Bewaar julleself in die liefde van God

Teks: 
Judas 1: 20-21
Datum: 
2017-07-23
Preek Inhoud: 

Het u al ooit in ‘n motor gery waarin geen olie was nie? Hoever het u gekom?

Ek vermoed nie so ver nie.‘n Motor sonder petrol is nog nie so erg nie. Dan bly mens net staan waar jy is. Maar ‘n motor sonder olie is ‘n ramp. Selfs al is dit ‘n splinternuwe motor, met ‘n kragtige enjin, sonder olie kom mens nêrens nie.

Die enjin sal vasdraai, oorverhit. ‘n Ramp vir ‘n nuwe motor.

Die teks vir vanoggend gaan oor die olie in die kerk.

Soos daar in vers 21 staan: bewaar julleself in die liefde van God. Die liefde, wat Christus ons voorgeleef het, die liefde, waaroor ons uit 1 Korinthiërs 13 gelees het, dit is die olie vir die kerk.

Tema: Bewaar julleself in die liefde van God.

  • waarskuwing teen onegte geloof
  • oproep tot allerheiligste geloof

waarskuwing teen onegte geloof

Die skrywer van hierdie kort brief is Judas. Judas was ‘n baie algemene naam in daardie tyd, en ons ontmoet in die Bybel meerdere mense met hierdie naam.

Dink byvoorbeeld aan Judas Iskariot. Omdat die naam so algemeen was, is dit soms lastig om vas te stel oor wie dit presies gaan. Nou wat betref die Judas wat hierdie brief geskryf het, is duidelik dat hy ‘n broer van Jakobus was. En Jakobus, soos ons weet, was ‘n broer van die Here Jesus. Dus, Judas was ook ‘n jonger broer van die Here Jesus. Hy was ‘n kind van Josef en Maria. Ons weet uit die Johannesevangelie dat Jesus se broers aanvanklik argwanend was, en nie in Hom wou glo nie. Maar, en dit is ‘n pragtige getuienis vir die krag van die Evangelie, hierdie broers van Jesus het later regtig tot bekering gekom. Hulle het in hulle oudste Broer die Redder van die wêreld leer sien. En ook die Redder van hulle lewe.

En weet u wat so mooi is?

Dis die manier hoe Judas homself hier aan die begin van die brief voorstel.

Daar staan in vers 1: “Judas, ‘n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus” Judas spog nie met die feit dat hy Jesus se eie broer was nie. Hy stel homself voor as ‘n dienskneg van sy groot Broer Jesus!

Slegs uit hierdie eerste vers leer ons al baie oor Judas se houding, sy instelling.

Ek dink dat ons ons goed kan voorstel dat Jesus se broers aanvanklik terughoudend, selfs argwanend, teenoor Hom was. Wat sou jy dink as jou Broer, as juis Hy, so besonder is, dat juis Hy die Messias van die wêreld is? Jesus se broers is in sonde ontvang en gebore, hulle het van nature nie so ‘n besondere posisie aan hulle Broer gegun nie. En is dit nie dikwels so dat ouboet in ‘n gesin dink hy doen nooit iets verkeerd nie? Die Here Jesus se broers moes leer besef dat in hulle oudste Broer se geval dit regtig so was. Hy was inderdaad nie in sonde ontvang en gebore nie. Hy het nooit iets verkeerd gedoen nie. En danksy die Here Jesus se eie houding het sy broers dit ook begin besef. Hy was inderdaad die Messias. Dit kon mens in alles agterkom. Hy was nie iemand wat net baie van Homself gedink het nie. Hy was nie die spreekwoordelike beterweterige oudste boetie nie. Die Here Jesus was eg, eerlik, outentiek, in sy optrede. Ook na sy broers toe. En dit het effek gehad. Daardeur is sy broers oortuig.

Daar is nog ‘n ander rede hoekom Judas homself hier bekend stel as Jakobus se broer. Daar is naamlik ‘n verband tussen Judas se brief, en die brief van Jakobus.

En om hierdie verband te verstaan, kan mens dit die beste vergelyk met Petrus se twee briewe. Die apostel Petrus het sy eerste brief geskryf aan die gelowiges in die verstrooiing. Maar, toe daar na jare, veral onder die tweede generasie gelowiges, skeptisisme begin ontstaan het; toe sommiges begin twyfel het aan die beloftes van Christus se wederkoms; toe hulle hulle geloof begin kombineer het met ‘n wêreldse lewensstyl; toe het die apostel Petrus homself geroepe gevoel om nog ‘n tweede brief te skryf. Waarin hy met klem gewys het op die betroubaarheid van die beloftes van die wederkoms. En met voorbeelde uit die verlede het hy benadruk dat God sy woord sal hou, dat daar ‘n oordeelsdag sal kom. Nou is Judas se brief eintlik baie vergelykbaar met Petrus se tweede brief.

Ook Judas waarsku geweldig indringend, met baie swaar woorde, teen opkomende wêreldgelykvormigheid. Ook Judas noem voorbeelde uit die verlede om te waarsku dat God se strawwe nie net leë dreigemente is nie, maar sal kom.

Hy verwys na gebeurtenisse uit die geskiedenis, wat hy bekend stel by sy lesers.

In die manier hoe Judas sy brief geskryf het, is duidelik dat Joodse Christene sy lesers was. Net soos Jakobus aan Joodse Christene geskryf het (Jak 1:1).

Op ‘n manier is Judas se brief eintlik sy broer – Jakobus – se tweede brief aan hierdie selfde lesers – die Joodse Christene.

By die skryf van hierdie brief van Judas was Jakobus al oorlede. Hy is om die lewe gebring in die jaar 62 nC. Met die opkomende wêreldgelykvormigheid was Jakobus dus nie meer daar om, net soos Petrus, sy lesers nog ‘n tweede brief te skryf nie. Maar dit het Judas, sy broer, dus gedoen. Siedaar die rede hoekom Judas homself so pertinent voorstel as Jakobus se broer. Hy bou voort op wat Jakobus reeds geskryf het.

En, net soos Jakobus, roep hy sy lesers op om te volhard in ‘n opregte geloof.

Maar wat is eintlik ‘n opregte geloof?

Vir ‘n antwoord hierop moet ons Judas se brief verder bestudeer. Judas maak onderskeid tussen twee soorte mense. En, dis belangrik om te besef, in beide gevalle skryf Judas oor kerkmense, verbondskinders. Twee soorte, hulle met ‘n egte geloof, en hulle met ‘n onegte geloof. Laat ons begin met wat ‘n onegte geloof is. Dan let ons veral op vers 16:

“Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.”

Die Nederlandse Geloofsbelydenis skryf oor sulke onegte gelowiges in artikel 29:

“die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is”.

In vers 19 staan dan verder:

Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.”

Die woord sinnelike staan hier teenoor die Gees.

Die Griekse woord hier vir sinnelik – psychikos – dui op mense wat vasklou aan die verganklike lewe. Wat gerig is op hierdie sondige verganklike lewe.

Mense wat die Gees nie het nie, of wat sy werk in hulle lewe steeds uitblus.

Wat sy werking afrem. Waar die ou mens nog die botoon voer. Dit is mense wat nie eg is nie. En dit dan veral in teenstelling tot hulle wat vervul is van die Heilige Gees.

Weereens, Judas skryf hier nie oor mense buite die kerk nie, maar oor kerkmense self. Judas skryf ook dat hierdie mense aan die einde van die tyd sal kom. Wat bedoel hy daarmee?

Ons is geneig om dan direk aan die eindtye te dink. Tog is dit nie Judas se bedoeling nie. Want dit is opvallend dat hy in verse 3-16 skryf oor hierdie mense met ‘n onegte geloof as tydgenote! Mense wat al in die dae van Judas geleef het!

Die enigste gevolgtrekking is dan dat Judas deurdronge was van die feit dat hy self in die eindtye geleef het! Die uitspraak van die Here Jesus oor die einde van die tyd dui op die hele Pinkstertydperk. Ja, dit is inderdaad die laaste bedeling.

Die tydperk waarin Judas geleef het, en waarin ons vandag ook lewe.

Die Pinkstertydperk, wat gekenmerk word deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Maar hierdie tydperk word ook gekenmerk deur die feit dat die duiwel baie aktief is op aarde.

Dat hy koorsagtig besig is om mense in sy beheer te kry, en hulle lewe uit die invloedsfeer van die Gees weg te kry. In hierdie tydperk leef ons.

In hierdie eindtyd staan ons kerkgebou hier in Koekoekstraat.

Die waarskuwing van Judas is dus ook vir ons bedoel.

Judas staan hier op die skouers van sy oudste Broer se prediking.

Dink aan Mattheüs 7.

‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom geen goeie vrugte nie.

Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (vers 18-21)

Wees bewus daarvan, dat ook by julle mense sal wees wat die Gees nie het nie.

Wat hulle ou mens nie finaal wil kruisig nie. Wat aan die einde van die dag hulle eie eer soek. Wees daarop bedag.

Judas roep ons op om die lesse uit die verlede ter harte te neem. Neem byvoorbeeld die volk Israel, skryf hy. Die hele volk is deur God uit Egipte bevry.

Tog was dit nie so dat elkeen van hulle ‘n egte geloof gehad het nie, dat elkeen van hulle Hom opreg gedien het nie. Beteken dit dat hierdies onder God se volk, hulle wat hulle ou mens bly vertroetel het, dat hulle gelukkig was om tog te deel in alle voordele van God se verbond? Miskien vir ‘n rukkie ja, maar nie vir altyd nie. Wees dus gewaarsku.

Judas skryf: “ek wil julle daaraan herinner ... dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.”

Hierdie stryd het sedert Hemelvaart en Pinkster, nadat die Heilige Gees uitgestort is, en nadat satan finaal uit die hemel verban is, net hewiger geword.

Die stryd tussen geloof en ongeloof. En as jy lid van die kerk is, staan jy op die voorfront. Want nêrens werk die Gees so kragtig as in die kerk nie.

En nêrens probeer die duiwel so hard om mense afvallig te maak, as in die kerk nie. Wees daarop bedag. Leef suiwer. Leef eg.

Wie met ‘n skyngeloof in die kerk sit, word ‘n prooi van satan.

‘n Skyngeloof het geen werwingskrag nie. Met ‘n skyngeloof hou jy jou kinders nie by die kerk nie. Met ‘n skyngeloof hou die kerk nie die jeug vas nie. Ons mag as kerkgemeenskap instrumente wees van die Heilige Gees. Hy gebruik ons om die geloof oor te dra. Maar dan kom dit wel aan op ‘n egte geloof.

Judas maak in sy brief onderskeid tussen spotters en hulle wat twyfel.

Terwyl hy sonder omhaal van woorde die spotters buitengewoon ernstig waarsku vir God se oordeel – mens kan hier dink aan die huigelaars, soos die Nederlandse Geloofsbelydenis hulle beskryf,  pleit Judas juis vir barmhartigheid teenoor hulle wat twyfel. Vir die huigelaars, die spotters, het hy geen geduld nie.

Vir die twyfelaars wel. Hulle moet met liefde en geduld opgevang word, in ‘n houding van ontferming en mildheid. Hulle het ekstra aandag nodig.

Hulle kan hulleself nog nie voldoende bewaar by God se liefde nie, en moet deur ander gehelp word. Dit sou onbarmhartig wees om hulle sonder meer aan die kant te skuif.

Daarenteen geld vir die spotters, oftewel die huigelaars, ‘n ander aanpak.

Hulle situasie is drasties verskillend. By hulle pas nie geduld nie. By hulle kan nie tyd gemors word nie. Hulle verkeer in groot gevaar. Hulle is reeds deur dwaling aangetas, hulle gewete is vrywel diggeskroei. Hulle kan nog gered word, op die nippertjie. Maar dis soos mens met ‘n ystertang ‘n brandende houtblok uit die vuur uitruk. Vir sulkes, spotters, huigelaars, hulle wat reeds in die strikke van dwaalleer is, geld dus nie ‘n sagte geduldige aanpak nie. Maar besliste, onverwylde, ingrypende, radikale aanpak. Ruk hulle uit die vuur voor dit te laat is. Voordat die vuur hulle heeltemal verteer.

En ook die kleed wat deur die sonde bevlek is, moet julle haat. Hierdie is ‘n verwysing na mense wat ‘n aansteeklike siekte gehad het, soos melaatsheid.

As jy hulle klere aantrek, sal jy self ook besmet word. Moenie die suigkrag van die sonde en dwaling onderskat nie. Distansieer jou van hierdie mense, van hulle woorde, van hulle dade.

Tot dusver het ons aandag bestee aan ‘n onegte geloof. Laat ons nou konsentreer op wat ‘n egte geloof is.

(Tema: Bewaar julleself in die liefde van God.

waarskuwing teen onegte geloof)

oproep tot allerheiligste geloof

Dalk is u bietjie bang, en vra jy jouself af: het ek wel ‘n egte geloof? Wat gemaak as dit nou blyk dat ek nie ‘n egte geloof het nie? Kom ons kyk rustig, gemeente, na wat Judas hier skryf. Nadat hy in vers 19 gepraat het oor mense met ‘n onegte geloof, wat die Gees nie het nie, skryf hy:

Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid.

Bewaar julleself in die liefde van God. Dit is naamlik ‘n egte geloof.

Judas se oproep in ons teks het ‘n trinitariese opbou. ‘n Egte gelowige se lewe is gerig op God Drieënig.  Ons bid in die Heilige Gees.Ons verwag die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus. En ons bewaar onsself in die liefde van God die Vader.

‘n Pragtige uitdrukking hierdie: jouself in die liefde van God bewaar. Ook met hierdie oproep staan Judas op die skouers van sy groot Broer se prediking.

Dink aan Johannes 15.

“Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” (vers 9-10)

Ek herinner u ook aan wat ons uit 1 Korinthiërs gelees het. ‘n Pragtige hoofstuk oor die liefde. Die liefde van God. Dit is die liefde wat Judas hier bedoel.

Wie die liefde van God het, en dit uitstraal, het ‘n egte geloof.

‘n Egte geloof is om te leef uit die liefde van God. ‘n Egte geloof is dus nie net om geweldig baie Bybelkennis te hê nie. Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, maar ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. ‘n Egte geloof is nie dat jy alles weet nie, dat jy meer van die Bybel weet as die dominee en alle ouderlinge bymekaar nie. ‘n Egte geloof is ook nie dat jy jou onvermoeid beywer vir kerk en maatskappy, vir siekes en armes.

Al was dit dat ek al my goed uitdeel, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. ‘n Egte geloof is dat die liefde van God in jou lewe kom woon het.

Dat jy lewe vanuit die rus wat die liefde van God bring. Dis die Heilige Gees wat hierdie liefde van God in ons lewe bring. Dit gebeur deur die prediking van die Evangelie. Daardeur kom ons onder die indruk van Christus, wat God gestuur het. Sy lewe, sy lyde en sterwe vir ons, sy opstanding uit die dood. Sy barmhartigheid. Ons kom onder die indruk hiervan. Ons vou ons hande, ons aanbid Hom. Ons gee ons lewe in sy hande. Hy beheer jou lewe. Jy kan nie anders as om sy liefde uit te straal nie. Dit is dus ‘n egte geloof. Om die liefde van God te hê. Om vrede te hê met God, en vrede met jou medemense. Jy hoef jouself nie meer te bewys nie. Jy begin vanuit die liefde. Uit God se liefde vloei alle goeie dinge voort.

Broer, suster, het u daardie egte geloof?

Laat jy jou beheers deur God se liefde? Dit wat die Gees in jou lewe doen, wek dit by jou dankbaarheid op?

Die Here belowe in die Skrif aan hulle wat Hom opreg liefhet, dat Hy hulle sal seën, tot in die duisendste geslag. Wat ‘n belofte! Geloofsoordrag tot in die duisendste geslag! Sedert die begin van die wêreld, sedert Adam en Eva, was daar nog nie eers duisend geslagte nie. Maar God se liefde is dus sterk genoeg daarvoor. Ons is self swak en sondig. God vra dat jy jou ou mens kruisig.

Dat die liefde van God oorneem in jou lewe. Gee jou oor aan sy liefde, aan die krag van sy liefde. Laat ons so instrumente wees van die Heilige Gees.

En ons is dit, as ons 1 Korinthiërs 13 ter harte neem.

Laat ons in die gemeente mekaar ook nie aftrek, of verkleineer, of steeds fout soek nie. Ons het die preek begin met die voorbeeld van ‘n motor sonder olie.

Al het jy ‘n splinternuwe motor, met ‘n kragtige enjin, met die mees verfynde tegniek, sonder olie sal die motor afgeskryf wees.

Die liefde is die olie binne die kerk.

In ons kerk het ons, vergeleke met ander kerke, dalk bogemiddeld baie kennis, en is ons baie aktief, en ook baie georganiseerd. Maar laat ons besef dat dit alles, sonder liefde, is soos ‘n motor sonder olie. As ons onsself nie meer in die liefde van God bewaar nie, kan die kerk binne een generasie sy krag verloor. Dan bly daar nie veel oor nie. Daarom die oproep tot die allerheiligste geloof. Dit is om ter harte te neem wat daar in 1 Korinthiërs 13 oor God se liefde staan. Dit sal jou persoonlike geloof opbou. Dit sal die gemeente ook opbou. Die liefde van God, en om daarin bewaar te word.

Hierdie liefde is lankmoedig, vriendelik, nie jaloers nie, praat nie groot nie, is nie opgeblase nie. Die liefde kwets nie ‘n ander se gevoel nie. Die liefde soek nie sy eie belang nie. Die liefde word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.

Is dit soos ons mekaar behandel?Laat ons dit van die positiewe kant benader.

As dit is hoe ons mekaar behandel, dan hoef ons nie bekommerd te wees oor geloofsoordrag, en die komende geslag nie, en oor werfkrag na buite toe nie.

As u uself in die liefde van God bewaar; as dit jou lewe beheers;

dan is dit aangenaam om lidmaat te wees, om saam kerk van God te wees.

Dan sal die kinders dit ook as aangenaam in die kerk ervaar.

Dan is die atmosfeer in die huisgesin, en in die kerkgesin, goed.

 

Judas skryf nie dat jy volmaak moet wees nie. Maar dat jy elke dag teen jou ou mens sal stry, dit sal kruisig. Dat jy elke dag nagaan of jy uit God se liefde lewe.

1 Korinthiërs 13:4-8 kan mens uitdruk en dit in jou dagboekie plaas, of op jou selfoon se voorblad, of op die yskas plak. Sodat jy elke dag jouself herinner om in God se liefde te bly. Daardie liefde wat lankmoedig is, wat nie jaloers is nie, nie grootpraat nie, nie verbitterd is nie.

Ons mag lewe, met val en weer opstaan, uit God se liefde, elke dag.

En ons mag die ewige lewe verwag - uitsien na Christus se barmhartigheid op die oordeelsdag.

Amen.

Liturgie: 

Oggend:
Votum
Seën
Ps 16:1,3
Wet
Ps 11:3,4,5
Gebed
Skriflesing: 1 Korinthiërs 13
Sb 21:1-3
Skriflesing: Judas 1
Sb 21:4-5
Teks: Judas 1:20-21
Preek
Ps 31:17-19
Gebed
Kollekte
Ps 73:10,11

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata