Die Gees van Christus leer jou slegte begeertes af en goeie begeertes aan

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-03-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 26 Maart 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 84:1,2

Geloofsbelydenis
(Nicea)

Ps 84:3

Skriflesing:
Deuteronomium 14:22-29; Spreuke 4:20-27; Filippense 1:21-26

Gebed

Kollekte

Ps 119:35,36

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 44

Preek

Ps 27:2,4

Gebed

Ps 19:6,7 

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 44

Tema: Die Gees van Christus leer jou slegte
begeertes af en goeie begeertes aan

1 Begeer in negatiewe sin

2 Begeer in positiewe sin

1 Begeer in negatiewe sin

Eintlik het
ons die afgelope weke al 9 ander preke oor die tiende gebod gehad.

By elkeen
van die tien gebooie is naamlik beklemtoon dat dit nie net oor die uiterlike
daad gaan nie, maar ook oor die innerlik. As jy in jou hart die huis van jou
naaste begeer, oortree jy sowel die 8e as 10e gebod. As jy nie tevrede is met
jou eie man nie, oortree jy sowel die 7e as die 10e gebod. As jy op Sondag
begeer om jou werk klaar te maak, oortree jy sowel die 4e as die 10e gebod. Soos
daar in Sondag 44 staan: selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige
gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Net die gedagte is al sondig.

Mens sou kon
beweer: eintlik is die 10e gebod oorbodig. Want dit lê al opgesluit in al die
ander gebooie. Maar mens sou ook kan sê: die 10e gebod bring verdieping. Die
HERE herinner ons spesiaal, aan die einde van sy wet, dat dit nie net oor die
uiterlik gaan nie, maar Hy lê beslag op jou hart. Ons behoort aan Hom, en Hy
bepaal hoe ons lewe behoort te lyk. Die tiende gebod is as’t ware die afronding
van die wet. As julle, jongmense, by julle ouers die opdrag kry om die
skottelgoed te was, kan jy dit op twee maniere doen. As jy nie lus is nie, doen
jy dit so vinnig moontlik, jy droog amper af, jy doen net die minimum. Jy
verlaat die kombuis terwyl die plek nog lank nie netjies is nie. Maar as jy,
vanuit jou hart, gehoorsaam is, dan doen jy ook die ekstra dinge, ook die
‘finishing touches’, sodat die kombuis weer blink.

Dit gee ‘n
aangename gevoel, as jy die kombuis skoon agterlaat.

 

Ook by die
nakom van die wet gaan dit nie net oor pligvervulling nie. Dat jy jou formeel
aan die gebooie hou, terwyl jou hart eintlik in ‘n ander rigting trek.

Christus wil
die doel van die wet in ons lewe vewesentlik, naamlik dat jy ook regtig rein
word. Nie net uiterlik nie, maar ook innerlik. Dat jou hart nie meer ‘n bron
van onvrede, van halfslagtigheid, van jaloersheid of watter slegte gedagtes ook
is nie. As jou hart skoon is, sal jou lewe ook blink.

In die Bybel
lees ons dikwels oor die noodsaak van ‘n skoon innerlik. Dink byvoorbeeld aan
Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit
is die oorspronge van die lewe.”

In Jesaja
29:13 verwyt die HERE sy volk dat hulle Hom wel met hulle lippe eer, maar dat
hulle hart ver van Hom is. In die Psalms sing ons reëlmatig of God ons hart wil
ondersoek en reinig. Dink aan Psalms soos Ps 19 en Ps 139.

Ook kan ons
dink aan die indringende verwyt van die Here Jesus aan die adres van die
Fariseërs – Mattheüs 23.  Die 10e gebod
spreek die verkeerde begeertes aan, wat jou hart kan vervul en kan lei tot die
daad van ‘n oortreding. Jakobus vergelyk hierdie proses van gedagte tot en met
die daad, met die geboorte van ‘n kind. “Daarna, as die begeerlikheid ontvang
het, baar dit sonde, en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring
dit die dood voort.” (Jak 1:15)

So kan jy,
beïnvloed deur jou omgewing, jou vriende, die TV, in die ban raak van iets. Jy
raak byvoorbeeld in die ban van ‘n luukse lewe. Ons wil dit en dat, maar ons
het nie geld vir alles nie. En dus lei die begeerte vervolgens tot ander dinge
wat op gespanne voet staan met God se wil. Jy moet ten slotte die geld in die
hande kry – so klop die begeerte in jou hart. 
Dus begin jy oneerlik raak met geld, net om jouself te bevoordeel. Al
hoe minder geld het jy beskikbaar vir ander, vir armes, vir die kerk,
ensovoorts, want die begeerte klop in jou hart. So vorm die begeerte die
invalspoort vir die satan in ons lewe. Om ons lewenskoers weg te buig van God
af en die diens aan Hom, om al hoe meer wêreldgelykvormig te raak. Pas daarom
veral jou hart goed op, want daar lê die begin van alle dinge wat jy doen, alle
besluite wat jy neem, alle aktiwiteite wat jy onderneem.

Dit val ook
op hoe groot die rol van jou oë is by begeertes, volgens die Bybel.

Eva het
gesien dat die boom van kennis van goed en kwaad ‘n lus was vir die oog
(Genesis 3). Agan het die mooi klere en geld van Jerigo gesien (Josua 7:11).

Dawid het
van die dak van sy paleis af gekyk en ‘n vrou gesien, wat besig was om te bad
(2 Samuël 2).  Jesus waarsku ons: “Ek sê
vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met
haar egbreuk gepleeg het.” (Mattheüs 5:28)

In die oë
van die mens sien jy sy hart. En Jesus waarsku ons verder: “as jou oog jou laat
struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met
een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp
te word.” (Matth 18:9) Hierdie uitspraak van Jesus klink baie hard.

Wat bedoel
Hy daarmee?

Want, sou
mens kon redeneer, met een oog kan jy tog nog steeds die verkeerde begeertes
van jou hart voed? Gemeente, salig is elkeen wat die bedoeling van hierdie harde uitspraak van die Here Jesus ter harte
neem. Christus bedoel nie om letterlik jou oë uit te ruk nie. Sy bedoeling is
om te sê: as daar iets is wat telkens ‘n verkeerde begeerte in jou hart wakker
maak, sorg dat jy dit nooit te sien kry nie! 
Maak jouself blind daarvoor! Vlug desnoods daarvoor weg.

Eva moes
vinnig weggehardloop het, toe sy die begeerlike boom en die slang gesien het. Agan
moes sy oë toegeknyp het, sodat hy nie al die skatte kon sien wat daar in die
verwoeste Jerigo rondgelê het nie. Dawid moes dadelik omgedraai en weggeloop
het, toe hy die mooi vrou van iemand anders sien bad het. As jy te make kry met
situasies waarvoor jy nie geestelik opgewasse is nie, kan jy beter vlug. Uit
die oog, uit die hart.  “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat
hy nie val nie.” (1
Korinthiërs 10:12)

Hoe kyk jou
oë, broer, suster?

Ons ken die
spreekwoordelike oë met Dollar-tekens uit strokiesprente.

So kyk mens
reguit af tot in die hart van Donald Duck en sien mens wat daar in sy hart
leef. Was dit maar so dat dit net in strokiesprente voorgekom het!

Die
letterlike Dollar-tekens, of Rand-tekens sien mens wel nie in die oë van gewone
mense nie, maar nietemin bly die oë die spieël van jou hart.

Die tiende
gebod gaan oor die hart. Christus het jou gekoop, jou hele lewe.

Nou verwag
Hy dat selfs die geringste neiging of gedagte teen enige gebod nie meer by jou
sal opkom nie.

Dat jy nooit
eers die neiging sal hê om te steel nie.

Dat jy nooit
eers die neiging sal hê om iemand dood te wens nie.

Dat jy nooit
eers die neiging sal hê om nie kerk toe te wil gaan nie.

Dit is wat Christus
van elkeen van ons verwag. Volmaakte toewyding!

Onder
hierdie hoogspanning verkeer die lewe van ‘n Christen. Elke oomblik.

Hierdie
hoogspanning kan ons self, laat ons eerlik wees, nooit bereik nie.

Maar
Christus skenk sy Gees, en sy Gees werk met ons lewe in daardie rigting.

Dat die hoë
eis van die 10e gebod steeds meer ‘n werklikheid word in jou lewe.

Miskien vra
jy jouself af: hoe weet ek dat ek die Gees in my lewe het? Is ek nie dalk te
wêreldgelykvormig nie?  Ken my lewe wel
die juiste hoogspanning?

Of die Gees
in jou lewe aanwesig is, dit kan mens op verskillende maniere agterkom. As jy
in vakansietyd in die berge is, of in die bosveld, of by die see, en die
gedagte kom spontaan by jou op:  hoe
groot is God, hoe geweldig is Hy omdat Hy dit alles geskape het! So ‘n gedagte
is ‘n bewys dat die Gees in jou lewe aanwesig is. Of as jy Saterdagaand uitsien
na die Sondag, en om weer kerk toe te gaan, ook dan mag jy weet: Die Gees van
Christus werk ook in my!

Of as jy pyn
voel, ‘n skuldige gewete, as jy iets beplan om te doen wat jy nie behoort te
doen, ook dan mag jy weet: die Gees van Christus is aan die werk in my! Hy laat
my skuldig voel oor wat teen God se wil ingaan.

As jy
hierdie ervarings het, moenie die Gees uitdoof nie, maar laat toe dat Hy steeds
verder in jou lewe werk.  Jy sal ervaar
dat Hy steeds meer wonders in jou lewe doen. Nie dat jy die volmaaktheid bereik
nie. Maar die klein begin, en elke treetjie mag daar wees, God sy dank! Sodat
jy steeds meer die HERE en sy wil begin liefkry. Sodat jy ook uit jouself begin
sê:

Ek wil self
nie meer steel nie.

Ek wil self
nie meer lieg nie, maar die waarheid liefhê.

Ek wil self
nie meer vloek nie.

Ek wil self
nie meer owerspelige gedagtes hê nie.

Ek wil self
nie meer haatgedagtes hê nie.

Ek wil self graag
elke Sondag rus en kerk toe gaan.

En ek
verlang selfs, soos Paulus in Filippense 1:23 skryf, om as my tyd gekom het, om
heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.

Ken u mense
wat dit uit hulle hart sê? Ek mag vir u vertel, as predikant, ja, ek ken
heelwat sulke mense. Ek kan u verseker dat God se Gees ook aan die werk is, in
ons gemeente. Ek sien dat ander mense oppad is daarheen. Wat miskien nog nie so
ver is om hierdie dinge uit hulle hart te sê nie, maar waar dit wel duidelik is
dat die Gees geweldige dinge in hulle lewe regkry. En helaas sien ek soms ook
mense, wat die Gees probeer uitdoof.  Wat
bly vashou aan hulle eie opvattings.

Ja elkeen
van ons sal in die alledaagse lewe dikwels mense ontmoet wat die Gees probeer uitdoof,
asof jy gelukkiger is as jy geen verlange het om elke Sondag kerk toe te gaan
nie. Asof jy ‘n beter lewe kry as jy oneerlik is. Asof jy gelukkiger sal word
as jy jou eggenoot verwissel met iemand anders. En asof jy vandag die dag moet
pluk, omdat jy ‘n onseker en duister toekoms tegemoet gaan.

Laat jou
deur sulke mense nie aftrek nie, maar bly gefokus op Christus, jou Verlosser,
en sy Gees sal voortgaan om mooi dinge in jou lewe voor te berei.

Dit is een
en dieselfde Gees.  Hy probeer elkeen van
ons steeds meer aan Christus toe te wy. Hy verower die een na die ander kamer
van jou hart.

Moenie die
Gees uitdoof nie. Laat Hom voortgaan. Ja Christus skenk sy Gees in jou hart, in
jou lewe, sodat jy die sonde steeds meer vanuit jou hart haat, en vanuit jou
hart die geregtigheid liefhet. Hy skryf die wet in jou hart.

Hy maak van
jou hart, van jou hele lewe ‘n tempel.

Geliefde
broer en suster, as jy daaroor nadink hoeveel pyn en smart jou sonde vir die
Here Jesus veroorsaak het, en dat Hy ook vir jou gesterf het op Goeie Vrydag,  as jy daaraan dink, dan kan jy mos nie meer die
sonde liefhê nie?

Dan kan jy
mos nie meer sondige gedagtes in jou hart koester nie?

Dan maak dit
plek vir ‘n ander begeerte. Naamlik om so te wees soos Christus jou graag sien.
Hy wat jou vrygekoop en deur sy bloed gered het.

Wat jou
beskerm teen die duiwel en sy aanslae.

Wat jou lei
op die weg, al lyk die pad haas onbegaanbaar.

Wat jou die
regte pad wys, wat jou ‘n beeld van Hom maak.

‘n Beeld vol
ootmoed, liefde en trou.

 

So word jou
hart gevul met die begeerte na wat goed is. So vra jy vir krag om volgens God
se wil te lewe. Ons mag begeer om alles te ontvang wat ons nodig het om so te
kan lewe, soos wat Christus van ons verwag.

Daardie
goeie begeerte sluit ook in, geld vir kos en klere, selfs vir vakansie.

Solank dit
alles in die teken staan van jou lewe in diens van God. Jou lewe wat deur
Christus duur gekoop is. Dit bring ons by die tweede punt.

(Tema: Die
Gees van Christus leer jou slegte begeertes af en goeie begeertes aan

1 Begeer in
negatiewe sin)

2 Begeer in positiewe sin

In die Bybel
is daar baie gedeeltes waar begeerte in ‘n positiewe konteks staan.

Die HERE wil
dat ons die goeie sal begeer.  Sien
byvoorbeeld Deuteronomium 14:22-29. Ons vind hier instruksies oor die tiendes. Dit
was die belastingstelsel in ou Israel. Die tiendes was bedoel vir verskillende
dinge, soos die tempeldiens, onderwys, sorg vir minder bevoorregtes,
lewensonderhoud van priesters en Leviete. Net soos vandag was dit vroeër ook so
dat mense nie altyd gretig was om hulle tiendes te betaal nie. Tog was dit geld
wat jy weggegee het om dit – figuurlik gesproke – dubbel terug te ontvang.

Deur die
tiendes het God vir ‘n regverdige samelewing gesorg.  ‘n Samelewing waar daar onderrig in God se
Woord kon plaasvind vir die jeug. ‘n Samelewing wat daarna kon uitsien om hulle
God elke keer weer by sy pragtige tempel te ontmoet. God het dit belangrik
gevind dat sy volk ook so na die tiendes sou bly kyk. Daar mog geen onvrede
homself nestel in die hart van die volk nie.

Daarom het
die HERE die betaling van die tiendes ook ‘n feestelike saak gemaak.

Dit het
gepaard gegaan met ‘n feesmaal – vers 26: “Dan moet jy die geld gee vir alles
wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles
wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE
jou God en vrolik wees, jy en jou huis.” Dus hulle mog bestel wat hulle wou, en
God sou dit aan hulle skenk. God wou sy kinders gelukkig sien as hulle voor sy
aangesig verskyn het.  God wil graag dat
ons met ons begeertes by Hom kom. Ons goeie begeertes, gesuiwer deur die werk
van sy Gees en Woord in ons lewe. Hy wil graag ons wens vervul.

Soos Jesus
in Lukas 11 ons verseker: “vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra,
en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n
slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee? As julle dan wat
sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die
hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (vers 11-13)

Of Johannes
15:16: “Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat
julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle
dit kan gee.”

Of nog ‘n
voorbeeld uit die Bybel.

In Sagaria
10 moedig die profeet Sagaria die volk aan om van die HERE reën te vra. En so
kan ons aangaan met voorbeelde noem.

Die Bybel is
vol voorbeelde van hoe mense dinge begeer.

Begeertes
wat nie sondig is nie, wat nie teen die 10e gebod ingaan nie.

Begeertes
word nie verbied nie. Dit gaan daarom, soos Sondag 44 sê, dat geen begeerte
teen enige gebod van God ingaan nie. Begeer en begeer is twee dinge.

Dit gaan oor
die kondisie van jou hart.  Gemeente,
Christus se Gees is in u hart.

U hoef Hom
nie uit te nooi om in u hart te kom nie. Hy is daar. Hy het ongevraagd ingekom.
Gee jouself oor aan die Gees se werk. Moenie Hom teenwerk nie.

Hy sal jou
die slegte begeertes steeds meer afleer, en jou die vrymoedigheid gee om te
begeer wat goed is.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)