Christus leer ons om met die vierde bede te bestel uit God se spyskaart

Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Datum: 
2017-05-28
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 28 Mei 2017 AD, 17:30

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 146:2,4,5

Gebed

Skriflesing:
Psalm 145

Ps 145:1,6

Skriflesing:
Spreuke 30:7-9

Ps 145:9-11

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 50

Preek

Ps 127:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis
van Nicea

Ps 127:3,4

Kollekte

Ps 104:17-19

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 50.

As mens in
‘n restaurant gaan uiteet, kry mens ‘n spyskaart. Daarop staan alles wat jy kan
bestel. Sommige restaurante het net ‘n kaart, een bladsy. Ander restaurante het
sommer ‘n hele boekie waaruit mens kan bestel. Tog bestaan daar geen restaurant
waar mens alles kan bestel nie. As jy na die Spur gaan, kan jy waarskynlik nie
sushi bestel nie, vir diegene wat daarvan hou. En as jy na Ocean Basket gaan,
gaan jy waarskynlik nie steak kan bestel nie, maar wel ‘n verskeidenheid aan
viskosse. Elke restaurant het sy beperkte keuse.

As ons
vandag aandag skenk aan die vierde bede, hou ons ons eintlik besig met God se
spyskaart. Nou is dit ‘n feit dat die hele wêreld aan God behoort.

Dit in ag genome,
as ons in die vierde bede bid: gee ons vandag ons daaglikse brood, dan is dit
dus onwaarskynlik dat daar slegs brood op God se spyskaart sal staan. Maar wat
staan daar dan wel alles op God se spyskaart?

Daarna gaan
ons vanaand kyk. En nie net na alles wat daarop staan nie, maar ook hoekom dit
daarop staan.

Tema: Christus leer ons om met die vierde te
bede te bestel uit God se spyskaart.

  1. God is die oorsprong van alle
    goeie gawes.

  2. God se seën is onmisbaar by die
    gebruik van al sy goeie gawes.

  1. God is die oorsprong van alle
    goeie gawes.

    Daar lewe
    tans omtrent sewe miljard mense op aarde. Al hierdie sewe miljard mense het
    elke dag behoefte aan kos, klere en onderdak. Hoewel daar heelwat mense is wat
    honger ly, kry die meeste van hierdie sewe miljard mense dit wel reg om elke
    dag in hulle primêre behoeftes te voorsien. Waar elkeen dit vandaan kry, en wie
    elkeen daarvoor dank, dit daar gelaat.

    Nou maak
    Dawid in Psalm 145 ‘n baie gewaagde uitspraak.

    “Die oë van
    almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.

    U maak u
    hand oop en versadig alles wat lewe met welbehade.” (vers 15-16)

    Dawid sê dat
    die hele wêreld eet uit God se hand. Hy het dit gesê in ‘n tyd toe die volke
    rondom Israel elkeen hulle eie god gehad het wat hulle aanbid het. Toe die HERE
    spesiaal gesien is as die God van Israel. Tog het Dawid geweet dat die God van
    Israel ook die Skepper van die hele aarde is. En dat die hele wêreld daarom van
    Hom afhanklik is. Dawid het ‘n gewaagde uitspraak gemaak.

    Nie die Baäl
    en Astartes, nie daardie gode is die oorsprong van brood en vrugbaarheid, van
    reën en droogte nie, maar God. Om dit in daardie tyd en omstandighede te gesê
    het, was ‘n geloofsuitspraak. Dikwels het niemand in Israel dit gedurf om
    kritiek op Baäl te hê nie. Hulle was bang dit sou droogte tot gevolg hê, en
    mislukking van die graanoes. Mense het geredeneer: bly maar liewer stil, as om
    onnodig dinge op die spits te dryf.

    Maar in
    hierdie psalm bely Dawid dit wel openlik, sodat almal dit kan hoor.

    Alle gode
    mag dit ook hoor, as hulle ore het. Die HERE, die God van Israel, Dawid gebruik
    hier sy verbondsnaam, maak sy hand oop, sodat alle mense en diere op aarde kan eet. Hy versadig, selfs met
    oorvloed, al wat leef. Geen vrees vir die afgode nie, maar vrees vir God. God
    is die oorsprong van alle primêre behoeftes, van mens en dier. God is ook die
    oorsprong van alles wat bo die primêre behoeftes uitgaan, van alle oorvloed en
    welvaart. Dawid se psalm is ‘n geloofsbelydenis. Slegs die HERE, Jahwe, moet
    gedank word vir alle goeie gawes.

    Nou is daar
    ook vandag baie uit hierdie sewe miljard mense, wat nie hulle hande in ‘n
    dankgebed vou nie. Wat nie God as die oorsprong van hulle voedsel, klere en
    onderdak sien nie. Daar is baie wat ‘n ander naam gee aan die oorsprong van
    hulle welvaart. Ook in ons tyd bestaan daar nie minder afgode as in Dawid se
    tyd nie. Dalk nie beelde van hout, goud of klip nie, maar wel denkbeelde.

    In ons land
    wedywer denkbeelde vir die meeste aanbidders. Die kapitalisme verslaan sy
    duisende. Daar word gesê: as ons maar net ‘n vrye ekonomie het, dan kan elkeen
    vir homself sorg. Dan word niemand gekeer om ryk te word nie.

    Maar ook die
    sosialisme, of kommunisme, verslaan sy duisende. Mense word afhanklik van hulle
    staatstoelaes. Mense stel hulle vertroue op sosiale voorsienings. Steeds
    beelde, denkbeelde, wat mense verhef tot die oorsprong van hulle welvaart. Beelde
    en denkbeelde wat mense, aan die einde van die dag, self kan beheer.

    Maar
    gemeente, Jesus Christus leer ons in die vierde bede om ons daaglikse behoeftes
    van God te verwag. In die vierde bede bely ons dat ons van Hom afhanklik is. Tot
    in die mees alledaagse dinge, soos brood.

    Wie van u
    dink aan die vierde bede, as u ‘n brood koop?

    Dalk as ons
    iets koop wat baie duur is, soos ‘n huis, of ‘n motor, ‘n fiets, dan dank ons
    God spesiaal daarvoor. Dan staan ons daarby stil in ons gebed, as dit goed is
    altans. Tog wil Jesus ons leer dat ons by die heel gewone dinge ook besef dat
    hulle van God af kom. Ook die brood wat ons koop is ‘n bewys dat God met ons
    is. Op elke R1-munt staan: soli Deo
    gloria!

    Elke R1-stuk
    roep ons op om aan God die eer te gee.

    Dus as ons
    die vierde bede bid, vra Christus in die eerste plek die regte houding.

    ‘n
    Lewenswyse waaruit blyk dat ons van God afhanklik is. Dat ons in Hom die
    oorsprong van alle gawes sien. Dat ons besef dat ons elke dag bestel uit sy
    spyskaart.

    Ons lewe in
    ‘n tyd waar die mense se stempel op amper alles om ons heen is.

    Met die
    gevolg dat ons onsself primêr van mense afhanklik voel. Maar juis dan werk die
    vierde bede genesend. Wie sy aandag net rig op mense, op die ekonomie, op die
    regering, op die banke, wie net dink aan sy aandele, het hierdie bede baie
    nodig. Want mense, die ekonomie, en geld bring geen sekerheid nie.

    Die vierde
    bede bepaal ons by die werklikheid.

    ‘n
    Werklikheid wat werkliker is as die effektebeurs, die wisselkoers, die winste
    en verliese van die ekonomie. Die vierde bede leer ons om uit God se hand te
    lewe. Laat ons nadink oor die oorsprong van ons welvaart.Hoe kom dit dat daar
    brood in die supermark lê? Wie lewer die bestanddele om ‘n brood te bak?

    Wie laat die
    koringare groei? Waar kry die aardbodem elke jaar weer sy groeikrag?

    Dit is
    belangrik dat ons nie bysiende word nie. Al die olie, petrol en diesel waarmee
    ons motors, trekkers en lorries ry, waar kom dit vandaan?

    Ons kan die
    mees uiteenlopende produkte vervaardig van ruolie.

    Maar waar
    kom hierdie grondstowwe eintlik vandaan? Word hulle nie diep uit die aarde
    gedelf nie? Uit die aarde, waar hulle deur iemand neergelê is.

    God maak sy
    hand oop, en ons pomp olie uit die grond uit.

    God maak sy
    hand oop, en ons sien hoe die graan begin groei.

    God maak sy
    hand oop, en die ekonomie begin draai.

    Psalm 104
    sê: Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.

    U gee dit
    aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die
    goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle
    sterwe en keer terug tot hul stof.” (vers 27-28)

    Gemeente,
    ons bestel daagliks vanaf God se spyskaart. En nie net dit nie, ons bestel ook
    op sy koste. Die hele wêreldekonomie is afhanklik van die beweging van God se
    hand. Die vierde bede wil daagliks hierdie besef by ons wakker hou.

    God  is die
    oorsprong van alle goeie gawes.

    (Tema:
    Christus leer ons om met die vierde te bede te bestel uit God se spyskaart

  1. God is die oorsprong van alle goeie gawes)

     

     

  2. God se seën is onmisbaar by die
    gebruik van al sy goeie gawes.

    Met die
    vierde bede bestel ons uit God se spyskaart. Ons leef op aarde en ons gebruik
    dit wat die aarde te biede het. Tog is die aarde nie van ons nie. Ons lewe op
    God se aarde. Ons lewe ook op sy kostes. Die regering betaal aan niemand huur
    vir hierdie stukkie aan die suidpunt van Afrika nie. En die Britte het hulle
    eiland ook gratis van God gekry. En die Japanners net so. Dit is nie ‘n gedagte
    wat elke dag in ons opkom nie. Naamlik dat dit aan God te danke is dat mense op
    aarde lewe. En dit word nog minder normaal as ons besef dat ons mense eintlik
    nie meer verdien om op aarde te lewe nie. Want mense maak misbruik van God se
    spyskaart. Mense verniel God se skepping. Mense put die natuurlike hulpbronne
    uit, nie om God te dien nie, maar omdat hulle slawe geword het van die sonde. Die
    mensdom het satan se kant gekies, teen God, in die paradys.

    En selfs die
    goeie gawes, dinge wat Hy gratis gee, word misbruik.

    Ons gebruik
    God se eie gawes in ons opstand teen God.

    As jy in ‘n
    restaurant eet, moet jy betaal. Die mensdom kan nie betaal nie.

    Ons maak,
    soos die Kategismus in Sondag 5 gesê het, ons maak juis ons skuld nog elke dag
    groter. Verstaan u die mensdom se onhoudbare posisie?

    Dit is slegs
    aan Christus te danke dat daar nog mense op aarde lewe.

    Omdat Hy
    betaal het. Hy het daarvoor gesorg dat ons nog mag lewe van God se spyskaart. Danksy
    Christus se versoeningsoffer gaan God tog voort om hierdie aarde te onderhou. Om
    mense die lewe te gee. Ons noem dit God se voorsienigheid. Ons lewe in
    genadetyd, waartydens die koring en die onkruid saam opgroei. Sommiges, die
    onkruid, dank God nie.

    Ander, deur
    Christus se Gees en Woord vernuwe, leer om die vierde bede elke dag te bid. God
    se seën af te bid op al sy gawes. Aan die hand van Christus moet ons opnuut die
    vaardigheid kry om God se gawes te gebruik. Om verantwoordelik te lewe op
    aarde. Aan die hand van Christus leer ons om God se spyskaart nie te misbruik
    nie, maar verantwoordelik en dankbaar te gebruik.

    Met die hulp
    van Christus se Gees en Woord leer ons weer gesonde eetgewoontes aan, ‘n
    gesonde lewenstyl, ‘n gesonde gebruik van sy skeppingsgawes.

    As mens in
    ‘n restaurant iets bestel, dan bring hulle dit vir jou. Of dit gesond vir jou
    is of nie. ‘n Restaurant weet nie of iemand hoë cholestrol het, en nie te veel
    vleis en botter mag eet nie. ‘n Restaurant weet nie of iemand byvoorbeeld ‘n
    alkolis is nie. Gesonde eetgewoontes is ‘n verantwoordelikheid.

    ‘n Huisvrou
    weet meestal hoe belangrik dit is om ‘n gebalanseerde dieet vir haar gesin te
    gee. Verantwoordelik en gebalanseerd omgaan met die gawes wat ons kry. Tussen
    hakies, toe ek afgelope week besig was met hierdie preek, was ek juis met hierdie
    deel van die preek besig rondom die tyd van middagete.

    My vrou, wat
    ook ‘n huisvrou is, het soos gewoonlik vir my ‘n broodjie gemaak.

    As ek vir
    myself ‘n broodjie maak, dan sit ek net kaas op, of grondboontjiebotter.

    Maar die
    broodjies wat my vrou maak, het altyd ook bietjie tamatie op, of ‘n paar
    blaartjies van die kruie wat sy kweek. Nog iets om die Here voor te dank, as jy
    ‘n ma het, of ‘n vrou, wat sorg dat haar gesin ‘n gebalanseerde dieet kry.

    Terug by die
    vierde bede:

    God is nie
    net die oorsprong van alle gawes is nie. Ook sy seën, sy leiding is onmisbaar om
    die gawes verantwoordelik te gebruik. Christus leer ons om op gebalanseerde
    wyse met God se spyskaart om te gaan. Dit is dus nie net nodig om God te dank
    vir die oorvloed wat ons kry nie. Dit is net so noodsaaklik om sy seën te vra
    oor die gebruik daarvan. Dit is noodsaaklik omdat ons steeds sondige mense is. Gelowiges
    wat, hoewel verlos deur Christus, nog nie verlos is van ons sondige aard nie. Dis
    nog steeds ons geaardheid om so maklik te vergeet dat alles van God kom. Om te
    dink dat ons reg het op ons inkomste, ons welvaart, omdat ons self hard gewerk
    het.

    Gemeente, as
    ons hierdie neiging het, en wie het dit nie, laat ons aanhou om die vierde bede
    bewus te bid. Dink aan die spreuk wat ons gelees het. Gee my nie armoede nie. Gee
    my beslis ook nie rykdom nie.

    Gee my in
    die eerste plek u seën. U seën waardeur ek in staat is om met die dinge wat ek
    van U kry, U ook te kan dien.

    Kinders, dit
    is baie erg om arm te wees. As jy met ‘n honger maag moet gaan slaap. As jy nie
    warm klere vir die winter het, of nie genoeg komberse dat jy nie koud kry nie. As
    jy weens gebrek aan geld nie skool toe kan gaan nie. Kinders, en ouers, wat dit
    meemaak, word dikwels bitter. Hulle word kwaad, nie net vir die ryk mense nie,
    maar ook vir God. Mense wat kwaad is vir ryk mense, begin steel.

    Mense wat
    kwaad is vir God, vergryp hulle aan die Naam van God, soos in Spreuke 30 staan.
    Dit is miskien die ergste van arm wees, dat mense daarin ‘n rede kan soek om
    God vaarwel te sê.

    Maar
    dieselfde geld ook vir ryk wees.

    Ook in ons
    land is rykdom vir baie mense ‘n rede om God vaarwel te sê.

    Die
    grootste gevaar deur alle eeue heen, en dit geld ook vir ons vandag hier in SA,
    is nie die kriminaliteit nie, maar buitensporige welvaart, wat mense van die
    HERE en sy diens laat vervreem.  Rykdom is ‘n gevaar wat ons
    gemeente ook bedreig. Dit is daarom so belangrik dat ons elke dag God se seën
    vra oor sy gawes. Hoe ons moet lewe met die dinge wat ons van Hom kry. Hoe ons
    Hom juis daardeur beter kan leer ken en nog dankbaarder kan wees.

    Geliefde
    broer, suster, as u baie geld het, as u ‘n mooi huis het, en nog meerdere
    eiendomme, as u in ‘n duur motor kan ry, vra vir die HERE dat sy seën ook
    daarop sal rus. Sodat ons welvaart ons nie van die HERE en sy diens aftrek nie,
    maar dat dit juis instrumente word in diens van die HERE. Die HERE wil dat ons
    vir Hom lewe, nie vir ons besit nie. En onthou, rykdom in die oë van die HERE
    is iets heel anders as rykdom in die oë van die wêreld. ‘n Gesin met sewe
    kinders in ‘n ou huis met ‘n tweedehandse motor kan in God se oë skatryk wees.

     

    En
    jongmense, wat is jou ideaal in die lewe? Waaraan meet jy jou toekomstige
    sukses, waarna wil jy strewe? Wil jy eendag, as jy die kans kry, soos Bill
    Gates wees, of Warren Buffet, of Steve Jobs, of Anton Rupert? Is sulke mense
    jou rolmodelle? Fokus eerder jou lewenskompas op Christus, laat Hy jou rolmodel
    wees. Die Skrif sê dat ons al hoe meer aan Hom gelykvormig moet word.

    Gemeente,
    daar is maar een rede hoekom ons nog van God se gawes gebruik kan maak, dit is
    danksy Christus. Hy het betaal.

    Ons sit
    almal in die restaurant van sy Vader. As ons dit dan aan Hom alleen te danke
    het dat ons daagliks al ons behoeftes kry, laat ons dit dan ook vir die goeie
    doel gebruik. En daardie goeie doel kan mens kortliks soos volg saamvat:

    ons bid vir
    ons daaglikse brood sodat ons die energie kry om die eerste drie bedes uit te
    kan voer. Naamlik om in ons lewe God se Naam te heilig – 1e bede.

    Om saam te
    werk aan die koms van sy koninkryk – 2e bede.

    Om sy wil te
    doen – 3e bede.

    Ons bid vir
    kos, klere, onderdak, vervoer, selfs vakansie, noem maar op, om gesond en van
    harte die eerste drie bedes na te kom. Ons besef dat as ons te min kry, dit
    miskien vir ons moeiliker word om God met ‘n bly hart te dien. En ons besef dat
    presies dieselfde ook kan gebeur as ons ryk is. Met die vierde bede bid ons ook
    vir God se seën op die gebruik van sy gawes.

    Dat sy
    Heilige Gees in ons hart die regte instelling gee teenoor sy gawes.

    Paulus skryf
    aan Timotheüs: God gee ons alles sodat ons ryk kan wees in goeie werke,
    vrygewig en mededeelsaam (1 Tim 6:18).

    Met die
    vierde bede bid ons dus nie net vir droë brood nie.

    Ons vra nie
    om arm te word nie. Ons vra ook nie om ryk te word nie. Ons gaan op ons knieë. Ons
    vra God se seën oor sy gawes. Ons vra God se seën op die gebruik van sy gawes. God
    se seën kom na ons toe in Christus Jesus, deur die werking van sy Gees en
    Woord. Gelei deur Christus bestel ons weloorwoë wat ons elke dag nodig het
    vanuit God se spyskaart. Nie te veel, nie te min.

    Genoeg om
    die HERE tot die laaste dag van ons lewe met blydskap te kan dien.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata