Om Jesus lief te hê beteken om Hom te volg

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2018-10-07
Teks: 
Luk 13:22-35, Luk 14:25-35
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus. Broers en susters, jongmense, Ons het hierdie diens begin met die sing van Psalm 116: "God het Ek lief." Besef ons dat ons met hierdie woorde, 'n tipe belydenis – ‘n liefdesverklaring - uitspreek? Besef ons dat dit iets sê van ons innerlike belewing? Of het ons hierdie woorde slegs gedagteloos uit ons Psalmboek saamgesing?

Weet julle: dit is met liefde presies soos met dankbaarheid: Dit staan nooit op sy eie nie. Dit is altyd gerig op iemand anders. Dankbaarheid, maar ook liefde het altyd 'n adres. Ons dankbaar-heid is gerig op iemand. En ons kan nie slegs lief wees in ‘n algemene sin nie, maar ons is lief vir iemand. As die Here Jesus daarom oor liefde praat, dan wys dit op iets wat ons mense mag doen uit liefde vir Sy Vader. Liefde spoor aan tot aksie. Liefde beweeg jou. Daarom is die werk-woord 'volg' altyd naby as die Here Jesus oor liefde spreek. Ware liefde spoor aan om Hom te volg.

Jy mag jou pa 'n pragtige present gee vir sy verjaarsdag. Maar as jy die res van die jaar jou vader sou ignoreer, dan is jou present nie regtig 'n bewys van jou liefde nie. Liefde maak jou naamlik sensitief vir die gevoelens en voorkeure van diegene wat jy liefhet. En afhangende van die aard van jou verhouding, lei liefde tot gehoor-saamheid. Om na te volg. Daardie volg is ten diepste 'n liefdes-reaksie. Dit kom uit jou hart. Dit moet groei. Binne in jou. En dan speel dit ‘n steeds groter rol in jou lewe. Veral wanneer dit betrekking het op die liefde vir die Here. Maar dit kan natuurlik slegs plaasvind as jy met oortuiging en volle aandag, slegs luister na die stem van Hom wat van jou verwag om daardie liefde-te beantwoord.

Tema: Om Jesus lief te hê beteken om Hom te volg.
1. Hy gaan ons voor;
2. Om Hom te volg het ‘n prys;
3. Waarheen ware liefde ons bring.

Gemeente, broers en susters, jongmense. Ons teks begin met: "En groot menigtes  het saam met Hom gegaan.." U sou kon dink dat die Here Jesus baie tevrede moes gewees het. Sy preke was grootliks effektief. Baie mense het Hom begin volg. Beslis geen gebrek aan belangstelling nie.
Kom ons dink aan ‘n groep mans wat kaartspeel. "Nee, jy moet volg," sê iemand. Dit beteken: die kaart wat die laaste persoon geplaas het, is nie goed nie. Die persoon moes 'n kaart van dieselfde kleur en dieselfde simbool as van die vorige persoon geplaas het. Die persoon moet volg. Hy is nie vry om enige kaart te plaas nie. Maar jy kan natuurlik slegs volg, as jy vooraf die kaart gesien het wat die vorige persoon geplaas het. Jy moet weet wat om te volg.
Die Here Jesus staan op die punt om te vertrek uit die landstreek Perea. Perea is geleë oos van die Jordaan in die Bo-Jordaanse gebied. Hy vertrek met die pad na Jerusalem. Baie mense gaan met Hom saam. Maar nou maak ons teks duidelik dat 'saamgaan' met die Here Jesus nog nie dieselfde is as 'volg' nie. Om te verstaan wat 'volg' beteken, moet ons in die eerste plek let op Wie jy volg.

Die Here Jesus het in die bo-Jordaanse gebied, baie wonderwerke verrig. Hy het bose geeste uitgedryf. Dit was groot gebeure, brs en srs! Ons moet onthou dat die Here op daardie dag mense wat al jare waansinnig was, met slegs één magswoord genees het. Dit gaan hier nie oor mense wat sielkundige probleme gehad het nie, maar mense, wat deur die satan self getraumatiseer is. Dis mense wat hul hele gesinne getiranniseer het. Hul gesinne het geen oomblik rus gehad nie. Hulle is belas met die tirannie van die duiwelse geeste. En die Here Jesus beëindig dit onmiddellik. Natuurlik genees Hy ook mense wat fisies ongeneeslik siek was. Dis geweldig wat hy doen. Maar dan kom die Fariseërs en probeer Hom bang maak. Hulle vertel dat hulle gehoor het dat koning Herodes Hom bedreig. Die Here Jesus kan daarom maar beter onmiddellik na Galiléa vertrek. Want daar het Herodes geen seggenskap nie.
Maar ondanks hierdie bedreigings bly die Here Jesus nog drie dae om te preek en te genees. Hy bepaal self wanneer sy werk in die Bo-Jordaanse gebied voltooi is. En sodra Hy klaar is, gaan Hy nie terug na die veilige Galiléa nie. Nee, Hy gaan op na Jerusalem.

Stel jou voor: hier is iemand wat Hom nie laat intimideer deur die magtige Fariseërs of selfs deur koning Herodes nie! Hy vlug nie haastig weg as dit te warm word onder sy voete nie. Nee, Hy bind moedig die stryd aan teen Sy aartsvyand. Watter vyand is dit? Dis die satan. Die Here Jesus verlos immers hele families van jare se ellende veroorsaak deur die satan. En nadat Hy dit alles volgens sy eie werkstempo verrig het, vertrek Hy nie vinnig terug na die veilige Galilea nie. Nee, Hy gaan definitief verder na Jerusalem. Mense wonder: watter magtige en wonderlike dinge gaan Hy nie daar verrig nie? Daar heers ‘n groot verwagting! Daarvan wil hulle getuie wees! En die mense stroom agter Hom aan. Hulle wil regtig nie die geleentheid misloop om dít vanaf die voorste plekke ook in Jerusalem te aanskou nie.

As ons teks dan sê dat die Here Jesus Hom omdraai na die mense toe wat agter Hom wil aankom, dan het Sy woorde betrekking op die volg van Hom. Maar ons moet dit verstaan teen die agtergrond van wat die Here hierdie mense al voorheen vertel het. Hy gaan nou op na Jerusalem. Op Sy tyd. Hy laat Hom nie deur die Fariseërs opjaag nie, en ook nie deur koning Herodes nie. Maar Sy doel in Jerusalem is nie om daar groot vertonings te gee, wonders en tekens, nie. Nee, Hy gaan op na Jerusalem om daar te sterf. Hy sal nie in die Bo-Jordaanse gebied deur die hand van Herodes sterf nie. Want, Hy sê, dit is nie gepas dat 'n profeet buitekant Jerusalem sal sterf nie. Ook sê Hy: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!" (Mat 23v37). Herken ons die Here se liefdes-motief? Dit is Sy liefde wat hom na Jerusalem toe dryf. Sy program word gedryf deur Sy liefde vir dié wat verlore sal gaan - as Hy nie kom om hulle te red nie.
Die Here Jesus rig Hom uit liefde na Jerusalem om daar sy lewe af te lê. Maar die mense wat Hom nou wil navolg, leef onder die veronderstelling dat Hy op weg is na Sy troonsbestyging. En dit sal, volgens hulle, 'n grootse gebeure wees. En as mens aan hulle sou vra of hulle die Here liefhet, dan sal hulle elkeen die vraag met 'n volmondig 'ja' beantwoord. Natuurlik is hulle lief vir die Here Jesus. Ja, maar hoekom? Hulle is oortuig dat die Here Jesus na Jerusalem opgaan om daar te doen wat hulle wil hê wat Hy moet doen. Hulle sing uit volle bors: "God het ek lief, want die getroue HEER, hoor na my stem." En hulle dink: Omdat God regtig luister, sal Hy ook presies doen wat ons wil hê dat Hy moet doen. Maar op dié manier kom die Here Jesus nie eerste nie. Nee, hulle kom eerste. Ja selfs as hulle Hom laat voor loop. Maar in hulle harte is hulle diégene wat voor loop.
God het ek lief is die loflied wat ook ons aan die begin van hierdie diens gesing het. Maar nou die kritiese vraag: laat ek die Here ook werklik voor loop? Is ek werklik bereid om Hom te volg, waar Hy ook gaan? Of loop ek maar net saam, omdat dit my pas? Solank ek maar gelukkig voel? Solank as wat ek goed voel?

Tema: Om Jesus lief te hê beteken om Hom te volg.
Die eerste punt was: 1. Hy gaan ons voor; Die 2e is:
2. Om Hom te volg het ‘n prys.

Broers en susters, seuns en dogters. Dat jy jou ouers moet haat, jou broers en susters ook en selfs jou eie kinders, ag, dit kan mos nie waar wees nie? Moontlik kan dit in uiterste gevalle wel die geval wees dat jy jouself van jou familie moet afskei. En soms word ons gedwing om afstand te neem van 'n kind wat 'n goddelose of aanstootlike lewe lei. En moontlik moet jy selfs tydelik letterlik met so 'n kind breek. Maar selfs dan hoef jy tog nie die persoon regtig te haat nie? Moet ons regtig iemand haat?
Die woord "haat" kom uit die mond van die Here Jesus. Hy bedoel daarmee niks anders nie as die teenoorgestelde van liefde. Liefde in die sin van: Om uit liefde na te volg. Maar die Here Jesus maak dit baie duidelik dat jy altyd 'n keuse moet maak. Jy kan wel na Hom toe kom, selfs Hom 'n hele ent volg, maar as jy tegelyk ook jou familie volg wat 'n ander weg navolg, dan volg jy nie werklik die Here nie. Jy mag wel baie stiptelik die kerkdienste besoek, maar as jy nie na die preek luister nie, dan is jy wel aanwesig, maar jy volg nie. Jy volg dan nie die Here nie; maar jy volg jouself. Omdat jy nie twee verskillende paaie gelyktydig kan volg nie. Jy kan nie Jesus liefhê en terselfdertyd ook sy vyande nie. Die volg van die Here sluit alles daarbuite uit.

Dit beteken dat die volg van die Here Jesus wel 'n prys het. Dit kos jou iets. Jy moet bereid wees om die koste daarvan te dra. En moontlik moet jy bereid wees om baie daarvoor prys te gee. Om dit goed te verstaan, gee die Here twee voorbeelde. Eerstens die bou van 'n toring.
Hoekom sou iemand 'n toring wou bou? Ons moet verstaan dat dit prakties noodsaaklik was en nie net iets moois soos 'n kerktoring of die Eiffeltoring nie. Die Here bevind Hom in die Bo-Jordaanse gebied. Daar was baie wingerde wat hoë torings op strategiese plekke vereis. Sodat jy jou wingerde kan dophou. Want ‘n wingerd sonder toring beteken niks nie. Want teen oestyd sal daar nie veel druiwe oor wees nie as jy die wingerde nie bewaak nie. ‘n Toring was destyds nie 'n luukse nie, maar eerder ‘n noodsaaklikheid. Iets wat kon verseker dat jy jou druiwe kon beskerm. Maar onthou, sê die Here Jesus, dit is goeie praktyk om vooraf goed te besin oor hoe jy daardie toring gaan bou. Jy mag byvoorbeeld baie harde werk insit maar as jy met swak materiaal bou of nalaat om volgens ‘n deeglike bouplan te werk, dan tree jy dwaas op. Dan benadeel jy uiteindelik die wingerde se opbrengs. Jy kon moontlik wel hard gewerk het, maar dit lewer geen netto opbrengs nie. Jou bestaans-moontlikhede en dus jou lewe self, word daardeur onseker.
Aan die hand van dié voorbeeld sê die Here Jesus dus eintlik: "Selfs in jou daaglikse lewe doen jy eers ‘n koste berekening by belangrike sake wat jou bestaan moontlikhede en jou lewe beïnvloed. Jy besin vooraf deeglik oor sulke sake. Natuurlik doen jy dit.  Jy sal selfs alles prysgee om jou lewe veilig te stel."

Dit word selfs duideliker in die tweede voorbeeld. Dis van ‘n koning wat minder soldate as sy teenstander het. As hy na raadpleging moet vasstel dat hy nie die stryd kan wen nie, dan is dit beter om met sy teenstander te onderhandel. Dit beteken hy moet moontlik gedeeltelik sy vryheid opoffer, maar hy red daarmee in elk geval sy lewe.
Die Here Jesus het reeds die koste vir Homself bereken. Hy weet wat nodig is om Sy doel te bereik. Hy moet die kosbaarste gee wat hy besit. As Hy uit suiwer liefde die lewe van die mense wat Hom volg wil red, dan sal hy vrywillig Sy eie lewe moet opoffer. Hy sien as’t ware reeds die kruis voor Hom oprys. En dan rig Hy Hom op al die mense wat na Hom toe kom. Hy sê nie aan hulle, "Mense, luister: Dit kan gebeur dat julle onder sekere omstandighede ook ‘n kruis moet dra. En as dit sou nodig wees, dan moet julle selfs bereid wees julle familie los te laat." Die Here Jesus sê dit niet, maar ons hoor dit wel so. En dan kan ons baie ernstig sê: Jy moet uiteindelik bereid wees om te ly ter wille van die Here. Maar in die praktyk sal dit selde gebeur. En vanuit dié gesigspunt kyk ons dan weer na ons teks en dan sê ons: "Ag, die Here Jesus stel dit baie skerp. Hy sê selfs dat jy jou eie familie moet haat. Maar gelukkig gebeur dit nie meer vandag nie. Die Here vra vandag nie meer so 'n offer nie.”

Maar, broers en susters, dit is wel wat daar staan. Daar staan nie: jy moet bereid wees om te haat nie, maar: as jy nie haat wat vir jou kosbaar is nie, dan kan jy nie My volgeling wees nie. Die Here sê heel duidelik nie: "Moontlik sal jy in jou lewe 'n kruis moet dra nie", maar Hy sê: "as jy jou kruis nie dra en agter My aan kom nie, dan kan jy my dissipel nie wees nie." En daarmee sê die Here Jesus dat dieselfde prys wat vir Hom vasgestel is, ook vir ons geld. Die prys wat die Here moes betaal om ons te red was die kruis. Hy het vrywillig daardie vreeslike en vervloekte kruishout op Hom geneem. En as ons die Here regtig wil volg om deel te kry aan Sy verlossing, dan sal ons ook ons kruis moet dra. En ons sal daardie kruis moet opneem om ons ou lewe af te sterwe, anders kan ons nie die Here volg nie. Wie aan sy huidige lewe wil vashou, sal sy lewe sekerlik kwytraak.
Ter wille van duidelikheid, wil ek fokus op twee stellings van die Here Jesus. Hy sê dat jy selfs jou eie lewe moet haat (vers 26) en dat as jy geen afstand neem van alles wat jy het nie, dan kan jy nie Sy leerling wees nie (vers 33). As jy die lewe van die Here wil ontvang, die verlossing van jou lewe, dan moet jy jou lewe wat tans gerig is op jouself, heeltemal loslaat. Jy moet nie slegs bereid wees om dit los te laat nie, maar dit ook daadwerklik loslaat.

Maar wat moet jy loslaat? Wil jy DIT werklik weet? Kyk dan nou na jou eie lewe en probeer om te ontdek met watter doel jy baie dinge doen. Is dit om byvoorbeeld simpatiek te wil wees? Of om gesond en sterk te lyk? Of doen jy dinge om by ander respek af te dwing? Wat doen jy om jou eie toekoms te verseker? Is dit deur te verseker dat jou gebreke en sondes nie aan die lig kom nie? Hierdie is almal dinge wat jy dink jou gelukkig kan maak. As jy jouself eerlik ondersoek, dan mag daar heelwat sulke dinge wees wat nie goed is nie. Besef jy dat as jy hierdie dinge loslaat, daar min van jou gemaklike lewe mag oorbly? Maar dit is wat dit kos. Dit is wat kruis dra beteken. Dit beteken dat jy in jou eie vlees moet sny.
Nou vra ek: sien jy hierdie kruis raak of probeer jy om dit te ontwyk? Watter tipe krygsman is jy? Gee jy jouself aan die Here oor of dien jy jouself? Watter weg volg jy? Volg jy jou eie gevoelens, of volg jy die Here Jesus? Volg jy Hom wat daardie verskriklike kruis moes verdra ter wille van jou sondes? Het ek Christus meer lief as my eie gevoelens? Of verwerp ek die kruis en luister ek slegs na my swak en bose hart?

Ongelukkig word ons dikwels gekonfronteer met sulke keuses. Ons kies die verkeerde program op TV. Ons sê daardie verkeerde woord, wat voor op ons tong brand. Ons vertel daardie vuil verhaal oor ‘n broer, of geniet van die bedenklike atmosfeer op ‘n partytjie. Het ek werklik God lief? Of volg ek my eie hart en gee ek toe aan my verkeerde neigings? Vertel ek ‘n halwe leuen om my eie beswil en verdraai ek die woorde van ander om self beter te lyk? As jy kies om 'n dissipel van Christus te wees, dan beteken dit dat jy terselfdertyd van jouself moet afstand neem. Dit is wat dit beteken om jou kruis op te neem. Ons moet raaksien dat die kruis nie dieselfde is as 'n 'juk' nie. 'n Juk is net ‘n las wat ons moet opneem. Maar die Here Jesus spreek hier nie oor ‘n juk nie, maar oor 'n kruis. En onthou: Jy sterf aan ‘n kruis. Jy sterf ‘n pynlike dood. Want jy moet alles prys gee wat jou hart jou wil laat glo wat aangenaam en voordelig vir jou lewe is. Jy gee hierdie alles prys en dit maak baie seer! Maar daarmee volg jy Christus na, na dieselfde kruis waardeur Hy jou lewe wil red.

Tema: Om Jesus lief te hê beteken om Hom te volg.
Die eerste punt was: 1. Hy gaan ons voor; Die 2e was: Om Hom te volg het ‘n prys; Ons kom by die laaste punt:
3. Waarheen ware liefde ons bring.

Broers en susters. Dit is pikdonker. Dis die nag van 1 na 2 November van die jaar 1561. 'n Man verskyn uit die duisternis en gooi 'n klein verseëlde pakkie oor die muur van die kasteel in Doornik, België. In die kasteel is op daardie tydstip afgesante van Filips II, koning van Spanje, wat ook koning van die Nederlande is. Die pakkie bevat 'n respekvolle brief aan die koning asook 'n klein boekie. Dit boekie bevat ‘n onlangse doku-ment van 37 artikels. Dit verduidelik aan die fel Roomse koning Filips II dat die gereformeerdes nie anders kan doen as om die Here Jesus te volg nie. Hulle volg Hom in ooreenstemming met die Woord wat Hy in die Bybel gespreek het. Dit beantwoord die vraag waarom die gereformeer-des nie die Pous of die Roomse kerk wil volg nie. Die kort antwoord is: Omdat ons die Here Jesus wil volg. Hoekom kan ons nie meer aan die Roomse mis deelneem nie? Omdat ons slegs ons Verlosser wat uit die dood opgestaan het, wil volg.

Die boekie is vandag, ook in Suid-Afrika bekend, as die Nederlandse Geloofsbelydenis. U sal dit agter in ons Psalm boekie vind. Die skrywer was Guido de Bres.
Toe hierdie boekie in die vroeë oggendure van 2 November 1561 in die kasteel gevind is, is dit nie na Spanje gestuur nie. Die koning van Spanje het dit selfs nooit gesien nie. Daar is egter onmiddellik opgetree teen die skrywer. Hulle het gou vasgestel dat dit Guido de Bres was. Hy is genadeloos agtervolg, hy moes jare lank vlug en op verskillende plekke wegkruip.
In 1567, 6 jaar later, is Guido de Bres predikant in Valencienne. As hierdie stad na 'n beleg deur Filips II ingeneem word, kan Guido de Bres aanvanklik saam met sy kollegas wegvlug. Maar reeds 'n dag later word hulle tog gevange geneem en in Valencienne se gevangenis aangehou. Toe Guido de Bres hoor dat hy opgehang sal word omdat hy nie die Pous wil volg nie, maar slegs Christus, skryf hy 'n afskeidsbrief aan sy vrou. Sy sal met vyf jong kinders agterbly. Hy troos haar en herinner haar om getrou aan die Here te bly. En om Hom tot die einde toe te volg. En dan sê hy: "Liewe vrou en suster, ek is uitgenooi na die bruilof van my Heer en mag al spoedig ingaan." Guido de Bres getuig van sy geloof-blydskap waarmee Hy sy Heer en Heiland volg. Tot op die oomblik dat die leer van die galg onder hom uitgetrek word en sy liggaam na benede val.

Guido de Bres. Meerdere Gereformeerde skole in Nederland dra steeds die naam. Die naam van iemand wat die Here Jesus gevolg het, alhoewel hy ses jaar lank moes vlug voordat hy uiteindelik aan die galg moes sterf. Maar hierdie Guido de Bres het gesê: moenie hartseer wees nie, want ek gaan op na die bruilof van die Lam. Na die fees van die Here.
Wie Christus volg sê daarmee: nie wat my hart vir my sê nie, maar wat die Here vir my sê, dit doen ek. Dit is: Wie werklik sy kruis dra, deel nie slegs in die dood van die Here Jesus nie, maar ook in Sy lewe. Christus was op pad na Jerusalem om Homself aan die dood oor te gee. Om deur sy sterwe vir ons die ewige lewe te verdien. Elkeen wat Hom op hierdie pad volg, volg die weg na die ewige lewe. Dit is om vir ewig vryspraak te ontvang van al die nare en sondige dinge wat ek gedoen het. En ook van die erfskuld wat ek sedert my geboorte in my dra.

Broers en susters, seuns en dogters, ons is op weg na die ewige fees. Ja, indien jy die Here volg. As jy na Hom toe kom en jou deur Hom laat lei. Maar dit is nie so dat ons slegs later sal fees vier, en vandag slegs kruis dra nie. Daardie toekomstige fees werp nou reeds sy skaduwee vooruit. Daarom dat Guido de Bres, ten spyte van moeite en hartseer, tog ook sy familie en vriende kon inspireer. Christus is nie slegs aanwesig aan die einde van ons lewens nie. Hy is nou reeds aanwesig. Hier by ons. Deur sy Gees en in sy Woord.
En diegene wat Hom en Sy Woord navolg, sal ook ontdek, dat behalwe 'n kruis, ook die ware liefde sal ontwikkel. Liefde wat Hom belangeloos wil volg. Want ons gaan iets in ons lewe begin vertoon wat Here Jesus op ‘n ander plek aan Sy vriend Johannes sê: "As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar (1 Johannes 4v20). Jy kan nie God liefhê en tegelyk jou broers en susters haat nie. Jy kan hulle nie hooghartig benader nie. Jy kan nie op hulle neerkyk nie. Hulle verag nie. Of hulle benadeel nie. Dit is nie moontlik nie.
En dit beteken, broers en susters, dat as ons regtig Christus volg, dan sal dit ook gevolge hê vir ons lewe in die gemeente. Nee, ons sal geen volmaakte liefde hê nie. Maar die begin van die liefde is reeds aanwesig. En ons sal daarvan kan geniet. Sonder om skuldig te voel, sal jy hulp van diakens kan aanvaar. Want dit is hulp wat uit liefde aangebied word, sonder dat hulle wat gee, iets daarmee kan verdien. Sonder om jouself te wil verhoog, kan jy ander help. Omdat julle saam dieselfde pad bewandel. En saam julle kruis kan opneem. ‘n Kruis wat ongetwyfeld aanwesig is omdat ons ons van dinge, wat vir ons dierbaar is - ter wille van Christus - sal moet losmaak. As ons dit nie doen nie, dan is ons soos sout, wat smakeloos geword het. Sout wat waardeloos is. Bedoel vir die vullishoop. Dit is waaroor die lewe gaan. Die Here Jesus waarsku ons. As jy ore het, luister. Nou reeds. Anders sal dit nie goed met jou afloop nie.

Het ek werklik God lief? Volg ek werklik die Here Jesus, of loop ek maar net agter die bondel aan? En dan ontdek ek dat ek skielik nie meer na ‘n ander kyk nie. Want die Here Jesus vra elkeen van ons persoonlik: "Het jy my lief? Ja? Maar waarom doen  jy dan dit of dat? Waarom praat jy groot woorde wanneer jy gays veroordeel? Jy meen jy weet presies watter kruis hulle moet dra. Maar jy self is skaars bereid om jouself beperkings op te lê wat jou seksuele lewe betref. Dit is skynheilig om te sê watter kruis 'n ander persoon moet dra, terwyl jy jouself nie hou aan die  reëls, wat jou toekomstige lewe wil veilig stel nie. De Here sê: Ek wil later vir ewig saam met jou lewe in 'n lewe waarbinne ons deel in ‘n gemeenskaplike liefde en waar ons ongekende vreugde mag ervaar. 'n Hoogtepunt sonder einde. Verwyder daarom alles uit jou lewe wat dié verhouding kan skaad."
Het ek God lief? Moenie 'n gedagtelose antwoord gee nie. Hou jou oë gefokus op Jesus. En dan mag jy weet: wie Hom volg, selfs met val en opstaan, sal hul eenmaal mag koester, vir ewig, in die liefde wat die Here ons vandag al bewys. Want dink daaraan: Hy wat alle mag het in die hemel en op aarde; Hy die Seun van die Almagtige God; Hy sê vir jou: "Volg My". Dit beteken: "Het My Lief, my kind. Want kyk na my hande met die letsels van my lyding. Kyk waarheen My deurboorde voete jou lei. Sien daarin my liefde raak. En maak dan jou hart wyd oop vir My, sodat Ek dit met My liefde kan vul."
Amen.
 

Liturgie: 

Afkondigings

Votum&Seëngroet

Psalm 116: 1

Wet

Psalm 116: 5,7,10

Gebed

Skriflesing: Lukas 13: 22-35

Psalm 33: 7,10,11

Tekst: Lukas 14: 25-35

Preek

SB 24: 2,7

Gebed

Kollekte

Psalm 48: 5

Seën