Die HERE God is lofwaardig

Teks: 
Psalm 68 :20
Datum: 
2017-10-08
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 68:20

Tema: Die HERE God is lofwaardig

1       Hy staan op tot ons redding

2       Hy dra ons dag na dag

1       Hy staan op tot ons redding

In Psalm 68 ontmoet ons die HERE, wat is soos ‘n getergde reus opstaan.

God staan op, en sy vyande word verstrooi. God staan op, sy haters vlug halsoorkop weg. Soos mens rook wegblaas, so verdryf God hulle. Soos was smelt in vuur, so smelt die goddelose weg, net by die sien van God se aangesig, sy almag, sy heiligheid. Alle konings van die aarde begin te bewe, as God aktief word. Hulle slaan by voorbaat al op die vlug. As God opstaan. Dan is dit genoeg gewees. Dit is tyd om sake op orde te stel. Nou sal dit verby wees met alle vyande, wat die wat gehoorsaam wil lewe, benou.

Dawid, die digter van hierdie psalm, vergelyk God met ‘n magtige koning wat opstaan. En wat nie net in sy eie land nie, maar orals sake op orde stel. ‘n Groot veldheer, ‘n grootmoëndheid. Natuurlik gaan elke vergelyking mank.

God styg ver hierbo uit. Die HERE is nie net ‘n grootmoëndheid nie, wat self ook foute kan begaan nie. Hy is die almagtige God, wat volkome regverdig en wys is in al sy optrede. Sy optrede hou dus ook in dat Hy van tyd tot tyd opstaan om sy vyande te verstrooi. Om die goddeloses soos was te laat wegsmelt.

Wat is God se doel hiermee? God is nie net soos ‘n reus wat getreiter is nie.

Hy is, soos daar in vers 6 staan: ‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees. Hy is die een, wat aan gevangenes vryheid skenk. Hy is dit, wat eensames ‘n huisgesin skenk om in te woon. Daarom staan God op. Hy duld onreg nie vir ewig nie. Hy gedoog nie dat sterkes en brutales ongestraf kan voortgaan nie. God staan op, dit wil sê, Hy trek ten stryde.

En as God opstaan, hou almal hulle asem op. Tog slaan nie almal op die vlug nie. Die opregtes is juis bly! Want nou kom daar uiteindelik weer leefruimte.

Nou kan juis hulle opgelug asemhaal. Vers 4: die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap. Hulle sing die Veldheer toe: HERE is sy Naam! (vers 5)

HERE, dit is die Verbondsgod. Wat Hom aan hulle, een van die geringste volke, verbind het. Ja Hy is aan die kant van elkeen wat nederig en sagmoedig is. Wat in gehoorsaamheid aan sy wil in vrede met sy naaste wil lewe. Die regverdiges sing: vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry. Dit herinner aan ‘n oud-oosterse veldheer met sy oorlogsperde en waens wat deur die woestynvlaktes jaag, om die vyand te agtervolg. Vandag sou mens kan dink aan ‘n politieke grootmoëndheid met sy vliegtuie en vliegdekskepe wat opruk oor die oseaan, op pad om hulle missie uit te voer.

Dawid beskryf baie aanskoulik wat alles gebeur. Wat die uitwerking is as God aktief raak, toe Hy opstaan, toe Hy dit opgeneem het vir sy volk. O God, sing Hy, toe U voor u volk uitgetrek het, het die aarde gebewe (vers 9). Elkeen het besef wat nou gaan gebeur. Elkeen, vriend en vyand, het besef hulle sal moet ligloop. Die vyand het die bewing van die aarde gevoel en geweet: vir hierdie God is ons nêrens veilig nie. Hierdie God wat selfs die aarde kan laat bewe. Selfs al sou ons ons skuilhou in die diepste grotte.

Ook daar is ons nie veilig nie.

Dawid sing nie net oor ‘n aardbewing wat God veroorsaak nie. Hy sing ook van ‘n milde reën. Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God ... (vers 9)

Met ‘n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei ... (vers 10) Hierdie is baie spesiaal, wat die psalm ons hier laat sien. Aan die een kant sien ons dat die aarde bewe, ‘n doodstyding vir die vyande. Aan die ander kant sien ons dinge waarby God se volk juis baat vind. Aan die een kant skakel God die natuur in teen die vyand – aardbewings. Aan die ander kant ten gunste van sy kinders.

Ons kan ook terugdink aan die geskiedenis van God se volk in die woestyntyd.

Toe hulle uit Egipte gevlug het en deur die woestyn getrek het. Dawid verwys self ook na hierdie voorbeeld. Pragtig sien ons in hierdie geskiedenis die natuurkragte wat deur die Skepper geaktiveer word. Aan die een kant om die vyande, dit was toe Farao en sy leërs, te laat verdrink in die see. Dink ook aan die tien plae in Egipte. God het die skepping laat meewerk om Israel te bevry.

Dit aan die een kant. Die natuur het die Egiptiese onderdrukkers teengewerk.

Aan die ander kant het die natuur opgekom vir die volk van God. Die aarde het God se kinders – die beeld wat Openbaring 12 gebruik – die vrou te hulp gekom. Sodat God se volk kon ontsnap. Dink aan die gebaande pad deur die see. Dink ook aan hoe die HERE sy volk in die woestyn onderhou het deur manna te laat reën. Dis wat Dawid bedoel as hy in vers 10 sing: met ‘n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei.

Indrukwekkend hoe die Skepper, die almagtige God, dit opneem vir die nederige en sagmoedige. Sy geplaagde volk in Egipte. Ja Hy het opgestaan.

Hierdie woorde waarmee die psalm begin – God staan op – herinner aan wat Moses destyds in die woestyn telkens gesê het, as die ark afgeslaan is om verder te trek.

Sien Numeri 10:35: “Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug.”

Die geskiedenis het dit ook geleer. God het opgestaan. Daarvan sing Dawid nou. Nie net tydens die onderdrukking in Egipte het Hy te hulp gekom nie.

Maar ook nou, in Dawid se eie dae. As daar iemand was wat kon getuig oor hoe God sy nietige volkie beskerm het teen die vyande, dan was dit wel Dawid.

Dawid wat meegemaak het hoe God uiteindelik die heidene weggejaag het.

Dink aan die wonderbaarlike oorwinning oor die Filistyne, toe Dawid nog jonk was, toe hy teen alle verwagting in die reus Goliat verslaan het. Dawid het in sy lewe gesien hoe die HERE God opgestaan het, hoe Hy sy volk beskerm het, en hoe God vir sy ark ‘n vaste plek gekies het in die midde van hierdie volk, in Jerusalem.

(Tema: Die HERE God is lofwaardig

1         Hy staan op tot ons redding)

2       Hy dra ons dag na dag

Daarom jubel Dawid: Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons. God is ons heil! Hierdie woorde van ons teks vorm die begin van die tweede deel van die psalm. In die eerste deel, verse 1-19, het Dawid in aanskoulike terme beskryf hoe God opstaan. En alle gevolgde van dien. Alleen al die feit dat Hy in aksie gekom het, het elkeen laat sidder. Die gerugte oor sy koms het die vyand al laat wegsmelt. Net die berig oor hoeveel strydwaens God gehad het, sien vers 18: duisend maal duisende, dit het die vyand laat ineenkrimp. Oor die eintlike oorlogvoering word in hierdie psalm weinig genoem. Miskien was dit al nie meer nodig nie. Die vyand het vanself weggesmelt. Al wat die Veldheer hoef te gedoen het was om die krygsgevangenes mee te voer.

Vers 19 beskryf ‘n triomftog. Die veldheer keer terug na sy stad. Dis wat bedoel word met die woorde: U het opgekom na die hoogte. ‘n Stad het in die oudheid altyd hoog op ‘n berg gelê. En agter hom aan het die enorme stoet krygsgevangenes gevolg. Die vyand wat die land onveilig gemaak het. Maar nou was dit verby, gelukkig maar. Nou kon God se volk, die weduwees en wese, weer ‘n geruste en stil lewe lei. Onder ‘n owerheid wat die groot Veldheer, God almagtig, vrees, en nougeset sy wette uitvoer.

Daarom: Geloofd sy die HERE! (vers 20) Hierdie God is vir ons ‘n God van bevryding. Hy het die bedreiging van die dood weggeneem.

Ons kan opgelug asemhaal.

Ons het hier in Suid-Afrika tans ‘n kultuur waar misdadigers aktief kan wees, sonder vrees vir vervolging. En die wetsgehoorsame mense moet hulleself toesluit agter hoë hekke. Die bedreiging van die dood is om ons. Met ‘n korrupte regering word die verleiding al hoe groter vir wetsgehoorsame mense om self ook korrup te word. Maar dis ‘n bemoediging dat God uit die hemel alles sien. Hy hou die kriminele dop. Vers 22 is vir die getroues ‘n bemoeidiging: God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.

Hierdie is nie die uitspraak van ‘n wrede God nie. Dit is die uitspraak van ‘n God wat baie lank, te lank vir ons gevoel, geduld gehad het. Wat ondertussen gesien het dat vyande, oortreders van sy regsorde, chaos op aarde aangerig het. Mense is sinloos vermoor. Weduwees en wese is uitgebuit. En uiteindelik sê Hy dan: nou is dit genoeg gewees.

Weg met hulle wat die regsorde omverwerp en so baie ander van die lewe beroof het. Geloofd sy die Here! Wat orde en rus op aarde herstel.

Vers 20, ons teks, is ‘n pragtige boodskap. Dit is ‘n belydenis wat mens by sleuteloomblikke in jou lewe kan uitroep. Geloofd sy die HERE! Dag na dag dra Hy ons! Mens sing dit by die geboorte en doop van ‘n kindjie. Mens sing dit by die doen van geloofsbelydenis. Mens sing dit op jou troudag. Mens kan dit selfs sing by die afsterwe van ‘n geliefde. Die Skepper van hemel en aarde, wat die aarde kan laat bewe, wat reën gee op sy bevel, hierdie groot God dra ook vir jou! Jy is ‘n onderdeel van die kosmiese geheel, die asemrowende skepping, natuur, berge, oseane, wolke, son, maan, plenete, sterre. Jy is maar ‘n klein stippie. Maar jy weet dat hierdie oneindige groot God jou Verbondsgod is.

Hy dra jou. Hy het jou lief. Hy lei jou lewe met sy hand. Dawid sing: God is vir ons ‘n God van verlossinge. Sy Woord is ‘n lig op jou lewenspad. Die Bybel openbaar ons nie ‘n verre God nie. Die Bybel is nie die woorde van mense wat spekuleer oor ‘n god nie. Die Bybel openbaar die lewende God, ‘n hemelse Vader. Hy is ‘n God van verlossinge. Hy wil dat jy lewe, dat jy uitgered word.

God het sy Seun gestuur, om die grootste krimineel, die satan, te verslaan.

Christus het dit gedoen. Hy was suksesvol. Voor Hom het die vyand gesidder.

Hy het teruggekom met die buit. Hy het omhooggevaar vol eer. En vanaf sy hemelse troon deel Hy nou die buit, sy gawes: Sy Heilige Gees, die kerk, vergewing van sondes, oorwinning oor die dood, ewige lewe!

Ja in Christus is hierdie psalm vervul. En Christus se Woord skep perspektief in ‘n chaotiese, in ‘n onregverdige wêreld. Die doopouers mag hulle nuwe kind, soos hy opgroei, bekend maak met hierdie perspektief.

Christus regeer, daarom is ons stryd vir die goeie op aarde nie hopeloos nie.

Die doopouers  het belowe om hulle kind op te voed en te laat opvoed in die Bybel. Sodat hy ook met die perspektief kan lewe, dat Christus regeer.

Ons lewe in ‘n gebroke wêreld. Ook ons as kerkmense is gebroke mense. Die satan val ons aan, nie net by wyse van kriminele wat uit is op ons besittings nie. Daar is nog gariffineerder en gevaarliker wyses waarop hy ons aanval.

Maar met die doop het God gewys dat hierdie kind aan hom behoort. Hy sal die ouers ook dra, sodat hulle hom kan dra. Ja Hy sal hom ook dra. Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons. Dit is ons enigste troos in lewe en sterwe.

Ook as ons dalk bekommerd onsself afvra: Watter toekoms is daar vir ons?

Watter toekoms is daar vir hierdie baba wat aan die begin van sy lewe staan?

Saam mag ons op God hoop. In sy voorsienigheid staan die aarde vas. Hoeveel ellende mense mekaar en die skepping ook aandoen. Ons mag in vertroue opkyk. Dag na dag dra Hy ons. Hy is ‘n God van verlossinge!

Ons is tans in die hervormingsmaand. Oktober, 500 jaar gelede, het Martin Luther die Reformasie laat begin, met die 95 stellings wat hy opgestel het.

Hy het dit toe nie besef nie, maar God het dit so gelei. Die Reformasie het terugkeer gebring na God se Woord. Die Reformasie het egter nie rus en vrede gebring nie. In baie gevalle het die Reformasie groot benouenis gebring vir hulle wat na God se Woord wou terugkeer, in leer en lewe. Dink maar net aan die Hugenote in Frankryk, en hoe hulle vervolg is vir hulle geloof. Psalm 68 staan sedertdien ook wel bekend as die Hugenotepsalm. Kan u uself voorstel dat die Hugenote hierdie psalm gesing het vanuit die dieptes van hulle hart?

Die Franse Protestante wat in hulle eie land bedreig en vervolg is? Wat soms by massas om die lewe gebring is? Dat hulle God gesmeek het om tog op te staan om hulle te bevry? Dink aan die Bartholomeüsnag, in 1572, waar daar in een nag omtrent tien duisend Hugenote in Parys vermoor is. By die aanhoor van hierdie berig was daar gejuig in Rome. En die pous was so in sy skik, dat hy ‘n spesiale penning laat slaan het. In die weke daarna is daar nog sewentig duisend Hugenote regoor Frankryk vermoor. Kan u uself voorstel, dat die Hugenote gesmeek het: O God, staan tog op!

Verstrooi u vyande, voordat daar niks meer van ons oorbly nie!

Die geskiedenis leer ons dat God opgestaan het. God het hierdie Franse gelowiges, die Hugenote, bygestaan, orals waarheen hulle gevlug het. By die herdenking van die Reformasie, laat ons dan ook almal herdenk wat hulle lewe opgeoffer het vir die hervorming van die kerk. Soos die ou spreekwoord sê: die bloed van die martelare is die saad van die kerk.

Hierdie vlugtelinge het die kerk verryk en versterk orals waar hulle gekom het. Ons voel ons verbonde met hierdie voorgeslagte as ons Psalm 68 sing.

Saam met hulle, wat nou al opgeneem is in heerlikheid, sing die kerk wat nou nog stry op aarde, vanuit die bodem van ons hart hierdie lied.

Ons is maar swak mense, self ook sondig, ons is so dikwels in die minderheid.

Maar ons het ‘n sterk God. Geloofd sy sy Naam!

Dag na dag dra Hy ons. Hy is ons heil.

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 68:1,2
Wet
Ps 119:31,32
Gebed
Doopsformulier
Doop: Christiaan van den Berg
Ps 105:5
Skriflesing: Psalm 68
Ps 68:6,7,8
Teks: Psalm 68:20
Preek
Ps 68:9,10,12
Gebed
Kollekte
Ps 68:14,16
Seën

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata