In ooreenstemming met die profete moet Jesus as die Nasarener deur die lewe gaan

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 2: 23

LITURGIE:
L.Matt. 2: 19-23 & Joh. 7: 14-18 en 40-52
Ps. 31: 5, 9, 11
Ps. 31: 19
Ps. 111: 5 na die doopsbediening
SB. 7: 1, 2, 4
Ps. 119: 13
Ps. 89: 18

Gemeente van Christus,

Wie die lewe van Jesus wil verstaan, moet die Skrif opslaan. Want in die boeke van die Ou Verbond vind ons tot in kleine besonderhede die lewenspad van die Messias alreeds aangewys.

Dis veral Mattheüs wat in sy evangeliebeskrywing ons aandag daarvoor vra. Telkens lees ons by hom: "Dit het gebeur sodat die woord vervul sou word wat die HERE deur die profeet gespreek het... ". "Toe is vervul wat deur die profeet gespreek is toe hy gesê het... ". Moet maar kyk: Matt. 1: 22, 2: 15, 2: 28, ons teks, 2: 23. En ook nog in die volgende hoofstukke: 3: 3, 4: 14 ensovoorts.

Die Skrifte leer ons verstaan hoekom die Christus so'n eienaardige weg moes gaan. Want Jesus die Christus het gekom om die Skrifte te vervul.

En wie dus die Skrifte nie ken nie, sal ook Jesus nie as die Christus herken nie.

Mattheüs vertel in die teks wat ons vanoggend vir die prediking gekies het, dat selfs Josef se keuse van die dorp Nasaret as woonplek vir sy gesinnetjie na die terugkeer uit Egipte daaraan moes meehelp om die woorde van die profete tot vervulling te laat kom. Selfs die plek waar ons Verlosser as kind gewoon het, skool toe gegaan het, met maatjies gespeel het en so meer, was blykbaar belangrik vir sy latere werk hier op aarde. Ook die keuse van sy aanvanklike woonplek het in God se plan gepas. Want hierdeur sou Hy voortaan as Jesus van Nasaret deur die lewe sou gaan, en dit was presies in ooreenstemming met dit wat die profete oor Hom aangekondig het.

Vir ons is dit nie direk duidelik, gemeente.

Hoekom was daardie woonplek Nasaret so belangrik? Waarom wou God dat sy Seun as Jesus die Nasarener sou bekend staan?

Maar ons wil vanmôre probeer om dit uit die geheel van God se Woord agter te kom.

Mattheüs vertel dus in ons teks:

IN OOREENSTEMMING MET DIE PROFETE MOET JESUS AS DIE NASARENER DEUR DIE LEWE GAAN

En ons sal hoor hoedat die naam Nasoreër

  1. VIR HOM VERNEDERING
  2. VIR ONS VERDEELDHEID BRING

1. As selfs die plek waar die Christus die eerste tyd in Israel moet woon, belangrik is, sorg God ook Self dat Hy daar tereg kom. Dit is opvallend, broeders en susters, in die eerste hoofstukke van Mattheüs se evangeliebeskrywing dat daar telkens 'n engel van God verskyn om vir hom die pad met nuwe Koning van die Jode die pad te wys.

'n Engel voorkom dat Josef Maria los wanneer sigbaar geword het dat God die nuwe Dawidsseun in haar skoot verwek het.

'n Engel stuur vervolgens Josef met Jesus en Maria Egipte toe.

En nou is dit opnuut 'n engel van God wat Josef opdra om na Israel toe terug te gaan. Nie vader op aarde nie, maar Vader in die hemel hou die leiding!

Hy het besluit dat sy Seun eers 'n hele ruk in Egipte moes bly. Hy het ook besluit dat sy Seun nou nie langer in Egipte mag bly nie. Sy taak lê in die land van Israel.

Terloops: dié aanduiding "Land van Israel" in Matt. 2: 20 en 21 is hier baie opmerklik, gemeente. Dis die enigste keer wat Mattheüs hierdie naam gebruik. Hy gebruik verder telkens aanduidings soos "Judea, Galilea of Palestina". Maar hier kies hy blykbaar opsetlik die ou naam "Israel". 'n Naam met 'n belofte! Israel is die land wat wag op die vervulling van God se beloftes.

En dis hoekom die Christus na die land van Israel terug moet. Hy moet gaan vervul dié beloftes. In Israel lê sy taak. Daar moet Hy as die Koning van die Jode sy volk nou verlos.

Maar as Josef dan na Israel toe terugreis en in verband met Jesus se komende taak vir die distrik Judea kies, is daar opnuut die hemelse Vader van sy seun wat sy pad lei.

Dit is vir Josef soos vanselfsprekend dat hy iewers in Judea 'n woonplek moet soek. Maria se seun is mos die groot Koning van die Jode. Die lankal verwagte Seun uit die huis van Dawid. Gebore in die stad van Dawid Betlehem. Dit het die hemelse vader ook so gelei, dat Dawid se stad die geboortestad van Jesus geword het. Daar moet hulle dus iewers die aansluiting soek. Want Jesus moet nou mos die pad van sy vader Dawid loop? Van Betlehem na Jerusalem toe. Van die stad van Dawid na die residensie van Dawid. Die hart van Israel. Die plek waar God sy woning by sy volk gebou het. Wys die profete nie dié rigting nie? Oral praat hul mos oor Jerúsalem se herstel!

Dus besluit Josef om Judea toe te gaan.

Maar God keer hom. God het die politieke ontwikkelings so gelei dat Archeláüs sy inmiddels oorlede pa Herodes opgevolg het.

En hierdie Archeláüs is nie minder wreed en gevaarlik as sy pa nie. Nee, dit is nie verstandig om soontoe te gaan nie.

Josef het self al so gedink. Maar op 'n nag is daar alweer die HERE wat hom die pad wys. Hy moet inderdaad nie Judea toe gaan nie. Galilea word vereers die plek waar hulle moet bly.

En dan besluit Josef om hulle ou woonplek Nasaret maar weer op te soek. Daar is hulle bekend, daar kan hy moontlik sy ou werk weer aanvat. As dit dan nie Jerusalem of Betlehem kan wees nie, dan maar Nasaret.

Maar so moes dit blykens God se program, laat Mattteüs nou vir ons weet. Jesus moés vereers ook Nasaret toe, "sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is dat Hy Nasarener genoem sou word".

En nou kom ons in die moeilikheid, broeders en susters.

Want aan watter profesieë het Mattheüs gedink? Hy noem nie een spesiale teks soos hy by eerdere verwysings wel gedoen het nie. Kyk 2: 15, waar Mattheüs 'n teks uit Hosea se profesieë aanhaal: "Uit Egipte het Ek my Seun geroep". En 2: 18 waar die teks uit Jeremia oor Ragel wat nie vertroos wil word nie, aangehaal word. Maar nou in vs. 23 herinner Mattheüs nie aan net een uitspraak van 'n profeet nie, maar hy verwys meer algemeen na "die profete".

Daar moet dus meer as een profeet wees wat gesê het dat die Messias Nasarener genoem sou word

Maar Mattheüs vertel nie watter profete nie. En as ons soek in die Ou Testament vind ons nêrens ook maar een teks waarin voorsê word dat die Messias Nasarener genoem sal word nie. Die stad Nasaret kom in die Ou Testament glad nie voor nie.

Waaraan het Mattheüs dan gedink?

Baie uitleggers, waaronder Calvyn en die Kanttekenare by die ou Statenvertaling, het die oplossing vir hierdie probleem gesoek by die outestamentiese Nasireër.

Ons lees op meer as een plek in die Ou Testament oor dié Nasireërs. In die boek Numeri, waar die Nasireërskap gereël word. Simson, Samuel.... U weet: dié mense wat hulleself heeltemal aan die diens van die HERE moes toewy en daarom volgens allerhande streng bepalings moes lewe.

Moes ook Jesus Homself nie heeltemal aan die diens van die HERE toewy nie? Ja, Homself in dié diens totaal opoffer? Volgens die uitleggers wat hierin die oplossing soek, het God dit daarom so gelei dat sy Seun as mens op aarde die naam Nasarener sou dra waarin in die klank 'n duidelike herinnering aan "Nasireër" saamklink.

Maar hierdie verklaring kan nie die oplossing wees nie, broeders en susters. Eerstens is dit al nie so aanneemlik dat God maar net vanweë die klank 'n verbinding sou gelê het tussen Nasireër-wees en die stadjie Nasaret. Maar boonop: by die aankondiging van die geboorte van ons Here Jesus, eers aan Maria en later aan Josef, lees ons niks oor 'n Nasireërskap nie. By Simson, by Samuel en ook nog in die Nuwe Testament by Johannes die Doper word presies voorgeskrywe waaraan die Nasireër moet voldoen: hy mag geen wyn en sterk drank drink nie, ja, niks van die wynstok gebruik nie, daar mag geen skeermes aan sy hoofhare kom nie.... Maar ons lees dit nie m. b. t. Jesus nie. Ons wéét ook dat Hy Hom aan sulke bepalings nie gehou het nie: Hy het byvoorbeeld wel wyn gedrink, Hy het ook meer as een keer bewus 'n dooie aangeraak, alhoewel dit vir 'n Nasireër nie toegestaan was nie.

Hierdie verklaring kan dus nie reg wees nie.

'n Ander verklaring wat deur baie uitleggers gegee is, lê 'n verbinding tussen die naam Nasarener en dit wat ons in Jesaja 11: 1 lees oor "'n takkie wat uit die stomp van Isai sal uitspruit, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra".

Die woordjie "loot" in Jes. 11 is in die Hebreeuse taal naamlik: "Netser". En so sou die latere benaming vir Jesus: "Nasarener" in sy klank 'n herinnering aan Jesaja 11 saamdra: die Man van Nasaret is die loot, die "netser", uit die wortels van Isai.

U kan ook hierdie verklaring in die kanttekeninge by die ou Hollandse Statenvertaling lees.

Ander verklaarders lê liewers 'n verbinding met die Hebreeuse woord "Notser", wat in party Psalms voorkom en wat "Wagter, Bewaarder" beteken.

Maar ook hierdie oplossings vir die probleem van ons teks is vergesog en taalkundig aanvegbaar. En hoe moes die Griekse lesers van Mattheüs se evangelie, wat ook die Ou Testament alleen in die Griekse vertaling kon lees, hierdie woordspelings ooit agterkom? Waarom het Mattheüs dan nie 'n duideliker verwysing na Jesaja 11 of na so'n psalm gegee nie?

Ons sal Mattheüs se bedoeling in ons teks heeltemal in 'n ander riging moet soek.

En dit kan help om dié rigting te vind as ons daarop let dat Mattheüs in ons teks feitlik nie sê dat Jesus "Nasarener" genoem sou word nie, maar Mattheüs skryf "Nasoreër". Ongelukkig het ons Bybelvertaling dit oral wegvertaal, maar dit is baie opmerklik dat by die evangeliste en in die boek Handelinge in die Grieks die benamings "Nasarener" en "Nasoreër" altwee gebruik word.

Die wat 'n Nederlandse Bybelvertaling het, kan dit agterkom.

Altwee is 'n aanduiding vir die afkoms uit Nasaret. "Nasoreër" beteken inhoudelik dieselfde soos "Nasarener".

Maar hoekom gebruik die evangeliste hierdie twee aanduidings dan deurmekaar?

Die verskil tussen "Nasarener" en "Nasoreër" is 'n verskil in dialek, broeders en susters. Die gewone algemeen-beskaafde Hebreeuse naam was "Nasarener". So het die Jode in Judea dit uitgespreek. Maar in die distrik Galilea het a-klanke dikwels dowwe o-klanke geword. U ken dalk almal 'n duidelike voorbeeld daarvan: As Christus aan die kruis dit uitroep "My God, My God, waarom het u dit verlaat? ", gee Mattheüs dit vir ons weer in die algemeen-beskaafde Hebreeus: "Eli, Eli, lama sabagtani? ". Maar by Markus lees ons: "Eloi, Eloi, lama sabagtani? ". En dit is Galileese klanke. Waarskynlik het Christus, wat in Galilea grootgeword het, die Galileese dialek gepraat, sy moedertaal, en gee Markus sy woorde dus letterlik weer.

Daardie dowwe o-klank klink dus ook in "Nasoreër". Dis dus dialek.

Maar nou is dit vervolgens opmerklik dat ons hierdie dialek veral hoor uit die mond van mense wat juis nie uit Galilea afkomstig is nie! Juis Judeërs praat dikwels oor "Jesus die Nasoreër".

So sê 'n diensmeisie in die paleis van die hoëpriester Kajafas vir Petrus: "Hierdie een was ook by Jesus die Nasoreër". Sy het dit dadelik aan sy dialek herken: "Jou spraak maak jou bekend!".

En die mense van die judeese stad Jerigo sê vir die blinde BartimeüS: "Jesus die Nasoreër gaan verby".

As as die tempelpolisie van Jerusalem Jesus wil gevangeneem en Jesus vir hulle vra: "Wie soek julle? ", dan së hulle: "Jesus, die Nasoreër".

Selfs die Romeinse advokaat Tertullus wat namens die Jode 'n aanklag indien by goewerneur Felix, praat van "die sekte van die Nasoreërs".

Mense wat self nie uit Galilea gekom het nie en minagtend op daardie streek neergesien het, hulle het spottend die snaakse o- klank van die Galileese dialek nageboots wanneer hulle oor Jesus die "Nasoreër" gepraat het.

Met ander woorde: die bynaam vir Jesus: "die Nasarener" het al hoe meer 'n spotnaam "die Nasoreër" geword. Só het het hom genoem.

Daarin het veragting geklink.

Veragting, omdat die Messias, die groot Koning uit die huis van Dawid, die Verlosser, tog nie uit Galilea, tog nie uit Nasaret kom nie! Galilea- wat destyds wel "Galilea van die heidene" genoem is (Sien: Matt. 4: 15). In Judea het die mense hoogmoedig op Galilea neergesien. U sal dit onthou uit wat ons in Johannes 7 gelees het vanoggend.

In Judea het hulle daarom partykeer ook wel van "Jesus die Galileër" gepraat, wat dieselfde veragtelike, spottende klank het.

En as ons nou na ons teks uit Matt. 2 terugkeer: hierop wil Mattheüs wys. God het dit so gelei dat sy Seun, die Redder van Israel en van die hele wêreld, in die vir hoogmoedige Judeërs veragtelike Galilea sy werk begin het. In 'n agteraf stadjie Nasaret, sodat die mense Hom later spottend "die Nasoreër" sou noem. Nie name soos "Immanuel", of "Verlosser" of (soos Christus Homself dikwels aangedui het) "Die Seun van die mens" sal die mense in die mond neem as hulle oor Hom praat nie. Maar die spotnaam "Nasoreër", die man uit die stadjie Nasaret in die agteraf gebied Galilea, word sy bynaam. "Kan daar uit Nasaret iets goeds wees? !" "Kom, die Christus dan uit Galilea? " "Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie!"

En daarin word vervul wat deur die profete gespreek is.

Want "Nasarener" of "Nasoreër"- dit is name van vernedering en veragting. En het meer as een profeet nie so die koms van die Christus aangekondig nie? Hy sou nie kom om vanaf die eerste oomblikke te glorieer nie. Hy sou Homself moet verneder, vanweë die skuld van die volk teenoor God.

U mag byvoorbeeld dink aan wat Jesaja in hoofstuk 53 oor die komende Kneg van die HERE geskrywe het: "Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat. Hy was verag en ons het Hom nie geag nie".

En het die profeet Sagaria by sy aankondiging van die koms van Israel se Koning nie gesê: "Hy kom nederig en Hy ry op 'n esel" nie?

So'n Koning en Verlosser was nodig om die skuld van sy volk te versoen, broeders en susters. Een wat uit die hoogheid van die hemel wou neerdaal en die gestalte van 'n dienskneg wou aanneem, ja, Homself verneder voor God en die mense. 'n Koning wat weer soos Dawid in 'n stal moes begin, omdat daar van die boom van Dawid se huis weens die sondes van Israel maar net 'n stomp oorgebly het. 'n Koning wat aan 'n kruis moes eindig om daar die skuld van sy volk te versoen. Met aan daardie kruis 'n bordjie waarop geskrywe was: "Jesus die Nasoreër, die Koning van die Jode". En u hoor die veragting en spot: Daardie Galileër- moet dit die Koning van die Jode wees? As so die Koning is, hoedanig sal dan sy volk wees!

2. So'n nederige Koning het God vir sy volk gegee gemeente. In ooreenstemming met die woord van die profete. Een wat bewus die smaad aanvaar en gedra het.

En daardeur is elkeen gedwing om te kies. So het God Hom, het sy spotnaam "die Nasoreër", tot 'n val en 'n opstanding in Israel gemaak, soos die profeet Simeon vir Maria en Josef voorsë het.

Nou moes duidelik word wie in Israel 'n Messias begeer om hul eie religieuse hoogmoed te bevestig; en wie in Israel ootmoedig 'n Middelaar verwag wat hulle skuld by God sal versoen.

Die bynaam "Nasarener" of "Nasoreër" het verdeeldheid gebring.

Ons het dit gelees in Johannes 7. Daar was mense wat duidelik geglo het: "Hy is waarlik die profeet". Sy hele optrede, sy prediking het hulle daarvan oortuig: "Hy is die Christus".

Maar ander mense het gesê: "Kom die Christus dan uit Galilea? "

Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp van Dawid nie? Dalk het hulle nie geweet dat Jesus wel deeglik waar in Betlehem gebore was nie. Maar al sou hulle dit ook wel geweet het, dan nog het vir hulle die probleem gebly dat dit skyn asof Jesus heeltemal met die pad van Dawid gebreek het. Hoekom het Jesus dan Galilea as vertrekpunt vir sy werk gekies?

God het met die bynaam "Nasarener" bewus hulle vir dié probleem geplaas.

En daar het verdeeldheid onder die skare gekom.

Al eerder het Natanael met hierdie probleem geworstel. As Filippus vir hom sê: "Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Nasaret", is Natanael se eerste reaksie: "Kan daar uit Nasaret iets goeds wees? ". Maar in die ontmoeting met Jesus wat dan volg, kom hy al gou agter: "Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!".

Ek het ook al gewys op die blinde Bartimeüs in Jerigo. Die skare praat teenoor hom van "Jesus die Nasoreër". Hulle gebruik sy spotnaam. Baie van hulle volg Hom wel, is ook wel onder die indruk van die wonders wat Hy doen, maar is nog glad nie daarvan oortuig dat hierdie Galileër uit Nasaret die Verlosser moet wees nie. Maar Bartimeüs is wél daarvan oortuig! As Jesus naby gekom het, roep hy nie vir Jesus van Násaret nie, maar hy roep: "Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig".

Opnuut het daar verdeeldheid sigbaar geword onder die mense. Want alleen die wat glo kan in hierdie nederige Jesus die groot Koning herken. Alleen die wat die Skrifte ken en verstaan. Hulle alleen sal hierdie gewone Mens wat deur baie 'n bietjie spottend "Die Nasoreër" genoem word, "Immanuel": "God met ons" leer noem.

As na Christus se dood, opstanding en hemelvaart die apostels vanaf Pinkster begin oproep om Jesus van Nasaret as die Christus te aanvaar, gebruik ook hulle opsetlik die spotnaam waarmee hulle Here by die mense bekend staan. Petrus sê in sy Pinksterpreek in Jerusalem: "Israeliete, luister na hierdie woorde: Jesus die Nasoreër, wat julle deur die hande van goddelose mense gekruisig en omgebring het, is deur God opgewek. En die hele huis van Israel moet sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het- hierdie Jesus wat julle gekruisig het". En in die volgende toesprake van die apostele keer die naam wat tot 'n keuse dwing nog 'n paar maal terug.

Jesus het self vanuit die hemel hierdie spotnaam vir Hom gebruik toe Hy Paulus op die weg Damaskus toe geroep het om sy disipel te word: toe Paulus bevrees gevra het: "Wie is U, Here? ", het Jesus geantwoord: "Ek is Jesus, die Nasoreër, wat jy vervolg!"

En ook Paulus is gedwing om hom op sy keuse opnuut te besin. Is dié veragte Galileër uit Nasaret dan tog die Christus en die Here?

Gemeente, elkeen word vandag nog altyd gedwing om te kies. Hierdie Koning van God wat die wêreld verlos, het 'n onaansienlike pad gekies om sy koninkryk op aarde te vestig. 'n Pad waarop Hy eerste Homself verneder het en waarop Hy ons nou roep om ons skuldbewus met Hom te verneder. 'n Pas waarop Hy 'n kruis moes dra en waarop Hy ons nou roep om ons kruis op te neem en Hom te volg.

Hy het ons gewaarsku: "'n Leerling is nie bo die meester nie en 'n dienskneg ook nie bo sy heer nie. As hulle die heer van die huis verag en bespot het, hoeveel te meer sy huisgenote!"

En dit het gebeur.

Het hulle Hom "Die Nasoreër" genoem- sy volgelinge is later as "die sekte van die Nasoreërs" bespot.

En baie ander skeldname het in die geskiedenis daarna gevolg. Ek dink byvoorbeeld aan die naam "Protestante" wat in die tyd van die Reformasie aan die Gereformeerdes gegee is. Aanvanklik 'n spotnaam: mense wat maar lastig is en aanskop teen die gangbare menings.

En wat van die naam "Doppers" wat in die vorige eeu aan die Gereformeerdes hier in Suid-Afrika gegee is? Ook dit was in eerste instansie maar 'n spotnaam deur mense wat van die diepste oortuigings van die Gereformeerdes niks verstaan het nie. "Dopper" het omtrent dieselfde betekenis soos "Nasoreër" gehad: mense van 'n agteraf dorpie, onbeskaafde lastige liede.

U moet maar daarop reken, broeders en susters, dat u 'n pad van veragting en smaad moet loop as ook u die lewe en die toekoms by hierdie Middelaar, Jesus van Nasaret bly soek.

Maar onthou dan wat u Koning self vir ons gesê het: "Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil"

U vind so'n saligspreking terug in die eerste brief van die apostel Petrus (4: 14): "As julle beledig word oor die naam van Christus, is julle gelukkig omdat die Gees en die heerlikheid van God op julle rus". Petrus bedoel: as julle om Christus ontwil bespot en beledig word, is julle op die goeie pad! Dit bewys maar dat julle dieselfde pad as jul Koning loop.

En het God Hom, Jesus die Nasoreër, vandag nie uitermate verhoog en Hom 'n naam bo alle naam gegee nie?

As u Hom volg op sy pad van vernedering wag ook vir u eendag die verhoging en 'n ongekende heerlikheid.

AMEN.

(Pretoria, 15 Januarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)