'n Aanmoediging om dankbaar te lewe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Kolossense 3
Preek Inhoud: 

Ps 16: 1, 2
Ps 16: 3, 4
Ps 65: 7
Ps 144: 1, 2 en 6
Ps 96: 1, 2
Ps 96: 5, 7
Lees: Kol. 3: 1 - 17
Teks: Kol. 3: 16, 17

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vandag het ons twee keer die Nagmaal van die Here gevier. Vanmiddag was daar maar net een tafel en daarom het ons ook nog geleentheid om 'n gewone preek te hoor. Volgens die gewoonte word so'n preek na die viering van die Heilige Nagmaal 'n nabetragtingspreek genoem. 'n Nabetragting is 'n soort terugblik. Jy sien terug op wat jy ontvang het.

Wel, by so 'n nabetragting is daar een woord wat hom aan ons opdring, dit is die woord: dankbaarheid. Dankbaarheid vir gawes wat ons vandag geniet het. Dankbaarheid, dat ons weer gehoor en geproe het dat Christus ons sondes vergewe.

So is dankbaarheid 'n stemming waarin jy op 'n Nagmaalsondag maklik kan kom. Jy voel jou dankbaar. Nou is daarmee op sigself niks verkeerd nie, maar ons moet wel besef dat 'n stemming van 'n mens tamelik veranderlik is. 'n Gevoel van dankbaarheid kan vinnig by 'n mens opkom, maar ook vinnig weer verdwyn.

En daarom is dit goed om te besef dat dankbaarheid nie slegs 'n spontane gevoel is nie, maar dat dankbaarheid ook 'n opdrag is. Vs. 15 van Kol. 3 sluit 'n gedeelte van heel praktiese vermanings af met 'n alles saamvattende oproep: WEES DANKBAAR!

Die hele oproep tot 'n christelike lewe en lewenstyl kan in een woord saamgevat word: wees dankbaar!

En daarom wil ons in hierdie nabetragtingspreek uit Kol. 3: 16, 17 vir u die boodskap van die teks soos volg saamvat:

'N AANMOEDIGING OM DANKBAAR TE LEWE

  1. Laat die Woord van Christus in julle woon
  2. Laat die Naam van Christus julle beheers

Met die eerste punt van ons punteverdeling sluit ons heel nou aan by die eerste woorde van ons teks: Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon.

Dat die Woord van Christus in ons moet kom woon, is 'n pragtige uitdrukking wat vir ons baie stof tot nadink bied. Ons moet ons die beeld wat Paulus hier gebruik so voorstel dat die Woord, die Woord van Christus tot ons lewe toegang vra. Hy staan aan die voordeur van ons lewenshuis en sê: Ek kom woon by jou. Ek soek 'n woonplek in jou lewe.

En as Christus met sy woord woonplek kom vra, kan jy hom maar nie soos 'n bedelaar van jou voordeur af wegstuur nie. Want Christus kom nie by jou as 'n regtelose nie, maar hy kom as een wat reg het op toegang in jou lewe. Hy kom soek in jou lewe 'n vaste blyplek!

Die beeld kan ons soos volg uitwerk: Vir baie mense is die Woord van Christus maar 'n tydelike gas. Soos in 'n hotel byvoorbeeld, waar hy een keer per week 'n besoek kan kom bring. 'n Sondagskuier. Maar dis darem nie woon nie! Christus vra meer.

Ander mense laat die Woord ook nog toe in hul huise tydens bybelkring. Dan kan die Woord ook maar inkom. Of die Woord word binnegelaat vir 'n blitsbesoekie na die maaltyd as ons boekevat.

Maar met dit alles neem die Woord van Christus geen genoee nie. Hy wil nie net so nou en dan as 'n gas toegelaat word nie. Maar Hy wil kom woon in ons. Hoekom wil Hy woon in ons?

Kyk as ek in 'n huis woon, dan gaan daar van my 'n invloed uit op die huis. Die huis kry my persoonlike stempel. Ek rig dit in soos ek dit wil hê. Ek bring hier en daar veranderings aan. Ek bepaal die kleur van die matte en die gordyne. Dit is die reg van die bewoner. So iets kan ek met 'n hotelkamer waar ek slegs 'n enkele keer as gas kom nie doen nie.

Wel, so soek die Woord van Christus woonruimte in ons lewe. As Hy kom woon in ons, dan moet ons lewe Sy stempel kry. Ons ontwikkel dan 'n lewenstyl waarin die persoonlikheid van Jesus Christus sigbaar is. Dit is sy styl wat ons dan gaan vertoon. En uiteraard is dit ook merkbaar vir ons omgewing.

Ons moet oplet dat die apostel hier byvoeg: Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon. Ryklik dit is oorvloedig.

Dit is eintlik merkwaardig dat ons as mense in tal van sake prysstel op oorvloedigheid. Ons hou van royaal, ryklik.

Maar met betrekking tot die Woord is ons dikwels tevrede met 'n minimum. Een dag per week waarop ons kerktoe moet gaan, is darem meer as genoeg! Een preek per sondag en ek is meer as versadig. En ook nog 'n weeksaand 'n Bybelkring bywoon? Dis dan te veel van die goeie!

En so minimaliseer ons die aanwesigheid en daarmee die werkingskrag van die Woord in ons lewe.

Juis daarom is hierdie vermaning vir ons belangrik: Laat die Woord ryklik by julle woon. Die Woord moet tuis wees in jou lewe, sodat jy ook tuis is in die Woord.

By die Woord van Christus moet ons dink aan die hele Bybel. Deesdae kan 'n mens daardie boek in enige boekwinkel vir 'n paar Rand in die hande kry. Dit is 'n groot voorreg van ons tyd dat almal dit self kan lees en in huis kan hê.

Tegelykertyd is daaraan 'n nadeel verbonde. Want nou kan jy die Woord in huis hê, sonder dat dit werklik by jou woon. Ek bedoel dit: In die tyd van die Kolossense was dit anders. Byv. hierdie brief van Paulus en ook ander geskrifte is voorgelees, en herhaal en gerepeteer en herkou, totdat almal amper presies geweet het wat daarin staan. In daardie tyd kon maar min mense lees of skryf. Jy was afhanklik van voorlesing en van jou herinnering van wat jy daarvan onthou.

Tot vandag toe kan jy mense ontmoet wat geen woord kan lees nie en wat jou kan verstom deur die presiese aanhaling van allerhande bybelgedeeltes. Daar sien jy die voordeel wat ek bedoel. Want dan kom woon die Woord van Christus werklik in jou. Dit is naby jou, in jou hart en in jou mond.

Maar ons het die Woord in 'n boekie by die huis, Daarin staan alles. Ons kan elke woord lees, op enige oomblik dat ons dit soek. En juis daardeur gaan ons dikwels nie soek nie. Dit staan wel in die boekie. Die boekie lê daar. En bly lê daar!

Wees almal maar bewus van daardie gevaar, gemeente. Laat die Woord ryklik in jou woon. En in jou gesin.

Ja, laat die Woord ook woon in die gemeente as geheel sodat heel die gemeente ook die stempel gaan kry van die Hoofbewoner, van Jesus Christus.

Nou is daar nog een klein gedeelte van die eerste deel van vs. 16 waaraan ons geen aandag gegee het nie. Dit is die woorde 'in alle wysheid'.

Nou is ek van mening dat die woorde 'in alle wysheid' eerder by die volgende gedeelte gelees moet word. Leer en vermaan mekaar met alle wysheid. ( So: N.A.B.)

In die gemeente behoort die gelowiges mekaar te leer en te vermaan. Om te leer is nie die monopolie van die predikant nie. Hy het ook nie die alleenreg om te vermaan nie. Inteendeel, waar die Woord van Christus in die gemeente woon, waar die Woord tuis is, daar kan ons mekaar leer en vermaan. Uit die gesprekke wat ons met mekaar het, word wel duidelik of die Woord van Christus by ons woon. As die Woord van Christus nie by ons woon nie dan het ons mekaar ook niks sinvols te vertel nie. Dan is al die gesprekke leeg.

Maar as die Woord in ons woon, dan kan ons mekaar leer en vermaan, dan leer ons uit 'n gesprek met mekaar sonder dat een van beide of as leraar of as leerling optree. In 'n goeie gesprek (opbouende gesprek) is jy steeds beurtelings leraar en leerling.

So bou ons mekaar op. So groei die liggaam van Christus waar die lede mekaar ondersteuning gee met die oog op die Hoof van die liggaam. Daardie ondersteuning bestaan sowel uit lering as uit vermaning. Daartusse is 'n verskil. 'Leer' is meer die oordrag van kennis. Die gemeente moet groei in kennis, om byv. staande te kan bly teenoor dwaalleer. Maar vermaning bly ook nodig. Want daarby gaan dit om die konkrete lewensheiliging waarvan Paulus in die eerste 15 verse van Kol. 3 steeds gepraat het.

Vermaan - dit sou ons kon vertaal met 'regruk'.

Dit beteken, as 'n enkeling sien jy sake maar vinnig skeef. Jy vorm jou mening op grond van jou kennis en insigte. En ook soos jy dinge doen in die lewe, kan dit maklik wees, dat jy dit nie reg doen nie, al meen jy self dit is heeltemaal goed so.

En daarom het ons as gemeente mekaar nodig. Om mekaar te vermaan. Om mekaar reg te help.

En daarby is dan heel hard nodig dat dit in alle wysheid gedoen word. Mense kan so maklik sommer iets sê, of in kritiek op 'n ander baie onbedagsaam wees, sodat hulle glad nie probeer aanvoel hoe jou woorde by 'n ander aankom nie. Dus hier is seker die vermaning tot wysheid nodig.

Daar is wysheid nodig in die omgang met mekaar. In die leer en vermaan van mekaar.

Maar waar dit alles gebeur, waar elkeen die Woord van Christus in sy lewe laat woon en waar ons mekaar in liefde en wysheid opbou, daar gebeur groot dinge. Daar kom 'n lofsang los.

Immers daar waar Christus kom woon het daar is dit fees. Daar kan gesing word. Daar moet selfs gesing word met 'n groot verskeidenheid van liedere, Psalms, lofsange en geestelike liedere, noem Paulus hier.

Die beker van vreugde vloei oor. Waar Christus ryklik woon daar is oorvloedige blydskap. Daar kan met 'n woord van Psalm 22 Die Heilige van Israel troon op die lofsange van sy volk.

Ons moet ons steeds weer verwonder, broeders en susters, dat Christus by ons wil woon en dat Christus ons vir mekaar as gemeente gegee het om saam bly te wees oor sy wonders van genade.

Sing met dankbaarheid tot eer van die Here, sluit vs. 16 af.

Let op daardie dankbaarheid, gemeente. Dit is julle roeping en opdrag as gelowiges om dankbaar te wees.

Oefen julle self daarin. Tel steeds maar weer al jou seeninge, Let op al die geskenke wat God jou gee en wees dankbaar.

Daar is n. l. in mense niks so aantreklik as opregte dankbaarheid nie.

Mense wat dankbaar kan wees vir wat God gee, hulle is altyd bly.

Hulle kan steeds sing! Uit hul lewe ontvang God sy eer.

Al is dit nog so eenvoudig en na die mens gesproke dalk gewoon, maar waar dankbaarheid die hooftoon voer, daar sien ons die stempel van Christus wat in 'n lewe kom woon het.

Dankbaarheid van christen-mense vorm 'n sterker aantrekkingskrag as watter vakkundige evangelisasieprogram ook al.

2. LAAT JULLE DEUR DIE NAAM VAN CHRISTUS BEHEERS

Doen alles in die Naam van die Here Jesus, wat julle ook al doen in woord of werk. Dit beteken ongetwyfeld dat alles wat jy doen of sê te make het met die feit dat jy aan die Here Jesus toebehoort.

Jy het sy eiendom geword noudat jy saam met Hom begrawe is en ook saam met Hom tot 'n nuwe lewe opgewek is. Jou woorde en jou dade moet heeltemaal beheers word deur Jesus Christus.

Wel, dit klink alles vir ons heeltemaal gewoon en vanselfsprekend. Dit kan ons so dikwels hoor, dat ons sê: Natuurlik, so moet dit.

En daarmee sou ons die preek vanmiddag wel kon afsluit. Maar tog wil ek nog graag 'n bietjie dieper met u nadink oor hierdie woord.

Dan moet ons ons weer probeer indink hoe die mense van Kolosse so 'n woord gehoor het.

Daar was in Kolosse aandrang op die gemeente om vastedae in te stel, om sekere feesdae te onderhou, en hulle te onthou van allerhande genietinge. Die agtergrond van die dinke van die mense wat dit voorgestaan het was dat hulle die lewe in twee verdeel het.

Aan die een kant is daar die alledaagse lewe, van werk, eet, drink en slaap. Maar aan die ander kant is daar die geestelike lewe. Dis die plek waar ruimte is vir vroomheid en godsdienstige handelinge.

Die 'geestelike' handelinge wat jy verrig was soos eilandjies in 'n see van die 'gewone' lewe. Jy moet dan natuurlik 'n hele paar van daardie eilandjies in jou lewe opbou want anders versink jy in die see van gewone wêreldlike besighede. En so ontstaan 'n raak nie - smaak nie - godsdienstigheid. Omwille van jou geestelike lewe, vas jy of stel jy allerhande feesdae in.

Wel, teenoor daardie verdeling van die lewe, waarin daar 'n algemene terrein is en 'n terrein spesiaal vir godsdiens afgesonder is, sê Paulus dan: Wat julle ook al doen in woord of werk, doen ALLES in die Naam van die Here Jesus.

Of jy nou eet of drink, of jy nou jou daaglikse werk doen of dat jy vry is, of jy alleen by die huis is of saam met jou broers in die kerk is, doen alles in die Naam van die Here Jesus.

Want in alles leef jy voor sy aangesig

En daarby dank God die Vader deur Hom. Paulus noem hier nie sommer die Vader nie. Hy bedoel die Vader as die Skepper van hemel en aarde. As die God wat die mens sy lewe gee. As die God wat die mens 'n tong gegee het om heerlike skeppingsgawes te proe en te geniet en tewens 'n tong gegee om vir dit alles sy Skepper te dank.

Dank God die Vader deur Jesus Christus dat jy van al daardie gawes as 'n kind kan geniet omdat in Christus dit alles geheilig is en daarvan niks verwerpelik is nie.

Teen die agtergrond van die situasie in Kolosse, waarin die lewe opgesplits is in heilige en minder heilige oomblikke, verstaan ons des te beter dat Paulus sê: Wat julle ook al sê of doen, doen alles in die Naam van die Here Jesus.

Deur Hom, deur Jesus Christus het die opsplitsing van die lewe in heilig en minder heilig 'n onmoontlikheid geword. HEEL die lewe behoort dan aan Christus. Hy vra dan ook jou lewensheiliging.

Lewensheiliging, ook dit is weer so 'n bekende woord, wat vir ons dikwels so min sê.

Lewensheiliging is nie dat jy 'n stukkie van jou lewe heilig nie. 'n Aantal ure vir Christus reserveer nie. Dit is wat die dwaalleraars in Kolosse wou. Hulle het hul spesiale godsdienstige dae en plekke gehad. Jy kry tot vandag toe mense wat b. v. oor 'n kerkgebou met heel spesiale eerbiedigheid kan praat. Dit is die huis van die Here. Sst! Heilig, heilig!

Die gevaar daarvan is dit: Hoe meer jy die kerkgebou afsonder as 'n heilige plek, as 'n woonhuis van die Here, hoe groter sommer die verskil word tussen die sondag en die ander dae van die week. In die sin dat jy dit op maandag wel 'n bietjie makliker kan neem met die Wet van die Here. Dan word die kerkgebou 'n plek wat heiliger is as ander plekke.

Maar die Here wil nie in 'n kerkgebou woon nie. Hy wil nie dat ons Hom een keer per week kom besoek nie. Die Here wil by ons woon. Ons lewe is die huis van die Woord van Christus. Vandaar die groot nadruk van Paulus in ons teks: Wat julle ook al doen of sê, doen ALLES in die Naam van die Here Jesus.

En dit het ook vir ons baie te sê, gemeente.

Dat ons alles moet doen in die Naam van die Here Jesus, dit leer ons wegbeweeg van eindelose en sinlose diskussie oor vrae soos: Kan ek as christen dit nog doen? In hoeverre kan ek daaraan meedoen? Kan ek hier nog na toe gaan of mag dit nie meer nie?

Al daardie vrae-vraery kom voort uit 'n wettiese lewensinstelling. En daarvan moet ons in Christus' Naam wegbeweeg.

Waar ek saam met die Here Jesus kan kom daar is elke plek goed al sou ek, soos Hy 'n maaltyd hou met tollenaars en sondaars. Maar elke plek waar ek my Heiland nie kan saambring nie, dit is vir my verbode terrein. Kan die Here Jesus langs my kom sit as ek 'n fliek gaan kyk? Kan ek Hom ook nooi om saam te gaan as ek 'n disko instap? Dit is die punt waaroor dit gaan!

Kyk, dikwels gaan dit in die lewe so: Eintlik het ek myself, my lewe en wat ek daarin kan geniet in my denke sentraal gestel en nou moet ek ook nog Jesus Christus iewers inpas. En vanuit so 'n dinke kom steeds die vraag op: Hoever kan ek gaan vir my genot, sonder dat ek Christus verloor?

Maar so 'n lewe loop vas in teleurstelling, in eensaamheid en bitterheid. Dit word 'n lewe sonder werklike blydskap. 'n Lewe waarin konflikte voortdurend 'n rol speel en wat alle dankbaarheid uit 'n mens uitpers.

Maar waar ek myself uit die middelpunt van my lewe haal en leer om daarvoor Jesus Christus in die plek te stel, daar raak my lewe vervul met vreugde.

Daar maak ek my nie sorge of ekself dalk tekortkom nie. Dat daar vir my te min ruimte is om 'n slag te geniet.

Nee, daar word heel jou lewe, jou werktyd en jou vryetyd gedra deur die blydskap van die lewe met Christus!

Jy weet, jy kan jou warm maak in die warmte van Sy liefde. Vir jou het Hy alles gegee. Daar is niks so hartverwarmend en so verblydend vir 'n mens om spontane liefde van 'n ander te ontvang.

Wel, dit gebeur slegs as jy jouself uit die middelpunt van jou lewe gaan uitskuif en daarvoor Christus en jou naaste in die plek stel. Dit is nog wel die groot gebod van die ou wet van die Here. Met 'n lewe waarin Jesus Christus in die middelpunt staan styg jy ver uit bo die krampagtigheid en vreugdeloosheid van 'n wettiese lewenstyl. Want 'n wettiese lewenstyl word nie deur dankbaarheid geregeer nie maar uiteindelik slegs deur angs. Angs vir 'n straffende God wat wel sien dat jy Hom eintlik met vrome handelinge op 'n sekere afstand wil hou.

Maar waar Christus in die middelpunt staan, daar is jy werklik vry. Vry van angs, en vol van dankbaarheid vir die groot geskenk wat jy in Christus ontvang het. En jy sal wel pasop om daardie geskenk nie deur 'n slordige lewe te verspeel nie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)