerp. Hulle leef juis in die duisternis omdat die god van hierdie wêreld hulle verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus op hulle nie sou skyn nie.

Ons weet uit die laaste Bybelboek dat daar vandag 'n onlosmaaklike band bestaan tussen kandelaar-wees en Christus. Johannes het Hom, die Seun van God, die Oorwinnaar van die sonde en die dood, sien wandel tussen die kandelare. Sy gemeentes, orals in die wêreld, is nou God se kandelare. Ons mag kandelaar wees. En daarom het ons daardie simbool aan die agterwand van ons kerksaal.

Dit is 'n groot wonder, broeders en susters, dat die kandelaar van God vandag nog op aarde skyn. Dat daar nog 'n volk van God gevind word.

Want hoe dikwels moes die Here die kandelaar voorheen al wegneem!

Ons lees dié waarskuwing in die briewe wat Johannes vir die sewe gemeentes in Klein-Asië moes skrywe. En die waarskuwing is uitgevoer: die kandelaar ìs daar weggeneem!

Miskien het u al 'n keer 'n afbeelding van die Titusboog in Rome gesien: die oorwinningsboog wat vir die Romeinse veldheer Titus gebou is nadat hy Jerusalem verower en verwoes het. Ons sien op die afbeeldings van daardie triomfboog onder meer hoedat die oorwinnaars 'n groot sewearmige kandelaar saamdra: die simbool dat die HERE sy kandelaar uit die stad Jerusalem wat die Christus verwerp het, weggeneem het.

Nog eerder in die geskiedenis het God sy kandelaar in die wêreld ook al 'n keer moes wegneem: toe Hy sy Sion deur Nebukadnesar van Babel laat inneem en verwoes het en Israel in ballingskap weggevoer is.

En tog het die kandelaar van God telkens teruggekom! En skyn dit vandag weer orals op aarde. Ook hier in Pretoria. By ons.

Ek het gesê: dit is 'n groot wonder.

Oor hierdie wonder wil ek vir u vanmôre God se Woord bedien. Vanuit Sagaria 4.

Ek het die kern van my boodskap so saamgevat:

GOD SE KANDELAAR SAL BLY BRAND

ONS SAL KONSENTREER OP DRIE PUNTE:

  1. GOD SOEK DIE LIG
  2. GOD VRA GELOOF
  3. GOD GEE DIE OLIE

1. Sagaria het sy visioene in die nag gekry, gemeente. Ons praat meestal van die naggesigte van Sagaria. Maar hy het sy naggesigte ook gekry in 'n tyd dat die nag oor God se volk maar nie rêrig wou wyk nie. Toe die lig gedoof was, die duisternis van die ballingskap oor Israel gedaal het en toe daar op die dagbreek van die terugkeer uit die ballingskap maar nie 'n ligdag wou volg nie.

Ja, die lamp was weer opgesteek, maar die lamppit het maar net bietjie dof wil brand. Sou Jerusalem nog ooit weer 'n stralende stad op aarde word? Die lig van die wêreld, sodat die nasies na sy lig sou trek en die konings na sy stralende opgang, soos Jesaja geprofeteer het?

In daardie tyd het die HERE vir Sagaria in veelbelowende beelde laat weet dat Hy Hom met ontferming tot Jerusalem sou wend om vir sy kerkstad nuwe glorie te berei. Die lewe in Jerusalem sal weer opbloei, die kerkstad sal 'n skuil- en woonplek vir baie nasies word. En God sal weer woon by die mense.

Daarom sal ook sy tempel word weer opgebou word. Die diens van die versoening oor die sondes word herstel en daar kom eendag 'n Priester-Koning wat sy eie lewe sal offer vir die skuld van sy volk sodat God op dié dag die skuld uit die land kan uitdelg. En dan kan sy Heilige Gees begin bou aan 'n tempel van lewende stene waarin God voortaan meer naby as ooit tevore by die mense kan woon. Dan maak die Gees van die lewe 'n fees.

Sulke pragtige vooruitsigte mog Sagaria alreeds in sy visioene ontvang.

En nou word hy in ons tekshoofstuk opnuut wakker gemaak en sien hy in 'n volgende naggesig 'n nuwe beeld: 'n goue kandelaar wat aanhoudend vanuit 'n oliekan wat bo-op hom geplaas is, aan die brand gehou word, terwyl die oliekan sy olie regstreeks van twee olyfbome bekom.

Hierdie kandelaar vorm duidelik 'n herinnering aan die kandelaar wat sedert die dae van Moses in die heiligdom aan die brand gehou moes word.

Daardie kandelaar in die heiligdom met sy aanhoudende lig was 'n simbool van die lewe wat God vir sy volk gee. Israel mog in die lewenslig wandel, danksy God se genade en danksy die versoening van hulle sondes in die heiligdom.

Toe Jerusalem en die tempel deur die leërs van Nebukadnesar verwoes was, het ook daardie kandelaar verdwyn. As 'n simbool dat God die lewe van sy volk af weggevat het. Hulle het mos self die lewe wewggegooi! Maar wanneer Sagaria in sy visioen dus 'n brandende kandelaar sien, beloof die HERE daarmee met nog weer 'n ander beeld, dat Hy in sy ontferming die volle lewe vir sy volk sal teruggee. Dat die tempel met die diens van die versoening regtig herbou gaan word. En dat Hy weens dié versoening sy aangesig weer oor sy volk laat skyn en hulle genadig sal wees.

Maar die beeld van die kandelaar in hierdie visioen sê meer, gemeente: dit het nou ook die simbool van God se volk sélf geword. Want as God die lewenslig vir sy volk teruggee, dan maak hy hulle nou ook tot 'n lig in die wêreld. 'n Lig wat skyn tot sy eer. God se volk sal weer vir die wêreld 'n demonstrasie word dat daar alleen by die HERE lig en lewe is. Sion word weer 'n stralende stad met aantrekkingskrag tot ver in die omtrek.

'n Stad van lig en lewe.

Met dié doel sal die HERE sy tempel in Jerusalem herbou. God se volk kan maar rustig wees en vol vertroue: daar sál 'n toekoms vir Jerusalem wees. Daar moét wel toekoms vir Jerusalem wees. God se kandelaar moet weer brand in die wereld. God self soek die lig. Tot verheerliking van sy Naam.

Dit is die eerste punt waarvoor ek u aandag wil vra, vanmôre, broeders en susters.

Kerk in die wêreld wees beteken: lig vir die wêreld wees.

As die HERE ons in sy lig laat lewe, wil Hy hê ons moet daardie lig ook uitstraal. Ander met daardie lig verlig.

God soek 'n kerk op aarde wat kandelaar is; wat vir die wêreld wys hoe heerlik die lewenslig is wat Hy skenk. Sodat Hy in sy kerk verheerlik word.

Ook orals in die Nuwe Testament word op dié betekenis van die kerk gewys. "Julle is die lig van die wêreld", het die Here Jesus Christus vir sy dissipels gesê. Die lig wat God by julle opgesteek het, moet nie onder die maatemmer gesit word nie, maar op die staander (en "staander" is maar net 'n ander woord vir "kandelaar"), sodat dit skyn vir almal wat in die huis is. "Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik" (Matt. 5: 14- 16).

Ons mag in die kerk nooit selfgesentreerd die lewe net vir onsself soek nie. Nooit selfgenoegsaam slegs die bewaring en versterking van ons eie kerklike lewe soek nie. Want dan is ons soos 'n lamp onder 'n emmer: daar is wel lig, maar dié lig het amper geen effek nie. Dit sal ook nie bly brand nie. Want soos 'n Oosterse olielampie onder 'n emmer op die ou end te min suurstof gekry en doodgegaan het, so sal die lewe doodgaan in 'n kerk wat die lig net vir homself wil hou. Die lig wat God in ons lewe opgesteek het, moet na buite toe, moet skyn in hierdie donker wêreld. Tot verheerliking van ons Vader in die hemel.

Dit sal ook Annie, Elsbeth, Jantine en Marian wat vanmôre openbare geloofsbelydenis aflê, moet besef. En Lize wat vandag op haar versoek tot die gemeenskap van die kerk toegelaat word, en die ander wat binnekort nog belydenis sal doen. Wat soek julle? Net 'n tipe van 'n lewensversekering vir julleself? 'n Waarborg vir moeilike dae in hierdie lewe en vir 'n plekkie eendag in die ewige lewe? Of wil julle jul toenemend deur ons God en Vader laat verlig om in hierdie wêreld waarin die vors van die duisternis heers, tot sy eer 'n stralende kandelaar te wees? God wil dat ons die lig waarmee Hy ons lewe verlig, laat skyn voor die mense, by ons werk, in die universiteit, in die weermag, teenoor ons vriende en bure. 'n Openbare geloofsbelydenis moet ook regtig openbaar wees: nie net 'n enkel "ja"-woord hier voor in die kerk nie, maar 'n publieke getuienis in hierdie wêreld met woord en daad dat God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die bron van alle lewe is.

2. So'n brandende kandelaar sal altyd op aarde gevind word. Daarvoor sal God self sorg.

Maar daar kan wel tye wees waarin daar veel geloof nodig is om dit te bly raaksien. Want dit sal dikwels lyk asof die lig van die kerk besig is om dood te gaan. Aanvalle van buite en insinking van binne lyk dikwels die einde van die kerk as kandelaar te word.

So het dit ook in Sagaria se dae na die terugkeer uit die ballingskap gelyk. Sou God se volk nog ooit weer die lig vir die wêreld wees? Die oriënteringspunt vir die nasies?

Maar om dié twyfel weg te neem, het Sagaria juis hierdie visioen ontvang.

Want as hy verbaas vra wat daardie beeld van die goue kandelaar met sy aanhoudende olietoevoer beteken, verduidelik die engel wat hom in hierdie visioene begelei, vir hom dat dit die goddelike waarborg is dat daar nog altyd toekoms vir die tempel is.

Die teruggekeerde ballinge het onder leiding van prins Serubbabel en die hoëpriester Josua met die herbou begin, maar hulle glo self nie meer in die voltooiing daarvan nie. Hulle meen dis nie meer sinvol om die tempel te herbou nie. God se volk het mos geen toekoms meer nie. Serubbabel is met die skietlood nog wel besig op die bouterrein om te kyk of die mure netjies regop gemessel word. Maar, vs. 10, die mense glo nie dit kom ooit reg nie. Hulle verag, so noem die HERE dit: hulle "verag die dag van klein dinge". Hulle staar hulle vertwyfeld en moedeloos blind op die beperkte moontlikhede en materiale, op hulle eie kleine getal, op die teëwerking van die kant van die Samaritane. Sal hulle ooit weer 'n groot en indrukwekkende tempel kan opbou, met wêreldwye betekenis?? !!

Maar die HERE laat vir Sagaris weet dat, terwyl die volk so moedeloos en kleingelowig is, sy oë wat die ganse aarde deurloop, onderwyl met blydskap die verrigtinge op die bouterrein volg. Met sy sewe oë, dit is: met sy volle aandag, hou die HERE die vorderinge fyn dop.

Die volk sien 'n berg van probleme (vs. 7)

Maar God sal die berg gelykgrond maak. En die dag kom waarop Serubbabel die sluitsteen, die steen wat die HERE in die vorige visioen alreeds voor die hoëpriester Josua klaargelê het (u onthou: daardie steen met 'n pragtige inskripsie: "Ek sal op een dag, die dag van Golgotha, die skuld van hierdie land uitdelg")- die dag kom waarop Serubbabel daardie sluitsteen in die voltooide tempelgebou mag messel en die fees van die nuwe inwyding gevier sal word, terwyl die lug vervul is van seënwense.

Reken maar daarop, sê die engel vir Sagaria aan die einde van vs. 9: as julle my vandag nie glo nie, sal julle op daardie dag moet erken dat ek geen twak verkoop het nie. Die nuwe tempel kom klaar. God self sal daarvoor sorg. Sy Sion sal weer straal soos 'n brandende kandelaar.

Hoe?

Wel, dit is die betekenis van hierdie kandelaar met sy aanhoudende olietoevoer, sê die engel. Julle reken maar net binne menslik verhoudings waarin getal, mag, invloed en so meer beslissend is. Julle staar julle blind op teleurstellings en teëslae.

Maar die HERE sê: "Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees".

God se Gees sal die tempel bou en God se volk weer tot 'n kandelaar met aantrekkingskrag in die wêreld maak.

Nee, dit beteken nie dat jy as mens niks hoef te doen nie. Dat jy maar net kan sit en toekyk. Serubbabel sal sy werk aan die bou moet voortsit. En die volk sal kragte moet saamgooi en hard werk aan die voltooiing van die nuwe tempel.

Maar die Gees werk mos geloof. Hulle moet in geloof werk. Nie die dag van die klein dinge verag nie, nie hulleself deur hul klein getal en klein moontlikhede laat ontmoedig nie, maar gelowig en gehoorsaam doen wat God opgedra het. Dan sal op hierdie wyse die Gees van God die berg van probleme gelykgrond maak, teëslae oorwin, die tempel voltooi en God se kandelaar weer tot 'n lig vir die nasies maak.

Dis die tweede punt waarvoor ek vanmôre u aandag moet vra, gemeente. Die HERE vra dat ons in gelóóf, soos sy Gees dit in ons werk, aan sy tempel bou. Dat ons in geloof daaraan bly werk dat die kerk 'n kandelaar van God in die wêreld sal wees.

Ons wil altyd graag bietjie vorentoe kan kyk. Ons wil dadelik resultate sien. Ons is wel bereid om daaraan te werk dat die kerk soos 'n kandelaar in hierdie wêreld brand, maar dan wil ons ook sién dat ons toenemend invloed en aantrekkingskrag vir ons omgewing het. Maar ons sal dit nie altyd dadelik agterkom nie. Die kerkgeskiedenis leer ons, dat God se kerkbou nou maar eenmaal langs 'n weg vol teëslae en teleurstellings verderkom. Ons word aanhoudend beproef. Maar juis dan kom dit aan op geloof! Op trou en volharding. Omdat God beloftes gedoen het en omdat Hy mos self begeer dat sy kandelaar sal bly brand.

Ons moet nie as ons nie dadelik die effek van ons werk sien nie, as ons juis die teenoorgestelde van wat ons wil bereik, sien, as die kerk bespot, belaster en gehaat word, dadelik moedeloos en onseker raak nie. Ons moet nooit twyfel of ons feitlik wel met 'n sinvolle saak besig is nie.

Ons moet maar net in geloof verder werk. Aan God se saak. Want langs dié weg sal God sy doel bereik.

Ook dit moet julle wat vanmôre belydenis sal aflê, bly besef. Julle doen belydenis in 'n baie klein kerkverband. Met baie min invloed en betekenis vir sy omgewing soos dit lyk. En julle sal definitief heelwat teleurstelling moet verwerk. Spot, laster en onbegrip van buite, menslike swakhede en oonstootlikhede van binne. Hoe kan dan die twyfel jou bekruip: kan ons soos ons nou is, wel ooit enige betekenis in hierdie wêreld hê?? Moet òns die lewenslig in hierdie wêreld uitdra?? Ons? !

Glo dan dat die oë van die HERE vol blydskap ons gehoorsame trou in die dag van die klein dinge dophou. En dat Hy ook deur die dag van klein dinge bly werk aan sy groot toekoms.

3. Maar waarvandaan kry 'n mens so'n geloof? Hoe raak ons so vervul met die Gees van God dat ons sonder om te twyfel of om te verslap gelowig bly verder werk?

Wel, dit word vir ons in die laaste deel van hierdie naggesig nog 'n keer duidelik gemaak.

Sagaria het mos gesien dat die goue kandelaar 'n direkte verbinding met 'n oliebak gehad het, sodat die lamp aanhoudend kon bly brand, sonder dat 'n mens telkens nuwe olie moes byvoeg.

Maar boonop het daar aan weerskante van die kandelaar 'n olyfboom gestaan en 'n takkie van daardie boom het die goudkleurige olie regstreeks vanuit die boom in die oliebak laat uitstroom. Sodat daar volop olie in voorraad gebly het.

Wat beteken dit?

Die uitleggers stem daaroor nie heeltemal saam nie. Almal aanvaar wel dat die olie, soos ook op ander plekke in die Skrif, die beeld van die Heilige Gees is. Daar is dus 'n aanhoudende en oorvloedige toevoer van die Gees na God se gemeente.

Maar het die olyfbome nog 'n spesiale betekenis?

Die meeste uitleggers meen dat daarmee die twee groot ampsdraers van daardie tyd bedoel is: Serubbabel en Josua. Hulle staan by die Here van die ganse aarde, ontvang van Hom die krag van die Heilige Gees om daarmee aanhoudend sy volk te versterk in die geloof.

Maar ander uitleggers, waaronder Calvyn, verwerp hierdie eksegese. Hulle wys tereg daarop dat die vertaling "gesalfdes" in vs. 14, soos ook in ons Bybelvertaling, nie reg is nie. Dit is meer 'n verklaring as 'n vertaling. As ons letterlik vertaal, staan daar: "olie-seuns", en dit kan ook maar net soiets soos "olie-houers" beteken. Hierdie uitleggers wil by die twee olyfbome nie aan bepaalde mense dink nie. Volgens hulle moet ons in hierdie beeld nie meer lees nie as dat God self vir 'n oorvloedige olietoevoer, 'n aanhoudende stroom van sy Heilige Gees sal sorgdra. Die bome het mos hul wortels in hemelse grond.

Ek glo, broeders en susters, dat ons gerus altwee die verklarings kan kombineer. Ook as ons ons vertrekpunt neem in die meer versigtige eksegese dat hier maar net vir ons gewys word dat die HERE vir 'n ononderbroke toevoer van sy Gees sal sorgdra, sal ons darem nie aan die diens van die ampsdraers in die kerk kan verby kyk nie. Die Heilige Gees gebruik mos mènse om sy kragte by ons te laat uitkom: mense wat sy Woord aan ons voorhou, die sakramente bedien....

En dan leer hierdie visioen dus vir ons: die Woord en die krag van die Gees sal daar vir God se kerk altyd wees. Daar sal altyd ampsdraers van die HERE wees wat sorg vir 'n oorvloedige olietoevoer van die Gees om God se kandelaar aan die brand te hou. Want die oliestroom ontspring by God self. En God sal sorg dat daar altyd voldoende olie. Hy sal wel sorg vir telkens nuwe ampsdraers. Hy waarborg dat sy lig in die wêreld uitgedra word.

Dié bemoediging ontvang ons deur hierdie visioen, gemeente.

Ons hoef dus feitlik maar net te luíster. Te hoor wat die Gees aan die gemeente sê. Ons moet net die ampsdraers wat die HERE telkens vir ons gee, gehoorsaam. Dan sal ons die geloofskrag ontvang om ook in die dag van kleine dinge trou te bly bou aan God se tempel. Dan sal ons soos vanself 'n lig in die wêreld word.

Die aansporing kom ook na julle wat vanmôre geloofsbelydenis sal aflê toe: Het julle geloof nie gegroei omdat julle van kleins af na die Woord van die HERE leer luister het nie? Daardie Woord wat die Heilige Gees deur die diens van mense aanhoudend aan julle voorgehou het, was die olietoevoer waardeur in julle lewe die geloof ontvlam het. Sodat julle vandag publiek belydenis doen daarvan. Maar hierdie dag is nie die eindpunt nie. Dit is feitlik maar net 'n publieke getuienis dat julle ook voortaan van daardie olietoevoer wil lewe en kan lewe. Bly daarom luister, in persoonlike Bybelondersoek by die huis en gemeenskaplike Bybelondersoek op die verenigings. Bly getrou kerk toe kom, ontvang die ampsdraers met blydskap en onderwerp julle aan hulle waarskuwings, vermanings en aansporings. Dan sal julle ook vorentoe toenemend julle lig kan laat skyn voor die mense. Dan sal ook deur julle God se kandelaar bly brand.

Want God se kandelaar moet brand in die wêreld. En dit sál brand!

Ons het in Openbaring 11 gelees dat Johannes in sy visioene die kerk as 'n kandelaar èn 'n olyfboom terselfdertyd gesien het. Die beeld uit Sagaria se naggesig het dus inmekaar geskuif. Die kerk het nou selfs sy eie oliebron geword. Die kandelaar verskaf homself olie. Ja, so mag ons dit vandag sê, want die kerk is sedert Pinkster mos vervul met die Heilige Gees! En nou kan niks of niemand meer die olietoevoer van die kerk afsny nie!

Johannes het in sy visioen gesien hoedat dit wel angswekkend geprobeer sal word: daar kom geweldig veel haat en teëstand teen die kerk; die wêreld en die valse kerk sal hulle kragte saamgooi om die lig van die kandelaar te doof. Ja, hulle sal probeer om die oliebronne af te sny: hulle sal ons kerkdienste probeer onmoontlik maak, hulle sal ons kerkgeboue laat sluit en afbreek, hulle sal die opleiding tot die diens van die Woord verbied en ampsdraers gevange neem en vermoor..... Want die wêreld het die duisternis liewer as die lig.

Maar ten spyte van al hulle pogings sal God se kandelaar bly brand. Deur die wonder van God self. Hy vervul sy volk so met sy Gees dat ook dan nog hul lig voor die mense sal bly skyn.

Want die ryk van die duisternis sal dit nooit op aarde wen nie. Hoe donker dit ook mag word op aarde- "teen die aand sal dit lig wees", het die HERE alreeds deur die profeet Sagaria aangekondig.

Op die ou end sal net die lig tot eer van die HERE oorbly.

AMEN.

(Pretoria, 10 Desember 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)