Die wonder van die inplanting in Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-09-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 24
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 24

Vandag is Sondag 24 van die Heidelbergse Kategismus aan die orde van behandeling, en dit is maar goed ook. Want hierdie Sondag gaan oor ‘n tema uit die Bybel, wat met die kern van die geloof te make het. Naamlik: watter invloed het die geloof op jou daaglikse lewe? Het die geloof wel ‘n uitwerking op jou daaglikse lewe?

Tema: Die wonder van die inplanting in Christus

  • Goeie werke is ‘n gevolg van die regverdiging, nie ‘n voorwaarde vir die regverdiging nie
  • Goeie werke kenmerk die daaglikse lewe van wie in Christus ingeplant is
  • Goeie werke is ‘n gevolg van die regverdiging, nie ‘n voorwaarde vir die regverdiging nie

    Sondag 24 is ongeveer vier en ‘n halwe eeu gelede geskryf, en toe was die diskussie oor goeie werke baie aktueel. Dit was ‘n diskussie tussen Roomse en Protestantse mense. Dat Christene goeie werke moet doen, daaroor het almal saamgestem. ‘n Christen kan nie sê dat hy in God glo, en terselfdertyd ‘n lewe lei wat op gespanne voet staan met die tien gebooie nie. Maar die diskussiepunt was: Is die goeie werke wat jy doen die aanleiding tot jou regverdiging, of is dit die gevolg van jou regverdiging?

    Met regverdiging word hier bedoel, dat God vir jou sê: jy mag in die hemel kom. Ek verseker jou, Ek gee jou die waarborg, dat jy salig sal word. Die vraag is slegs op watter oomblik God dit vir jou sê. Daaroor was die menings verdeeld. Die een groep het gesê: Jesus het jou skuld so goed as betaal.

    Wanneer jy nou voortaan ‘n lewe lei volgens God se wet, wanneer jy goeie werke verrig, dan sal God tien teen een vir jou sê: as jy te sterwe kom en voor Hom verskyn: Ek verklaar jou regverdig.Jy word salig. Jy mag in die hemel kom, jy mag op die nuwe aarde woon. Die sekerheid dat jy salig sal word, het jy nou dus nog nie heeltemal nie. Maar dan wel. Nou funksioneer dit so, dat die mate van onsekerheid oor jou saligheid eintlik ‘n soort prikkel is. ‘n Aansporing om tog genoeg goeie werke te doen. Want daarmee maak jy die kans steeds groter, dat jy salig mag word. Hierdie prikkel is as baie belangrik beskou. Want sê nou maar jy sou nou al seker weet dat jy gered sal word, dan is daar die risiko dat jy agteroor gaan sit. Dan sou ons, soos daar in v/a 64 staan, onverskillige en roekelose mense word. Dit is dus die mening van die een groep.

    Die ander groep het gesê: Dit is nie eerlik om mense lewenslank in onsekerheid te hou nie. As mens die Bybel lees, sien jy daarin dat die volgelinge van Jesus juis ook al in hierdie lewe sekerheid ontvang omtrent hulle saligheid. Dit is nie eers wanneer hulle, na hulle afsterwe, voor God verskyn nie. Ook nie, om nog ‘n kompliserende faktor te noem, eers as hulle bevry word uit die vaevuur nie. Christus sê vir ‘n mens: Ek maak jou regverdig. Ek gee jou vandag sekerheid oor die ewige lewe. Glo in My. Gee jou lewe nou aan My. Dan het jy vandag al sekerheid! Want die oomblik as Christus in jou lewe kom, dan begin jy ‘n ander mens te word. Wanneer die krag van sy Gees in jou lewe invloei, dan begin jy goeie werke te doen. Dit is gewoon ‘n gevolg van die feit dat Christus in jou lewe gekom het.

    Dit is dus, as ons die menings van hierdie twee groepe langs mekaar sit, die wesenlike verskil. Die een sê: goeie werke doen, dit is deel van die voorbereiding op die regverdiging. Die ander sê: goeie werke doen, dit is die gevolg van die regverdiging, wat alreeds plaasgevind het.

    Dit is duidelik dat Sondag 24 die mening van die laaste groep verwoord. Dink aan antwoord 64, waar daar staan: Dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie. En so bely ons, wat Protestant is, Gereformeerd, ook vandag nog steeds dit wat hier in Sondag 24 staan, omdat dit die Skrif naspreek.

    Ek het die preek begin met die vraag: watter invloed het die geloof op jou daaglikse lewe? Het jou geloof ‘n uitwerking op jou daaglikse lewe? Lyk die lewe van ‘n gelowige anders as die van ‘n ongelowige? Op grond van die Skrif is die antwoord heel duidelik: ja, natuurlik! Wie gelowig is, het ‘n band met Jesus Christus. Jesus het ‘n invloed op sy lewe. Wie ‘n band met Christus het, weet dat hy salig sal word. Dat hy reeds geregverdig is. En wie aan Christus behoort, voel ook die kragte van Christus in sy lewe. Dink aan die beeld uit die Skriflesing, die beeld van ‘n wynstok. Dit is waaraan ons nou in die tweede punt gaan aandag skenk.

  • Goeie werke kenmerk die daaglikse lewe van wie in Christus ingeplant is

    Die wonder van die inplanting in Christus. Die sappe uit die stam stoot op in die lote, waardeur die lote begin bloei.Hierdie beeld van die wynstok beklemtoon dat dit ‘n noodwendigheid is.

    Dit kan nie anders nie! Dit gebeur gewoon. As jy behoort aan Christus, dan word jou lewe deur Hom verander. Dan word jy eenvoudig iemand wat ernstig is oor God se wet. Dan is jy iemand wat God se wet in jou lewe toepas, op alle onderdele. Dan erken jy gewoon dat jy aan God se wil gebonde is, en dat dit goed is. En as jy, as gevolg van die swakheid van jou ou mens, tog weer sondig, dan erken jy dit, jy bely jou skuld, jy breek met die sonde, en jy gaan daarna weer verder in gehoorsaamheid aan God se wet.

    Dus, die antwoord op die vraag uit die inleiding is: Ja! Jou geloof het ‘n uitwerking op jou daaglikse lewe. Jou geloof verander jou daaglikse lewe.

    Dit kan nie anders nie. ‘n Gelowige is anders as ‘n ongelowige. ‘n Gelowige lewe anders as ‘n ongelowige. Jakobus sê: “’n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ‘n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.” (Jak 3:12)

    As jy hierdie nou op jouself toepas: het my geloof ‘n invloed op my lewe? Dan is die eerste vraag wat jy aan jouself moet vra dus nie: doen ek wel genoeg goeie werke nie. Maar die eerste, die belangrikste vraag is: behoort my lewe vir honderd persent aan die Here Jesus Christus? Is my lewe volledig na Hom toegekeer, bekeer tot Hom? Is ek in alle opsigte bereid om Hom die laaste woord te gee?By elke onderwerp van my lewe?

    Dit is wat Sondag 24 wil duidelik maak.As dit by ‘n mens gebeur, dat hy homself volkome oorgee aan die Here Jesus; of om die beeld van die wynstok te gebruik – as hy homself laat inplant deur ware geloof in Christus, dan kom die goeie werke vanself. Vandaar dat daar vanaf die kansel nie die boodskap klink: U moet beter lewe, of: U moet meer goeie werke doen, anders kom dinge nie goed nie. Maar wel word u elke Sondag weer voor Jesus gestel. Het Christus ‘n plek in jou lewe? Gaan jy in die nuwe week jou hele lewe ook weer aan Hom wy? Gaan jy weer werk met die sappe wat Hy in jou, die loot, opstoot? As jy eerlik op hierdie vraag antwoord: ja of nee vir die Here Jesus, dan hoef jy verder nie bekommerd te wees oor goeie werke nie. Want hulle kom vanself, as Christus in jou lewe aanwesig is. Dit is die wonder van die inplanting.

    Ons het uit die Skrif die gedeelte oor ‘n wynstok gelees. Mens kan ook ‘n hedendaagse beeld gebruik. Byvoorbeeld ‘n wasmasjien. As die kragprop van die wasmasjien nie in die muur ingeprop is en so op die elektrisiteitsnetwerk aangeskakel is nie, help dit nie om die wasmasjien se eie knoppies aan te sit nie. Jy kan alle knoppies druk en draai, die wasmasjien gaan niks doen nie.

    Maar as die masjien op die elektrisiteitsnetwerk gekoppel is, begin dit sy werk te doen waarvoor dit gemaak is. Maar sonder die elektristieit kan dit niks nie.

    As jy jou lewe aan Christus koppel, as jy aan Hom vassit, dan kom daar energie om goeie werke te doen. En dit sal so aangaan, solank as wat jy aan Christus gekoppel bly. Dit kan nie anders nie. Hierdie enkele woorde vat die kern van die Evangelie mooi saam. Dit kan nie anders nie. Dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.

    Het die geloof invloed op jou alledaagse lewe? Oor hierdie vraag gaan dit. In die verlengde hiervan kan ons ook vra: Is daar ‘n opmerklike verskil tussen hoe kerkmense lewe en hoe ander lewe? Die eerlikheid gebied om toe te gee dat hierdie verskil nie altyd so helder is nie. Dit is die bedoeling dat kerkmense anders lewe, maar die praktyk wys uit dat kerkmense op sommige punte steeds wêreldgelykvormig bly. Hoe kan dit? Sit die kerk vol mense wat een ding sê, maar iets anders doen? Hipokriete? Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis is dit ‘n realiteit dat daar in die kerk huigelaars is wat met die goeies vermeng is (artikel 29).Ons sal daarmee rekening moet hou.

    Vroeër was dit so, vandag is dit nog steeds so. Nie almal wat hulle kerk noem nie, is dit daadwerklik nie. En ook in die kerk is daar mense wat kompartimente van hulle lewe toemaak, sodat die gesonde sappe van die wynstok nie daar kan inkom nie. Aan die een kant Jesus bely, in Hom glo, aan die ander kant Hom afweer, weghou uit sommige dele van jou lewe.Sulke mense was en is vandag ook in die kerk. Gaan eerlik by jouself na of jy ‘n huigelaar is, dalk in sommige opsigte. En as dit so is, durf om dit te erken.

    Beteken die feit dat daar huigelaars in die kerk is, gemeente, dat daardie kerk dan ‘n valse kerk is?Nee, want die kerk is nie ‘n vergadering van mense wat almal bekeer is nie. In die kerk is daar die ruimte om te groei, soos ‘n wynstok steeds besig is om te groei. Die kerk is ‘n groep mense aan wie God sy beloftes aanbied, met vervolgens die oproep tot geloof en bekering. God het geduld met kerkmense. Daar is dooplede, en selfs belydende lede, wat nog nie hulle lewe in geloofsvertroue vir Christus oopgemaak het nie. Of wat deur fases van hulle lewe gaan, waarin hulle dele van hulle lewe weer vir  Christus afsluit.

    Daar is ook lede, wat hulle hele lewe nog worstel, dalk met een gebod. Die wil om die sondige lewensstyl voort te sit is nog so sterk. Maar Christus hou aan werk ook in hulle harte, solank dit nog genadetyd is. Vanaf die kansel roep Christus hulle op, en Hy werk weekliks aan hulle.

    Dit is dus hoe die kerk is, hoe God dit bedoel het. Nie ‘n groep mense wat – by wyse van spreke – al binne is nie. Maar ‘n baie uiteenlopende groep. Mense wat al in Christus ingeplant is, maar ook ander wat, hoewel hulle ingeplant is, hulle nog daarteen verset, geheel, of dalk gedeeltelik. En dit is die doel van die genademiddele, die prediking en sakramente: Dat dit steeds duidelik word hoe Christus jou hele lewe opeis. En hoe alle onderdele van jou lewe tot bloei kom, as die lewewekkende sappe van die wynstok daarin deurdring.

    In die kerk is daar, danksy Christus se werk, ‘n groeiende aantal mense wie se lewens getransformeer word, omdat hulle verbind is aan die wynstok. Wat sy roepstem gelowig beantwoord: Ja, HERE, ek wy my lewe aan U en u diens.

    Vergewe my skuld. Reinig die donker skuilhoeke van my hart. Neem u goeie Gees nie van my weg nie, sodat ek steeds verder kan groei.

    Watter invloed het die geloof op jou daaglikse lewe?

    Hierdie vraag hou ons vanaand besig. Ek vat saam: Kerklid wees is geen waarborg dat jy in die hemel kom nie. Kerklid wees is wel ‘n ongekende voorreg. Want jy kom reëlmatig in kontak met die genademiddele. As die Evangelie verkondig word, trek Christus aan jou lewe. Die lewegewende sappe stroom in jou in. Dit gebeur as jy, soos die ou uitdrukking sê, jy jouself plaas onder die verkondiging van die Woord.

    In die kerk is daar in geestelike opsig altyd ruimte vir groei. Die kerk bestaan nie uit ‘n groep volmaakte mense nie. Wel mense wat op pad is na die volmaaktheid. Wat ervaar hoe hulle lewens nie dieselfde bly nie. Vanuit die stam van die wykstok kom die lewewekkende sappe in die lote. As gevolg daarvan begin die lote knoppe vertoon. Die knoppe bars oop en dit begin te bloei. Daar kom ‘n blommetjie uit. Of ‘n groen blaartjie. Later nog begin daar vruggies te groei. Eers klein en groen. Later begin die vruggies te swel. Hulle verander van kleur, tot hulle ryp vrugte is. Hierdie proses gebeur met elkeen wat aan Jesus Christus verbonde is. En so geplaas is onder die bediening van die Evangelie.

    Hierdie proses verloop nie by elkeen ewe vinnig nie. Dat daar verskil in tempo in geestelike groei is, is ‘n feit. Ons moet op hierdie punt geduld met mekaar hê. En mekaar steeds weer op Christus wys. Aan mekaar vra: Is daar oop lyne na Christus toe in alles wat jy sê en doen?

    Wie in Christus ingeplant is, vir hom is daar sekerheid oor sy saligehid. Maar hierdie sekerheid beteken nie dat ons nou al volmaak is nie. Christus is wel besig om jou volmaak te maak. Maar nou, op hierdie stadium van die reis, moet jy nog sê: die goeie werke wat ek ondertussen begin doen het – danksy Christus – is nog steeds bevlek met sondes en onvolmaaktheid. Maar ek is wel op pad na die volmaaktheid toe. Ek beweeg in die regte rigting. Ek ervaar hoe die krag van Christus my verander. Ek wil my nie daarteen verset nie. Laat Hom maar in my werk!

    Gemeente, weet u wat vir my opvallend is. Die jeug aanvaar hierdie boodskap oor die algemeen makliker as volwassenes.  As jy vir ‘n jongmens sê: Jou lewe sal nog moet verander. Christus het nog veel werk in jou lewe om te doen. Dan stuit dit dikwels op minder weerstand. Maar hoe ouer ‘n mens word, hoe moeiliker lyk dit om ‘n koerswysiging aan te bring. Hoe jonger, hoe buigsamer.

    Is dit nie die rede hoekom Christus volwassenes oproep om soos ‘n kind te word nie? Om soos ‘n kind te glo? Om dinge soos ‘n kind te aanvaar? Nee, die jeug is nie minder sondig as die ou mense nie. Beslis ook nie meer nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Maar dit gaan oor die bereidheid om ‘n ander die laaste woord in jou lewe te gee. ‘n Klein kind kan jy optel en saamvat waar jy dit wil hê. ‘n Klein kind laat homself saamvat. By ‘n volwassene doen mens dit nie.

    Mens vra eers: wil jy wel saamgaan? Maar laat ons as volwassenes tog wel onthou. Christus vra nie eers vir ons nie. Hy oorlê nie. Hy tel jou op soos ‘n kind en vat jou saam. Bly jy dan skop en skree?

    Ja Christus vat jou saam. Hy stel jou in staat om goeie werke te doen. Hy maak jou nuut. Hy maak jou volmaak.

    Amen.

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 36:3

Gebed

Doopsformulier

Doop: Hanneli Marié Bouwman

Ps 105:5

Dankgebed

Skriflesing: Johannes 15

Ps 80:1,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 24

Preek

Ps 80:6-8,10

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 1:1,2

Seën