Josua gee aan Israel die opdrag om die Verlossing wat die HERE verskaf, aan te gryp.

Predikant: 
Ds D Wynia
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-03-24
Teks: 
Josua 1
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons HERE Jesus Christus

 

Die sleutel vir die verstaan van die evangelie in die boek Josua, is in die naam van die boek.  Toe Moses hom met elf manne na Kades-Barnea gestuur het om die land Kanäan te bespied, het hy sy naam Hosea, wat verlossing beteken, na Josua, wat beteken verlossing is van die HERE, verander.

 

Aan die begin van die boek, vind ons Israel uitgekamp op die oewers van die Jordaanrivier in Moab, reg langs die oostelike grens van die Beloofde Land.  Aan die een kant het hulle uiteindelik gearriveer na veertig jaar van rondswerf in die woestyn.  Hulle kon die land Kanäan sien en hulle was almal gretig om hul hul voete te vind en hulself te vestig in hierdie nuwe land, om hul nuwe lewens in hul nuwe tuiste te begin.  Maar daar was struikelblokke en vrae aan biede kante.  Dit was Lente en die Jordaan was op pad om oor te loop.  Dit was amper 2 kilometer breed.  En buiten die kinders het die Israeliete allerhande tipe vee en ander besittings gehad wat hulle op een of ander wyse oor die rivier moes kry.  En toe hulle daar uitgekom het, moes hulle met die reuse van die land afreken en ‘n plan beraam om die versterkte stede waarin die mense geleef het, oor te neem.  Dit was hierdie dinge wat veroorsaak het dat hulle dertig jaar gelede omgedraai het, die vorige keer toe hulle veronderstel was om die land in te gaan.

 

En Moses was dood.  Hy het buite die beloofde land gesterf en dit was hulle skuld.  As gevolg van hul aanhoudende klagtes en murmurering.  By Meriba het hulle hulself bymekaargebring en hul opgestel teenoor Moses en Aäron, soos hulle soveel keer vantevore ook gedoen het.  En Moses was keelvol.  Die HERE het Moses beveel om met die rots te praat, maar hy was so frustreerd met hulle, dat hy die rots geslaan het, in plaas daarvan om daarmee te praat.  So wie kon hulle in die beloofde land inlei noudat Moses weggeval het?  Moses was ‘n groot man, maar hy kon nie die mense hanteer nie.  En as Moses hulle nie kon red nie, wie kon?

 

 Die HERE het daardie vrae beantwoord deur Josua se naam.  Verlossing is van die HERE.  Dit is die evangelie.  Dit is God se antwoord op al die vrae oor hoe ons gered kan word.  Maar ons erken ook dat Israel se verlossing, as ons dit so kan noem, afhanklik was van Josua se gehoorsaamheid.  God het aan hom gesê dat hy die volk Israel in die land sou inbring; Hy het Josua belowe dat Hy met hom sou wees.  Maar Hy het dit baie duidelik aan Josua gestel dat daar een voorwaarde was wat heeltemal nagekom moes word: Wees net sterk en dapper, gehoorsaam die wette wat Moses julle beveel het noukeurig.  Dan sal jou weë voorspoedig wees, en sal jy suksesvol wees.

 

So dit is die volgende vraag wat beantwoord moet word: gaan Josua gehoorsaam wees?  Ons vind die antwoord op hierdie vraag in ons teks van vanoggend. 

 

Ek gaan die Woord van God aan julle verkondig onder die tema: Josua gee aan Israel die opdrag om die Verlossing wat die HERE verskaf, aan te gryp. 

  1. Hulle moet dit eers aangryp in die vertroue van geloof
  2. en tweedens in die gemeenskaplikheid van die geloof
  3. en derdens in die gehoorsaamheid van die geloof

 

Die Heilige Gees laat ons vir lank wonder of Josua gehoorsaam sou wees aan alles wat Moses hom beveel het nie.  Direk nadat hy die opdrag van die HERE ontvang het, lees ons dat Josua die owerstes opdrag gegee het om deur die kamp te gaan en die mense te beveel om voorbereidings te tref omdat hulle oor drie dae die Jordaan sou oorsteek om besit te neem van die land wat die Here hul God aan hul gee om in te neem.

 

Miskien moet ons, voordat ons oor enigiets ander praat, eers praat oor wat dit inhou toe Josua vir die volk gesê het om al hul goed op te pak en oor drie dae reg te wees om oor die Jordaan te trek.  Want as jy vorentoe blaai in die volgende hoofstuk van die boek Josua, lees jy die verhaal van die twee verspieders wat na Jerigo gestuur is.

 

Die meeste van ons ken daardie storie redelik goed; jy onthou waarskynlik dat, nadat daardie twee verspieders Jerigo ontsnap het, hulle vir drie dae in die heuwels weggekruip het voordat hulle teruggegaan het om aan Josua verslag te lewer.  En dit het alles gebeur voor Israel reggemaak het om die Jordaan oor te steek.  Die sommetjies klop daarom nie.  Die feit is; Josua het hierdie verspieders waarskynlik reeds weggestuur voordat hy die bevel aan die Israeliete gegee het om hul reg te maak.

 

Hoe dink ons daaroor?  Dit is so dat die Bybel nie altyd ‘n rekord van gebeure hou soos wat dit presies in volgorde afgespeel het nie.  Daar is heelwat kere wat dit wel so vertel word en ons kan dit so aflei.  En wanneer die Bybel sê dat dit in chronologiese volgorde so plaasgevind het, dan glo ons dit ook.

 

Maar dit is nie wat die Heilige Gees hier gedoen het nie.  Dit is ‘n probleem vir ons, want ons dink dat wanneer jy die waarheid vertel oor dinge wat gebeur het, moet jy die storie ook altyd in chronologiese volgorde weergee.  En wanneer ons sien dat die Bybel dit nie altyd so doen nie, dink ons dat dit nie die volle waarheid is nie.  Maar ons moet onsself afvra waarom die Heilige Gees dit op hierdie wyse sou doen.  Want as Hy besig was om ons te probeer flous, het Hy Hom nie baie goed van sy taak gekwyt nie.  Want enige iemand kan uitwerk dat die sommetjies nie hier uitwerk nie.

 

Ons moet onthou wat die Heilige Gees se doel is.  Sy groot belang is nie om ons bloot ‘n akkurate verslag van gebeure te gee nie.  Wanneer Hy gesê het dat iets gebeur het, dan het dit ook gebeur.  Maar onthou dat die boek Josua ‘n profesie is.  Die doel van hierdie boek is om die storie van God se werk vir die verlossing van sy volk te vertel.  En God het dit baie duidelik gemaak dat Israel se verlossing afhanklik is van Josua se gehoorsaamheid.  So, soos ons sopas gesê, is die groot vraag; sal Josua gehoorsaam wees en doen wat God hom beveel?  En die Heilige Gees wil Josua se reaksie op God se bevel en opdrag uitlig en daarom vertel hy ons dadelik dat Josua alles gedoen het wat die HERE hom beveel het om te doen.

 

Josua het die owerstes beveel om die mense aan te sê om reg te maak om te gaan.  Hierdie owerstes kon militêre leiers wees; hulle kon ook wat ‘n mens noem administrateurs wees, mense wat help om te organiseer.  En ons moet aandag skenk aan die boodskap wat Josua hulle gegee het om aan die mense oor te dra: “Gaan die laer deur en gee die volk bevel en sê: Maak vir julle padkos klaar; want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan trek om die land in besit te gaan neem wat die HERE julle God aan julle gee, om dit in besit te neem.” (Josua 1:10)

 

Hierdie mense het net so goed soos Josua geweet wat vir hulle voorlê.  Natuurlik was hulle opgewonde daaroor dat hulle uiteindelik die Beloofde Land sou ingaan.  Maar hulle kon die Jordaanrivier gesien het.  Hulle het geweet van die reuse en die versterkte stede.  Hulle moes daarom sekerlik vrae gehad het oor hoe hierdie dinge alles gaan afloop.  En hulle moes sekerlik vrese gehad het oor al die gevare, al die struikelblokke wat in hul pad gestaan het.  Maar Josua het nie vir hulle ‘n groot, lang verduideliking gegee van hoe hulle hulself en hul vee en al die ander goed oor die rivier sou kry nie; hy het nie verduidelik hoe hulle van plan was om die Kanäaniete te verslaan nie.  Hy het self nie die antwoorde hierop gehad nie.  Hy het net aangekondig wat op pad was om te gebeur.  Hy het net die belofte aangekondig.  Binne drie dae gaan julle die gaan julle die rivier oorsteek en besit neem van die land.

 

En hy het hulle beveel om reg te maak.  Nie deur militêre oefeningnie, nie deur owerstes bymekaar te maak om ‘n strategiese aanvalsplan op te stel nie.  Nie eers deur die bou van vlotte of bote of deur te gaan kyk waar hulle die maklikste die rivier kan oorsteek nie.  Eenvoudig net; maak vir julle padkos klaar, want God het al vir die afgelope honderd jaar beloof dat ons die land sal inneem en dit is wat oor drie dae gaan gebeur.  Let daarop dat ons weer dieselfde klem hoor as wat ons in die eerste gedeelte van die hoofstuk gehoor het toe die HERE vir die eerste keer met Josua gepraat het, naamlik dat Hy die land aan Israel gaan gee.

 

Met ander woorde, dit is die evangelie.  Josua het die opsigters uitgestuur om aan Israel die goeie nuus te vertel dat hulle hul erfenis gaan ontvang.  En dit is die karakter van die evangelie.  Dit is ‘n belofte wat God aankondig.  Verlossing is van die HERE.  En God maak daardie belofte aan almal en enige iemand wat die evangelie hoor.  Hy belowe verlossing aan ‘n ieder en ‘n elk wat die Woord hoor.  Hy belowe dit aan hulle as ‘n geskenk wat heeltemal verniet is.  Nie een van hulle verdien dit nie; nie een van hulle kan dit verdien of daarvoor betaal nie.  Die belofte is vir almal, Jood of Griek.  Daar is geen voorwaardes nie.  Verlossing is deur genade alleen.

Dit is hoe die evangelie na ons toe kom.  Dit kom na ons deur Jesus, net soos dit aan Israel gekom het deur Josua.  Hy kom na ons en verkondig eenvoudig God se geskenk van verlossing aan.  Hy sê byvoorbeeld aan ons in Johannes 5: “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.  Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.  Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.  En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is” (Johannes 5:21-27).

 

Jesus verduidelik nie alles aan ons nie.  Hy gee nie aan ons al die besonderhede van hoe dit gaan werk nie en presies hoe hy elke struikelblok wat tussen ons en ons verlossing staan, gaan takel nie.  Hy vertel nie aan ons presies hoe ons daar gaan uitkom nie.  Hy sê net dat ons daar sal uitkom.  Hy sê net dat Hy dit sal doen.  En Hy sê ook; Glo.  Net soos toe Jairus se dogtertjie siek was en gesterf het voor Jesus haar kon bereik om haar te genees.  Party mense het gekom en aan hom gesê dat sy dogtertjie reeds dood is en dat hy Jesus nie meer moet lastig val nie.  Dit is verby; Hy kan haar nie meer help nie.  Jairus, dit is die dood hierdie.  Miskien kan Jesus siek mense genees.  Maar sy is dood.  Maar Jesus het aan hom gesê om nie te vrees nie en net te glo.  Jesus sê aan ons; Dit is reeds gedoen!  Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde.  Die een wat oorwin, die een wat hierdie belofte glo en in die geloof standhou, is die een wat hierdie erfenis sal ontvang.

 

Moenie allerhande vrae vra nie.  Moenie bang wees vir al die gevare en vyande en struikelblokke wat julle langs die pad in die gesig gaan staar nie.  Moenie daaroor bekommerd wees dat dit als onmoontlik lyk nie.  Die evangelie is: Verlossing is van die HERE.  Glo net.  Daarom, maak jou gereed, want dit gaan gebeur.  Binne drie dae sal jy die Jordaan oorsteek om die land in besit te neem wat die HERE jou gee om in besit te neem.  Toe het Josua met die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasse gepraat.  Dalk is julle bekend met die verhaal van hoe hierdie twee en ‘n halwe stam hul erfenis oorkant die Jordaan, aan die oostelike kant van die rivier bekom het.  Ons vind die verhaal in Numeri 32.  Die mense van Ruben en Gad het gesien dat die land van Jaéser en die land van Gilead goeie land was om beeste en skape te laat wei en hulle het toe aan Moses gevra of hulle hierdie land as hul eiendom kon neem.  Hulle het toe ook beloof om eendag, wanneer die tyd aangebreek het, saam met die res van die mense te veg om die land Kanäan te verower.

 

Nou het dit tyd dus aangebreek en Josua het aan hulle gesê: “Dink aan die saak wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het toe hy gesê het: Die HERE julle God verskaf ‘n rusplek aan julle en sal hierdie land aan julle gee.  Julle vroue, julle kinders en julle vee kan bly in die land wat Moses julle oos van die Jordaan gegee het; maar julle self, al die dapper helde, moet gewapend voor julle broers deurtrek en hulle help, totdat die HERE aan julle broers, soos aan julle, rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die HERE julle God aan hulle sal gee; dan kan julle teruggaan na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die HERE, julle gegee het oos van die Jordaan, teen sonop, en dit in besit neem” (Josua 1:13-15).

 

Mensliker wys gesproke maak dit natuurlik baie sin dat die twee en ‘n halwe stam hul dapper helde saam met die soldat van die ander stamme sal stuur om saam te veg teen die Kanäaniete.  Want, mensliker wys gesproke, hoe groter jou weermag, hoe beter.  Maar ons kan onsself afvra of die ander stamme werklik hul hulp benodig het.  Die HERE het aan Josua gesê Ek het reeds die land aan jou gegee.  En toe Moses aan Israel gepreek het om reg te maak om Kanäan binne te gaan, het hy hulle herhaaldelik gesê dat die HERE vir hulle sou veg.  En as die HERE vir jou veg, wel dan is daar regtigwaar niks wat jy hoef te doen nie.  Dan het jy nie ‘n groot weermag nodig nie.  Die feit van die saak is, Israel het nie soldate van Ruben, Gad en Manasse nodig nie.  So dit is nie waaroor dit hier gaan nie.

 

Wel, waaroor gaan dit dan alles?  Hoekom moes die twee en ‘n halwe stam manne stuur om saam met die res van Israel te veg?  Daar is heelwat goeie redes.  Dit is wat hulle beloof het om te doen.  Daarom moes hulle by hul woord hou.  En dit sou regtig nie reg wees as daardie stamme veilig tuis gesit het terwyl hul broers besig was om oorlog te voer nie.  Dit sou nie reg wees as sommige van die mense besig was om hul vee in rus en vrede groot te maak terwyl hul broers nog nie eers hul erfenis ontvang het nie.

 

Maar daar was nog meer wat hier afgespeek het.  Dit gaan hier oor wie Israel is, en hoe God se kinder met mekaar omgaan.  Dit gaan oor die eenheid wat geskep word onder God se kinders deur die geloof en die Evangelie.  En dit is iets wat ek en jy altyd in gedagte moet hou.

 

Want ons het die geneigdheid om onsself as individue te sien; ons neig daarna om aan onsself en ons families te dink en wat ons kort, en wat lekker vir ons sal wees, en waarvan ons sal hou om te besit en doen, voordat ons aan enige iemand anders dink.  Ons is geneig om besig te raak met ons eie lewens, en vasgevang te raak in die dinge wat in ons lewens aangaan.  Dit is ‘n natuurlike neiging by ons.  En daar was nog nooit ‘n tyd en kultuur so ryp vir hierdie verleiding van God se kinders soos die hede nie.  Dit is die leuse, dit is die beginsel waarvolgens mense in ons kultuur leef: ek het die reg om te doen wat ek wil, om te leef soos ek wil en dit maak nie saak hoe dit jou affekteer nie.  Want die mees belangrike is dat ek gelukkig moet wees.  En ek kan slegs gelukkig wees as ek kan doen wat ek wil.

 

En so gaan dit ook in die kerk.  As dit kom by sake soos die bywoning van die weeklikse eredienste, is daar vir sommige van ons meer belangrike dinge om te doen as om met die gemeente sam te kom, mekaar te motiveer om meer liefde en goeie werke te toon, om mekaar te bemoedig soos dit in Hebreërs 10 genoem word.  En wanneer ek kerk toe gaan, wil ek aanbid op die manier waarvan ek hou en aantrek soos wat ek gemaklik is of daarvan hou.  Ek wil na die kerk van my keuse gaan, sodat ek die tipe woordverkondiging kan hoor wat ek wil en die tipe liedere kan sing waarvan ek hou.  En wanneer dit kom by die invulling van die res van my week, wil ek my tyd gebruik om die dinge te doen wat ek wil.

 

En so dink ek aan myself en aan wat ek wil hê.  En ek raak nie té betrokke in die lewe van die mense om my nie.  Ek vra nie vrae nie; as ek hulle nie in die kerk sien nie, dan bel ek hulle nie, ek probeer nie met hulle praat nie.  Ek hou my afstand.  Ek hou my eenkant.

 

Dit kom alles baie natuurlik.  En dis waaroor dit hier gaan.  Moses se groot bekommernis, en so ook Josua s’n, was dat hierdie twee en ‘n halwe stam nou net aan hulself, hul eie families en hul plase en troppe vee sou dink noudat hulle reeds hul erfenis ontvang het.  Dat hulle aan hul broeders en susters sou sê dat hulle nie nou hul gesinne en vee kon alleenlaat om die volk te gaan help nie.  Daardie mentaliteit, daardie leefstyl, hoort nie tuis in die kerk nie.  Dit het geen plek onder die mense wat die evangelie glo nie.  Want wanneer God sy mense vergader, ongeag of dit in die Ou of Nuwe testament is, bring Hy hulle saam in die eenheid van geloof.  En dit is wat kerk is: dit is die eenheid van geloof.  Dit is die eenheid van gelowiges.

 

Dink ‘n bietjie na oor wat hier aangaan; oordink dit binne die konteks van die Nuwe Testament.  Waaroor het dit alles gegaan?  Israel was op pad om die Beloofde Land in te gaan.  Israel was op pad om die erfenis van God wat Hy beloof het, in besit te neem.  Dit is ‘n ou testamentiese prentjie van die gemeente van die Here Jesus Christus.  Hoe noem ons dit in Artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis?  Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.  Dit is wat die kerk is.  Dit is ‘n vergadering van mense wat hul volle verlossing van Jesus Christus verwag.  Dit is die vergadering wat uit geloof lewe in die genade van God in Jesus Christus.  En in Josua 1 lyk dit so: ‘n vergadering van mense wat hul verlossing verwag het, hul erfenis, in Josua.

 

En wat Josua gesê het, is dat dit vir almal in Israel die kern van die saak is.  Dit moet die verlange, die gebed, die toewyding van elke stam en elke Israeliet wees dat elkeen van hul broers en susters, elkeen van die stamme, die Beloofde Land ingaan en hul erfenis in ontvangs neem.  Dit is uiteindelik die finale doel, die ware bedoeling van die gemeenskap van heiliges.  Ons innige omgee en verlange na die verlossing van elkeen van ons broeders en susters.

 

So nou is die vraag: Wat sal die mense doen?  Weereens laat die Gees ons nie lank in afwagting op ‘n antwoord nie: “Toe het hulle Josua geantwoord en gesê: Alles wat u ons beveel het, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan” (Josua 1:16).  Die hulle waarvan hier gepraat word is waarskynlik die twee en ‘n halwe stamme, nie die hele volk nie.  Maar vir Josua het dit hoofsaaklik hier om hulle gegaan.  Van al die stamme het hierdie stamme die grootste rede gehad om Josua se gesag en sy bevele te verontagsaam.  Dus, al was dit slegs die twee en ‘n halwe stam wat geantwoord het, kan jy dit aanvaar as die antwoord van die hele volk.

 

En dit is ‘n totale toewyding: ons sal alles doen net soos jy ons beveel het en ons sal gaan waarheen jy ons stuur.  Net soos wat ons Moses in alle dinge gehoorsaam het, sal ons ook jou gehoorsaam.  Mag die HERE jou God met jou wees net soos wat Hy met Moses was.

 

En luister nou hierna: Wie ook al teen jou bevel in opstand kom, en jou woorde verontagsaam, wat jy hom ook al beveel, sal ons stenig.  Met ander woorde; gehoorsaamheid aan Josua sal ons grootste prioriteit wees.  Maar hierdie belofte, of dreigement, hoe jy ook verkies om dit te noem, is nie net ‘n belofte om gehoorsaamheid af te dwing nie, of om orde te handhaaf nie.  Weereens het dit te doen met wie Israel is, as God se mense en dit beteken dat dit ook te make het met wie ons is.  Israel was die volk van die belofte.  Die volk van die verbond.  Die volk wat hul hoop op God gestel het.  En God het aan hulle die weg na die Beloofde Land gewys.  God het uiteengesit presies hoe hulle Kanäan sou ingaan en hul erfenis ontvang.  Die wyse waarop hulle sou ontvang wat God hulle beloof het, was deur die geloof.  In ‘n sekere sin kan ons sê dat hulle in Josua moes glo.  En die manier waarop hul hul geloof moes uitwerk, die manier waarop hulle hul geloof kon demonstreer, was deur gehoorsaamheid aan Josua.

 

En dit is waarom die volk belowe het om enige iemand wat in opstand kom teen sy bevel of sy woorde verontagsaam het, met die dood te straf.  Mense wat teen Josua in opstand gekom het en sy bevele verontagsaam het of sy belofte afgekeer het.  En wat geweier het om deur die geloof te lewe.  En dit beteken dat hulle nie aan die volk van God behoort het nie.  Hulle was kinders van die verbond, in daardie opsig het hulle aan die volk van God behoort.  Maar die kerk is uiteindlik die eenheid van gelowiges.  Die mense wat lewe deur geloof in God se beloftes.  Die mense wat honger en dors na die verlossing in Jesus Christus.

 

Dit is waarom God ons oproep tot kerklike dissipline.  Want enige iemand wat in opstand kom teen die Woord van Christus, wat sy bevel verontagsaam, is besig om die evangelie te verwerp.  En het geen reg daartoe om ingesluit te word in die gemeenskap van Jesus Christus nie.

 

Dis die weg wat God vir ons uitlê, die weg wat lei tot ons erfenis, tot ons verlossing.  God kondig die evangelie aan.  God beloof aan ons die geskenk van verlossing.  Wees nie bevrees nie.  Glo net.  Gryp die belofte aan en volg die weg wat lei tot di elewe, in die vertroue van die geloof, in die eenheid van geloof en in die gehoorsaamheid van geloof.

 

AMEN

Liturgie: 

Votum en seëngroet

Psalm 66:1,4,5

Gebed

Skriflesing: Josua 1

Ps. 78:1,2,4

Teks: Josua 1:10-18

Preek

Psalm 122:1,2

Geloofsbelydenis

Skrifberyming 35:1,3

Gebed

Kollekte

Skrifberyming 24:1,2,7

Seëngroet