Juis deur na die hemel te gaan kan Jesus des te beter by ons bly

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 18: 20

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 47: 1, 3
Gebed
L. Matt 28: 16-20 & Mark 16: 15-20
Ps. 47: 4
Prediking
Ps. 68: 9
Belydenis: Sondag 18 en 19 HK
Ps. 68: 16
Gebed
Kollekte
Ps. 20: 1, 2, 5, 6
Seën

Broeders en susters,

Ek moet u vanoggend die Evangelie van Christus se hemelvaart verkondig.

Maar moes ek daarvoor nie liewer 'n ander teks, uit 'n ander Bybelboek gekies het nie?

Handelinge 1 waar Christus se hemelvaart op die wolke van die hemel tot in klein besonderhede vertel word?

Of die slot van Lukas se Evangelie, waar die hemelvaart ook taamlik presies beskrywe word?

Want: Mattheüs vertel aan die einde van sy boek mos nie eintlik van 'n hemelvaart van Christus nie? Hy eindig sy verhaal daarmee dat Christus sy apostels in die wêreld uitstuur om orals sy Evangelie te verkondig en so 'n gemeente van gedoopte Christene byeen te bring. Met die belofte dat Hy Self sal saamgaan. Daar die laaste belofte kan egter baie vaag en algemeen opgevat word: dalk het Jesus maar net bedoel dat Hy in gedagtes met sy uitswermende dissipels sal saamgaan. Of dat die dissipels Jesus in hul herinnering saamdra.

Ek vermoed dat hierdie vrae maar snaaks vir u klink.

Sulke vrae stel egter die moderne teoloë wat God se Woord nie meer aanvaar as die onfeilbare Woord van God nie. In hul oë is die boeke van die Bybel maar net 'n versameling geloofsuitinge in die vorm van verhale, ervarings, fantasieë van vroeëre gelowiges. Daarin staan ook allerhande verhale oor wonderbaarlike gebeurtenisse wat ons nie al te letterlik moet opvat nie. Dat Jesus uit 'n maagd gebore sou wees, dat Hy oor die meer sou geloop het, dat Hy van 5 klein broodjies sommer vir 5000 mense kos sou berei het, en ook dat Hy uit die dood sou opgestaan en vervolgens na die hemel toe sou opgevaar het - dit sou alles maar net fantasieverhale wees wat in die loop van die tyd na Jesus se betreurenswaardige dood sou ontstaan het. Ons moet die fantasie daarin onderken, maar die bedoéling van sulke verhale probeer begryp: ook ons broeders en susters in daardie tyd het dit nie as feite geglo nie. Hulle het daarmee maar net uiting gegee aan hul geloofservaring dat Jesus ook na sy dood steeds op die een of ander wonderlike manier in hul lewe die sentrale plek bly inneem het. En ook dat Hy hoop, uitsig aan hul lewe gegee het, nuwe wonderlike perspektiewe oopgemaak het.

Kyk byvoorbeeld na die verhaal van Jesus se hemelvaart, sê hulle. In die oudste Evangelie, dié van Markus, het so 'n verhaal aanvanklik glad nog nie voorgekom nie. En daarom kry ons ook by Mattheüs nie 'n hemelvaartverhaal nie, want Mattheüs is maar net 'n breëre uitwerking van Markus se Evangelie. Eers in later tyd ontstaan daar in die eerste christelike gemeente ook verhale oor 'n wonderlike hemelreis van die Here. En dit is eers Lukas wat dan sulke verhale in sy boeke, eers sy Evangelie, en later weereens in sy boek Handelinge, opneem.

Dat daar nou in ons Bybels ook by Markus iets oor 'n hemelvaart staan, is maar net omdat daar nog weer later nog 'n aanvulling by die Markus Evangelie geskrywe is. Daarin is natuurlik die eers geleidelik ontwikkelde hemelvaarts- perspektief toe ook verwerk.

As u die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling het: moet maar kyk aan die slot van die boek Markus: in 'n voetnoot word gesê dat nie alle Griekse handskrifte van die Markus Evangelie die verse 9-20 van hoofstuk 16 het nie. Daar is handskrifte wat die boek laat ophou by vers 8. Sonder die mededeling van Christus se hemelvaart. En volgens die moderne teoloë is dit natuurlik die oorspronklikste handskrifte!

Volgens die moderne teoloë kan ek dus vanoggend nie 'n hemelvaartpreek hou uit die Mattheüs Evangelie nie. Want Mattheüs het nog glad nie geweet van 'n hemelvaart van Christus nie. Ons vind in sy beskrywing van die Evangelie nog niks van 'n hemelvaartperspektief nie.

Is dit so, gemeente?

Ag, sulke kwansuis wetenskaplike redenerings bewys maar net hoe on wetenskaplik en vreeslik slordig die moderne teologie te werk gaan.

Immers: al sluit Mattheüs nie met 'n spesiale beskrywing van Christus se terugkeer na die hemel af nie, wys sy hele boek na daardie terugkeer as 'n vanselfsprekende ding!

Al dadelik in hoofstuk 1 het Mattheüs vertel dat Jesus uit die hemel gekom het: Jesus word wel in Josef se huis, maar nie uit Josef se saad gebore nie. Maria het swanger geword deur die Heilige Gees, en daarom kan haar Seun met reg Immanuel, God met ons, genoem word.

As Jesus deur Johannes in die Jordaan gedoop word, vertel Mattheüs dat God se eie stem uit die hemel klink: "Dit is my geliefde Seun". Hy wys vervolgens orals in sy Evangelie die Godheid van hierdie Jesus in die wonders wat Hy verrig: dit is bo-menslik.

Mattheüs vertel dat Jesus al vroeg sy dissipels daarop voorberei het dat Hy na sy lyding en dood ook weer na die hemel sou terugkeer: (16: 27) "Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom. ". En meer as een gelykenis daarna sinspeel ook baie duidelik op daardie terugkeer na die hemel.

Trouens, daardie eienaardige benaming wat Christus telkens vir Homself gebrui het: "die Seun van die mens", was vir elke Jood 'n direkte verwysing na Daniël 7. En daar het Daniël mos gesien hoedat 'n menseseun met die wolke voor God se troon in die hemel verskyn en alle mag in die hemel en op die aarde ontvang.

Omdat Christus se vyande, die Joodse leiers, hierdie a. s. verhoging aan God se regterhand nie wou glo nie, het Christus in sy laatste konfrontasie met hulle nog 'n keer nadruklik daarna verwys. Hy het hulle gedagtes op die spoor van Psalm 110 gesit: Dawid se seun word Dawid se Here want God geen Hom 'n plek aan sy regterhand in die hemel. En in die Sanhedrinvergadering waarin tot sy dood besluit word, waarsku Jesus vir die laaste keer: "Ek is die Christus, die Seun van God. Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel".

Nou ja, broeders en susters, daardie tyd het aangebreek as die Here Jesus aan die einde van die boek Mattheüs afskeid neem van sy dissipels en hulle in die wêreld uitstuur. Elkeen wat die hele boek van Mattheüs goed gelees het, weet, ook sonder dat Mattheüs dit spesiaal noem: Jesus self keer nou terug na die hemel. Dié weet ook waaróm Jesus nou na die hemel terugkeer. Daardie laaste sinnetjie, wat ek vanoggend as teks gekies het, maak dit mos duidelik. Kom ek vat dit so vir u saam:

JUIS DEUR NA DIE HEMEL TE GAAN KAN JESUS DES TE BETER BY ONS BLY

In drie punte sal ek dit vanuit ons teks nader vir u duidelik maak:

  1. HY BELOOF ONS SY HEMELHOË HULP
  2. WANT HY GEE ONS 'N WÊRELDWYE TAAK
  3. DAARBY VRA HY VAN ONS 'N EEUELANGE GELOOF

1. As u die afskeidswoorde van ons teks nugter lees, broeders en susters, is dit direk al baie duidelik dat Christus nie gewoon weer met sy dissipels gaan rondtrek soos Hy dit die afgelope drie jaar in Israel gedoen het nie.

Hy sê mos: "Kyk, Ek is met julle, al die dae.... ". Maar hoe kan Hy so sê nadat Hy sopas hierdie manne in die wêreld ingestuur het, om uit al die volke 'n kerk vir Hom te vergader? Die dissipels moet tot na die uithoeke van die wêreld toe: hulle moet Klein-Asië aan Koning Jesus onderwerp, Europa, Noord-Afrika....

Die een gaan na Antiochië toe, die ander na Filippi, weer 'n ander na Aleksandrië.

Hoe kan die Here Jesus met almal tegelyk saamgaan en met almal tegelyk wees?

Dis mos wat Hy belowe. Hy sê nie dat Hy 'n rukkie saam met Petrus sal gaan en daarna Johannes sal vergesel op 'n preekreis, om daarna met Alfeüs weer 'n ander gebied te besoek nie. Nee, elkeen van sy dissipels mag reken op Jesus se daaglikse aanwesigheid en hulp.

Christus kyk in hierdie afskeidswoord selfs verder as net hierdie klein klompie leerlinge. Hy kyk ook na volgende geslagte. Hy kyk in die toekoms, na die eeue wat volg. Hy kyk na die tyd waarin sy volgelinge al hoe verder oor die aarde uitswerm. Amerika, China, Zuid-Afrika, Australië, Rusland...

Hy kyk totaan die voleinding van die wêreld. En vir al die eeue beloof Hy vir al sy dissipels: "Kyk, Ek is met julle, my kerk, al die dae.... ".

Hy het daardie dag al belowe dat Hy vandag met u hier in Pretoria sal wees, maar terselfdertyd ook met u familie in Nederland, met ons broeders en susters in Kanada, met sy kerk in Brasilië, ja met almal wat in Hom glo en wil onderhou al wat Hy beveel het.

Maar dit sou mos onmoontlik wees as Christus steeds gewoon as mens op aarde sou gebly het, soos destyds in Israel.

Vir ons gevoel sou dit wonderlik wees as die Here Jesus nog steeds op aarde by ons sou wees. Dan kon ons sommer na Hom toe gaan, Hom sien, met Hom praat. Hy kon miskien 'n keer voorgaan in een van ons dienste. Dalk was Hy bereid om 'n keer 'n katkisasieklas aan te bied. Dit sou tog wonderlik wees? Maar vergeet ons dan nie, broeders en susters, dat die Here Jesus vanaf sy geboorte in Betlehem 'n mens soos u en ek. Al is ook Hy God en mens terselfdertyd, sy menslike liggaam is 'n menseliggaam net soos ons s'n wat maar op een plek tegelyk kan wees. Hoe min sou Hy dan maar vir ons kon doen! U sou met Hom wil praat, maar op daardie oomblik was Hy juis in Tokio. Of in Rio de Janeiro. Of in Berlyn. Daar sou so veel mense wees wat met Hom wou praat, wat Hom wou sien -dink maar aan hoe dit al partymaal in Israel was in die drie jaar wat Hy daar rondgetrek het!- dat u meer teleurgesteld as dankbaar sou wees.

Daarom moes Jesus na die hemel gaan om des te beter by ons te kan bly!

Vanuit daardie een plek kan Hy baie meer beteken vir sy hele kerk orals op aarde.

Hy is daar onaantasbaar vir elke vyand. Die duiwel, die groot draak wat daarop geloer het om Christus te verslind, soos Openbaring 12 mos vertel, moet sy prooi laat glip as "die kind van die vrou weggeruk word na God en na sy troon toe". Want op dieselfde oomblik wat Christus by sy hemelvaart in die hemel inkom, word die duiwel deur Migael en sy engeleleër uit die hemel uitgegooi om nooit meer daar te mag terugkeer nie. Christus se hemelvaart het Hom vir enige vyand, selfs vir die gevaarlikste een, onaantasbaar gemaak.

Maar die hemel is vir Christus nie 'n vlugoord nie. Ook nie 'n rusoord nie.

Die hemel is mos die regeringsentrum van God se Koninkryk. Daar staan die troon en daar kom al die drade bymekaar. Vandaaruit word God se engele in hierdie wêreld uitgestuur en kom hulle verslag uitbring.

Daar, op die troon, aan God se regterhand, mag Jesus vanaf sy hemelvaart regeer. Aan Hom is, weens sy versoeningswerk vir ons, mos gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Vandaaraf staan Hy ons by met die goddelike magsmiddele waaroor Hy daar kan beskik: in die Heilige Gees bly Hy vanuit die hemel elke dag nou by ons, Hy gee geloof, blydskap, volharding, moed om hier ook sonder sy liggaamlike aanwesigheid aan te gaan. Hy stuur engele om ons te help en te beskerm.

Daar is Hy ons Voorbidder wat aanhoudend God se aandag vir ons vra.

U ken die geskiedenis dat die volk Israel in die woestyn moes veg teen die leër van Amalek. Die volk het in die vlakte geveg, maar Moses het teen die berg uitgeklim om daar sy kierie op te hou na God in die hemel toe. Dit was die beste hulp was Moses die volk kon bied: as Middelaar God se hulp afsmeek.

U weet natuurlik ook dat Moses se arms al gou moeg geword het sodat Aäron en Hur hom moes ondersteun.

So 'n ondersteuning het ons Here Jesus nie nodig noudat Hy by God in die hemel is nie. Sy arms word daarbo nooit meer moeg nie, maar Hy kan in 'n direkte kontak met sy Vader al die hulp vir ons vra wat ons benodig.

So is Christus vanuit die hemel nou elke dag met u en met my en met al sy volgelinge, gemeente.

Ja, elke dag. Vanaf die dag van ons geboorte totaan die dag van ons dood. As ons gesond is, maar ook as ons siek is en pyn ly. Op die dag van ons troue en as ons weer alleen deur die lewe moet gaan. Hy was daar die dag dat u kind gebore is, maar ook toe u kind weer uit hierdie lewe weggeruk is.

Hy is daar as u u werk verloor of as u besigheid bankrot gaan. Hy is daar as u oes op die land staan en verdroog of as noodweer 'n veelbelowende oes in 'n paar uur verwoes. Hy gaan saam as ons op reis gaan, as ons kinders skool toe gaan. Hy is met ons in dae van politieke onsekerheid en toenemende kriminaliteit.

Elke dag mag ons staatmaak op sy hemelhoê hulp.

Van soggens vroeg tot saans laat. Want ons Here in die hemel doen nie deeltydse werk nie. Hy ken ook geen kantoorure nie. As daar in ons teks staan: "al die dae", word wel alle dae aangeduid, maar lê blykens die Grieks die aksent op hele dae. Gedurigdeur staan Hy klaar om ons vanaf die troon van genade in die hemel te help "op die regte tyd", sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs in hoofstuk 4: 16. "Op die regte tyd" - betyds, beteken dit. Juis dan as ons dit die meeste nodig het.

2. Maar nou moet ek tog wel iets meer sê, gemeente.

Want die Here Jesus beloof in ons tekswoorde nie sommer dat Hy vanaf sy hemelvaart elke dag heeltyd met al die lidmate van sy kerk sal wees nie.

Hy gee hierdie hemelhoë belofte nadat Hy sy dissipels eers aan die wérk gesit het. Daar wag 'n wêreldwye taak vir sy volgelinge. En slegs solank as wat hulle daardie taak getrou uitvoer, mag hulle seker wees van sy hemelse bystand.

Die dissipels moet van nou af in die wêreld ingaan en orals die Evangelie verkondig. Hulle moet mense roep tot geloof en bekering. Hulle mag mense deur die doop binnelei in God se Koninkryk. Hulle moet daardie mense ook leer om volhardend te lewe volgens die styl van daardie Koninkryk. Dis nie genoeg om 'n Christen te word nie. Dis ook nodig om vervolgens 'n Christen te bly. In leer én lewe. In 'n opvallende lewensstyl waardeur God in die hemel op aarde verheerlik word.

Mattheüs vertel dat die Here Jesus die woorde van ons teks gespreek het "in Galilea, by die berg waar Jesus hulle bestel het". Daardie woorde wek die indruk dat dit 'n spesiale berg was wat die dissipels goed geken het. Dit is ook so. Hulle is hier by dieselfde berg waar Jesus vroeër sy sogenaamde "bergpredikasie" gehou en die grondwette van God se Koninkryk vir sy leerlinge ontvou het. As ons Bybelvertaling, sowel in die Ou as die Nuwe Vertaling, sê dat Jesus sy dissipels na die opstanding na hierdie berg "bestel" het, of "beveel het om te gaan", is daardie vertaling nie heeltemal korrek nie.

As ons die Grieks noukeuriger vertaal, moet ons vers 16 so lees: "Die dissipels het na Galilea toe gegaan, na die berg waar Jesus aan hulle verordenings gegee het".

Mattheüs herinner nadruklik aan die bergpredikasie. Opsetlik het Jesus sy dissipels, voor Hy hulle in die wêreld uitstuur, nog 'n keer na hierdie berg toe geroep. Want die onderwys, die verordenings wat Hy hier destyds gegee het - daarmee moet hulle nou na die volke toe. Daarmee moet hulle die lewe vir God gaan terugverower op aarde. Hulle kry nie net 'n boodskap vir die siel saam nie. Hulle moet die lewe bekeer na die wette van God se Koninkryk. Wêreldwyd.

U verstaan, gemeente: die opdrag van Christus wat aan ons tekswoorde voorafgaan, omvat wel 'n bietjie meer as die uitstuur van 'n klompie sendelinge en die finansiële ondersteuning van 'n Evangelisasiekommissie.

Daar rus 'n taak op u in u gesinne, om u eie gedoopte kinders te leer onderhou al wat Christus beveel het.

Daar rus 'n taak op u om soveel as moontlik daarvoor te sorg dat u kinders skoolonderwys ontvang wat in alles rekening hou met dit wat Christus beveel het.

Christus verwag van u dat u u knegte, u tuinhulp en u huishulp vertel van die Evangelie en vir hulle leer om te onderhou alles wat Christus beveel het.

Christus het roep u om aan u bure en kollegas of teenoor jul medestudente sy Evangelie voor te hou en teenoor hulle sy gebooie hoog te hou.

Christus het u in hierdie land 'n plek gegee om deur middel van briewe in koerante en tydskrifte te laat hoor dat sy gebooie heilsaam is ook mbt die politieke vraagstukke van hierdie tyd en mbt die toenemende geweld.

Christus beloof om met ons almal te wees. Elke dag. Heeldag. Voltyds.

Maar dan verwag Hy ook van ons dat ons ons taak sal doen. Elke dag. Heeldag, Voltyds.

Dit sal nie altyd maklik wees nie. As ons as gehoorsame dissipels van Christus ons plek in hierdie wêreld volstaan, kan ons op baie teenstand stuit. Daar sal dae wees dat ons dreig om moedeloos te raak. Ons sal dikwels onseker voel en nie mooi weet wat om te moet doen nie.

Maar dan mag daar vir ons altyd die sekerheid wees: ons Here in die hemel is met ons.

Soos Hy van die troon opgespring het en met Stefanus meegeleef het toe dié sy gehoorsaamheid met die dood moes bekoop, soos Hy meer as een keer 'n engel gestuur het om sy apostels uit die tronk uit te haal, soos Hy 'n aardbewing gebruik het om Paulus en Silas van hulle boeie te bevry, soos hy al talle van sy kinders die volharding gegee het om tot in die arena op tot op die brandstapel of tot in die martelkamer van Christus se liefde vir ons te bly getuig, soos Hy iemand soos Luther getrou gemaak het om te sê: "Hier staan ek; ek kan nie anders nie", soos Hy 'n Hendrik de Cock die geloof gegee het om net op Christus se gebooie te sien en dan blind vir die toekoms te wees, soos hy ons br Viljoen en sy vrou die moed gegee het om meer aan God gehoorsaam te wees as aan mense - so sal Christus ook met u wees as u gehoorsaam as sy dissipel in hierdie wêreld wil staan.

Met die bemoediging het Hy ons aan die werk gestuur en mag ons elke dag vorentoe gaan.

Hierdie woorde maak egter tegelyk ook ootmoedig. Want ás daar mense deur ons getuienis tot geloof en bekering kom, as mense ten gevolge van ons aansporing met 'n groter ywer alles begin onderhou wat Christus beveel het, as ons die moed en die geloof en die krag vind om ons nie deur teëstand en haat en vervolging van stryk laat bring nie, is dit dus nooit aan onsself te danke nie. Christus in die hemel verdien dan die dank vir sy bewese hulp uit die hemel. Sonder Hom sou ons niks reggekry het nie, sonder Hom sou ons nie standgehou het nie, sonder Hom sou die kerk lankal uitgeroei wees op aarde!

Christus se woorde in ons teks bevat dus ook 'n beperking: as ons ons taak verwaarloos, as ons willens en wetens lui is, as ons onder die druk van teëstand en dreiging ontrou word en dros, kan ons natuurlik ook nie op sy hulp en bystand staatmaak nie. As ons Hom verloën voor die mense, sal Hy ons ook verloën voor sy Vader in die hemel en voor die hemelse engele. Dan trek Hy sy hulp terug.

Dan trek Hy Homsélf nie terug nie. Maar dan kom Hy met sy hemelse toorn na ons toe en reken Hy ons voortaan tot sy vyande wat tot 'n voetbank vir sy voete gemaak sal word.

3. Dit is inmiddels al eeue gelede dat Christus sy dissipels aan die werk gestuur het in hierdie wêreld, gemeente. Eeuelank al is Christene besig om hierdie wêreld terug te roep na die wette van God se Koninkryk.

Maar al duur dit ook al eeuelank, hierdie werk is nie eindeloos nie. Eendag is ons taak voltooi. Eendag is die voleinding van die wêreld bereik, die voltooiing van God se skeppings- en herskeppingswerk.

Dit is mos die doelwil waaraan Christus in die hemel bly werk en waarvoor Hy ons aan die werk sit. En Hy sal nie rus voordat daardie doelwit bereik is nie.

Mattheüs het in die eerste sin van sy boek gesê (1: 1) hy gaan die Toledot van Jesus Christus beskrywe. Miskien onthou u daardie woord nog uit die preek wat ek in Desember oor hoofstuk 1 gehou het. Die Hebreeuse woord Toledot, wat ons ook in die boek Genesis telkens raakloop, beteken soiets soos Ontwikkelingsgang. God maak 'n nuwe begin, en ons gaan sien waarop dit uitloop.

Nou ja, die boek van die Ontwikkelingsgang van Jesus Christus wys aan die einde dus vooruit na die voleinding van God se wêreld. Daarop loop uiteindelik die nuwe begin wat God in Jesus Christus gemaak het, uit.

En dan kom Jesus liggaamlik terug uit die hemel, dan bring Hy hemel en aarde bymekaar en word alles nuut. Dan is daar niemand meer op die nuwe aarde wat nog moet leer om alles te onderhou wat Christus beveel het nie. Want almal dra die wette van God se Koninkryk in hul hart.

Solank as wat daardie dag nie aangebreek het nie, moet ons aan die werk bly, broeders en susters. Maar solank sal Christus dus vanuit die hemel met ons bly.

"En kyk, Ek is met julle.. " het Hy mos gesê.

"En kyk"? ! Maar dit is mos juis ons probleem dikwels, gemeente: ons sien niks daarvan dat Christus met ons is nie! Eeuelank al het Hy uit ons oë verdwyn en niemand, behalwe die apostels Paulus, en Johannes op Patmos het Hom ooit weer teruggesien nie.

Ja, Christus van geloof van ons, gemeente. 'n Eeulange geloof. Soos God dit vanaf die vroegste tye van sy volk gevra het. Sy Immanuelbelofte - God is met ons - was daar mos ook al in die Ou Testament. Daarmee moes Moses na die Farao van Egipte toe, daarmee moes Josua Kanaän verower, daarmee moes Dawid koning wees, daarmee moes Jeremia boetprofeet vir die volk wees.

God vra die eenvoudige geloof dat ons Hom op sy Woord kan vertrou.

Daarom sluit Mattheüs sy boek met 'n "Amen" af!

Dit is nie seker of daardie Amen nog deur die Here Jesus Self gesê is, as 'n onderstreping van sy belofte, of dat Mattheüs dit toegevoeg het as sy hartlike instemming met Christus se belofte nie.

Maar dit maak ook nie saak nie.

Want ook as Christus 'n onderstrepende Amen aan sy belofte toegevoeg het, sal ons met 'n instemmende amen daarop moet reageer: Ja, Here, dit glo ons, hierop vertrou ons!

Vind u dit partymaal maar moeilik, broeders en susters? Omdat u Christus in die hemel nie kan sien nie?

Kyk dan om u heen! Daar is orals op aarde inmiddels gedoopte dissipels van Jesus wat onderhou alles wat Hy beveel het. Omdat Hy met sy knegte was.

Kyk na uself!

Dat u hier vandag weer is, bewys dat Christus, al is Hy ook liggaamlik in die hemel, hier op aarde is. Dit beloof dat Hy eendag weerkom.

Dus sê ons vol geloof, saam met Christus se kerk van alle eeue: AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)