As die HERE dit wil

Teks: 
Jakobus 4:13-17
Datum: 
2017-09-10
Preek Inhoud: 

Baie van ons se agendas, dagboekies, is al weke, soms maande, vooruit al volbeplan. Deesdae is dit dikwels op ons slimfone, en ons kry betyds waarskuwings wanneer ons afsprake het. Sakemense vlieg die land vol, ja die wêreld vol. Vandag terug uit Amerika, oormôre weer oppad na London. En oor twee weke staan daar ‘n wegbreek, ‘n kort vakansie geboek in Mauritius. Nie net sakemanne is besig nie. Neem byvoorbeeld die boere. ‘n Suksesvolle boer is in beheer van ‘n groot onderneming. Hy moet sy personeel bestuur. Hy moet al sy risikos bestuur. En met al die tegnologie van deesdae kry boere dit reg om megaboere te word, en groot winste binne te bring, ten spyte van die soms genadelose klimaat van ons subkontinent.

Op dieselfde manier bestuur jong ouers hulle gesinne. Pa en ma baie besig, die kinders net so besig met skool en sport en buitemuurse aktiwiteite. Ook die gemiddelde gesin se week, om nie van die naweke te praat nie, is al maande vooruit volgeboek.

Nou aan al hierdie mense, besige toekomsgerigte mense, aan elkeen van u wat hier vandag in die kerk sit, het die apostel Jakobus ‘n boodskap. Jakobus lê al lankal in die graf. Maar deur die Heilige Gees aangevuur het hy hierdie brief geskryf, ook ons teks, met ‘n dringende boodskap vir hulle wat so volop in die lewe staan. Dit is dan ook die tema waarmee ek u vandag, op hierdie Biddag vir Gewas en Arbeid, die Evangelie bring:

Tema: As die HERE dit wil.

 

As die HERE dit wil. Afgekort DV, ‘n vir ons bekende uitdrukking.

DV kom van die Latynse woorde: Deo Volente, wat beteken: as die HERE wil.

Hierdie uitdrukking gebruik ons gereeld in die kerk. Dikwels staan dit op die afkondigings, voorafgaande aan die erediens. DV sal daar hierdie week ‘n kerkraadsvergadering wees. DV sal daar hierdie week mannevereniging wees.

Ensovoorts. DV is ‘n uitdrukking wat ons nie net op Sondae behoort te gebruik nie.  Dit behoort die opskrif te wees bo alle 7 dae van die week.

As die HERE dit wil.

Hierdie uitdrukking kom direk uit die Skrif. So sê Paulus byvoorbeeld in 1 Korinthiërs 16: “ek hoop om ‘n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.” (vers 7) Of in Handelinge 18 sê hy: “ek sal weer na julle terugkom as God wil.” (vers 21) En in ons teks gebruik Jakobus ook hierdie uitdrukking.

Hy skryf: Luister, julle wat sê ...

En vervolgens haal Jakobus mense se woorde, hulle manier van praat aan:

“Vandag of môre sal ons na die en die stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak ...”

In hierdie woorde hoor mens ‘n ongeremde selfvertroue.

Jakobus het hierdie geskryf aan mense van twee duisend jaar gelede. Hulle het in die Romeinse Ryk van toe gelewe. Uit verskillende bronne is dit bekend dat dit toe ook baie gewoon was dat handelaars, sakemense, duisende kilometers afgelê het. Binne en buite die Romeinse Ryk. Net soos Paulus ook baie reise onderneem het. Die paaie was goed, en soos die spreekwoord gesê het: alle paaie het na die groot stad Rome gelei. Die Jode was net so aktief betrokke in die handel. Veral die Sadduseërs, dit is die priesterlike families. Hulle was baie welvarend. In Jerusalem, die stad waar Jakobus gewoon het, het die handel gebloei. So is dit bekend dat byvoorbeeld die hoëpriester Ananias oor ontsettend veel geld beskik het. Hy was ‘n biljoenêr. Hy was hoëpriester van die jare 47 tot 55 na Christus. Jakobus het in die jaar 62 na Christus as martelaar gesterf. Dis duidelik dat Jakobus en die hoëpriester Ananias, hierdie geweldig suksesvolle man in finansiële opsig, dus tydgenote was.

Dit is ook bekend uit bronne dat baie handelare die wêreld rondgereis het met finansiële steun van die Sadduseërs, steeds op soek na nuwe geleenthede en nuwe winste. Die Sadduseërs, wat die ryk bolaag was van die Joodse volk, het dus belange oftewel aandele gehad in al hierdie handelaars se praktyke.

U ken wel die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus. Van die ryk man vertel Lukas dat hy gekleed was in purper en fyn linne. Dit was die duurste klere van daardie tyd. Elkeen wat daardie gelykenis gehoor het, het waarskynlik dadelik gedink aan die priesterlike aristokrate, die Sadduseërs in Jerusalem. Ons weet dat die vervolging wat teen die kerk in Jerusalem uitgebreek het, ook ‘n ekonomiese boikot ingehou het. Daardeur het die gemeente in Jerusalem op ‘n stadium armlastig geword, en moes die apostel Paulus byvoorbeeld die kerke in Griekeland en Klein-Asië aanspoor om hulle geldelik te steun. Maar goed, onder die mense aan wie Jakobus sy brief skryf, was daar dus ook handelaars. Miskien het hulle as Christene nie meer vir die Sadduseërs gewerk nie. Maar hulle het handelaars gebly. Mense wat vooruit dink, wat planne maak, scenario’s opstel, lenings afsluit, beleggings maak.

En onder hulle het die gevaar van ‘n wêreldgelykvormige houding ook begin insluip. Dit is so maklik om te begin lewe asof jy jou eie lewe beheer. Asof God nie ‘n invloed het nie. Mens sou verwag dat die Jode, en die Jode-Christene, wat so ‘n lang geskiedenis met die lewende God gehad het, hierin nugterder sou wees. Maar helaas was dit nie so nie. Self onder die Christene aan wie Jakobus sy brief skryf was daar op hierdie punt wêreldgelykvormigheid.

Julle wat planne maak asof die toekoms al bekend is. Julle wat maak asof die toekoms net so lyk soos dit in julle agenda’s staan. Julle moet ‘n bietjie tot stilstand kom: Julle weet nie eers wat môre sal gebeur nie. Jou lewe is maar net ‘n damp. ‘n Damp wat vir ‘n kort rukkie verskyn, maar sodra die son opkom, verdwyn dit ook weer. Julle, veral as Christene, kan veel eerder sê:

As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Deo Volente.

Jakobus kom hier dus met ‘n alternatief. Hy sê nie: jy mag geen planne maak nie. Jy mag planne maak, maar hy stel ‘n voorwaarde. En dit is vir jou eie beswil. Dink vir ‘n oomblik aan die gedeelte wat ons uit Lukas gelees het.

Jesus maak daar ‘n opmerking waaroor mens moet nadink: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. (Luk 12:15) Jesus bedoel: ook as iemand oorvloed het, het hy nog nie sy eie lewe in sy besit nie. Besef u wat dit beteken? Jou lewe, jou gesondheid, kan nooit vaste besit word nie. Jesus praat hier oor ‘n ryk boer.

Hy het ‘n goeie jaar gehad, baie reën, baie son. Maar van albei ook nie te veel nie. By wyse van spreke: by hom het die oes hoog en welig gestaan. Sy oes was so groot dat daar nie ruimte was om alles te bêre nie. En dan kom hy met ‘n plan, ‘n groot investering. Alle ou skure afbreek en nuwes bou, wat veel groter sal wees. Daarin sal hy dan maklik al sy koring, mielies, al sy vee, al sy gereedskap en trekkers, ensovoorts kan bêre. En dan, as gevolg hiervan, sal sy siel tot rus kom. Hy sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet drink, wees vrolik.” En so het hierdie boer op sy besit vertrou.

Sy siel het hy op die verkeerde fondament gebou.

Die opmerking van Jakobus is dan:

Jy is ‘n damp. Jou lewe in die toekoms kan jy nie net so in skure bêre nie.

Die lewe kan jy nie koop nie. God het besluit dat sy nag aangebreek het.

En Jesus se konklusie: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie. (vers 21)

In Spreuke 27 staan: Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie. (vers 1)

Die mens is soos ‘n misdamp voor die son. Ek kan skielik weg wees. Ek weet nie, hoe my lewe môre gaan lyk nie. Ek moet oppas om nie te groot te praat nie. As Christen behoort ek beter te weet.

‘n Suksesvolle sakeman, ‘n boer, ‘n besige gesin. Ons is ook een van hulle. Maar, gemeente, ons is veral Christene. Hoe behoort my lewe dan te lyk?

Laat ons begin met ‘n opmerking van die wyse Prediker.

Hy skryf in hoofstuk 5 van sy boek:

Kyk, wat ek as ‘n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel ... Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met die vreugde van sy hart. (vers 17-19)

Hierdie is ‘n goeie uitgangspunt. Ons hoef nie bang te wees vir die toekoms nie. Dit is nie Jakobus se bedoeling dat ons as Christene so moet lewe asof daar elke oomblik ‘n ramp kan plaasvind nie. Hy wil dat ons op God vertrou.

Ons mag volop geniet van elke dag. Nie in die sin van: pluk die dag, want môre sterf ons, nie. Maar soos die Prediker skryf: bewus wees van die goeie deel wat God ons skenk. En geen besorgdheid nie, wat God regeer. Jesus sê:

Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad. (Matt 6:34)

En ons Heiland sê: As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! (Luk 12:28)

Laat ons nie bang wees vir die toekoms nie. Want God regeer oor die toekoms!

Dit pas ‘n Christen nie om ‘n menslike selfvertroue in die toekoms te hê nie.

Jakobus spreek ons hieroor streng aan. Moenie vertrou op die gang van sake in die wêreld nie. Op geld, rykdom, kapitaal of gesondheid nie.

Ek kan jare lank vir myself spaar, maar as God anders besluit, dan sal ek daardie geld nie terugsien nie. As Hy dink dat jy jou spaargeld nie nodig het hier op aarde nie, dan gee Hy dit vir ‘n ander. Die toekoms is in sy hande, nie in ons s’n nie. Jy kan allerhande planne hê vir die toekoms, en in hierdie onseker land waarin ons woon, dalk ‘n plan A, en ‘n plan B, en ‘n plan C, en ‘if everything fails ...’ dalk nog ‘n plan D ook.

Ek kan jare lank aangaan, wins maak. Jou besigheid se agenda is volgeboek al vir maande, dalk vir meer as ‘n jaar. Jy kan nou al sê met watter projek jy oor ‘n jaar gaan besig wees. Broer, suster, wat is jou houding in so ‘n toekomsgerigte lewensstyl? Jou dagboekie kan ‘n ongesonde sfeer van selfvertroue asem. Sorg eerder dat voorin jou dagboekie staan: DV, Deo Volente, as die Here dit wil. Vertrou jy op jouself, op jou planne, op jou scenarios, op jou omstandighede? Of vertrou jy op God?

Jakobus dryf ons terug na Christus. As Hy wil, sal ons lewe en dit of dat doen.

As Hy wil, sal ons volgende jaar werk hê en hierdie of daardie projek doen.

As Hy wil, sal ons binnekort met vakansie gaan.

As Hy wil, sal ons dan nog gesond wees.

As Hy wil, sal ons hierdie of daardie eiendom koop.

En by alles ons afvra hoe ons dit in sy diens gaan gebruik. Onsself afvra of ons dit nodig het. Het ons ‘n nuwe eiendom nodig om die Here te dien? Het ek ‘n nuwe motor nodig om die Here te dien? Koop ek nuwe dinge, desnoods met ‘n lening, omdat ek op standaard wil bly vergeleke met die mense om my? Of omdat ek my lewe nie kan geniet, as ek nie omring is deur nuwe dinge nie?

Deo Volente.

Gemeente, dit geld vir alles in die lewe. Dit geld ook vir kinders kry of nie kinders kry nie. En as jy kinders kry, of hulle gesond gebore word, of hulle gesond bly al dan nie. In alles is ons van die Here afhanklik. Daarom hoef ons nie bang te wees nie. Die besef dat God regeer, bring rus. En bewaar ons vir, wat Jakobus noem, grootpratery. Wat bedoel hy eintlik met hierdie woord?

Grootpratery is verkeerde roem. Grootpratery is die produk van arrogante selfvertroue. Arrogante selfvertroue is, as jy dink jy kan die toekoms beheer, jy kan jou eie jaarbeplanning vaslê, terwyl ons eintlik vir elke oomblik van God afhanklik is. Laat eerder vir ons geld, soos Paulus die Korinthiërs oproep: Die wat roem, moet in die Here roem.  (1 Kor 1:31)

Die gevolgtrekking waartoe Jakobus dan in vers 17 kom, lê eintlik voor die hand. Hy sê: wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde. Nou is dit so dat ons as gelowiges weet wat goed is. Ons weet watter houding ons moet hê teenoor die toekoms. Deo Volente, as die Here wil.

En as ons as gelowiges dan desondanks tog ‘n ander houding aanneem, dan is dit nie net vir ons nadelig nie. Dit is trouens nadeling vir elkeen wat nie hierdie gelowige nugterheid het nie. Dis nie net vir ons nadelig nie, maar ook sondig. Dink aan wat Paulus skryf:

As iemand weet wat die wet is, wat God se wil is, en hy doen dit nie, dan sondig hy.

Jakobus benoem hierdie lewensstyl eksplisiet as sondig.

‘n Lewensstyl waarby mens planne maak asof God nie daar is nie.

As jy so lewe, staan jy skuldig. Miskien kan mens nie direk aanwys teen watter een van die tien gebooie jy oortree het nie. Maar so ‘n lewensstyl is tog sondig, want jy hou nie met God rekening nie. Dit maak jou skuldig: as jy met die Here, en wat Hy sê, nie rekening hou nie. Want juis Hy is die een wat alle goeie gawes aan mense gee.

Vir ons as gelowiges pas ‘n ander lewensstyl. Dit het met alles te make.

Jou geloof moet leesbaar wees in jou agenda, in jou dagboekie. En dan bedoel ek nie net dat jy Sondae kerk toe gaan en rus nie. Maar ek dink ook aan die aktiwiteite waaraan jy deelneem deur die week, ook kerklike aktiwiteite. En watter afspraak jy ook in die toekoms maak, dat dit gebeur in afhanklikheid van die Here. Dat jy biddend die toekoms uit God se hand verwag.

Dat ons ook in ons toekomsplanne rekening hou met die diens aan die Here.

Daar kan in die toekoms van alles gebeur. Mooi dinge, maar ook verdrietige dinge. Geliefdes van jou kan wegval. Maar die Here nooit nie. Wat Hy met jou lewe doen, is welgedaan. Alles het ‘n plek in sy plan. Dikwels snap ons dit nie.

Maar dit is wel so. Bou jou lewe op Hom. Of jy ‘n sakeman is, ‘n eie besigheid het, ‘n boer is, onderwyser, huisvrou, wat ook al. Jy mag 101 planne vir die toekoms hê. Maar doen dit in afhanklikheid van Hom. Die Here is ons God, en Hy is eindeloos goed vir ons. Daarom wil ons niks anders bo die toekoms skryf nie as slegs: Deo Volente.

Laat die Here se wil maar geskied. So gaan ons ook die nuwe seisoen tegemoet. Op hierdie biddag bid ons dat sy wil sal geskied.

Ons is dalk bekommerd of daar genoeg reën gaan val.

Ons is dalk nog meer bekommerd oor die politieke rigting wat die land in die komende jaar in gaan beweeg. Of daar tekens van verbetering gaan kom, of dat die verslegtering maar net sal aangaan. Maar elkeen wat op Christus bou en vertrou, weet dat die toekoms hoe dan ook gaan regkom.

Amen.

 

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 17 September 2017 AD, 17:30 (Biddag vir gewas en arbeid)
Votum
Seën
Ps 67:1
Gebed
Skriflesing: Lukas 12:13-21
Ps 123:1,2
Teks: Jakobus 4:13-17
Preek
Ps 125:1-7
Gebed
Geloofsbelydenis
Sb 27:1
Kollekte
Ps 67:2,3
Seën

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata