Die sewende basuin lei tot nuwe lofprysing in die hemel

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 11
Preek Inhoud: 

Ps. 99: 1, 2, 3
Ps. 99: 4, 5
Ps. 2: 1, 2, 3
Ps. 2: 4, 5, 6
Lees: Psalm 2
Teks: Openb. 11: 15 - 19

Broeders en susters,

Ons teks van vanoggend bevat 'n lofprysing op God. In die boek Openbaring kom gereëld lofprysings voor. Trouens in heel die Bybel kry ons baie lofspreuke op die grootheid van die Here.

Vir ons is dit dikwels maar moeilik om 'n lofprysing op God uit te spreek. 'n Halleluja lê nou nie juis voor op ons tong nie. Daarom is dit 'n seën dat ons in allerhande psalms en liedere, God se lof kan sing. Want om die lof te sing, dit gaan vir ons makliker as om dit te sê.

Vandaar die groot belang van die gemeentesang in die kerk. God wil dat die gelowiges Hom lof moet toebring. En daarom moet ons sing. Psalms, gesange, geestelike liedere.

Boonop dra soiets geweldig by aan ons geloofsbelewing.

Daar is niks wat blyer maak, wat bemoedigender is, wat troostender is, wat meer die gemeenskap stig, as juis om saam voor die Here te sing nie.

God soek die lofprysing van mense. 'n Mens sou dit selfs die tema van die geskiedenis kan noem. Eintlik staan heel die Bybel in die raam van die lofprysing op God. Die hoofmomente in die geskiedenis van die heil, kan ons so verbind met die tema lofprysing:

Skepping - bedoelde lofprysing
Sondeval - geweierde lofprysing
Verlossing - herstelde lofprysing
Saligheid - ewige lofprysing

In die boek Openbaring kry ons 'n opvallende groot aantal lofprysings. Maar die mees opvallende is wel, dat vrywel steeds die lofprysings in die hemel klink. Daar, in die hemel word in alle toonsoorte aan God lof toegebring. Maar vanaf die aarde klink maar min lofsange. In die opsig is die hemel dan ook ver die aarde vooruit.

Ons tema vir die woordverkondiging:

DIE SEWENDE BASUIN LEI TOT NUWE LOFPRYSING IN DIE HEMEL.

  1. Die Koninkryk het gekom.
  2. Die reg het geseëvier.
  3. Die versoening is beskikbaar.

In die vorige hoofstuk, in Openbaring 10: 7, het ons ook al iets gehoor van die sewende basuin. Daar is gemeld dat by die blaas van die sewende basuin, volbring sal wees die verborgenheid van God, soos Hy die blye tyding verkondig het aan Sy diensknegte, die profete. Daar gaan dit dus oor 'n sekere boodskap wat as Evangelie aan die profete bekend gemaak is. Hulle mog iets daarvan hoor tot hul vertroosting, maar dit het tot 'n mate ook 'n verborgenheid gebly. 'n Ononthulde geheim.

Maar by die sewende basuin word die verberging opgehef, dan sal aan die hele wêreld duidelik word, waaroor dit steeds gegaan het.

En dit maak ons baie nuuskierig na wat te sien sal wees, as die sewende basuin blaas. Maar as die geluid geklink het, sien Johannes niks nuuts nie.

Maar hy hoor des te meer. Blykbaar ontstaan daar 'n groot opgewondenheid in die hemel. Hy hoor groot stemme. Met luider stem klink daar: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword, en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.

As u die woord Christus hier vertaal met Gesalfde, herken u sommer woorde uit Psalm 2, waar dit gaan oor God en Sy Gesalfde. God onderwerp die koninkryke van die wêreld aan die koning wat Hy in Sion gesalf het. Ons kom daarop nog terug.

Met die blaas van die sewende basuin het ons weer 'n openbaring van die einde van die geskiedenis. Die laaste basuin het geblaas, en daarmee is die laaste Oordeel voltooi.

Maar tog sluit Johannes nie hier sy boek af nie. Daar sal in die vervolg nog steeds weer vanuit verskillende oogpunte na die geskiedenis gekyk word. Telkens weer sal die verhaal beskryf word van die koms van Christus in die wêreld, die verset teen Sy heerskappy, en dan tenslotte die oorwinning van Jesus Christus.

Daaroor sal Johannes nog baie kan skryf.

Maar reeds hier by die blaas van die sewende basuin, gaan 'n gejuig op in die hemel. Hulle besef blykbaar hoever dit tans is. As eerste is hulle op hoogte van die stand van sake. En daarop word onmiddellik gereageer: Christus is nou werklik Koning, en Hy sal heers tot in ewigheid!

Daaruit kan ons iets leer, gemeente. Ons gaan nou besef hoe sterk die hemel betrokke is by die gebeure op die aarde. Hulle volg noulettend die geskiedenis van die wêreld. Kennelik is vanuit die hemel gesien die aarde baie naby.

Ons lees in die Bybel dat God in die begin die hemel en die aarde gemaak het. Hulle behoort by mekaar. So bely ons elke Sondag, God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

Dus vanuit God gesien vorm die Skepping een geheel. Hemel en aarde.

Maar toe vanweë die sondeval, 'n vloek oor die Skepping kom, is vanaf die aarde die eenheid verbreek. Vanaf die aarde is die hemel nie meer sigbaar nie.

Uit die Bybel weet ons dat daar 'n verband tussen hemel en aarde is. Vanuit die hemel het engele na die aarde gekom, ja, selfs God se eie Seun, Jesus Christus, het neergedaal vanuit die hemel, en het later weer opgevaar na die hemel.

Vir ons is dit 'n saak van geloof. Ons glo dit as gevolg van die openbaring in die Bybel. Maar sien doen ons dit nie.

En dit gee 'n besonderse moeite in die lewe op aarde. Ons sien nie 'n oop hemel nie, ons kan dit alleen maar glo.

Maar die wêreld rondom ons glo al hoe minder in 'n oop hemel. Die oortuiging word steeds algemener, dat die hemel toe is. Dat die aarde aan homself oorgelaat is. Elke aksie op die aarde bring 'n reaksie op die aarde voort, maar daar is geen invloed vanuit die hemel nie. Die aarde self is 'n geslote sisteem. Die mensheid is deel van 'n kolossale masjiene. 'n Sisteem van oorsake en gevolge, waaruit niemand kan ontsnap nie.

Dit is die algemene denke van ons tyd. U verstaan dat in so 'n denke geen plek is vir 'n hemel, vir engele, vir 'n besturende God, vir 'n biddende mens nie.

Gemeente, ons is deel van hierdie wêreld. Laat ons daarvoor waak dat hierdie wyse van denke, nie ook ons denke sal oorneem nie. Sodat ons nog wel bely, God is die Skepper van die hemel en die aarde, maar dat dit in ons denke nog skaars 'n rol speel. Sodat ons nog wel hande vou en bid, maar eintlik reken ons nie op wonders wat buite die wet van oorsaak en gevolg val nie.

Ons teks leer vir ons dat die hemel op die aarde betrokke is. Vanuit die hemel word intens meegeleef met die aarde. Hulle sien wat daar gebeur: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.

Ons teks praat dus van betrokkenheid van die engele by die internasionale wêreldpolitiek. Hulle weet wat aangaan.

Hulle ken, (en dan is ons weer by Psalm 2), die gewoel van die nasies, en hulle sien hoe die volke nietige dinge bedink.

Hulle weet baie goed dat die konings van die aarde saam raad hou teen die Here en Sy Gesalfde, om die bande af te werp, om oor te gaan tot die revolusie.

Die opstandigheid van die volke teen God wat Psalm 2 so indringend beskryf is kenmerkend vir heel die geskiedenis van die wêreld.

Vir die engele in die hemel is dit 'n bron van groot sorg en ergernis. Hulle weet die doel van God is, naamlik dat Sy Koninkryk op aarde gevestig moet word.

En dit hou hulle besig. Steeds weer vra hulle: Hoe staan dit met die Koninkryk van God? Watter vordering is daar?

Hulle bid en werk aan die voortgang van die Koninkryk, en sien vol spanning uit na die voltooiing daarvan.

En daarom reageer hulle onmiddellik as die sewende, die laaste basuin geblaas het: Nou is Psalm 2 vervul! Christus is Koning. Hy sal nou heers tot in ewigheid.

2. Die reg het geseëvier.

Johannes sien nog 'n beeld in die hemel. Die 24 ouderlinge wat voor God op hulle trone sit. Hulle verteenwoordig die aanwesigheid van die kerk. Hulle het trone ontvang, omdat hulle die krans van die oorwinning behaal het. Die kerk het ondanks alles op aarde standgehou, en is dus nou voor die troon van God aanwesig.

Maar die ouderlinge besef baie goed dat hulle nie daar is om eer te ontvang nie. Hulle is daar om te aanbid, en daarom val hulle op hul aangesig by die klank van die sewende basuin. Hulle dank God, dat Hy nou in die openbaar Sy mag getoon het. In die opsig is hulle lof geheel eenstemming met die lof van die engele in die hemel.

Tog word dit duidelik 'n bietjie anders onder woorde gebring. In die lofprysing dank die ouderlinge die Here met 'n eerbiedige formule: ons dank U Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U groot mag aangeneem en as Koning geheers het.

Inhoudelik is dit ongeveer dieselfde as die lofprysing van die engele in die hemel. En as dit gaan oor die toorn van die nasies, dan is ons ook weer naby die atmosfeer van Psalm 2.

Maar tog is hulle lofprysing, die lofprysing van die kerk, anders as die van die engele. Hulle is net so betrokke, maar anders betrokke. Die engele het vanuit die hemel die strydgewoel op aarde gevolg. Psalm 2. Maar die kerk het daar midde-in gestaan. Hulle het aan hul lyf die gewoel van die nasies, die opstand teen God, ondervind.

Die nasies was vertoornd. Die nasies het geskreeu teen God in die hemel. Hulle het hul verset teen God se leiding. In hul toorn het baie bloed gevloei. Die bloed van oorloë en revolusies. En die kerk was deel daarvan. Die gelowiges het swaargekry onder die geweld van oorloë.

Ook hulle het geskreeu na die hemel. Here, red ons! Here, doen iets. Hoe lank sal U die geweldenaars hul gang laat gaan op die aarde? Hoe lank kan hulle hul verset teen U en U Goddelike bestuur?

Hoe lank kan die heidene hul gang maar gaan, en skynbaar ongestraf geweld pleeg?

So het die gelowiges geskreeu in hul nood. So het hulle gebid en geworstel met al die vrae. Want onvermydelik roep die nood van die wêreld en die nood van die kerk allerhande vrae op, oor die leiding van God. Hy bestuur mos die aarde. Hy het Sy Koning oor Sion gesalf. Maar wat sien ons daarvan?

Heidene kan roof en steel en moord pleeg. Die reg van die sterkste heers. Hoe dikwels het die gelowiges daaronder gesug, en hul vrae onder trane na die hemel opgestuur?

Wanneer Here, wanneer maak U hieraan 'n einde. U is tog 'n God van liefde, van liefde vir u kinders, liefde vir reg, liefde vir skoonheid, maar dan kan U tog nie stilbly as U sien wat op die aarde aangaan nie? Dan moet dit alles u toorn tog wel op roep? Daar moet tog reg gedoen word. Die ongeregtigheid kan tog nie ongestraf bly nie? 'n Kind van U kan tog nie sommer beroof en gedood word nie. Die balans moet tog iewers weer herstel word? Waar is die reg? En waar is U liefde vir die reg?

Verstaan u nou hoe eksistensieel die vasstelling van vers 18 is. Hier praat 'n kerk wat intens die magsoefening van die heidene ondergaan het, en daarom is hul lofprysing tans so deurleef.

Die nasies was vertoornd... eeu in, eeu uit, 'n wêreldgeskiedenis lank. Maar nou het die sewende basuin geblaas, en nou is dit klaar: U toorn het gekom.. en die tyd van die dode om geoordeel te word.. en die tyd om die loon te gee aan U diensknegte, die profete aan die heiliges en die wat U Naam vrees, klein en groot.

Hoor u hoe betrokke die lofsang van die kerk is? Die kerk wat soveel geweld van die kant van die Godhaters en Godloënaars ondervind het, en wat in sy lyde daaronder geroep het na die hemel, kan nou sing: Eindelik... geregtigheid!

God se toorn het dan tog vir almal sigbaar en merkbaar geword. En God het aan die getroues hul loon gegee. Klein en groot. God het alles gesien. Hy weet alles. Hy weet hoe moeilik dit vir die gelowiges was om profeet te wees. Om profeet te bly, ondanks dat die boodskap nie aanvaar is nie.

God weet hoe dikwels die gelowiges ook gefaal het in hul taak. Hoe moedeloos en energieloos hulle dikwels maar geraak het. Maar ondanks dit: God het gekom om die lewendes en die dooies te oordeel!

Ja, om die verderwers van die aarde te verderf.

Dit laaste klink vir ons effens te wraaksugtig. Goed so, die verderwers van die aarde word verderf. Tog is dit ver van 'n gedagte aan wraaksug. Hoe sal 'n profeet ooit wraaksugtig kan wees? As 'n profeet wraaksugtig raak, dan wil hy nie meer profeteer nie. Dink maar aan Jona in Nineve. Maar dan praat jy nie van 'n troue profeet nie.

Maar as hier die kerk God prys omdat Hy gekom het om die verderwers van die aarde te verderf, dan gaan dit oor die erns van die profetiese boodskap. In die profesie is voortdurend gesê: Wie God nie die eer van Sy Naam gee nie, hy bederf die Skepping. Hy verderf die aarde. 'n Mens kan nog so omgewingsbewus wees, hy kan sy lewe selfs wy aan die bewaring van die natuurskoon, maar as hy God nie erken as die Skepper nie, dan val hy onder die kategorie: verderwers van die aarde.

Die erns van die evangelieprediking word hiermee onderstreep. Wie nie by die bouers van die aarde tot eer van God behoort nie, word gereken onder die verderwers van die aarde. En dit loop uit op jou eie ondergang. Want die reg van God moet seëvier.

3. Die versoening is beskikbaar.

In die slotgedeelte van ons teks, gaan dit nie om wat Johannes mag hoor nie, maar nou mag hy sien. Hy moet nou sien. Hy sien dat die tempel van God in die hemel oopgaan, en die Verbondsark sigbaar word. 'n Pragtige visionêre beeld. Die tempel van God - die woonplek van God op aarde, wat altyd veilig weggesluit was vir sondige mense-oë, gaan oop. Die ark van die Verbond word sigbaar. Met hierdie slotbeeld word die sewende basuin afgesluit. Weerligte, juigende stemme, donderslae, aardbewing en die geluid van hewige haelbuie, gee 'n oorverdowende geraas. 'n Magtige slotakkoord van 'n serie opwindende visioene.

Toe die sewe basuine geklink het, het dit steeds met groot geraas saamgegaan, maar die slot oorstem alles, want dit is waar dit alles na toe gegaan het. Die breuk van die hemel en die aarde is herstel. Nou kan ook vanaf die aarde regstreeks die tempel van God in die hemel binnegegaan word. God woon weer by die mense. En die mense woon by God.

En die Verbondsark - die mees sprekende simbool van God se omgang met Sy volk, is nou vir die oog van almal onthul. God troon op die gerubs, as magtige heerser.

In die ark is die samevatting van Sy Woord. Die wet van die 10 gebooie.

En die hele ark self is simbool van God se versoening met Sy volk. As God kom woon by die mense, as Sy Koninkryk daar is, dan hoef die ark van versoening nie meer gebêre te word in 'n tabernakel of tempel nie. Nee, die Verbondsark staan sommer daar.

Die versoening is vryelik beskikbaar. Daar hoef nie meer geoffer te word vir sondes nie, want die sonde is nie meer daar nie. Die heerlikheid en skoonheid van die Paradys is herstel.

Die hemel is nie meer ver en onbereikbaar nie.

God is nie meer onsigbaar, en slegs voorwerp van geloof nie. Nee, geloof het oorgegaan in aanskouing. Die aarde kan God se heerlikheid sien, en stem sy loflied af op die hemelse koor, wat ewig die lof van God, en van die Lam sing.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)