Jesus leer ‘n wetgeleerde die weg tot die ewige lewe

Teks: 
Lukas 10 : 25-37
Datum: 
2017-06-11
Preek Inhoud: 

VGK
Pretoria Maranata Lukas 10 -  11 Junie
2017

Votum

Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die
aarde gemaak het.

Groet

Gemeente Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat
was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,  en van Jesus Christus, die getroue getuie, die
eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom
wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak
het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die
krag tot in alle ewigheid! Amen.

Psalm
33:1, 10

Gebed om die Here se seën op die diens

Skriflesing Lukas 10:1-24, 38-42

Psalm
40:3,4,5

Teks Lukas 10:25-37

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

‘n Wetgeleerde het aan Jesus ‘n vraag gevra: Meester wat moet ek doen om die ewige lewe
te beerwe?
‘n Belangrike vraag. ‘n Vraag wat oor lewe en dood gaan.

Nou is dit belangrik om te sien dat die wetgeleerde wat
die vraag aan Jesus vra, nie ‘n eenvoudige vraag vra wat iemand vra wat in die
regte verhouding met God wil lewe en God se genade soek nie.

Martin Luther se wroeging oor sy sonde en eiegeregtigheid
het hom laat vra: Waar vind ek ‘n genadige God? En Hy kon sy rus vind in God se
geregtigheid in Jesus Christus.

Hierteenoor is die vyandigheid van hierdie wetgeleerde
van ons teks, duidelik. Hy wou Jesus met sy vraag versoek. Hy het ‘n
bybedoeling. Hy wil nie regdoen aan Jesus nie. Hy is nie toegeneë tot Jesus
nie. Hy wil Hom laat struikel. Die wetgeleerde wys Hom af.

Met die uitstuur van die sewentig het Jesus dit duidelik
gemaak, dat die ewige lewe van mense
in stede en dorpe waar hy langs gaan op pad na Jerusalem (want Hy het sy
aangesig gerig om na Jerusalem te gaan omdat sy kruisiging nader gekom het)
afhang van hulle houding teenoor Hom. Die Godsryk kom nader en kom tot by mense
wanneer Jesus en sy boodskap by hulle kom. So stel Hy dit duidelik in Lukas
10:11: “…..maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle
gekom het.”

Tema: Jesus leer
‘n wetgeleerde die weg tot die ewige lewe

  1. Die
    wet van die liefde

Gemeente hierdie vraag: Wat moet ek doen om die ewige lewe te beerwe is nie ‘n tydlose,
neutrale vraag nie. In die oë van die wetgeleerde het Jesus en sy dissipels ‘n
God-onterende lasterende verwagting en dat Hy wat Jesus is, God se eer vir
Homself opeis.

Daarom staan die wetgeleerde op en reageer op Jesus met
hierdie vraag.

Hy spreek Jesus doelbewus aan as leermeester.

Maar kyk hoe vreemd is dit. In die stede en dorpe is die
weg van die lewe, die weg van die koninkryk, die leer van hierdie leermeester pas uitgedra. En nou vra hierdie man ‘n
vraag asof hy van hierdie onderrig nog niks gehoor het nie. Hy ontken op hierdie
oomblik die boodskap wat in die stede en dorpe gepreek is. Die erfdeel word
uitgedeel deur Jesus sodat die mense Hom aanvaar as God se gestuurde. Die
wetgeleerde hou hom egter doof. Hy vra sy vraag asof Jesus geen antwoord daarop
reeds dikwels gegee het nie. Die wetgeleerde wil van Hom weet presies dit wat
nou oral gepreek word, maar wat hy self nie wil aanvaar nie, en nou vra Jesus
met ‘n teenvraag wat die wetgeleerde weet en op roem en waarin hy homself
verskans: Wat is in die wet geskrywe? Hoe
lees jy?

En dan gee die wetgeleerde die saak waarom dit in die wet
gaan. Jy moet die Here jou God liefhê en
jou naaste soos jouself.

Maar hierin opponeer
hy ook weer vir Jesus. Jesus kan maar
naaste liefde vra. Maar hoe kan Jesus liefde vir Homself en onderwerping
aan Homself vra, terwyl Hy God
moet liefhê met sy hele hart en siel en krag en verstand. Want in die oog van
die wetgeleerde eis Jesus asof Hy God
is, Hy eis
onderwerping soos wat God toekom, op sy pad na Jerusalem.

En nou….Jesus reageer nie op die beskuldiging nie. Hy
beaam die samevatting van die wet.

So kom die wetgeleerde nou in verleentheid.

Vir die wetgeleerde is die doring in sy vlees dat Jesus
nie die probleem blykbaar nie sien nie. Hoe kan Hy gelyk die wet onderhou maar gelyk
onderwerping aan Homself vra?

En dit is nou die kruks van die saak gemeente: die kindertjies, dit is hulle wat die
woorde van Christus aangryp, die gelowiges, weet, Jesus is deur God gestuur, Hy is die Seun van God. 10:21-24.

Die wetgeleerde gryp nie die woorde van Jesus aan nie,
wil nie weet dat Jesus deur God gestuur is nie, wil nie weet dat Hy die Seun
van God is nie. Hy wil nie ‘n kind wees nie. Hy is groot. Daarom kan die
wetgeleerde dit nie daar laat nie. Hy moet aan homself regdoen. Hy moet sy
genoegdoening verseker.

 

Jesus wys met sy antwoord wat die gelykenis van die barmhartige
Samaritaan insluit, alle vorme van selfhelp en eiegeregtigheid en doenerigheid
af. Daarmee word werke en goeddoen deur Jesus as kwalifikasie om deel te kry
aan die ewige lewe afgewys. In die plek
daarvan stel Hy God se barmhartigheid vir hulle wat weet hulle is sondaars en eis
Hy dat sondaars hulle aan Hom onderwerp.
Die vraag wat elke gesprek  op uitloop, is: wie is jy voor Jesus Christus?

Hierdie
gelykenis vra nie van ons om die Samaritaan se daad na te volg om die hemel te
beerwe nie. Asof die Samaritaan goed was en die priester en Leviet sleg, en
daarom moet die Samaritaan die lewe erf, terwyl Priester en Leviet die ewige
dood moet erf. Jesus sê nie hier mense wat goed is met goeie dade soos die van
die Samaritaan, moet hemel toe gaan nie.

Waarin is ons kinders van die Vader? Waarin is ons
erfenis? Daarin dat ons dit regkry om die wet te onderhou? Is ons in staat om
God se eis van liefde te onderhou? Die erfgenaam erf omdat die eienaar hom
benoem as erfgenaam. Hy is die erfgenaam omdat die eienaar hom dit toesê. Ons
erf die lewe omdat  God aan ons,
sondaars, barmhartigheid in oorvloed bewys net soos die Samaritaan aan die
sterwende man langs die pad van Jerusalem na Jerigo.

Om die wetgeleerde dit te leer dat jy  met al jou goedheid die saligheid nie kan erf
nie, maar dat jy van Hom afhanklik is vir die lewe, het Jesus die vrae van die
wetgeleerde op ‘n verrassende wyse geantwoord en hom met vrae en met die
gelykenis gelei.

Wanneer die wetgeleerde vers 25 vir Jesus vra: wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?,
word hy nie na Jesus self verwys nie maar na die wet. En wanneer die
wetgeleerde vers 27 by die antwoord kom, naamlik: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel
en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself
,
sê Jesus aan Hom vers 28: Jy het reg
geantwoord, doen dit, en jy sal lewe.

Maar hoe sal ons die ewige lewe erwe? Deur gehoorsaamheid
aan die wet, goed te doen en goed te wees? Of deur geloof in Jesus Christus
deur wie God sy liefde aan ons bewys het?

Om hierop die antwoord uit die Skrif te kry moet ons die
Bybel sorgvuldig lees. In ons gelese Skrifgedeelte staan die gelykenis uit en
met ‘n eerste lees daarvan wil ons moontlik aflei dat die Samritaan as ‘n
voorbeeld vir ons gehou word om deur goeddoen die ewige lewe te beerwe.

Maar ons moet dit teen die agtergrond van die gang van Jesus
in die evangelie van Lukas lees.  Die agtergrond
van Jesus oppad na Jerusalem. Jesus wat deur die wetgeleerde afgewys word. Ons moet dit lees as Jesus
se antwoord op die vraag van hoe ons die ewige lewe kan beerwe. Maar dan in die
sin van die koninkryk wat kom.

Die vraag van die wetgeleerde oor die ewige lewe was ‘n
kenmerkende vraag wat aan Jesus gestel was. So is dit ook in ander gedeeltes
soos Lukas 18:18: En ‘n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet
ek doen om die ewige lewe te beërwe?    
Soortgelyke vrae is opgeteken in Matteus 22 en Markus 12.  Dikwels is ‘n vraag nie aan Jesus gevra om
van Hom die waarheid te hoor nie,
maar is die rede van die vraag om Hom uit
te daag en uit die weg te ruim
. So was dit met die vraag van die
wetgeleerde in 10:25. Die wetgeleerde het gevra: wat moet ek doen om die ewige lewe te beerwe? Nie uit ‘n gretigheid
om gered te word nie. Hy het alreeds sy eie veronderstelling gehad van hoe om
gered te word. Maar hy het Jesus as saligmaker uitgesluit. In sy oë het Jesus
Homself aangematig en onderwerping gevra wat God toekom. Hierdie man vra die
vraag om Jesus te toets. Die wetgeleerde wou aan die skare bewys dat hy die weg
tot saligheid ken, maar dat die Here Jesus Christus Homself aanmatig.

Nou was Hy ‘n geleerde. Hy het uitnemende kennis van die
Skrif gehad. Hy kon die wet uitlê. Hy het die vele wette wat gedurig bygekom
het geken en die mense geleer om die wet te onderhou. Hy het die vrae van mense
beantwoord. Die wet toegepas op die daaglikse lewe. Hy het die volk onderrig
dat redding kom deur wat jy doen. So het hy mense laat betaal vir God se guns. Soos
ons van Jesus se beskuldiging aan die wetgeleerdes lees in Lukas 11:46: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê
laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met
een van julle vingers aan nie.

Hierdie wetgeleerde se vraag moet ons sien teen die
agtergrond daarvan dat hy die antwoorde gehad het en dat sy houding teenoor
Jesus is, dat hy nie wou kennis neem dat
met Jesus die koninkryk gekom het en dat dit so in die stede en dorpe verkondig
is tot redding van vele nie.

Met sy trotse hart het hy neergesien op Jesus. In sy oë
het Jesus gelaster deur onderwerping te eis. Hy het die bewys in Jesus se uitstuur
van die sewentig. In 10:16 het Jesus hulle opgedra: Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My;
en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
Die man het Jesus se
barmhartigheid aan sondaars verag. Hy het gemeen Jesus was swak op die wet en
die veroordeling van die sondaars. Jesus het nie gebly by die wette van Moses
nie.

Maar die Skrif verseker ons Jesus het juis gekom om die
wet te vervul. Dit was juis Jesus wat die wet onderhou het. Hy wat tot die dood
toe gehoorsaam was aan sy Vader.

Jesus het dus die vraag van die wetgeleerde geantwoord
met ‘n vraag oor die wet.

Wat
is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?

Waarop die wetgeleerde geantwoord het: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele
hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou
naaste soos jouself.

Waarop Jesus bevestig het: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Nou weet ons geen
mens is geregverdig deur die werke van die wet nie. Maar wat Jesus gesê het was
heeltemaal waar. Want as die wetgeleerde die wet volmaak sou hou, sou hy lewe.
Ongelukkig het die wetgeleerde gedink hy kan die wet volmaak hou. Soos in
die gelykenis van die Fariseer en die tollenaar. Hy was ‘n verstandige man maar
hy het nie verstaan dat jy alleen op
grond van Christus se barmhartigheid
die lewe het nie. Hy het nie die weg
tot die ewige lewe verstaan nie, hy het geen besef gehad van sy eie sondige
hart nie.

God het nie die wet gegee as weg, as manier om die ewige
lewe te verdien nie,  maar dit is wel die
weg waarop jy lewe omdat jy gered is.
Gehoorsaamheid aan die wet was nie om God se guns te wen nie, maar die wyse
waarop jy lewe omdat God sy guns aan jou bewys het. Om ‘n gelowige te wees, ‘n
kind van God, is nie op grond van wat jy
doen
nie, maar op grond van wie jy is.
Wie jy is bepaal wat jy doen. Dit het
die wetgeleerde nie verstaan nie. Hy het geglo jy word gered op grond van die
wet te hou.

Vir die gelowige is
die lewe volgens die wet van God se liefde kenmerkend. Ja hy kan dit self nie
doen nie en vertrou geheel en al op Christus en sy regdoen, en in Christus en
deur die Heilige Gees soek hy om God en sy naaste in elke opsig lief te hê.  En dit het Jesus die wetgeleerde gegee – ‘n
opdrag wat hierdie man nooit self sal kan nakom nie.

Sou
die wetgeleerde nou sy eie onvermoë om die wet te onderhou besef, sal hy Jesus,
die enigste Heiland kan ontvang.

  1. Die
    barmhartige God en ons ewige lewe

Doen
dit en jy sal lewe.
Die wetgeleerde kon gedink het Jesus gee Hom
gelyk. Sy lewensuitkyk dat hy vir homself die ewige lewe by God kan maak is werkbaar.

Doen
dit en jy sal lewe.
Maar wie
kan dit doen?

Wie kan God opreg liefhê uit sy hele hart, siel, krag en
verstand? Wie kan sy naaste liefhê soos homself? Nouja wetgeleerde jy dink jy kan dit doen, gaan dan voort. Doen dit.
Maar dit was onmoontlik. Sou ‘n mens self kon voldoen, dan was dit geensins
nodig dat die Seun uit die hemel na die aarde sou kom nie. Dan sou dit onnodig
wees vir Jesus om sy aangesig te rig op Jerusalem om gekruisig te word.

Die wetgeleerde moes besef dat hy voor Jesus Christus die
gestuurde van God staan, die barmhartige wat gekom het om in volmaakte
gehoorsaamheid aan sy Vader vir sondaars sy lewe te gee. Sonder Hom kan niemand reg doen aan God nie. Die
gelykenis van die Fariseer en die tollenaar is op die wetgeleerde en
op ons van toepassing. Luk 18:13:  En
die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef
nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o
God, wees my, sondaar, genadig!

Met Jesus se woorde: Gaan en doen jy net so, wou Jesus
ons nie leer dat ons God en ons naaste moet liefhê deur goed te doen nie, goeie
Samaritane wees nie. Nee dit is om ons te leer wat God in sy wet vra om bewus
te word van God se liefde en van ons sonde en dat ons ons redding buite onsself
soek, alleen in Christus. Alleen wanneer ons Christus erken as die gestuurde
van God, die een wat aan ons barmhartigheid bewys, dat ons verseker is van ons
lewe in ewigheid. En dan in onderworpenheid aan Christus 10:16 sal ons God en
ons naaste liefhê. Nie om gered te word nie maar omdat ons gered is.

Jesus is die barmhartige, Matteus 11:28-30:  Kom na
My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op
julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal
rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.

Die wetgeleerde egter wou nie besef wie hy voor God en sy
gestuurde is nie. En nou vra hy aan Jesus: En
wie is my naaste?
..... want hy wou homself
regverdig
, lees ons. Hy wou duidelik maak dat daar tog alle aanleiding is
vir sy teenstand teen Jesus. Die konteks is die twisgesprek wat hy met Jesus voer.
Jesus spreek die oordeel uit oor Israel se stede wat sy gestuurdes nie wil
aanvaar nie. Is alleen Jesus se
volgelinge dan Jesus se naaste en val die ander kinders van Abraham buite, sou
die wetgeleerde kon redeneer?
Jesus se liefde vir sondaars en tollenaars
lyk vir die wetgeleerde of dit as keersy het dat Jesus die veroordeel
wat oortuigde, goeie mense soos die
Fariseers is in Israel
. Daarom haak hy hierdie ‘n vraag aan by sy
samevatting van die wet, spesifiek oor die naasteliefde en by Jesus se woorde: doen dit en jy sal lewe.  Nou, die wetgeleerde lyk op die leergierige
vraagsteller, maar in werklikheid stel hy Jesus
so op die proef
. ………. Jesus vertel dan die verhaal van die man wat in die
hande van die rowers geval het en antwoord in 10:36 met ‘n teenvraag na afloop
van die verhaal: Wie dan van hierdie
drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?

Op die vraag van die wetgeleerde: wie is my naaste? Vertel Jesus die verhaal. Die gelykenis van die
barmhartige samaritaan word deur Jesus 
gebruik om  duidelik te maak dat
die vraag is, hoe word ek ‘n naaste, hoe vind ek erkenning as naaste. Wie ‘n slagoffer help word as naaste erken.
Die vraag van die beërwing van die ewige lewe gaan om wat jy is . Daar was ‘n sekere man wat tussen Jerusalem en Jerigo
deur rowers oorval was, en half dood agtergelaat is. ‘n Priester van wie jy
verwag dat hy goed sou doen, het die man gesien maar verby gehou. Dieselfde met
‘n Leviet wat tog in spesiale diens voor God staan , hy het dieselfde gedoen.
Maar ‘n Samaritaan, waarvan jy dit nie sou verwag nie, (die Samaritane het,
weet ons,  self vir Jesus afgewys omdat
Hy na Jerusalem op reis was, 9:51-56) het innig jammer vir die man gevoel, sy
wonde verbind, olie en wyn daarop gegooi, op sy eie pakdier gelaai en na ‘n
herberg geneem en hom versorg. En toe nog voorsiening vir toekomstige versorging
ook gemaak. …….Hierdie gelykenis het ‘n spannende storielyn en Jesus gee nie
die verklaring nie, maar hy laat die wetgeleerde dit doen. Jesus laat die man
van die ander kant kyk. Hoe word ek ‘n naaste?  Wie ‘n
slagoffer help, word as naaste erken. Ook al is hy ‘n Samaritaan.

Maar nou is dit so: die helper word ontvang deur die een
wat in nood is en homself nie kan help nie. Die helper word bewus van wie hy die  naaste is, en dan word duidelik wie sy naaste is. Nie die persoon van die Samaritaan nie maar die daad van die Samaritaan is
deurslaggewend in die verhaal. Gewaardeerde persone het niks gedoen en selfs ‘n
ompad geloop, maar die Samaritaan het gedoen meer as wat normaal is. Hy het nie
volstaan met noodhulp op die toneel nie, hy neem die slagoffer geheel vir sy
rekening. Jy kan sê hy gee sy bankkaart aan die herbergier. So word hierdie
verhaal ‘n heenwysing na die werklikheid van Jesus wat aangeveg word in die
twis van die wetgeleerde met Hom. Jesus ontferm hom oor Israel deur siekes te
genees en demone se heerskappy te breek. Die gesondes meen hulle het Hom nie
nodig nie, maar die siekes smeek Hom en steek hulle hande na Hom uit. Jesus is hulle naaste. Hy neem mense vir sy
rekening. 

Die wetgeleerde het groot moeite met Jesus. Soos sommige
wat selfs gesê het dat Jesus van die
duiwel besete en ‘n Samaritaan
is, verag deur die Jode, Joh. 8:48. Hy het
Jesus die gestuurde van God nie lief nie. Hy kom Jesus versoek. Jesus is nie sy naaste nie, sy helper nie.
En die gebrek aan liefde vir Jesus vloei natuurlik uit sy selfvertroue. Hy het geen hulp nodig nie. Daarom is
Jesus vir hom ook geen naaste waarnatoe hy sy hande uitsteek nie.

Daarom Jesus se vraag aan hom, 10:36: Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die
naaste van hom wat onder die rowers verval het?
En dan antwoord die
wetgeleerde: Luk 10:37: Hy wat barmhartigheid
aan hom bewys het.

En so kom die trefwoord
uit, trek Jesus dit uit hierdie man: barmhartigheid
bewys.

Dit
is Jesus, die gestuurde van God wat barmhartigheid bewys.

Hy is die naaste van elkeen in nood. Hy is ook die naaste
van die wetgeleerde in sy nood. Die wetgeleerde behoort Jesus lief te hê en Hom
nie te versoek nie, maar sy hande na Hom uit te steek.

Jesus gee hom opdrag: Gaan en doen jy net so. Jesus nooi
hom met hierdie tweede opdrag uit: om die ewige lewe te beerwe deur hom nie
langer te verset teen die weldoener van God nie – nie langer te verset teen
Jesus nie. Sou hy  Jesus as sy helper
erken en Jesus soos die sewentig volg en deelneem aan God se werk van
ontferming oor sy volk, sou dit duidelik wees wie hy isMaar eers moet hy leer om homself te sien as
slagoffer, oorval, vir dood gelaat, wat nou aangewys is op sy naaste, Jesus,
van wie sy enigste redding kom.

  1. Die
    barmhartige God en ons barmhartigheid

Wie van die drie was die naaste van die man? Die wetgeleerde het die antwoord. Die
een wat barmhartigheid bewys het.

Nou waar is die wetgeleerde se liefde vir Jesus?
Want het Jesus nie gekom
en die koninkryk gebring na die siekes en hulpeloses en verlorenes nie. Die
vraag is, erken jy My, erken jy God, het
jy God se hulp nodig, soos die sieke die geneesheer?

Is
jy barmhartig, omdat Jesus Christus aan jou
barmhartigheid bewys het?
Volg jy daarom Jesus en neem jy daarom deel aan God se werk van
ontferming oor sy volk?

Die waarskuwing is daar: dat ons nie ons blydskap
afhanklik maak van wat ons vir die Here kan doen nie, of die aandag wat ons op
ons goeddoen kan vestig nie, maar ons
blydskap is daarin dat Jesus Christus ons te hulp gekom het.
Daarvoor het
Hy opgegaan na Jerusalem om gekruisig en in die hemel opgeneem te word. 9:51.
Hy het opgegaan om te vind en te red wie verlore is. Daarvoor het Hy ook die 70
twee twee uitgestuur in elke stad en dorp om die pad wat Hy gaan gereed te
maak. Hy het hulle opgedra om te preek dat die koninkryk in Christus gekom het,
en om wonders te doen en siekes gesond te maak. Geweldig…..Hulle is opgewonde, entyoesiasties,
hulle het vol blydskap na Jesus teruggekeer, 10:17, en vertel dat hulle die duiwels onderwerp het in sy Naam. Maar dan
lees ons: Jesus het hulle vermaan, vers 20: wees liewer bly dat julle name in die hemele
opgeskrywe is
.

Moenie bly wees oor wat julle kan doen of die mag wat julle ontvang
het nie, maar wees bly omdat julle name in die hemel opgeskrywe is. Sien u dit
is nie wat ons doen wat
belangrik is nie, maar wat God vir ons doen in Jesus Christus en wat
Hy deur ons doen
,  wie ons in en deur
Jesus Christus is.

Ons raak so vasgevang in wat ons doen en wat ons moet
doen. Ons voel skuldig oor wat ons nie gedoen kry nie. Ons wil goed doen sodat ons
goed is in God se oë. Ons wil goeie Samaritane wees wat ander help, sodat mense
goed van ons dink. Die probleem is dan dat ons lewe nie gekenmerk word deur wat ons in Christus is nie, maar deur
wat ons reken ons moet doen.

Gemeente in ons beproewing van onsself voor die viering
van die Heilige Nagmaal, gaan dit nie om wat ons moet doen om te mag aansit by
die tafel van die Here nie, maar om wat ons in Christus is, wie ons deur
Christus voor God is, dat Hy die saligheid vir ons verkry het, dat ons Hom
omhels op grond van die belofte van sy Woord. Hy vervreem Hom nooit van ons
nie.

Dit word ons op die hart gedruk deur die verhaal van
Jesus se besoek aan die huis van Martha. 10:38-42. Martha se suster Maria, het
aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Maar Martha was baie
besig om alles klaar te maak. En sy vra dan later, ergerlik, dat Jesus Maria
sal aanspreek om vir haar wat Martha is, te help. Waarop Jesus afwys dat sy so
besorg en verontrus is oor dinge. …..Daarteenoor het Maria goed gekies. Sy het
die goeie deel gekies. Sy het by die
voete van Jesus gesit en na Jesus se woorde geluister.
Sy is deur Jesus
geleer. Dit kan nooit van haar weggeneem word nie.

Dit is vir ons bemoedigend. Dat ons medewerkers van God is
op grond van wat ons in Christus is. Omdat Christus aan ons barmhartigheid
bewys het is ons barmhartig teenoor almal wat die hulp van ons liefdevolle God
nodig het. Ons is behoeftig, maar verloste sondaars. Wat alles van God verwag.
Al ons sekerheid in Hom het. Al ons goeddoen van Hom het. Op grond van sy
evangelie. Dit stempel ons persoonlike lewe, dit stempel ons omgaan met ander
mense, dit stempel ons omgaan met hulle vir wie ons naaste is.

Dit is nie wat ek moet doen nie maar wat God
in Christus
van my maak en wie ek nou voor God is. En wat ek deur Sy
werk in my lewe nou ook vir ander is:  ‘n naaste
wat luister na die woord van die Meester. Amen

Psalm
145:1,2,3,10,11

Gebed

Lees
die geloofbelydenis van Nicea.

Die
gemeente sing staande
Psalm
125:1,2,3,4,5

Kollekte

Psalm
145:4,5,6,7

 

 

Uitspreek van die seën

Die Here sal u seën en u behoed

Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig
wees

Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)