Die vrugte van die Sola Gratia

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-11-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 32
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Genade en goeie werke. Kan dit saamgaan? Byt dit nie vir mekaar nie? Dit was ‘n brandende vraag in die eeu van die Reformasie. Die Roomse Kerk het die doen van goeie werke aangemoedig deur die mense onseker te maak oor of hulle wel hemel toe gaan. Die Roomse Kerk het die Reformasie daarvan beskuldig dat hulle die Evangelie goedkoop maak, deur te beweer dat alles net genade is. Die Protestantse sola gratia sou die kerkmense lui maak.

Is dit so? Sondag 32 spreek hierdie brandende punt aan. En laat ons eerlik wees, vandag is dit nog net so ‘n brandende punt. En as ons teruggaan na die Skrif, word duidelik dat dit toe ook al ‘n brandende punt was. In verskeie briewe in die Nuwe Testament word dit direk aangespreek.

Die vrugte van die Sola Gratia

  • Ons word na Christus se ewebeeld vernuwe
  • Ons kry sekerheid uit die vrugte
  • Ons vrugte wen ons naaste vir Christus
  • Ons besef die absolute noodsaak van die vrugte
  • Ons word na Christus se ewebeeld vernuwe (v/a 86)

    In Efesiërs 5:1 en verder word ons opgeroep om navolgers van God te wees.  Hierdie oproep word toegespits in vers 2, hoe jy dit naamlik kan wees: Wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het. Kortom: word soos Christus, word na sy ewebeeld vernuwe. Stel julle liggame beskikbaar, skryf Paulus in Romeine 12, as ‘n lewende, heilige, aan God welgevallige offer.

    Moenie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, noudat julle deur Christus gekoop is. Maar verander! Verander deur die vernuwing van julle denke. Bedink steeds aan wie jy behoort! Bedink steeds dat Christus se Gees in jou woon! Bedink steeds hoe bevoorreg jy is, en watter toekomsvooruitsig jy het!

    Hierdie denke, hierdie oorpeinsinge, sal jou bly maak, dit sal jou lewenswyse ook verander! So ja, Christus roep ons op om te verander! So word jy inderdaad verander as jou denke verander. As jy jou gedagtes besighou met wie Christus is, en wat Hy vir jou doen. Sola Gratia – alles genade! Hierdie besef reinig jou gedagtes. En vervolgens reinig dit jou lewe! Want nadat Hy ons gekoop het, het Hy ons ook in staat gestel om te verander! Hy vra, wat Hy gegee het. En so mag ons beproef, dit wil sê, mag ons ervaring daarmee opdoen, wat die welgevallige en volmaakte wil van God is. Petrus skryf, laat julle soos lewende stene opbou (1 Petr 2:5). Petrus noem in die eerste plek Christus die lewende steen (1 Petr 2:4). Kom na Hom toe, roep hy die mense op! Dan sal Hy julle ook gebruik in die bou van sy geestelike huis.

    Petrus noem verder die kerk van Christus ‘n koninklike priesterdom. Met hierdie benaming verwys Petrus terug na wat die HERE sy volk genoem het in Exodus 19. Daardie gedeelte begin met die geweldige wonderdade wat die HERE aan sy volk verrig het: “Julle het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.” (vers 4) Noudat die HERE sy volk uit slawerny bevry het, plaas Hy hulle in die posisie om vir Hom ‘n koninkryk van priesters te wees, ‘n heilige nasie.

    Om hulle lewe, elke aspek van hulle lewe, dankbaar aan Hom te wy. En in hierdie konteks gee die HERE dan, direk na hierdie woorde in Exodus 19, vir sy volk sy tien gebooie in Exodus 20. So kan julle vir My ‘n koninkryk van priesters wees, deur hierdie gebooie na te kom. Uit dankbaarheid, omdat Ek, die HERE jou God, jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

    U sal sien dat die Heidelbergse Kategismus ook kort na Sondag 32 begin om die tien gebooie te behandel. En heeltemal tereg! Net soos in Exodus 19 en 20, staan die tien gebooie in die Kategismus ook in die kader van die dankbaarheid vir wat God gedoen het. Dit staan hier in die derde deel van die Kategismus, oor die “dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is”, die derde deel waarmee ons vandag begin met Sondag 32.

    Die regverdiging is naamlik agter die rug. Daar is niks meer wat nog betaal moet word nie. Ons is bevry! Die vernuwing na Christus se ewebeeld, oftewel die nakoming van die tien gebooie, oftewel ons goeie werke, dit het niks met verdienste te make nie. Daar is niks meer om te verdien nie! Ons het alles reeds gekry! Uit dankbaarheid, uit liefde vir Christus ons Heer en Koning,  begin ons nou die pad van lewensheiliging stap. Wat ‘n voorreg!

    Dieselfde werklikheid kom ook na ons toe as Paulus in 1 Korinthiërs 6:20 skryf: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” Ja, God stel eise, maar Hy het dit moontlik gemaak. As Hy destyds aan Israel sy tien gebooie sou gegee het, sonder om hulle uit Egipte se slawerny te bevry, dan sou mens tereg die vraag kon vra:

    Ja maar hulle is nog die Egiptenaars se slawe. Hoe kan God nou byvoorbeeld van hulle verwag om op die sabbat volgens die vierde gebod te rus? Die Egiptenaars sal hulle mos doodmaak as hulle weier om te werk! Maar nee, die HERE het sy wet nie aan die volk gegee, toe hulle nog slawe in Egipte was nie.

    Die HERE het eers sy volk bevry! Hy het dit vir hulle moontlik gemaak om voortaan die sabbat te hou. En uit dankbaarheid te herdenk, soos ons ook in die vierde gebod self lees: “jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Deut 5:15) Maar wee hom wie, wat nou bevry is, dan tog die sabbat nie wil hou nie! Dit is natuurlik ondankbaarheid ten top. En soos dit vir Israel gegeld het, so ook vir ons. Wie bevry is, maar terugverlang na die vleispotte van Egipte, hy sal in die woestyn sterf. Hy sal ‘n dubbele straf ontvang. Dit is waarvoor die Hebreërs gewaarsku word: “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebr 10:28-29)

    (Die vrugte van die Sola Gratia

  • Ons word na Christus se ewebeeld vernuwe)
  • Ons kry sekerheid uit die vrugte (v/a 86)

    Hierdie punt maak op ‘n manier nie sin nie. Hoe kan jy nou uit die vrugte self geloofsekerheid kry? Wel, dit maak slegs sin, as ons nederig erken dat die vrugte nie ons eie verdienste is nie. Ons mag die pad van lewensheiliging stap.

    Maar die feit dat ons daardie pad begin stap het, en dat ons vordering maak, dit is ‘n bewys dat Christus met sy Woord en Gees in ons lewe werk. As ons onder invloed van die verkondiging van die Evangelie ons lewensstyl aanpas, opgradeer – Geeslike gesproke – dan is dit nie iets om op trots te wees asof dit ons eie prestasie was nie. Dan is dit wel iets om voor dankbaar te wees. En meer nog, sê die Kategismus, om jou ook geloofsekerheid te gee. So mag ons in ‘n opwaartse spiraal tereg kom. Wat ‘n voorreg! Wat ‘n heerlike gewaarwording, as jy begin sien dat jou lewe vrugte dra! ‘n Loot wat vrugte dra, is ‘n bewys dat daardie loot vassit aan die regte stam. So is die vrugte in jou lewe ‘n bewys dat jy aan Christus vassit, dat sy lewewekkende sappe jou laat vrug dra. So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte (Matt 7:17). As die vrugte van jou lewe is: losbandigheid, hoerery, dronkenskap, jaloesie, haat, dan is dit die vrugte van ‘n slegte boom, waarvan die duiwel die stam is. Dan is jy ‘n loot op ‘n verkeerde stam. Maar ‘n goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie – Mattheüs 7:18.

    So is ons besig, soos Petrus skryf, om ons roeping en verkiesing vas te maak! Dit laat my dink aan wat die Dordtse Leerreëls skryf, naamlik: Nadat God in sy genade ons verkies het, ons geroep het, ons geregverdig het – dit alles in Christus! Sola Gratia! – vernuwe Hy deur sy Gees en Woord nou ook ons eie wil, waardeur Hy ons nou ook in alle erns oproep tot aktiewe diens: Maak julle roeping en verkiesing vas! skryf die apostel Petrus. God het in Christus vir ons die skoene aangetrek, die skoene van verkiesing, die skoene van redding, die skoene van heiligmaking. En nou roep Hy ons op: maak vas die veters, sodat as jy begin loop, die skoene nie weer van jou voete afval nie! As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie! – 2 Petrus 1:10.

    (Die vrugte van die Sola Gratia

  • Ons word na Christus se ewebeeld vernuwe
  • Ons kry sekerheid uit die vrugte)
  • Ons vrugte wen ons naaste vir Christus (v/a 86)

    En so mag ons lewenswyse selfs ander aantrek, soos Christus in sy Bergrede sê: “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matt 5:16) Ja dit sê die Skrif dus ook swart op wit. Ons lees dit weer in 1Petrus: selfs heidene sal, as hulle die gelowiges se goeie werke sien, God verheerlik! (1 Petr 2:12)

    Moenie, skryf Paulus in Romeine 6, julle lede – julle wat so duur met Christus se bloed gekoop is – moenie nou julle lede beskikbaar stel as werktuie van ongeregtigheid nie. Stel julleself tot beskikking van God; julle lede as werktuie van geregtigheid in diens van God. So bid ek dat die vrugte van die Gees in hierdie gemeente steeds meer mag word. En hoe ook al die reputasie van ons gemeente tans is, dat dit in die toekoms mag verbeter. Dat die Heilige Gees van Christus mooi dinge doen in ons midde. Dat liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing vir ons kenmerkend word. Teen sulke dinge is die wet nie.

    Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie. So skryf Paulus aan die Galasiërs (Gal 5:22-26). Elke liewe woord wat hy skryf, is op ons ook so pragtig van toepassing!

    Dit sal van ons ‘n werwende gemeente maak. Deur hierdie gesindheid sal ander sonder woorde hulle aangetrokke voel. Evangelisasie sonder selfs een woord of een pamflet of wat ook al. Soos Petrus skryf aan die vroue, 1 Petrus 3: “Net so moet julle vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.” ( 1 Petr 3:1-2) ‘n Werwende gemeente, wat aan Christus onderdanig is. Wat die vrugte van sy Gees dra. En so wen daardie vrugte ons naaste ook vir Christus.

    (Die vrugte van die Sola Gratia

  • Ons word na Christus se ewebeeld vernuwe
  • Ons kry sekerheid uit die vrugte
  • Ons vrugte wen ons naaste vir Christus)
  • Ons besef die absolute noodsaak van die vrugte (v/a 87)

    Sonder bekering is daar geen saligheid nie. Dit is in kort die boodskap van vraag en antwoord 87. ‘n Voluit Skriftuurlike boodskap. Daarop wys Paulus baie duidelik, nadat hy in Efesiërs 5 die gelowiges opgeroep het om navolgers van Christus te wees. Wie nie navolgers is nie, maar voortgaan met dinge soos:

  • Hoerery en allerhande onreinheid – bedoel word hier ‘n seksueel losbandige lewe
  • afgodsdienaar
  • Hebsug, om ‘n gierigaard te wees – dit wil sê dat jou hoof lewensdoel is om so veel moontlik geld en besit te versamel
  • Gemeenheid
  • Selfs dwase of lawwe praatjies

    Wie voortgaan met sulke dinge, skryf Paulus aan die Efesiërs, sulkes het nie ‘n erfdeel in die koninkryk van Christus en van God nie.

    In 1 Johannes 3 staan dat wie oorgegaan het van die dood in die lewe, sy broeders liefhet. Die keersyde hiervan, skryf Johannes, is dat hy wat sy broeder nie liefhet nie, in die dood bly. Dit is ‘n sterk uitspraak, wat ons moet laat nadink. Wie nie met sy broeder wil versoen nie, wie die liefde hom onthou, behou in sy lewe die verterende kragte van die dood. Jy bly self in die dood. Hier word die tweede dood bedoel! Hoe angswekkend is dit nie!

    Dus wat die Heidelbergse Kategismus skryf, hierdie ernstige woorde in antwoord 87, is voluit Bybels. Daar word ook na 1 Korinthiërs 6 verwys.

    Kyk maar onderaan, by die bewystekste. Waar ons lees: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of egbrekers of wellustelinge of sodomiete [tussen hakies sodomiete dit is mense wat ‘n homoseksuele lewenswyse uitleef, soos daar byvoorbeeld destyds in die stad Sodom gebeur het – Genesis 19] of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” En dan gaan Paulus voort:  “dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas - julle is geheilig - julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” Daar was progressie in die gelowiges se lewe. Daardie progressie moet voortgaan. Daar mag nie terugval wees nie. Die koninkryk van God staan vir jou op die spel! Ons besef die absolute noodsaak van die vrugte! Want, het Jesus self gesê, elke loot wat in My nie vrug dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi (Joh 15:1-6). Christus is geduldig, gee ‘n ekstra jaar. Twee, drie, vier jaar. Steeds wag Hy om te sien of die loot vrug dra. Maar dan neem Hy wel daardie stap om die loot uit te werp (Joh 15:6). Sulkes sal die koninkryk van God nie beërwe nie.

    Ons het onsself in die inleidng van die preek afgevra: Genade en goeie werke.

    Kan dit saamgaan? Byt dit nie vir mekaar nie? Sondag 32 het die ryke en volle Evangelie hieroor na vore gebring. Ons mog in hierdie preek weer daarby bepaal word. Ons het gekyk na die verskillende bewystekste onderaan die antwoorde van die Kategismus. Dit het ons opgebeur, bly gemaak, gevoed, en ook wakker gemaak. Genade lei tot goeie werke. Dit is ‘n feit! Dit is ‘n gawe!

    Dit is terselfdertyd ook ‘n opdrag!

    Amen.

     

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 25:1,2

Gebed

Skriflesing: Exodus 19:1-8

Ps 25:3

Skriflesing: 1 Petrus 2:1-17

Ps 25:4

1 Korinthiërs 6:1-11

Ps 25:5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Preek

Ps 25:6,7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 86:3,6

Seën