Christus wys sy volk die weg van die nagmaalstafel na die Koninkrykstafel

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 22: 24-30

LITURGIE:
L. Lukas 22: 14-30
Ps. 115: 1
Ps. 115: 9
Ps. 115: 8 na die Doop
Ps. 131: 1-3
SB. 16: 1, 3
Ps. 26: 2 na die bevestiging van ouderling D.Drijfhout
Ps. 138: 3

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons teks vir vanmôre sit die apostels vir die eerste keer van hul lewe aan die Nagmaalstafel. Voor hulle op tafel lê die monument van God se hoogste liefde vir sy volk: die Pasgalam, gedenkteken van die ou verbond, is eenkant toe geskuif en gebreekte brood en rooiwyn is die veelseggende simbole van 'n nuwe en ewige verbond, betaal met die lewe van God se Eniggebore Seun.

Die apostels mog terselfdertyd hoor dat die Nagmaalstafel alreeds die voorsmaak op die vreugde aan die Koninkrykstafel beteken. Die monument van brood en wyn wys nie net terug, na die betaling van die nuwe verbond, nie; dit wys ook vooruit: na die voltooiing van die nuwe verbond eendag in die koninkryk van God. Hulle Here verdwyn aanstonds hemel toe en sy kerk sal Hom eeuelank nie weersien nie. Maar daar kom 'n dag dat hulle met Hom mag eet en drink aan sy tafel in sy Koninkryk en Hy die vrug van die wynstok met hulle nuut sal drink.

Mens sou verwag dat hierdie hele situasie die apostels baie klein sou maak.

Maar pleks daarvan begin hulle stry oor wie van hulle die grootste sal wees.

So weinig het hulle nog maar van die werk van hulle Here en van hulle eie toekomstige taak in sy diens verstaan!

Dis hoekom in ons teks ons Heiland nogmaals geduldig vir sy dissipels moet wys langs watter weg sy volk van die Nagmaalstafel na die Koninkrykstafel onderweg is.

Ons wil vanmôre na diè onderwys luister omdat dit 'n les vir ons almal behels. In die eerste plek vir die ampsdraers -ook vir myself- vir Br. Drijfhout wat vandag sy werk as ouderling onder ons begin. Maar vervolgens ook vir u almal wat voortdurend deur Christus genooi word aan sy Nagmaalstafel om daar die voorsmaak te geniet van sy Koninkrykstafel.

Ons hoor in ons teks:

CHRISTUS WYS SY VOLK DIE WEG VAN DIE NAGMAALSTAFEL NA DIE KONINKRYKSTAFEL.

Dis 'n weg

  1. SONDER WÊRELDSE KONINGSMAG
  2. VAN PRIESTERLIKE KONINGSDIENS
  3. VOL TOEKOMSTIGE KONINGSEER.

1. Dit moet vir ons Here maar 'n moeilike ding gewees het, broeders en susters, dat sy leerlinge selfs in hierdie nag en aan hierdie tafel nog so met hulleself besig was.

Hy het vanaand alle aandag na Hom toe getrek. En na sy komende lyding en dood vir die versoening van die sondes van sy volk. Hy sou sy liggaam vir hulle oorgee. Sy bloed sou vir hulle uitgestort word.

En nou begin die dissipels stry oor die vraag wie van hulle as die grootste beskou moet word.

Bloot menslik gesien was dit nie heeltemal onverstaanbaar nie. Hulle was almal, stuk vir stuk, deur Jesus geroep om sy apostel te word. Hulle twaalf het al taamlik gou 'n besondere posisie te midde van al die ander volgelinge ontvang.

Maar is daar binne hulle kring ook nog onderskeid? Jesus het mos drie dissipels van die eerste uur 'n hele aantal kere apart met Hom saamgeneem: Petrus, Jakobus en Johannes. Hulle alleen mog met Hom saam in die huis van Jairus in, net hulle drie mog met Hom die berg uitklim waar Christus 'n oomblik in heerlikheid 'n wonderlike ontmoeting met Moses en Elia gehad het.

Was hierdie drie meer as die ander nege, omdat hulle tot die eerstes wat gevolg het, behoort het? Maar wat dan van Filippus en Nathanael? Hulle was mos ook uit die staanspoor uit Christus se volgelinge?

En was Petrus dalk van daardie moderamen van drie nog weer die voorsitter? Christus het mos vir Hom gesê Hy sou op hierdie petra sy gemeente bou? Petrus het ook al dikwels sommerso die leiding van die kring van dissipels geneem. Maar wat dan van Johannes? Want dit was mos duidelik dat Jesus baie lief vir Johannes was.

So het die apostels gesit en dink, gemeente. Hulle het wel iets daarvan verstaan dat die Here hulle sou gaan verlaat. Hulle kon dit nog maar moeilik glo, maar veronderstel dat dit inderdaad sou gebeur: wie van hulle moes dan die leiding van Hom oorneem?

Maar die apostels het nie net gesit en dink nie- hulle het hieroor onenigheid gekry. Afguns en mededinging het 'n woordjie begin saampraat. Hulle was nie net benieud hoedat straks die posisies verdeeld sou wees nie. Maar elkeen wou graag meer as die ander een wees. Hulle het oor hul eie waarde in vergelyking met die ander gepieker. Niemand wou graag minder as die ander wees. En dis hoekom daar onenigheid onder hulle ontstaan het. Die een het sus gesê, 'n ander so, 'n derde een het weer 'n ander gevolgtrekking gemaak en hulle het amper rusie gekry.

U hoef daaroor nie verbaas te wees nie, broeders en susters. Want vandat die duiwel die mens verlei het om net soos God te wil wees, leef die hoogmoed in elke mensehart. In enige mensehart leef die vraag: die is die belangrikste? Hoe word ek gewaardeer? Word ek gereken of is ek nie in tel nie? Wat dink die mense van my?

Ons Heiland het ingetwyfeld met 'n verdrietige hart die gestry van sy dissipels 'n rukkie aangehoor. Hulle was nogal sy kerkbouers vir wie Hy nou net nog die wonder van die Koninkryk van die hemel gewys het. Hulle was die mans wat aanstonds vir ander mense die pad na hierdie Koninkryk moes oopsluit. Maar hulle self verstaan nog altyd nie op watter wyse 'n mens slegs God se Koninkryk kan binnegaan nie.

En toe het Christus nog maar weer 'n keer versigtig en geduldig die gedagtes van sy leerlinge op 'n ander spoor probeer sit.

Hulle vraagstelling was nie reg nie. Hulle wou weet wie die grootste was. Maar diè vraag pas nie in die kerk nie. Dis 'n vraag uit die wêreld.

Christus sê: So is dit in die wêreld, by die nasies. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Daar mag geen kerkpolitiek na die voorbeeld van die die wêreldpolitiek ontstaan nie.

By aardse koninkryke, ja, daar is dit belangrik dat jy die mag in die hande kry. En die wat een keer die mag het, troon ver bo sy onderdane. Diè het alles oor hulle te sê en kan sy onderdane maak en breek. En dan praat hulle hom nog na die mond omdat hulle bang vir hom is. Dan nog noem hulle die ergste tiran 'n weldoener en hulle vlei hom met geveinsde onderdanigheid uit angs dat hy hulle anders eenkant toe sal skuif. So is dit mos meestal met wêreldse koningsmag?

Ons ken dit van naby, in ons eie land: die stryd om die mag. Tussen die verskillende politieke partye, selfs binne een party.

Ons hoor en lees voortdurend van rewolusie en politieke omwentelings orals in die wêreld.

So moet julle nie wees nie, sê Christus met 'n sagte verwyt in sy stem. Onder my volk behoort daar geen menslike magsstryd te wees nie. Niemand moet daar wil koning kraai nie. Hierdie styl pas hoegenaamd nie in die Koninkryk van die hemel nie. Want my Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. In my ryk is dit: net Een is julle Meester, Christus, en julle is almal broeders.

Nie net die apostels destyds was hardleers nie, broeders en susters. Die kerkgeskiedenis laat ons sien ons dat Christus se kerkvolk die eeue deur met Christus se waarskuwing teen wêreldse heerssug moeite gehad het.

Dit is nog maar kort na Pinkster of die apostel Paulus moet al die gemeente te Korinthe waarsku dat daar geen partyskappe mag wees nie.

Later verhef die kerk te Rome homself bo alle ander kerke, die bisskop van daardie stad begin homself Christus se plaasvervanger op aarde wat troon bo alle ander bisskoppe, noem. Hiërargie in die kerk. En toe die Roomse bisskop, die Pous, eenmaal die mag in die kerk hom toegeëien het, het hy vervolgens ook die mag oor die wêreld vir Hom opgeëis. Die reste daarvan kan u vandag nog in Vatikaanstad sien. 'n Geestelike stand van kardinale, aartsbisskoppe, bisskoppe, priesters en pastoors het die kerkvolk aan hulle onderwerp en van hulle afhanklik gemaak. En die lekevolk het geding na die gunste van die geestelikheid.

In sy genade het Christus sy volk deur die Reformasie van die 16de eeu in Europa wel van hierdie kerklike tirannie verlos en het die kerke teruggekeer na die styl van die Koninkryk van die hemel. In daardie tyd het die kerke in hulle belydenis vasgelê (art. 31 van die Nederlandse Geloofsbelydenis): "Wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is". En in hulle Kerkorde: "Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie".

Maar ten spyte van hierdie belydenis- en kerkordeartikel was daar ook in die eeue daarna telkens weer die vervloekte menslike, wêreldse heersug: sinodes wat hulleself tot 'n opperbestuur bo die kerke bevorder het, gehoorsame burgers van God se Koninkryk met wêreldse metodes, soos tronkstraf, boetes ens., onderdruk het; kerkrade en leraars wat hulleself tot regente oor die kerkvolk aangestel het, diakens wat hulpbehoewende lidmate amper vanaf trone te woord gestaan het en onbarmhartig tot hulle slawe gemaak het.

Die waarskuwing van Christus in ons teks bly tot aan sy terugkoms 'n aktuele woord, gemeente. Ons is almal in ons hart geneig om onsself bo die ander te verhef. Niemand wil graag vir die ander onderdoen nie. Ons is in ons hart almal klein heersertjies.

Maar daardie houding breek die eenheid aan die Nagmaalstafel en blokkeer die weg na die Koninkrykstafel.

2. Is daar dan glad nie onderskeid in die kerk nie? Is daar hoegenaamd nie sprake van meer of minder nie? Is almal aan mekaar gelyk?

Het u die vervolg van Christus se les mooi gelees, gemeente? Daar is wel deeglik sprake van 'n eerste in die kerk. En ook van 'n leier.

Maar daarmee is dit presies andersom soos in die wêreld. "Die oudste onder julle moet word soos die jongste en wie 'n leier is, soos een wat dien".

Ons mag wel daarna strewe om die eerste en die leier te wees. Die Here keur so'n strewe nie af nie. Maar dan moet dit wees na die styl van God se Koninkryk. In die kerk geld presies die teenoorgestelde styl as wat in die wêreld gebruiklik is. In die kerk is dit: hoe minder jy wil wees, des te meer sal jy wees! Wil jy 'n leier wees? Reg, maar dan moet jy dien. Wil jy die eerste wees? Dis moontlik as jy jouself wil afslowe vir die ander soos die jongste kneggie.

Hoe meer jy jouself wegsyfer ten gunste van die ander, des te groter leier sal jy wees. Hoe meer jy die ander wil dien, des te meer sal jy bo die ander uitblink.

In diè styl het die Koning van God se Koninkryk ons mos voorgegaan.

Christus vra in ons teks vir sy dissipels: "Wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien".

Normaal is dit so dat die meerdere homself aan tafel deur 'n mindere laat bedien. Dit is die styl van die wêreld.

Maar die apostels het nog nie vergeet wat daar vroeër aan hierdie maaltyd gebeur het nie: Hulle Here het skielik van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek soos 'n voorskoot voorgebind. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissiples se voete te was en af te droog.

Hy, hulle Here, die gasheer aan tafel, het soos die jongste kneggie wil wees, tot groot verbasing van hulle almal. Die Koning van die Koninkryk van die hemel het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en Hom nie geskaam om die nederigste werk te doen nie. Hy wou die dienaar van hulle almal wees.

"Ek is onder julle soos een wat dien", sê Christus, en Hy bedoel daarmee baie meer as maar net daardie voetwassing. Die Seun van die mens het nie gekom om Hom gedien te word nie, maar om self te dien en om sy lewe te gee as 'n losprys vir baie. Sy hele lewe is diens gewees. Priester-diens. Hy die Koning van die Koninkryk van die hemel, moes in die eerste plek Priester wees om die sondes van die volk van sy Koninkryk uit te delg. Hy staan nou op die punt om daardie priesterdiens heeltemal te vervul, tot aan die kruis. Dit was die enigste weg om eendag met sy volk te kan eet en drink en vrolik te wees in sy Koninkryk en om die wyn nuut met hulle te kan drink. Hy het vir Homself dan ook geen indrukwekkende koninklike monunument of standbeeld begeer nie, maar Hy het slegs 'n eenvoudige herinnering aan sy offer as gedenkteken vir sy volk nagelaat. Brood en rooiwyn: simbole van sy liefde-diens tot in die dood.

En daardie voorbeeld moet die dissipels voor oë hou, as hulle wil weet wie die grootste is. Hy, hulle Here is die allergrootste, Hy alleen is groot in die Koninkryk van die hemel, en wie 'n belangrike plek in sy ryk wil inneem, moet sy voorbeeld navolg. Die weg van sy Nagmaalstafel na sy komende Koninkrykstafel is 'n weg van diensbaar wil wees. Dit is 'n weg van die minste wil wees, jousels verneder, jouself wegsyfer ten gunste van die ander.

Tot diè weg roep Christus ons, gemeente, elke Nagmaalsviering opnuut, tot op die dag waarop ons aan die Koninkrykstafel mag plaasneem. Ons Heiland verwag van ons ons sal voorop loop in die dien van ander. Dat ons nie aanhoudend met onsself, met ons eie eer, met ons posisie en ons vermeende regte, of gewoon ons gemak en rus besig is nie, maar dat ons heel eerste aan ons broeders en susters dink, hulle heil soek en daarvoor alles wil opoffer.

U, Br. Drijfhout, kry vandag geen erebaantjie nie. U benoeming tot ouderling is geen bevordering nie. Ja, u sal vanaf vandag des te meer 'n voorganger, 'n leier moet wees. Maar u moet voorop loop in offerbereidheid. Om ander mense vir die lewe in Christus se Koninkryk te red.

En u, broeders en susters, al word u op hierdie stadium ook nie tot die besondere amp geroep nie, ook u word geroep om die grootste te wees. Die grootste, wat beteken dat u die minste wil wees. Dat u nie net 'n taak in die kerk aanvaar as u daarmee eer kan inoes nie en dat u nie vir take wegloop as u nie u sin kry nie of as u siening nie byval vind nie.... Die minste wees.

Mag ek 'n voorbeeld noem? Daar is broeders en susters, waaronder ook seuns en dogters, wat nie deelneem aan die gesamentlike ondersoek van God se Woord in verenigingsverband nie. Party van hulle het wel 'n rukkie saamgedoen, maar toe het hulle sommer weggebly. Wanneer jy met hulle daaroor praat, het hulle meestal hierdie verskoning: die bespreking daar is vir my glad nie sinvol nie. Of: daar is party ouens wat gedurigdeur so vervelig is- dis nie my plek diè.

Afgesien nog daarvan of hierdie verskonings wel die werklike rede vir hul wegbly is, verstaan u, broeders en susters, dat so'n houding in stryd is met wat ons Koning van ons vra? Juis as die bespreking op lae peil staan, moet u u daarvoor inspan om dit op 'n hoër vlak te bring. Die minste wees, ter wille van u broeders en susters. Juis as daar jeug op die vereniging is wat nie so mooi saamwerk aan 'n goeie bespreking nie, moet jy jou bes daarvoor doen dat diè vervelige ouens maar min kans meer kry om die bespreking nadelig te beïnvloed. Die minste wees.

Dit is vir ons vlees 'n moeilike weg.

Ook die apostels het Christus se weg altyd maar moeilik kon aanvaar. Hulle het drie jare lank met saamgegaan en in daardie jare het hulle hul voortdurend oor sy priesterlike koningsdiens verbaas. Nogtans het hulle nie padgegee nie.

Wanneer die Here in vs. 28 van ons teks sê: "Julle het altyddeur by My gebly in my versoekinge", herinner Hy daarmee aan die stryd wat dit vir Homself gekos het om sy priesterlike offer voorrang te bly gee bo koninklike eer. Hy sê: julle was getuie daarvan hoe moeilik dit partykeer was om die gestalte van 'n dienskneg te behou en om nie die gestalte van 'n koning aan te neem nie. Die volk het nie verstaan dat Jesus Homself wel as die Messias aan hulle gepresenteer het, maar die koninklike eer vir die Messias telkens afgewys het. Hulle het probeer om Hom met geweld koning te maak nadat Hy meer as 5000 mense met vyf garsbrode en twee vissies gevoed het. En die hoop het in die harte opgelaai toe Hy onder koninklike feesgesang op 'n jong donkie Jerusalem binnegery het. Maar Jesus het bly weier om met koninklike waardigheid die mag na Hom toe te haal.

Nie die kroon nie, maar die kruis was sy teiken.

Toen het die een na die ander teleurgesteld padgegee. Self Judas, een van die twaalf, het nou net verdwyn. Net hierdie elf aan hierdie pas ingestelde Nagmaalstafel het gebly, ten spyte van alles. Al het hulle die lydensweg van hulle Here ook nie ten volle verstaan nie, hulle het Hom nogtans op hierdie weg bly volg. Hoe moeilik dit vir hulle vlees ook al was.

Christus sê nou vir hulle in ons teks: Hierdie weg is tog die regte weg! Hierdie weg wat met priesterdiens en offerbereidheid begin, eindig eendag tog met koninklike eer. Vir My. En as julle My op hierdie weg, wat by die Nagmaalstafel begin, bly volg, ook vir julle.

3. En dan sluit die Here sy onderwys wat Hy so vermanend moes begin, tog met 'n veelbelowende vergesig af, gemeente.

Wie van die twaalf moet die grootste geag wees? Dit was die vraag waaroor hulle onenigheid gekry het.

Christus beloof: as julle nou almal die minste wil wees, sal julle eendag almal groot wees in my Koninkryk. Dan mag julle almal aan die tafel van die Koning saam eet en drink, 'n groot eer! En dan sal daar nie vir een van julle 'n troon wees terwyl die ander op gewoon stoele moet sit nie. Maar dan ontvang elkeen 'n troon om saam met My oor die twaalf stamme van Israel te regeer.

Wat Christus presies met die belofte in die laaste vers van ons teks bedoel het, bly bietjie onduidelik, broeders en susters. Die verklaarders is verdeeld. Die bedoeling sal nie wees dat die twaalf apostels 'n spesiale taak ontvang in die laaste oordeel nie. Christus praat nie oor regterlike mag wat hulle sal ontvang nie, maar oor koninklike eer.

Die twaalf stamme van Israel is nie net die volk van die Ou verbond nie, maar die een volk van God uit Ou en Nuwe verbond.

Kry die apostels aanstonds 'n spesiale seggenskap oor God se volk op die nuwe aarde?

Maar ons lees ook van die ander gelowiges, nie apostels nie, dat hulle eendag saam met Christus oor alle skepsele mag regeer. Kyk in belydenis in Sondag 12 H.K.

Kry die apostels dalk meer mag en eer as ons?

Ons gaan nie daaror stry nie, gemeente. Ons het Christus se les van ons teks geleer. Ons het genoeg daaraan om te weet dat daar 'n indrukwekkende koninklike eerbetoon wag vir elkeen wat vandag die onaansienlike priesterdiens wil verrig.

Wie sy vertrekpunt telkens weer kies by die Nagmaalstafel, monument van Christus se offer vir ons, sal sy eindpunt vind aan die Koninkrykstafel, resultaat van Christus se offer vir ons.

En diè sal besef dat elke eer vir homself te veel eer is.

Onverdiend. Deur Christus alleen verdiend.

Soli Deo gloria: die Here alleen die ere!

AMEN.

(Pretoria, 19 Maart 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)