Die Woord het vlees geword

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-12-10
Teks: 
Johannes 1 : 14-18
Preek Inhoud: 

Preek:  Joh 1 : 14-18

Sê nou maar jy het geleef in die tyd toe Jesus gebore is. Sou jy die berig van sy geboorte geglo het? Sê nou maar – by wyse van spreke – daar sou in die koerant staan: ’n paar dae gelede is daar in Betlehem ’n kind gebore,

waarvan gesê word dat dit nie ’n pa het nie. Hulle sê ook dat ’n engel aan die ma verskyn het en aan haar gesê het dat die kind reguit van God afkomstig is. In die berig staan ook dat wyse mense uit die Ooste, kenners van die sterre, onverwags in Jerusalem aangekom het, dat hulle Herodes se paleis besoek het, en volgens ingeligte bonne het dit groot konsternasie in die paleis veroorsaak. Dit het ook alle Skrifgeleerdes in verwarring gebring.

Verder staan daar in die koerantberig dat herders uit die omgewing van Betlehem ’n verskyning van duisende engele gesien het wat hulle toegesing het, en wat hulle vertel het oor die geboorte van die kindjie. Tot slot staan daar in die berig dat hierdie jong vrou, Maria, konneksies het met ’n ou vrou, genaamd Elisabet, wat op baie hoë ouderdom onlangs ’n kind gekry het. En ook aan die pa van hierdie kind, Sagaria, het daar skynbaar ’n engel verskyn. Sou jy hierdie koerantberig glo?

Ek dink dat ons dit almal met die nodige verbasing sou lees, om dalk daarna die koerant weer neer te lê en oor te gaan op die orde van die dag. So is dit nou eenmaal. Sterk verhale maak indruk. Maar dit duur meestal net kort, en dan eb dit weer weg. Ons sal vanself wel agterkom of dit waar is – dink ons dan. In hierdie preek gaan ons sien dat God in sy raadsplan goed daarvoor gesorg het, dat hierdie geweldige nuus nie sommer in die vergetelheid sou raak nie.

Tema: Die Woord het vlees geword

1 Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord

2 Die heerlikheid van die Woord

1 Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord

In ons teks noem Johannes die Here Jesus Christus die Woord. Jesus personifiseer die Woord van God. Jesus is die Woord van die hemelse Vader in eie persoon, wat na die aarde gekom het. As jy na Jesus luister, hoor jy God se eie stem. Ek het nounet gevra: Sou jy die koerantberig glo?

Is daar iemand wat nie die koerant sou neerlê, om oor te gaan op die orde van die dag nie? Ek dink dat dit daarvan afhang hoe die berig presies lyk.

Staan die berig byvoorbeeld met vet letters op die eerste bladsy van die koerant? Of is dit maar ’n klein beriggie, in klein letters, êrens tussen al die ander berigte en sensasie wat die koerant gewoonlik bevat? Kom ons vergelyk dit vir ’n oomblik met ’n ander groot berig.

Ek weet nie of u nog onthou nie, maar toe die terroriste aanslag op New York op 11 Sept 2001 plaasvind, was baie mense se eerste reaksie die van ongeloof. Hulle kon nie hulle oë glo toe hulle op die televisie ’n vliegtuig in die gebou sien vasvlieg nie. Dit het eerder soos ’n film gelyk, ’n animasie, maar nie iets wat regtig kon gebeur nie. Maar soos die berigte bly binnekom het, die een na die ander, kon mens nie meer daar onder uit kom nie. Veral as dit betroubare en onafhanklike nuusmakers is wat dieselfde nuus aandra.

Maar hoe was dit eintlik met die geboorte van Jesus? Dat daar spektakulêre berigte was, dis wel duidelik. Berigte oor engeleverskynings. ’n Vrou wat dalk al 80 jaar oud is, kry ‘n kind. Geleerdes uit die Ooste wat gelei word deur ’n ster om die nuwe koning eer te bewys. Hoe is dit moontlik? Dit is spektakulêre berigte, seker. Maar sou jy dit geglo het? Ek dink die gemiddelde Jood het homself afgevra: Wat dink ons leiers eintlik hiervan?

Neem hulle die berigte oor?

Die priesters, die Skrifgeleerdes, die Fariseërs, die Sadduseërs? Of gaan hulle maar weer oor op die orde van die dag? U weet hoe dit gegaan het, gemeente. Eintlik het almal weer aangegaan met hulle lewe.

Jesus en sy ouers het besoek ontvang – sover ons weet – slegs van die wyse manne uit die Ooste, en van die herders. Hulle was die enigstes wat die berig ernstig geneem het. En ook Herodes. Moontlik omdat hy ’n man was wat las gehad het van ’n agtervolgingswaansin. Hy het die sekere vir die onsekere geneem en sommer alle jong kinders van Betlehem vermoor.

Hierdie geweldige nuus – dat die Woord mens geword het! – was dus oënskynlik net ’n kort lewe beskore. Oënskynlik, sê ek, want tog het dit anders gegaan. Ek het nounet genoem dat God in sy raadsplan gesorg het dat hierdie nuus nie te gou verouder het nie. Dat die nuus nie in die doofpot beland het nie. En in hierdie verband moet dan veral gewys word op Johannes die Doper.

Ons teks noem hom. Eintlik weet ons baie min van Johannes die Doper. Dit is aan die een kant ook logies. Sy eie woorde het wat dit betref presies uitgekom.

“Hy moet meer word, maar ek minder.” (Joh 3:30)

My doel is slegs om Hom aan te kondig. Ek roep voor Hom uit: berei die weg vir die Messias! So was dit God se raadsplan met Johannes die Doper.

Mens sou kon sê dat Johannes die Doper die voorligting, die PR, gedoen het, ter voorbereiding op die koms van die Messias. En dit het alreeds voor die geboorte begin. Die feit dat Elisabet swanger was, het baie aandag getrek.

Wat sou hier aan die hand wees? het die mens hulle afgevra. Hier is ongetwyfeld iets wonderliks besig om te gebeur. Dink ook aan Sagaria, wat skielik nie meer kon praat nie. Die wonderlikbaarlike geboorte van Johannes uit bejaarde mense, dit was ’n voorspel op die wonder wat sou plaasvind in Betlehem. En so het Johannes die Doper opgegroei, onder die besef dat hy die herout van die Messias is. En so het sy prediking onder die Jode begin. Sy prediking kan mens saamvat met die woorde:

Bekeer u, want die koninkryk van die hemele het naby gekom!

Laat u doop, as teken dat u die sondige lewe agter u laat. Soos ek gesê het, vergeleke by Jesus weet ons maar baie min van Johannes die Doper.

Tog wil ek daarop wys dat Johannes glad nie ’n onbelangrike, onopvallende persoon was nie. Op ’n stadium het Jesus oor hom gesê:

“Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie” (Joh 7:28).

En in Lukas 7 sê Jesus: Wie was Johannes? “'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet!” (Lukas 7:26)

Hierdie opmerking van Jesus was nie ’n woord te veel nie. Johannes die Doper was inderdaad ’n beroemde man in sy dae. Deur die volk is hy op een lyn gestel met Elia en Elisa, met Jesaja en Jeremia. Die volk het hoë agting vir hom gehad. Uiteindelik – het hulle opgelug gesê – is daar weer ’n profeet soos van ouds in ons midde!

Gelukkig, God het ons dus nog nie verlaat nie!  Ja Johannes die Doper was baie beroemd by die volk. Dit blyk uit verskeie plekke in die Nuwe Testament. Dink byvoorbeeld aan die Joodse leiers en die Fariseërs wat nie ’n verkeerde woord oor hom durf te gesê het nie, en dit uit vrees vir die volk. Al met al kan mens dus sê:

Johannes die Doper was inderdaad die herout, die voorligter vir Jesus.

So het God dit in sy raadsplan bereken. Jesus kon moeilik deur ’n kragtiger en meer agbare persoon aan die volk voorgestel gewees het nie. Eers deur Johannes die Doper se prediking. Die aankondiging dat die koms van die Messias nou baie naby is! En vervolgens deur sy doop.

Duisende mense het op hom toegesak, daar by die Jordaanrivier waar hy gedoop het. En ten slotte deur die feit dat hy die Messias self mog aanwys.

Die dag toe Jesus ook na Johannes gekom het om gedoop te word. En so wys ons teks dus op die belangrike rol wat Johannes die Doper gespeel het.

Johannes het van die Messias getuig, en het geroep:

DIT IS HY VAN WIE EK GESê HET: HY WAT Ná MY KOM, HET VOOR MY GEWORD, WANT HY WAS EERDER AS EK.

Soos ek al na verwys het: die amptlike media wou die vleeswording van die Woord nie erken nie. Maar God het daarvoor gesorg dat die nuus nie in die doofpot verdwyn het nie. Hy het Johannes die Doper laat opstaan as profeet, die grootste profeet van die Ou Testament, die herout van die Messias!

(Tema: Die Woord het vlees geword

1 Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord)

2 Die heerlikheid van die Woord

Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon en ons het sy heerlikheid aanskou. Dit skryf die evangelis. Ons het sy heerlikheid aanskou. Ons, sê hy, dws, hierdie is ’n ooggetuieverslag.

Dit is nie die verslag van iemand wat ooit ’n beriggie in ’n koerant gelees het nie, iemand wat ooit iets via via oor Jesus gehoor het nie. Johannes was een uit daardie generasie wat Jesus met sy eie oë aanskou het. En dan praat ons nou nie meer oor Johannes die Doper nie, maar oor Johannes die evangelis. Ja, want hiervoor het God ons Vader ook in sy raadsplan gesorg.

HEEL Israel het sy heerlikheid te sien gekry! Ons weet dit uit die Evangelie.

Jesus het heel Israel besoek. Hy het orals gepreek in die sinagoges. Alle dorpe het Hy besoek. Hy het sy dissipels uitgestuur na alle uithoeke van die land om die goeie nuus bekend te maak. Waar Hy gekom het, het Hy wonders verrig. Ja, sê Johannes, ons het sy HEERLIKHEID aanskou. Daar was niemand uit God se volk in daardie generasie wat kon beweer: ek het nie sy heerlikheid aanskou nie. En so Johannes self ook!

Johannes, die broer van Jakobus, die seun van Sebedeüs. Johannes, wat persoonlik deur Jesus geroep is, toe hy met sy pa besig was aan die oewer van die meer van Galilea, met hulle vissersbedryf. Johannes het oog- en oorgetuie geword van so baie wonders. Dit het begin met die bruilof te Kana. Daar het Christus al sy HEERLIKHEID getoon. Nuwe wyn, die beste wyn. Oog- en oorgetuie was Johannes ook van die boodskap dat Christus moes sterf. En dat Hy sou opstaan uit die dood. ’n Boodskap wat hulle vir ’n lang tyd nie verstaan het nie. Totdat hulle met die neus op die feite gedruk is. Johannes het self as een van die eerste ooggetuies die leë graf gesien.

Dink aan die laaste hoofstukke uit hierdie Evangelie, waar Johannes skryf:

“Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het [hy bedoel hier homself], ingegaan, en hy het gesien en geglo.” (Joh 20:8)

Verstaan u hoekom Johannes hier in die inleiding op sy Evangelie skryf:

“ons het sy heerlikheid aanskou”?

En hierdie heerlikheid vat Johannes dan saam in twee kernwoorde: ’n heerlikheid vol van genade en waarheid. Hoekom kies Johannes eintlik juis hierdie twee woorde? Genade en waarheid?

Gemeente, hierdie twee woorde is eintlik twee ‘container’-begrippe.

Hulle probeer kortliks heel die heerlike feit van Christus se koms na die aarde te omskryf.

Die volle genade en waarheid van die Vader is sigbaar in Hom.

Mens kan hierdie twee woorde goed vergelyk met ’n woordepaar wat in die Ou Testament veral vir God gebruik word, nl: God se goedertierenheid en trou. God is groot aan, Hy is vol van goedertierenheid en trou. Genade en goedertierenheid is sinoniem. Trou en waarheid is sinoniem.

In die woord genade, oftewel goedertierenheid, spreek die hele boodskap van Kersfees. God is bekommerd oor die mense. Hy kies om dit vir ons op te neem. Mense wat so verstrik is in die sonde. En die woord waarheid, dit is sinoniem aan trou. Verbondstrou.

God hou Hom aan sy Woord. Wat Hy sê, is betroubaar.

God – en dit geld dus ook vir sy Seun – is vol van genade en waarheid.

Soos ons sing in die psalms:

“Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou” (Ps 25:10)

En: “u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke” (Ps 36:6)

God se goedertierenheid en trou, oftewel sy genade en waarheid, is met ons. Waarheid dus nie soseer in logiese sin nie, of iets waar of vals is, dit ook natuurlik. Maar nog meer, bedoelende: dat jy ’n suiwer verhouding het met jou vriend. Die woordjie waarheid oftewel trou speel ’n belangrike rol in die beskrywing van die vriendskap tussen Dawid en Jonatan (1 Samuël 20). En so was Jesus dus ook. ’n Vriend wat betroubaar is.

Daarin sien ons die heerlikheid van ons Heiland. Hy het sy mense opgesoek, in skuld verlore. Hoewel hulle Hom nie erken het nie, het Hy die band nie verbreek nie. In sy verbondstrou was Hy ons genadig. Heel sy lewe was ’n sprekende voorbeeld daarvan. Ons het sy heerlikheid aanskou, sê Johannes.

Sy goedertierenheid en trou, oftewel, sy genade en waarheid.

Dink aan sy heerlike woorde, sy prediking in die sinagoges. Elkeen was dit daaroor eens: Sulke dinge het ons nog nooit gehoor nie!

Dink aan sy heerlike dade: Sy goedheid en trou aan Jaïrus en sy dogtertjie.

Sy luisterende oor vir die hoofman van Kapernaüm.

Sy ontferming oor die weduwe van Naïn en haar seun.

Heerlik was sy dade. Ja ons het sy heerlikheid gesien, sê, eintlik, sing Johannes. Dink aan die opwekking van Lasarus – Johannes 11.

En verder en verder en verder.

Geen wonder dat Johannes sy Evangelie begin met so ’n duidelike uitspraak:

Hierdie Messias, deur Johannes die Doper aangekondig, is niemand minder as God self nie. In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God. Dit is ’n baie pretensieuse begin, maar dis presies die waarheid. Dit gaan oor niemand minder as die Eniggeborene van die Vader.

Niemand het ooit God gesien nie. Die eniggebore Seun, wat in die boesem van die Vader is, het Hom aan ons openbaar. Alle snare van die Johannesevangelie begin hier al te tril. Alle registers, alle majesteitlike akkoorde. En daarom, gemeente,

As u van my ’n presiese antwoord wil hê, wat hierdie woorde presies beteken – die woorde genade en waarheid – dan kan ek dit nie in een sin verduidelik nie. Die enigste wat ek kan doen, is om u aan te raai:

Lees die hele Johannesevangelie deur. Dan kom jy dit vanself agter.

Wat die genade van Jesus inhou.

En wat sy waarheid inhou.

Pilatus het nog gevra: wat is waarheid? Jesus het dit gedemonstreer.

Waarheid is verbondstrou. Sy volgehoue liefde en opoffering. En wat Hy bereik het. Immers uit sy volheid het ons almal ontvang selfs genade op genade. Wat ’n heerlike berig. Die Woord het vlees geword, en het onder ons gewoon. Ons het sy heerlikheid aanskou.

Soos ek gesê het, geen profeet was so groot soos Johannes die Doper nie.

Maar by die heerlikheid van Jesus verdwyn Johannes die Doper in die niet.

Ja soos Johannes gesê het: Sy skoenriem is ek nie eers werd om los te maak nie. Geen wonder dat hy dit gesê het. Elke mens sou dit sê, by die besef dat hierdie Jesus afkomstig is uit die boesem van die Vader. Ja dit was Jesus se heerlikheid by uitstek! God se eie heerlikheid op aarde.

Soos Hy later self sou sê:

“Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Joh 6:38)

Ek soek nie my wil nie, maar “die wil van die Vader wat My gestuur het.” (Joh 5:30)

“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34)

Dit was Jesus se heerlikheid. Dat Hy Woord van God, ja self God is. Hierin het Hy uitgestyg bo die wet van Moses – sien vers 17. Onder die wet van Moses moet u nie net die 10 gebooie verstaan nie, maar die eerste vyf boeke van die Bybel, eintlik die hele Ou Testament. Omdat al die boeke van die Ou Testament op die fondament van die Tora staan. Die Ou Testament was ’n heerlike bundel, waaruit sondige mense hulle Skepper en God kon leer ken. Maar Christus, die persoonlike Woord van God, styg ver daarbo uit. Sy verskyning is veel heerliker. In Christus leer sondige mense God persoonlik ken. My Here en my God, soos Thomas later sou uitroep!

(Joh 20:28)

 

Geliefde gemeente, broer, suster,

Glo u dit? Glo jy dit? Soos ek aan die begin van die preek genoem het:

Dit was aanvanklik moeilik om die berigte van 11 September (nine eleven) te glo. Maar hoe meer die berigte aangeswel het, hoe geloofwaardiger het hulle geword.

Nog veel meer kan ons dit sê oor die berig waaroor Kersfees gaan. Die berig van die engele: Vandag is vir julle die Saligmaker gebore, in die stad van Dawid, wat Christus, die Here is.

Hierdie berig het al hoe luider geword, ’n engelekoor.

Hierdie berig is bevestig deur Johannes die Doper.

Hierdie berig het waarheid geword in Jesus self, in sy prediking, in sy wonders.

Hierdie berig is vervul met sy kruisdood, en sy opstanding.

Hierdie berig het al hoe luider geword.

Deur die eeue heen. Tot in die 21e eeu.

Hierdie berig kan niemand meer in die doofpot stop nie.

En ons gaan dit vier. God sy dank, want die Woord het vlees geword!

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 2:1,2

Wet

Ps 119:9,10

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-18

Sb 3:1

Skriflesing: Mattheüs 1:18-25

Sb 3:2

Teks: Johannes 1:14-18

Preek

Sb 5:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 148:1,2,5

Seën