Die apostel roep ons op om die regte fokus, die regte hoop, in hierdie lewe te behou

Teks: 
II Petrus 3 : 14-18
Datum: 
2017-06-18
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 18 Junie 2017 AD, 10:15
(Nagmaal)

Votum

Seën

Ps 96:1,2

Wet

Ps 94:6

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Ps 149:1,2

1e tafel:
Skriflesing: 2 Petrus 3:1-18; Preek (1e punt); Sb 36:1-3

2e tafel:
Skriflesing: 2 Petrus 3:14-18;  Preek (2e
punt); Sb 36:4,5

3e tafel:
Lofverheffing & Dankgebed; Ps 97:6,7

Kollekte

Ps 149:3,4

Seën

Preek: 2 Petrus 3:14-18

Ons is
deesdae nogal pessimisties oor die toestand van ons land. Die politieke
agteruitgang. Dit maak mens soms hopeloos. Dit laat sommiges onder ons oorweeg
om na die buiteland te verhuis, te emigreer. Maar sê nou maar ons het hoop
gehad. Sê nou maar ons kon in die toekoms kyk, en ons kon sien, dat na hierdie
hopelose Zuma-era, daar ‘n nuwe periode van herstel, groei en voorspoed vir
Suid-Afrika sal aanbreek. As mens daardie sekerheid vir die toekoms gehad het,
is ek seker dat hulle wat oorweeg om die land te verlaat, sal die huidige
tydelike hopelose toestand kon uitsit. Omdat daar hoop is, mens moet net
vasbyt. Hoop laat lewe.

Ons teks
begin met hoop: “terwyl julle hierdie dinge verwag”

Hierdie
dinge - julle hoop op die nuwe hemele en aarde waarin geregtigheid woon. Dit is
Christus se belofte. Daarop hoop ons. En hoop laat lewe.

Die apostel roep ons op om die regte fokus,
die regte hoop, in hierdie lewe te behou

1 God se lankmoedigheid moenie ons hoop laat
verflou nie

2 Wêreldgelykvormigheid moenie ons hoop laat verander
nie

1 God se lankmoedigheid moenie ons hoop laat
verflou nie

Die eerste
helfte van hoofstuk 3, waarna ons verlede week gekyk het, beskryf die
katastrofale einde van die huidige wêreldorde. Soos die sondvloed, die
watervloed, die eerste wêreldorde omgekeer en beëindig het. So sal ‘n vuurvloed
die huidige wêreldkonstallasie ten einde bring. Dit sal ‘n vuur wees, intenser
as die vuur wat edelmetale smelt. Al wat anderkant uit sal kom, is die belofte.

Christus se
belofte.

 

Daarom die
oproep van die apostel: Beywer julle, dat julle vlekkeloos en onberispelik voor
Hom bevind mag word in vrede. En moenie vergeet, die HERE se lankmoedigheid is
‘saligheid’. Die tema van die tweede brief van Petrus is hierdie punt: Die feit
naamlik dat die tweede generasie Christene skepties begin raak het oor Christus
se belofte van wederkoms. Dit het so lank geduur.

Die eerste
generasie het gesterf, net soos alle ander mense in die Ou Testament gesterf
het. Waar bly Christus? Maar die apostel beklemtoon: die HERE is lankmoedig. Geduldig.
Hy gee ruimskoots kans vir bekering. Sy lankmoedigheid beteken saligheid vir
baie wat anders verlore sou gegaan het!

Dis die tema
wat Petrus weer hier aan die slot van sy brief herhaal.

God laat die
wêreldgeskiedenis voortgaan sodat die getal van die uitverkorenes vol kan word.
En boonop, Hy gee vir julle, wat reeds aan Christus behoort, ook die kans om
julle lewe, julle lewe van toewyding, gestalte te gee. Om julle aan te trek vir
die bruilofsfees, om julle te tooi met die sierade, die vrugte van die Gees.

Soos vers 14
skryf, sodat julle nie in vodde nie, maar vlekkeloos en onberispelik voor Hom
bevind mag word. Maar moenie dat die uitbly van sy koms vir jou ‘n aanleiding
word om jou fokus op die toekoms te verloor, en jou te stort in ‘n pluk die dag
mentaliteit nie. Petrus dink hier terug aan die onderrig van Christus self.

Dink aan die
gelykenis van die vyf dwase en vyf verstandige meisies.

Wees gereed.

Daar is
groot dinge op koms, ingrypende dinge. Christene is nie doemdenkers nie. Hulle
verwag naamlik die herskepping. Hulle verwag ‘n groot bruilofsfees.

Hulle verwag
die Messiaanse vrede. Met die woord vrede
(vers 14) gryp Petrus terug na al die profesieë in die Ou Testament oor die
vrederyk. Sjaloom – die eskatologiese vrede. Dit is waarop ons hoop. Dit is
waarop ons ons voorberei.

Maak nie
saak waar ons woon op aarde nie, dit is ons fokus, dit is ons eindbestemming. Wie
emigreer, moet hierdie fokus nie verloor nie. Dan sou emigrasie ‘n groot
agteruitgang wees. Ons verwag naamlik iets veel groters en heerlikers as wat
hierdie huidige wêreldkonstellasie ons kan bied!

(Die apostel
roep ons op om die regte fokus, die regte hoop, in hierdie lewe te behou

1 God se
lankmoedigheid moenie ons hoop laat verflou nie)

2 Wêreldgelykvormigheid moenie ons hoop laat verander
nie

En dan
onderstreep Petrus dat sy kollega, die apostel Paulus, presies dieselfde
boodskap bring. Die apostel Paulus het aan presies dieselfde mense ook geskryf.

Aan die
begin van Petrus se eerste brief lees ons wie sy geaddreseerdes was:

die vreemdelinge
van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië. In baie
van hierdie gebiede was Paulus ook gewees, en hy het in daardie gebiede kerke
geplant. Dink aan plekke soos Ikonium, Listre, Derbe, Kolosse, Efese. Aan
hierdie Christene het Paulus ook briewe geskryf.

En hierdie selfde
onderwerp kom ook in sy briewe te sprake.

Dink aan hoe
Paulus in sy brief aan die Galasiërs waarsku teen die misbruik van die Christelike
vryheid (Gal 5-6). Dink aan hoe Paulus in sy briewe aan die Efesiërs en
Kolossense die Christene in Klein-Asië op die hart bind om onbevlek en onbesmet
te bly (Ef 1:4; 5:27; Kol 1:22). Trouens, al Paulus se briewe het ‘n
eskatologiese dimensie. Elkeen is geskryf in die lig van die brandende
verwagting van Christus se wederkoms.

Nou is nie
alles in Paulus se briewe maklik om te verstaan nie. Ek dink ons kan daarmee
saamstem, en destyds het die kerkmense ook al so gedink. Maar dit mag geen rede
wees om dit langs jou neer te lê, of om dit te verdraai nie.

Wie dit
doen, doen dit tot hulle eie verderf. Trouens, hulle verdraai net so ook die
Skrifte van die Ou Testament.

Dis
opvallend hoe Petrus hier Paulus se briewe op een lyn stel met die Ou
Testament. Sowel Petrus en Paulus was mense, ook sondige mense. In Galasiërs
kan ons selfs lees dat hulle op ‘n stadium met mekaar in konflik was (Gal
2:11-14). ‘n Konflik wat duidelik nie blywend was nie. Alles dui daarop dat toe
Petrus hierdie geskryf het, Paulus nog in lewe was. Maar ten spyte van hulle
gebreke, dra dit wat hulle geskryf het apostoliese gesag,  Ja dit staan op dieselfde vlak as die Ou
Testament. En daarom skroom Petrus nie om die mense op te roep om dit wat hy
skryf, asook dit wat Paulus geskryf het, te aanvaar as boodskappe met Goddelike
gesag. Hulle is apostels, gestuurdes op gesag van Jesus Christus, wat God is,
en op die hemelse troon sit. Hulle bring nie hulle eie boodskappie nie.

Hulle is
apostels, heroute, van Christus.

Petrus
beklemtoon hierdie des te meer, omdat daar die neiging gekom het om Paulus se
woorde te verdraai. Implisiet het die dwaalleraars hiermee eintlik Paulus se
briewe se gesag onderstreep. Hoekom sal mens anders so baie moeite doen om sy
briewe te probeer herinterpreteer volgens hulle eie insigte?

Paulus se
briewe tref nou dieselfde lot as die res van die Skrif, naamlik die neiging wat
ketters het om tekste uit hulle verband te haal en sodoende hulle oorspronklike
betekenis te verdraai. Dis soos ketters, dwaalleraars werk. Hulle gaan op soek
na bewystekste om hulle eie opvattings meer gesag te verleen. En so het hulle
dus ook al vir Paulus laat buikspreek, net soos die res van die Skrifte.

En Petrus
waarsku, daardie mense wat so met Paulus se briewe werk, moet goed besef wat
hulle doen. Aan die einde van die dag sit hulle hulle eie saligheid op die
spel, hulle is besig om hulle eie ondergang te bewerk.

Vers 16 –
hulle doen dit tot hulle eie verderf.

Petrus sluit
sy brief dan af met ‘n laaste waarskuwing. Wees op jul hoede, moenie julle laat
meesleep deur die dwaling van sedelose mense nie. Ons het in die vorige preke
in die serie oor 2 Petrus gesien dat die dwaling veral gegaan het oor mense wat
wêreldgelykvormig begin raak het. Wat hulle Christenskap gekombineer het met aanpassing,
assimilering aan die ongelowige lewensstyl van die wêreld. En die dwaalleraars
was hulle wat dit goedgepraat het, dis OK so.

Jy moet as
Christen nie onnodig anders wees nie.

En boonop
het die tweede generasie gelowiges ook die feit dat Christus nog nie teruggekom
het nie, begin misbruik. Hulle het skepties geraak. Hulle het aan die belofte
begin twyfel. Hulle het die dinge wat die apostels hulle geleer het, begin
relativeer. Petrus, en Paulus, alles hoë woorde, ingewikkelde briewe. Vergeet
daarvan, die lewe gaan aan, die wêreld draai verder. So het die eerste
gemeentes begin afskuif van die fondament waarop hulle geplant is. Soos Petrus
skryf, hulle het begin wegval uit hulle vastigheid.

En daarom
dat Petrus hulle nou weer terugtrek. Hierdie tweede brief was nodig.

Die
gemeentes moet koers hou. Meer nog, hulle moet toeneem in die genade en kennis
van onse Here en Saligmaker.

Geliefde
gemeente, sedert hierdie brief geskryf is, het amper twintig eeue verbygegaan. Nietemin,
is ons situasie weinig anders as destyds.

Is daar nie
ook in ons tyd mense wat Paulus se briewe laat buikspreek nie? Wat tekste van
Paulus verdraai, met alternatiewe eksegeses kom, sodat hulle dit kan bereik wat
hulle graag wil hê? Sodat die wêreldgelykvormigheid wat in die kerke ingesypel
het, nou geregverdig kan word nie? Ja die golwe van dwaalleer, kettery en
wêreldgelykvormig bly teen die kerk aanbeuk. In sy wysheid het die Heilige Gees
hierdie tweede Brief van Petrus in die Bybel laat opneem. Hierdeur is ons
gewaarsku. Moenie ingee onder die druk nie. Mense wat so met Paulus se briewe
omgaan, doen dit net tot hulle eie verderf! Bly julle staan op die fondament
van apostels en profete, waarvan Christus die Hoeksteen is!

Aan Hom kom
die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Dag van die
ewigheid – dit klink dalk innerlik teenstrydig. ‘n Dag is ‘n beperkte termyn,
terwyl ewigheid onbeperk is. Hierdie is waarskynlik ‘n saamgeperste
uitdrukking, wat verwys na die dag van die HERE uit die Ou Testament.

Die dag van
God is ‘n dag waar die son nie sal ondergaan nie, want God se ligtende
aanwesigheid het die verligting van son en maan oorbodig gemaak.

Dink aan
Jesaja 60: “Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die
maan vir jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees ‘n ewige lig,
en jou God sal jou sieraad wees. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou
maan nie kleiner word nie; want die HERE sal vir jou wees ‘n ewige lig, en die
dae van jou treurigheid is verby.” (vers 19-20).

Dit is dus
‘n gelukkige dag wat nie sal end kry nie.

Ja die
ewigheid behoort aan Hom!

Elke
generasie wat nog gebore sal word, regeer Hy vanaf sy hemelse troon.

En Hy sal
terugkom, wanneer die lankmoedigheid van die Vader voltooi is.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata