Die waarde van die opstanding van Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-06-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 17
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 17

Sê nou maar u kry vanaand, as u by die huis kom, die berig: Die kernkragsentrale by Koeberg, Kaapstad, het gesmelt, en radio-aktiewe straling is besig om oor die land te versprei. Verlaat die land, so gou moontlik. Vlug so ver moontlik na die noorde. Oor ‘n dag sal die strale in Gauteng aankom. Hoe langer jy wag, hoe kleiner jou kans om nog weg te kan kom. Alle vliegtuie sal oorvol wees, verkeer op die paaie na die noorde sal muurvas staan. Hoe gouer jy wegkom, hoe beter. Wat sal jy saamvat? Wat is vir jou so waardevol dat jy die tyd sal neem om dit in te pak? Natuurlik jou kinders, jou eggenoot, jou pa en ma, jou kleinkinders. En dan verder? Jou beursie? Jou selfoon? Jou sierade?

Sal jy dit waag om nog kontant te gaan trek by die ATM?

Gemeente, hoekom ek hierdie vertel, is omdat ons vanaand kyk na dit wat die waardevolste in jou lewe is. Sondag 17 vra ‘n indringende vraag: Wat is vir jou, wat is vir ons, die waarde van die opstanding van Christus? Teenwoordig word aan amper alles ‘n finansiële waarde toegeken. Selfs aan menselewens.

Dink aan dinge soos lewensversekering. Watter geldbedrag staan teenoor die verlies van ‘n lewe? Elke normale mens weet dat geen enkele geldbedrag daarteenoor geplaas kan word nie. As jy van iemand hou, wil jy hom of haar nie mis nie, ook al word al die geld van die wêreld vir jou aangebied.

En dan dus die vraag:

Wat is die opstanding van Christus vir jou werd?

Is jou geloof in die opstanding van Christus ononderhandelbaar? As iemand jou ontsettend baie geld aanbied, soveel dat jy in die grootste luukse kan lewe, en nog ‘n fortuin vir jou nageslag nalaat, sal jy jou geloof in Christus daarvoor verkwansel? Dit is eintlik glad nie so ‘n snaakse vraag nie. Hierdie vraag kom daagliks op ons geloofsgenote af in lande in die Midde-Ooste. Via die organisasie Open Doors, wat hulle beywer vir vervolgde Christene, het ek die verhaal gehoor van ‘n jongman uit die Midde-Ooste. Hy het voor die keuse gestaan. As hy sy geloof in Christus vaarwel sê, sal dit vir hom die deure oopmaak, byvoorbeeld om te kan studeer, om ‘n goed betaalde werk te kry, ‘n loopbaan, ensovoorts. As hy sou vashou aan sy geloof in Christus, sal hy egter ontslaan word, geen inkomste meer hê nie, en tweedens ook deur sy moslimfamilie verstoot word. Hy sal ‘n lewe van diskriminasie in die gesig staar, orals waar hy kom. Elke dag worstel ons geloofsgenote in lande soos Sudan, Saoudi-Arabië, Sirië, Iran en noem maar op met die vraag:  Sal ek dit volhou? Sal ek vashou aan my geloof in Christus? Of kies ek die makliker pad?

Kies ek om te assimileer?

Hoeveel kos dit vir jou? Wat is Christus vir jou werd? Eintlik kom hierdie vraag ook reëlmatig op ons af. Dit is wel minder opvallend. Ons lewe in ‘n land sonder vervolging. Om Christus se Naam openlik te bely kos nie ons werk, ons inkomste, of ons familie nie. Maar doen jy dit ook? As iemand vir jou ‘n vraag in daardie rigting vra, hou jy jouself op die vlakte?  Of kom jy vir jou geloof op?

Hoeveel is hierdie leerstelling uit die Apostoliese Geloofsbelydenis – “wat op die derde dag opgestaan het uit die dood”? – vir jou werd? Ons bevind ons in ‘n land, hoewel daar geen enkele vervolging is nie, daar tog baie Christene die opstanding van Christus verkwansel het. Christene, teoloë dikwels voorop, wat sogenaamd op grond van hulle gesonde verstand nie meer glo in die opstanding van Christus uit die dood nie. In baie teologiese publikasies is die afgelope dekades die opstanding van Christus met soveel woorde verloën.

Dus, nogmaals, ook in ‘n land van vrede, bly die vraag ook vir ons so relevant:

Wat is die opstanding van Christus vir jou werd?

Tema: Die waarde van die opstanding van Christus

1 Hy het die dood oorwin

2 Deur sy krag word ons nou al opgewek tot ‘n nuwe lewe

3 Sy opstanding is ‘n waarborg van ons opstanding in heerlikheid

1 Hy het die dood oorwin

Die eerste sin van antwoord 45 is so eenvoudig, maar tog staan daarin die mees ongelooflike boodskap. Wat geleerdes, dokters, professore en filosowe al boeke en boeke oor volgeskryf het, deur alle eeue heen, word hier in een sin beweer. In alle vrymoedigheid.Naamlik: daar het ‘n mens uit die dood opgestaan. Daar is ‘n mens wat die dood oorwin het.

Dit in teenstelling tot wat deesdae al hoe meer geopper word, naamlik die gedagte dat die dood eintlik by die lewe hoort. Dat die dood ‘n punt is agter jou lewe, die handtekening onder jou lewe. Mooi poëtiese uitdrukkings.

Maar in teenstelling hiermee verkondig die Skrif, soos die Kategismus hier bely: Die dood hoort nie by die lewe nie. Die dood is ‘n vyand. As die dood nie oorwin word nie, sal die dood ons oorwin. Dan is dit verby met ons. Die dood is ‘n dreiging, ‘n vyand, ‘n gevaar.

Dank en lof sy aan God se Seun, wat die stryd teen hierdie aartsvyand aangegaan het. Ons kon self niks begin nie. Ons het as slagoffers gestaan en wag tot die dood toeslaan. Maar vanuit die hemel het Jesus neergedaal. Hy het Homself gemeng in die stryd. Hy het die dood oorwin. Halleluja!

Die Kategismus benadruk dat die dood nie daar behoort te wees nie. Ons lees: Christus laat ons deel in die geregtigheid. Ons het dit ontbeer. Ongeregtigheid was ons deel. Hieruit klink die besef dat die dood straf is op die sonde, op die ongeregtigheid. Dis hoe die Bybel ons leer om die dood te beskou. Die dood is nie die natuurlike einde van ‘n menselewe nie. Dit dood is ‘n onnatuurlike interrupsie. Dit is veral duidelik as ‘n jong persoon om die lewe kom.

Dan dring die besef baie sterk tot ons deur: Die dood behoort nie daar te wees nie. Dit was nie die bedoeling nie. Inderdaad, dit was ook allermins God se bedoeling, dat die mens die dood moes sterf. Hy het die mens in die paradys goed geskape, bedoel om ewig te lewe. Maar, om Sondag 4 aan te haal, die mens het homself op ingewing van die duiwel, deur moedswillige ongehoorsaamheid, van die gawe van die ewige lewe beroof. Dit is dus die egte stand van sake. En Goddank, in Christus het God self gesorg dat ons weer mag deel in die geregtigheid. Die geregtigheid wat Christus verwerf het.

Wat is die opstanding van Christus vir jou werd? Dit hang daarvan af hoe jy hierdie lewe en die dood beskou. Is jy al so bedwelm deur die duiwel, dat jy begin dink het dat die dood nou eenmaal by die lewe hoort? As dit die geval is, dan is Christus nie vir jou baie werd nie. Maar God se Woord skud jou wakker.

Want daarin staan dat die dood nie hier hoort nie. Dat dit die ewige straf is op die sonde. As dit die geval is, ja, dan is Christus se opstanding van onskatbare waarde. Want dan is dit die manier om die lewe terug te kry. God se Woord oortuig ons van sonde en skuld. Sy Woord wys die weg na die lewe. Neem byvoorbeeld Romeine 4:25, ‘n vers wat onderaan hierdie antwoord as verwysing staan: Christus is oorgelewer ter wille van ons misdade en opgewek ter wille van ons regverdigmaking. Daar is dus sprake van misdade.

Maar danksy Christus se opwekking is daar ook sprake van regverdigmaking.

Prys die Heer! Neem ook 1 Petrus 1:3, waar daar staan: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode”. Wat is Christus se opstanding vir jou werd?

Daardeur ontvang jy weer barmhartigheid. Daardeur gaan God se liefhebbende Vaderhart weer vir jou oop. Ek dink ook aan wat daar staan in 1 Korinthiërs 15, nog ‘n verwysteks onder aan Sondag 17:

“as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.” (vers 17-18)

Dit is wat die opstanding van Christus jou werd is. Sonder dit wat op Paassondag gebeur het by die graf van Josef van Arimathea, is jou en my deel die dood en die hel, niks meer nie. In daardie geval, skryf Paulus, is ons die beklaenswaardigste van alle mense. Wat is die opstanding van Christus jou werd? Alles! Jesus sê self:

Wie vader of moeder, seun of dogter liefhet meer as My, is My nie werd nie.

Ja inderdaad, nog meer werd as jou kinders, jou eggenoot, jou pa en ma, jou kleinkinders, nog meer werd as hulle is die opstanding van Christus, die feit dat Hy die dood oorwin het!

 

(Tema: Die waarde van die opstanding van Christus

1 Hy het die dood oorwin)

2 Deur sy krag word ons nou al opgewek tot ‘n nuwe lewe

Die waarde van Christus se opstanding geld nie net vir die toekoms nie. Dis nie net ‘n “ticket to heaven”, soos dit soms oneerbiedig uitgedruk word nie.

So mag die lewe van ‘n gelowige ook nie wees nie. Ons is nie net op deurreis, asof ons hier op aarde niks te make het nie, en dat al wat tel die feit is dat ons hierdie ‘ticket to heaven’ op sak het nie. Dis nie soos dit werk nie. Dit Kategismus verwoord dit kort maar duidelik: “Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek.”

Die ewige lewe begin dus hier en nou. Mens kan dit met ‘n ongebore kind vergelyk. Wanneer begin ‘n kind te lewe? Nie by die geboorte nie, maar by die konsepsie, nege maande vroeër. Die eerste weke is daar nouliks iets sigbaar.

Tog is dit alreeds dieselfde menselewe. Rondom die agtste week begin ‘n miniatuur mensie sigbaar te word. Die lewe in die baarmoeder is ‘n voorbereiding op die lewe na die geboorte. So is hierdie lewe ‘n voorbereiding op die volmaakte ewige lewe. Dit gaan oor presies dieselfde lewe. Die ewige lewe, wat hier reeds begin het. Maar dit is nog in aanbou. Die onvolmaaktheid moet nog plek maak vir die volmaaktheid.

Dit gebeur uiteraard nie vanself nie. Daarvoor het jy ‘n bepaalde krag nodig.

Sondag 17 sê: ons word deur sy krag opgewek tot ‘n nuwe lewe. Wat word hiermee bedoel? Kyk, daar was baie krag nodig om Christus uit die graf te laat opstaan. ‘n Lyk staan nie vanself op nie. Dit is te danke aan ‘n baie sterk krag.

Want die dood is vir die mensheid ‘n ondeurdringbare muur. Geen mens kan tydens hierdie lewe agter daardie muur kyk nie. Om die muur af te breek, of ‘n gat daardeur te boor, by wyse van spreke, is onmoontlik. Daarvoor is die muur te sterk. Maar in Christus se geval het dit dus wel gebeur dat Hy die krag gehad het om die muur om te gooi. Christus het teruggekom uit die dood, om ewig te bly lewe.

Nou leer God se Woord dat hierdie krag nog steeds werksaam is. As jy jouself bevind in hierdie kragteveld, word jou lewe, selfs nou al voor die sterwe, verander. Dit is dus ook die waarde van Christus se opstanding. Dis nie net vir die toekoms nie, dis ook vir die hede. Romeine 6, wat ook onderaan hierdie antwoord staan, sê soos volg: “net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

Daardie selfde krag sorg dat ons ‘n nuwe lewe kan begin. Op ‘n ander plek in die Skrif word ons dan ook opgeroep om hierdie krag nie teen te werk nie, of nie onsself aan hierdie kragteveld te onttrek nie, maar steeds daarbinne te bly.

Ek bedoel wat daar staan in Kolossense 3:  “As julle dan saam met Christus opgewek is” ...

Hierdie woorde is ‘n bewys dat jou ewige lewe alreeds begin het! As jy dan saam met Christus opgewek is, “soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (vers 1-2) Eenvoudig gestel: Leef soos Christus in die hemel dit verlang. Kyk op na Hom, doen sy wil. Bly in sy kragteveld.

Kan mens dan wegloop uit die kragteveld van Christus uit? Ja, mens kan.

‘n Gelowige, ‘n kerkmens, kan sy eie koers inslaan, steeds verder by Christus weg. Dan word die kragteveld al hoe swakker. En dan word die aantrekkingskrag van die sonde en die duiwel steeds sterker. Vir so iemand is die einde baie erg, dubbel so erg. Dit is belangrik dat ons – kerkmense – goed hiervan deurdronge is. Wat is Christus se opstanding vir jou werd? Bly in die kragteveld van die Heilige Gees. Moenie jou hakke in die sand sit, as Christus se Gees jou lewe verbeter nie –  as Hy jou lewe voorberei op die volmaaktheid nie!

(Tema: Die waarde van die opstanding van Christus

1 Hy het die dood oorwin

2 Deur sy krag word ons nou al opgewek tot ‘n nuwe lewe)

3 Sy opstanding is ‘n waarborg van ons opstanding in heerlikheid

Sê nou maar, dit gebeur regtig, wat ek in die inleiding van die preek genoem het. Dat ‘n kernramp hier in Suid-Afrika plaasvind. As ons so gou as moontlik geëvakueer moet word. Miskien kan jy na ‘n paar jaar weer terugkeer na jou geboortegrond. Maar wat het jy dan nog? Watter waarborg is daar dat jou huis nog sal staan? Watter waarborg het jy dat jy ‘n gesonde lewe verder sal kan lei? Die wye gebied rondom Chernobyl, waar daar in 1986 ‘n kernramp plaasgevind het, is drie dekades later nog steeds onbewoonbaar. Volgens die owerhede sal dit nog vir 300 jaar onbewoonbaar bly. Kerndeskundiges praat egter van 3000 jaar.

Daardie kernramp is maar net ‘n voorbeeld van wat die sondige mens op aarde aanrig. Die toekoms van die aarde lyk nie baie rooskleurig, met die mens in beheer nie. Die mens kan geen enkele waarborg bied dat die aarde in die toekoms ‘n beter plek sal wees nie.

As ek dan nogmaals vir u die vraag vra:Wat is die opstanding van Christus vir jou werd. Wat ‘n pragtige antwoord kan ons dan daarop gee! Vir die toekoms is dit vir my alles werd! Ja alles hang daarvan af!

Sonder sy opstanding is daar simpelweg geen toekoms vir hierdie aarde nie.

Maar sy opstandig uit die graf verander alles! Dit is die waarborg vir die toekoms! Sondag 17 skryf: ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Ons kan dit nog veel breër maak: ‘n betroubare waarborg vir die toekoms van die hele aarde is slegs hierin geleë!

Die Bybel vorm ons wêreldbeeld. Die Bybel leer ons dat die mens se opstand teen God, en sy val in sonde, nog veel en veel erger was as ‘n kernramp. Dis daardeur wat die dood gekom het en die mens sterflik geword het. As gevolg van die sondeval het verdriet, pyn, gemis, siekte en dood vaste bestanddele van die werklikheid geword. Ons kan dit nou nie meer wegdink nie. En as jy jou wanhopig afvra: is dit alles? Is dit dus wat die lewe is? Dan kom God met die geweldige boodskap: nee, dit is nie alles nie. Daar is meer!

Ek gee julle die pragtige waarborg vir die toekoms. Dit is die ten derde in Sondag 17: Die opstanding van Christus is ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding. Romeine 8:11 wys daarop dat dit die werk van die Gees is.

Die krag van die Heilige Gees werk naamlik in Christus en in ons.

“as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Christus se opstanding staan gegrif in die geskiedenis. Dit is die waarborg vir jou opstanding. Die krag wat Christus opgewek het, daardie selfde krag werk vandag al in jou.

1 Korinthiërs 15 vestig ons aandag ook op die geskiedkundige feit van die opstanding. Christus is opgewek as die eersteling van hulle wat ontslaap het.

Die woord eersteling beteken: die eerste mens wat permanent teruggekom het uit die dood. Hierdie woord roep ‘n assosiasie op met Israel se offerkultus.

In die vroeë somer moes die volk die eerste produkte van die land na die tempel bring om te offer. Die eerstelinge is aan die HERE gewy. Daarmee het die offeraar die HERE gedank vir die oes. Sy vertroue laat blyk, dat God die res van die oes sal gee. Want die hele oes ontvang hy van God. As hier dus staan dat Christus die eersteling is van hulle wat opgewek is, impliseer dit dat Hy nie die enigste Een is wat gaan opstaan nie. As God die begin van die oes kan gee, kan Hy ook die res gee. As God se Gees een mens kan opwek, kan Hy ook ander opwek! Dit is die waarborg. Alle mense sterf, net soos Adam.Dit is die huidige werklikheid. Maar in Christus sal ons lewend gemaak word.

Dit is die waarborg vir die toekomstige werklikheid.

Geliefdes, ons leef in ‘n tyd en omstandighede van godsdiensvryheid. Moenie aan die slaap raak nie. Moenie dit wat vir jou die waardevolste is, dat dit van jou afgevat word nie. Wat is Christus se opstanding vir jou werd? Alles! Die hele toekoms! Ja dit is die waarborg van jou eie opstanding in heerlikheid!

Amen

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 43:1,3,4

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:1-28

Ps 18:8-10

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 17

Preek

Ps 21:1-4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 21:5,9

Kollekte

Ps 118:1,2

Seën