Bekering begin met gebed

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMOTHEUS 2: 1-8

LITURGIE:
SB.28: 1, 2
Wet
SB.28: 3, 4
Gebed
L.+ T. 1 Tim. 2: 1-8
L. Dordtse Leereëls I, 3 en II, 5
Prediking
Ps. 5: 1, 3, 5, 6
Gebed
Kollekte
SB. 49: 3, 5, 6, 7

Broeders en susters,

Ons fokus hierdie weke in die kategismuspreke op die gebed.

Die eerste ding wat die Kategismus ons in Sondag 45 geleer het, is dat die gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. Die vernaamste onderdeel van ons daaglikse bekering wat die Heilige Gees van God deur die Woord van God in ons bewerk is, dat ons weer bid. Dat daar weer verkeer tussen God en ons is. Bekering begin nie met allerhande groot aktiwiteite nie. Dit begin met gevoude hande en geboë knieë.

Ons teksverse uit 1 Timotheüs 2 vorm 'n pragtige bewysplaas vir dit wat in Sondag 45 van die Heidelbergse Kategismus geleer word.

Die apostel Paulus het sy medewerker Timotheüs in Efese agtergelaat om daar verder te werk aan die daaglikse bekering van die gemeentelede. En sy brief vorm 'n instruksie vir Timotheüs hoé om dit te doen. In hoofstuk het Paulus duidelik gemaak dat die Bybel nie 'n "weet-boek" is nie, maar 'n "werk-boek". Geen vraagbaak vir nuuskierige mense nie, maar die gesonde leer vir sondaars. Ons moenie die Bybel bestudeer om allerhande interessante feite en lyne daaruit bo te haal nie. Maar ons moet die Bybel gebruik om ons daagliks daarvolgens te bekeer.

Vanaf hoofstuk 2 wys Paulus dan vir Timotheüs waarin so'n bekering merkbaar moet word. En moet maar kyk: dan noem ook hy allereers die gebed.

"In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word.... " Bekering begin met gebed!

Die apostel gebruik maar liefs 4 verskillende woorde vir ons gebedsaktiwiteit. Gebedsaktiwiteit is blykbaar 'n veelomvattende aktiwiteit. Dis veel meer as gou gou 'n gebed voor die maaltyd, 'n gebed om 'n geseënde vergadering en 'n gebed om 'n goeie nagrus. Paulus praat van "smekinge". Die Griekse woord beteken: vraag, versoek Ons het heel wat om te vra. Ons is in alles van ons hemelse Vader afhanklik en sonder Hom kan ons niks doen nie.

Dan noem Paulus: "gebede": aanbidding sou ons liewer kon vertaal. Die HERE wil uit ons monde en harte ook die erkenning van sy grootheid, sy almag en sy uniekheid hoor.

Die volgende woord is "voorbedes": ons bid nie net vir onsself nie, maar ons tree soos priesters in vir ons broeders en susters, vir die mense rondom ons, ja, vir 'n hele wêreld in nood.

En ons gebed sal tenslotte ook altyd die konkrete "danksegging" oor God se liefde en liefdesgawes vir ons moet bevat.

Die gebed wat God vra, bring dus 'n hele lewenshouding saam.

En so'n biddende lewenshouding- dis dus die eerste waartoe die HERE ons deur sy gesondmakende woord oproep.

Kom ons luister hoe dat die apostel van Christus dit in ons teksverse nader aandui.

As ek dit saamvat, is dit dus die boodskap van ons teks:

BEKERING BEGIN MET GEBED.

En dan leer die apostel dat dit 'n gebed moet wees

  1. MET OOP OË
  2. MET KALME HARTE
  3. MET HEILIGE HANDE.

1. Dit klink natuurlik 'n bietjie snaaks, broeders en susters, as ek sê dat ons "met oop oë" moet bid. Ons maak mos juis ons oë toe wanneer ons bid. En ons berispe ons kinders as hulle tydens die gebed hulle oë oopgemaak het.

Maar as ek sê ons moet bid "met oop oë" bedoel ek dat ons in ons gebede verder moet kyk as wat ons eie lewentjie lank en breed is.

Ons moet met oop oë in God se wye wêreld rondkyk en 'n oog vir "alle mense" hê.

Ons is in ons gebede meestal veels te selfgesentreerd. En ek sluit myself by daardie "ons" in. Ons bid vir ons self, ons gesin, ons familie, vir herstel van ons gesondheid, vir ons werk ens.

En ons brei dit hoogstens nog bietjie uit met gebede vir ons eie kerklike belange: vir die predikante, die kerkraad, die vergadering wat vanaand gehou word, die opleiding vir die predikante en die sending.

Maar die apostel van Christus trek ons horison dadelik baie wyer. Hy wil hê ons betrek die hele wêreld in ons gebed. Hy vermaan ons om vir álle mense, sonder onderskeid, te bid. "Bid vir alle mense"- so begin Paulus mos vs. 1.

Hy maak ook duidelik hoekom.

Kyk vs. 3 en volgende: "dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense -hier staan opnuut: alle mense- gered word en tot kennis van die waarheid kom. "

God het sy wêreld vol mense so lief gehad, dat Hy sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom kan lewe. Die geskenk van sy Seun was die beste bewys -"die getuienis op die regte tyd" skryf Paulus in vs. 6- hoeveel God daarvoor oorgehad het om sondaars te red.

Hy het vervolgens ook sy knegte in die wêreld uitgestuur om orals die mense met die Evangelie van Christus tot die redding te roép. Orals: Hy beperk Hom nie langer tot die een volkie van die Jode nie, maar Hy wil sy belofte aan Abraham gestand doen dat "alle geslagte van die aarde" geseën sal word. Dus stuur Hy sy apostels tot aan die uiterste van die aarde.

Om heidene tot geloof te bring. Om kortsigtige mense tot kennis van die waarheid te bring. Tot hierdie waarheid dat daar net een God is, omdat alle afgodery selfbedrog is. En dat daar ook slegs een Middelaar tussen God en die mense is. Al die heidense middelaars: towenaars, magiërs, priesters... kan 'n mens nie red van God se toorn nie. Dit kan alleen die Seun van God wat mens geword het: Jesus Christus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal.

Paulus self is deur God geroep om hierdie Woord van die waarheid in die wêreld uit te dra. Hy is oor sy boodskap wel gesmaad -kyk hoofstuk 4: 10 van hierdie brief-. Maar Hy weet baie mooi dat dit God self is wat hom geroep en bruikbaar gemaak het om met hierdie Evangelie sondaars te probeer red. Dis waarskynlik hoekom hy is ons teks in vs. 7 so nadruklik uitroep: "ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie!". Ten spyte van teëstand, laster en smaad kan en mag hierdie kneg van die HERE nie swyg nie: God wil dat alle mense gered word.

Ja, is dit wel so, gemeente, dat God wil dat alle mense gered word? Ons lees mos op heelparty plekke in die Skrif, en ons bely dit ook in die Dordtse Leerreëls, dat God net "'n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag" uitverkies het. En dat Hy die ander mense verbygaan en in die sonde en skuld laat lê.

Hoekom kan Paulus dan skrywe dat God wil dat alle mense gered word? !

Wel, Paulus gee hier geen dogmatiese verhandeling oor Gods besluit van verkiesing en verwerping nie, maar hy wys vir ons eenvoudig met watter opdrag God ons met sy Evangelie die wêreld ingestuur het. God soek met sy reddende Evangelie alle volke en alle mense, sonder onderskeid.

En natuurlik, dan weet ons ook uit die Bybel dat die HERE Self die pad kies waarlangs sy evangeliepredikers moet gaan. Hy stuur hulle na sy welbehae "na wie Hy wil en wanneer Hy wil". Ons weet ook dat nie almal wat die Evangelie hoor, dit in geloof aanvaar nie. Omdat God vir hulle nie sy Heilige Gees wat die geloof werk, gee nie.

Nogtans gee die wetenskap vir ons nie die reg om self ook onderskeid te maak en net aan die mense van ons eie keuse die Evangelie te verkondig nie. Ons weet nie van elkeen persoonlik wie wel en wie nie deur God verkies is nie. Ons weet net dat ons alle mense met die reddende evangelie moet probeer bereik.

So sê ons as kerk dit ook in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk II, art. 5: Die belofte van die Evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê, "moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof". Dis 'n baie ewewigtige formulering: aan die een kant word daaraan vasgehou dat God na sy welbehae self die loop van die Evangelie bly bepaal. Maar aan die ander kant stuur Hy ons eenvoudig die wêreld in met die opdrag om alle volke en mense sonder enige onderskeid met die reddende Evangelie te soek.

Blank of swart, bruin of geel, beskaaf of onbeskaaf, welwillend of vyandig- dit alles is by God nie by voorbaat 'n rede om mense te verwerp nie. En dus mag ons oor sulke redes ook geen mens verwerp nie. God se reddende liefde soek Jood en heiden, Boesman en Islamiet, slim professore en gestremde kinders, maar ook hoere en tollenaars, terroriste en ontvoerders, ja, die hele lys misdadigers wat Paulus in die vorige hoofstuk in vs. 9 en 10 opgesom het.

En dus moet ons dié almal saam met Hom soek. God se soekende liefde moet ook vir ons oop oë gee.

Maar dan mag ons ons oë natuurlik nie skielik toemaak wanneer ons bid nie. Dan mag ons nie in ons gebede net met onsself, ons eie belange en ons eie probleme besig wees nie. Inteendeel, dan moet ons allereers in ons gemeenskaplike en persoonlike gebede die hele wêreld voor oë hou. Die heil van alle mense in ons gebede betrek. Ons evangelisasie- en sendingaktiwiteit moet begin met gebedsaktiwiteit. En aanhoudend gedra word deur gebed. Want in ons gebed leer ons die regte houding teenoor ons medemense in hierdie wêreld. As ons begin by God, klein word voor God, en weer leer om verwonderd te dank vir die reddende genade van God, sal ons soos vanself ook meeworstel met God om nog baie ander mense terug te roep tot God.

Natuurlik moet ons ook bid vir die kerk, vir die predikante, vir lidmate wat wegdwaal. As ons maar nooit in dié gebede die kerk van hierdie wye wêreld waarin God ons geplaas het, isoleer nie. Deur die instandhouding van die kerk en sy aktiwiteite soek God mos die redding van die hele wêreld.

Ons sal dit telkens weer leer om met oop oë te bid, broeders en susters. Ook ek in my voorbedes in ons eredienste. Ons het nog veels te min 'n oog vir die nood van die talle mense om ons heen en ver weg in hierdie wêreld. Hoe selde is ons in ons gebede regtig voorbidders vir daardie mense.

Nie elkeen is in staat om 'n aansienlike finasiële bydrae vir die sending, of ten bate van allerlei barmhartigheidswerk te gee nie. Maar elkeen kan wel bid. En die gebed is die eerste en belangrikste bydrae wat God daarvoor van ons vra. En ook as ons wel 'n behoorlike finansiële bydrae kan lewer, sal ons dit eers uit 'n hartelike oortuiging doen, as ons eers in ons gebede oor die nood van ons naaste met God geworstel het. Ja, dan sal ons tot meer as net 'n bydrae bereid wees en offers wil bring om ook ander mense van die ewige dood te red.

2. Paulus noem in vs. 2 van ons teks 'n bepaalde kategorie mense waarvoor ons moet bid, afsonderlik. Ons moet veral ook "vir konings en almal wat hooggeplaas is" bid.

Hoekom noem Paulus hulle afsonderlik?

Wel eerstens natuurlik omdat hulle 'n groot verantwoordelikheid in hierdie wêreld dra en die heil van miljoene mense mee van hulle afhanklik kan wees. Een slegte tiran kan 'n hele volk te gronde rig. Een minister kan daarvoor sorg dat talle sendelinge die land moet verlaat sodat pasbegonne werk van kerkplanting weer platval.

Maar daarom is tweedens ons gebed vir hierdie maghebbers tegelyk die proef op die som of ons regtig met oop oë bid. En of ons met kalme pleks van opstandige harte bid.

Want toe byvoorbeeld verlede jaar die regering van China in Being derduisende mense laat doodskiet het, was dit nie so moeilik vir ons om vir die geteisterde volk van China te bid nie. Maar het ons toe ook, ja: veral, vir die regering van China gebid?

Ons betrek die laaste maande veelvuldig die ontwikkelinge in die Midde-Ooste in ons gebede, ook hier in die kerk. Maar bid ons ook met name vir die Iraakse president Saddam Hoessein of die HERE hom tot inkeer en tot bekering wil bring?

Daar is ongetwyfeld onder ons mense wat hulle reëlmatig vererg oor die opstelling en uitlatings van Nelson Mandela of van Dr. Andries Treurnich in die gespanne situasie in ons land, maar wie van u bid elke aand vir hulle?

Jy kan 'n groot moeite hê met die huidige regeringsbeleid en van oordeel wees dat die staatspresident F.W de Klerk besig is om die ondergang van Suid-Afrika te bewerk, maar bid u daarom ook des te meer vir hom?

Dis makliker om iemand te bekritiseer as om vir hom te bid. Die mense van hierdie wêreld staan teenoor direkteure, ministers, presidente en ander mense met groot verantwoordelikhede dadelik klaar met gebalde vuiste, groot monde, stakings, geweld en rewolusie.

Die HERE verwag egter van ons geen gebalde vuiste nie, maar gevoude hande. Geen opstandig geskree tydens 'n protesmars op straat nie, maar 'n geknielde gefluister in die binnekamer. Omdat ons onsself as die mees afsigtelike sondaars voor God ken, aan wie nagtans genade bewys is, smeek ons ook om genade en bekering vir ander.

Ons bíd vir konings en presidente, ministers en direkteure, ons onderwysers en ouers, "sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid". Die woorde voeg Paulus toe in vs. 2.

U ken ongetwyfeld almal daardie woorde. Daar is heelwat mense wat hierdie woorde ook reëlmatig aanhaal in hul gebed wanneer hulle vir die owerhede en ander hooggeplaastes bid.

Daardie woorde word dan egter meestal verkeerd verstaan. As 'n vraag naamlik aan God. Dan meen hulle dat ons God moet bid of Hy die owerhede so wil laat regeer dat ons 'n stil en aangename lewentjie kan lei, in rus en welvaart.

Maar as ons dit van God sou moet vra, gemeente, sou ons mos weer baie selfgesentreerd bid. Ons sou boonop teen God se eie voorseggings aan ons in bid! Want God het ons in hierdie laaste dae glad nie 'n stil en rustige lewentjie belowe nie. Inteendeel, Hy het ons voorberei op oorloë en geweld, vervolging en verdrukking, rampe en plae. Ons moet die Lam volg langs 'n baie smal paadjie en die weg van die kerk loop deur die woestyn.

Nee, Paulus roep ons nie in 1 Tim. 2 op om van die Here 'n kalme lewentjie te vra nie. Maar hy roep ons op om in 'n lewe vol geweld en terreur, vol magsmisbruik en oneerlikheid, vervolging en verdrukking juis vir God se kerk, kalme harte te hou. Hy roep ons op om te bid in plaas van om te skree en te skinder, om te veg vir bekering in plaas van omverwerping. Pleks van "Opstand teen verraad" moet christene liewer "Gebed vir almal wat verantwoordelikheid dra" op hul aanplakborde skrywe.

Pleks van om 'n teologie van die rewolusie of 'n swart of blank bevrydingsteologie te ontwikkel, moet die kerk liewerste die gebedslewe van sy lidmate ontwikkel.

So'n lewe moet die kerk lei: "in alle godsvrug en waardigheid".

'n Lewe vol ontsag vir God, vol vertroue in sy almag en genade, vol geloof in die krag van sy Gees; en daarom 'n lewe waarin ons nie vir ons eie kortstondige heil veg nie, maar saam met God vir die ewige heil van ons naaste worstel. Selfs van die naastes wat ons vervolg, vertrap en belaster.

En so'n lewe word beheers en gedra deur gebed. Die gebed vir die bure en die baas, vir die polisie en justisie, vir die staatspresident en die opposisieleier, vir tiranne en terroristeleiers, vir prostitute en dwelmverslaafdes.

En dan bid ons nie dat óns met rus gelaat sal word nie. Maar ons bid dat God húlle nie met rus sal laat nie. Maar dat ook hulle totkennis van die waarheid kom en gered word. En daaraan saamwerk dat ander mense gered word.

As ons so'n lewe lei in hierdie wêreld, gemeente, is ons die kragtigste aktieviste op aarde!

3. Maar, en dit tenslotte nog, dan sal ons wel "met heilige hande" moet bid, "sonder toorn en twis". Met die waarskuwing sluit die apostel van Christus in die laaste vers van ons teks hierdie gedeelte af.

Paulus rig hom met name tot die manne, aangesien hulle meestentyds die voorgangers in die gebed is. Maar daarmee is die vroue natuurlik nie uitgesluit nie.

Wáár ons bid- dit maak nie saak nie. Dit kan op enige plek wees. In die kerk en in die binnekamer, tydens 'n vergadering of in die hospitaal.

Maar hoé ons bid- dit maak wel saak. En dan bedoel die apostel nie soweer die uiterlike gebedshouding. Dit was destyds die gewoonte om die hande smekend na die hemel op te hef. Die Bybel vertel byvoorbeld dat koning Salomo in die houding gebid het by die inwyding van die tempel.

Maar jy mag ewe goed jou hande eerbiedig vou.

As jy maar skone hande het! "Heilige hande", skryf Paulus.

En dit beteken eenvoudig dat jou dade wel met jou woorde in ooreenstemming moet wees.

Wie bid vir die behoud van alle mense tot aan die uiterste van die aarde, maar onderwyl die mense in sy omgewing met wie hy daagliks in aanraking kom, nie kan verdra nie, vind by God geen gehoor nie. Wie vra of God die hooggeplaastes in hierdie wêreld in liefde wil bly soek, maar onderwyl self in haat en nyd teenoor sy minste broeder of suster leef, kan maar beter sy mond hou.

Want dan is ons gebed 'n vloek.

Ons liefde vir alle mense word mos allereers merkbaar in ons verkeer met die mense met wie ons die meeste in aanraking kom. En as ons met hulle al nie in liefde kan saamlewe nie, hoe sal ons ander mense in liefde soek?

Ek kan aan die spanning in die Midde-Ooste nie soveel verander nie. Ek kan maar net vir almal wat verantwoordelikheid dra, bid.

Maar ek kan aan die onenigheid met my vrou, of my kind, of my familie, of my boeder in die kerk, of my kollega by die werk wel iets verander. Ek kan dienaangaande bid én werk. Maar as ek nie werk nie, help dit ook nie meer om te bid nie.

Ek het in die begin van hierdie preek gesê, broeders en susters: bekering begin nie met allerhande groot aktiwiteite nie. Dit begin met gevoude hande en geboë knieë. Maar u sal verstaan: bekering kan ook nie sonder konkrete aktiwiteite nie. Want as ek nie in my direkte omgewing die daad by die woord begin voeg nie, is my gebed nie die begin van bekering nie, maar blote bedrog.

AMEN.

(Pretoria, 14 Oktober 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)