Die lofsang van die herders

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ges 110; 95; 97
Ps 89: 1, 3
Ps 89: 6, 7
Skb 4: 5, 6, 7, 8
Ere aan God
Lees: Lukas 2: 1-20
Teks: Lukas 2: 20

Geliefde gemeente!

Daar kom baie tonge los by die geboorte van Jesus Christus in Bethlehem. Veral die evangelie van Lukas wat ons sopas gelees het, is vol daarvan.

Ons hoor engele sing. Ons luister na die lofsange van Sagarias en Maria. Ons hoor van Simeon en Anna wat profeteer oor die pasgebore kind. Saam loof hulle God.

So gaan dit met groot nuus. Groot nuus maak die mense welsprekend.

Selfs van nature swygsame mense kan dan nie stilbly nie.

Mense wat jy gewoonlik glad nie hoor nie, word skielik voorsangers in die kerk.

Nou was daar in daardie dae dan ook geweldige nuus: Die Seun van God het as mens op aarde gekom! Die ewige God het vlees en bloed uit die maagd Maria aangeneem.

Hoe kan 'n mens by sulke nuus stilbly?

As jy by sulke nuus nog nie wil sing nie, dan is jy maar net 'n weieraar wat nie 'n bydrae tot die feesvreugde wil gee nie.

Hoe sterk die aandrang is om te sing, blyk uit die lied van hulle wat ek nog nie genoem het as lofsangers by die geboorte van die Heiland nie. Die sang van die herders.

Herders is van nature vermoedelik geen bekwame sangers nie. Hulle was ook nie groot praters oor hul geloof nie.

Maar selfs sulke mense kan die Here tot spreke bring.

Hy bring hulle tot 'n lofsang.

Hulle is, afgesien van Josef en Maria, die eerste mense wat gehoor het van die geboorte van die Here Jesus. Maar as hulle in geloof gaan bekyk het, wat vir hulle bekendgemaak is, dan kan hulle nie langer swyg nie.

Dan moet hulle sing.

Daaroor wil ons U op hierdie Kersfeesoggend die Woord van die Here bedien.

Die lofsang van die herders word

  1. deur die engele voorgesing
  2. deur die feite aangemoedig
  3. deur die gelowiges voortgesit

Ons kan skaars 'n voorstelling maak watter indrukwekkende gebeurtenis dit was, toe in die Kersnag die hemel oopgegaan het en 'n hemelse leërmag verskyn het. Dit het nog grootser geword toe die leërmag 'n koor gevorm het en die herders gehoor het hoe engele aan die Here 'n lofsang bring.

Ere aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae.

Die engele het besef watter groot werk God in hierdie nag gedoen het. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid het plaasgevind.

God het sy Seun in hierdie wêreld gebore laat word, om vanuit hierdie wêreld die groot daad te verrig wat die versoening van God en mense tot stand sal bring.

Die engele het iets daarvan geweet. Hulle het geweet dat God langs die spoor sy welbehae voortgewerk het aan die koms van die Verlosser.

In hierdie nag kom die Adventstyd, die tyd van verwagting van die Verlosser tot 'n einde.

Die beloofde Messias, die Gesalfde van God, het nou aangekom.

Eindelik na soveel eeue het die spanning van die belofte gebreek. Nou is die groot geskenk daar.

Dit is die eer van God dat Hy al sy beloftes waargemaak het in die Kind wat tans gebore is. Die Kersfeit is nou daar.

Maar die Kersfeit moet tot 'n Kersfees word en daarom moet daar nog meer gebeur.

As die feit tot 'n fees wil word dan moet daar mense wees wat hierdie fees vier.

Dit lyk of ons teks die afsluiting van die Kersverhaal is. Maar dit is meer as 'n einde. Dit is eerder die hoogtepunt van die verhaal.

Immers die herders het nie sommer weer teruggestap nie. Hulle het teruggegaan terwyl hulle God verheerlik en geprys het. Hulle praat opgewonde en lank met mekaar.

Watter magtige dinge het ons gesien!

Wat het God groot dinge gedoen in hierdie nag!

Dit bedoel ek as ek sê dat ons teks die hoogtepunt in die Kersverhaal is.

Want dit is wat die bedoeling van die Here was.

Hy wou die fees by die herders tuisbring. Hy wou hulle lofsang hoor. Hy wou van hulle hoor: Ere aan God!

Seker, dat die engele hul 'Ere aan God' gesing het, dit was ook groot en wonderlik. Ongetwyfeld ontvang God daarin sy eer. Daarvoor het Hy mos engele. Om aan Hom lof te bring.

Maar die engelelied bly nog steeds die lied van knegte.

Dit is hul daaglikse werk om aan God lof toe te bring.

Daarvoor is hulle in diens.

Maar dit gaan God tenslotte nie om hul loflied nie. God wil sy kinders hoor! Hy wil lof van mense ontvang.

En daarom is die herders onmisbaar in hierdie verhaal.

Die Here soek juis hul loflied.

Nie omdat hulle so mooi kan sing nie. Waarskynlik was hulle totaal ongeoefende sangers. Maar dit gaan die Here om hul hart wat sing.

Dit gaan Hom om menseharte wat onder die indruk van God se grootheid 'n lied van verwondering aanhef.

Om mense daartoe te bring dat hulle die lof op God gaan sing, daarom laat Hy aan hulle die lof deur engele voorsing.

As die mense begin sing, dan kan die engele hulle maar weer terugtrek na die hemel.

Dat God dit regkry sien ons in die vervolg van die heilsgeskiedenis. Veral as ons let op die optrede van engele by die verskillende heilsfeite uit die lewe van Jesus Christus.

In die Kersnag is daar 'n leër van engele wat optree.

In die Paasverhaal speel hulle reeds 'n minder belangrike rol.

By die hemelvaart is hul rol nog meer beskeie.

En op die Pinksterdag is daar glad nie meer 'n engel te hoor of te sien nie.

Waarom nie?

Wel, by daardie tyd het mense deur die krag van die Heilige Gees daardie taak oorgeneem.

Dan staan daar mense en verkondig in alle tale van die wêreld die groot dade van God. Ere aan God, dit is die boodskap van al die Pinksterpredikers in Jerusalem.

Die lof wat God op die Pinksterdag ontvang het hier begin. By hierdie herders.

Hulle lofsang is 'n bewys van die oorwinning van God.

Hy sien kans om die mond van swygsame mense oop te breek.

Hy kan stywe tonge losmaak vir 'n loflied op sy groot dade.

2. Die lofsang van die herders deur die feite opgewek

Ons het al aandag gegee aan die lofsang van die engele in die Kersnag.

Maar daar is nie net gesing in die nag nie, daar is ook gepredik.

Aan die herders is deur die engel die evangelie verkondig: Vandag is in die stad van Dawid vir julle gebore die Saligmaker wat Christus die Here is.

Wel, dit is prediking wat hulle in beweging bring.

Hulle glo die woord wat vir hulle bekendgemaak is.

Dit blyk uit wat hulle vir mekaar sê toe die hemel weer gesluit is: Laat ons dan na Betlehem en hierdie ding sien wat gebeur het.

"Om te sien wat gebeur het. " Let op hierdie manier van sê.

Hulle sê nie: Laat ons na Betlehem gaan om te sien of dit waar is wat vir ons gesê is.

Nee, dit staan vir hulle vas.

Hulle gaan nie om te ondersoek nie. Hulle gaan om te besoek.

Hulle gaan op besoek by die Kind oor wie tot hulle gespreek is.

In geloof gaan hulle op pad na die feessaal. Na die kraamkamer.

Waar geloof is daar bly mense nie op hul plek nie, maar daar kom hulle in beweging. Daar was niemand wat vir hulle verplig het om soontoe te gaan nie.

Hulle gaan eenvoudig.

Dit is maar hoe dit gaan as mense deur 'n goeie boodskap gegryp word.

In die kerk gaan dit mos ook so.

Jy is nie verplig om te kom nie. Daar is niemand wat jou dwing nie. Maar as daar geloof is, dan wil jy nie anders nie.

Die geloof dryf jou na die plek waar Christus is.

Daar wil jy saam met ander mense hom eer toebring.

In die geloof gaan die herders op pad na Betlehem.

In die stal kry hulle vir Josef en Maria en die kind in die krip.

Nou kan hul geloof aanskouing word.

Hulle mag hom sien van Wie geprofeteer is.

Maar dit word vir hulle nie gemaklik gemaak nie.

Hul geloof word wel op die proef gestel.

Immers watter groot teëstelling tussen die indrukwekkende verskyning van die engele in die veld en die aanblik van 'n pasgebore kind.

Indrukwekkend was die lofsang uit die mond van derduisende engele, maar hier 'n huilende kind by 'n jong moedertjie.

Hulle het 'n grootse aankondiging van die koms van die Messias ontvang, maar wat sien hulle nou?

Is dit al?

Ja dit is al! Hierdie Een is Hom!

Hierdie kind, op die oog af 'n gewone mensekind, is God se Seun wat in die vlees gekom het.

Verstaan u watter beproewing dit vir die herders moet wees?

Hulle moet in geloof in hierdie kind hul verlosser sien!

Paulus sal later praat oor die kruis wat 'n ergernis is vir die Jode en 'n dwaasheid vir die Grieke.

Presies dieselfde ergernis lê daar ook al in 'n krip.

Dit lyk na dwaasheid dat God so die verlossing tot stand wil bring.

Veral in daardie tyd.

Lukas vertel sy Kersverhaal in die raamwerk van die toenmalige politieke situasie.

Dit is die tyd van die magtige Ryk van Rome. Keiser Augustus voer die bewind.

Augustus. Die Verhewene beteken dit. Hierdie keiser was die eerste een wat hom deur sy onderdane as 'n god laat vereer het.

Hy het homself beskou as die Verlosser van die wêreld.

As die groot weldoener van die mensheid. As die Vredevors self. Want hy het gebring wat genoem is die Pax Romana. Die Romeinse vrede.

En op 'n manier was dit ook so. Hy het talle volke onder sy mag gebring.

Geheel Europa en Noord Afrika het hy geregeer. Dit was een groot wêreldryk.

Daardie keiser Augustus het 'n onvoorstelbare organisasie-talent gehad.

In sy Ryk is daar glad nie plek vir daardie andere Ryk nie. Die Koninkryk van die hemele.

Augustus bou sy eie vrederyk. Met groot geweld.

Wel, in daardie ryk, in daardie wêreld bring God Sy plan tot uitvoering. Daarmee maak Hy 'n begin. In alle nederigheid.

Van hierdie werkwyse van God geld: Salig Hy, wat hom aan My nie erger nie.

Die Seun van God het in die gestalte van 'n dienskneg gekom. Dit moet ons nooit vergeet nie. Hy het nie gekom om vir Homself groot te wees of groot te wees in die oë van mense nie.

Nee, Hy het gekom om aan God alle eer te gee. Hy het daarmee reeds in die krip begin.

En met hierdie werkwyse het Hy lof aan mense ontlok.

Dit begin by hierdie herders. Hulle ontdek in hierdie kind die verlossingsinisiatief van God.

En hulle prys God weens wat Hy begin het om te doen.

Hulle het God geloof en geprys om wat hulle gehoor en gesien het.

Daardie lofprysing uit mensemond is 'n uiters belangrike tema by Lukas.

As 'n soort refrein klink dit by al die wonders waaroor Lukas berig.

Hulle wat dit gesien het, het God verheerlik.

So sluit Lukas sy evangelie verhaal ook af. Nadat die Here Jesus na die hemel opgevaar het, keer die dissipels vol blydskap terug na Jerusalem en het God voortdurend geprys en gedank.

Daardie lof uit mensemonde, dit is wat God wil hoor!

In die skynbaar so onbetekenende feit van die geboorte van 'n kind, het die herders God se groot verlossingswerk herken. Hul gelowig antwoord daarop was dat hulle God geprys het.

Brs en srs, kinders, aan julle word vanoggend weer die Kersfeit verkondig.

God het Sy seun op aarde gebore laat word met die oog op julle redding.

Daarop word ook weer julle antwoord verwag.

As jy nou stilbly, dan gaan die feesvreugde aan jou verby.

As gemeente is ons op hierdie Kersdag by mekaar in die Naam van die Kind wat toe gebore is. In die Naam van Jesus die Christus. Laat daarom nou ook ons lof loskom.

Want hierdie kind stel ons lewe in die ruimte.

Slegs deur hierdie kind kom daar weer uitsig uit ons donker bestaan.

Laat daarom vanoggend niemand die kerk verlaat nie, sonder die lofprysing in sy mond en hart vanweë God se groot dade.

3. Die lofsang van die herders word deur die gelowiges voortgesit.

En die herders het teruggegaan, so begin vers 20.

Wie sal sê, dalk sou hulle nog graag 'n bietjie gebly het.

Om steeds weer te kyk na hierdie wonder van God.

Maar dit was nie moontlik nie.

Dit was ook nie nodig nie.

Want wat hulle gehoor en gesien het, het hulle saamgeneem in hul hart.

In hul lewe het nou alles verander! Noudat hulle dit meegemaaak het, sal hulle nooit meer dieselfde wees nie.

Maar dit beteken nie dat vir hulle hul daaglikse werk skielik glad nie meer belangrik is nie. Hulle het nog steeds hul verantwoordelikheid vir hul diere en vir hul gesinne.

Daarom is hierdie terugkeer van die herders na hul werk vir ons belangrik.

Die Kersfees mag nie 'n eilandjie word wat losstaan van ons daaglike lewe nie. Dit is ook nie goed nie om rond die Kersfees net sommer 'n paar dae te vergeet van sorge en bekommernisse wat ons pla.

Nee, die Kersfees moet vir ons 'n ondersteuning wees om die probleme van die dag weer te beter te kan hanteer.

Ons moet ons vandag laat bemoedig deur die blye boodskap van die Kersvrede wat in Christus geskenk is.

Dit gaan daarom dat ons leer om te bely dat die koms van Jesus Christus in die vlees vir ons lewe van elke dag betekenis het.

Die Kersfees wil 'n blywende vreugde in ons teweegbring.

Vandag word vir ons weer die uitsig geopen op die vrederyk wat God besig is om te vestig.

Daarby gebruik Hy soms middele wat ons nie maklik kan deursien nie.

Maar ons glo dat God wat sy Seun in uiterste nederigheid gebore laat word het, vervolgens tot die allerhoogste eer verhoog het.

Hy sit nou aan die regterhand van God vanwaar Hy sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Daarom hoef ons ons vanoggend nie neerbuig oor 'n krip nie, maar mag ons die oë en die harte ophef na bo waar Christus is.

God kom verder met die evangelie.

Juis die evangelis Lukas vra daarvoor veel aandag.

God het begin in Betlehem.... maar aan die einde van die evangelieverhaal bevind ons ons in Jerusalem. Lukas vertel vervolgens in die boek Handelinge hoe die evangelie van Jerusalem na Rome gaan.

En vandaar gaan dit verder oor Europa en ook na Suid Afrika.

Daardie voortgang van God se werk wil ons vandag met dankbaarheid vasstel.

Ons sien wat God reeds bereik het. Hoever Hy met die boodskap van sy verlossing gekom het.

Dan het ons ook weer moed om verder te gaan.

Ook in hierdie tyd waarin daar soveel wedywer is tussen die magtiges van hierdie wêreld.

Dit wil voorkom dat in vandag se wêreld die boodskap van Kersfees glad nie belangrik geag word nie.

Daar word orals pogings gedoen om alle spore van die Heiland uit te wis.

En tog, ons wil met groot vreugde die fees van die geboorte van Christus vier.

Ons bely die oorwinning van God. God het eendag Sy kneg in die wêreld gebring. Geen mens kry Hom weer uit die wêreld weg nie.

En daarom sal dit vrede op aarde word.

God het mos in mense 'n welbehae.

Daardie welbehae word sigbaar in die vergadering van die kerk.

Daardie welbehae word hoorbaar in die gemeente wat sing.

God wil lof ontvang van mense.

Kom brs en srs, sns en dgtrs, ons neem mekaar saam in 'n loflied op die grootheid en heerlikheid van Sy werke.

Want ons het darem iets om te vier vandag.

As gemeente, as gesinne en as individue.

Jesus Christus is die Heiland deur God aan ons gegee.

Hy sal nooit loslaat wat sy hand begin het nie. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)