Die gebed as direkte kommunikasielyn tussen aarde en hemel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-03-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 45
Preek Inhoud: 

Bid is net so belangrik soos asemhaal.

As ‘n mens nie asemhaal nie, sterf hy binne minute.

As iemand nie meer bid nie, gaan sy geloof ook dood.

Bid is dus onmisbaar.

In die eerste plek omdat God dit van ons vra.

Hy wil juis dat ons elke keer weer op sy deur klop.

In jou gebed mag jy aan God wys dat jy ‘n dankbare kind van Hom is, wat alles van Hom verwag.

God wil ook hoor hoe jy vir Hom vergewing vra.

As ons bid, moet ons besef dat ons klein, afhanklike en sondige mense is.

 

Mens hoor soms die uitdrukking:

Kinders wat vra, word oorgeslaan.

Maar by die Here werk dit anders.

Ons kan nie genoeg van Hom vra nie.

Wat ons nodig het, mag en moet ons van Hom vra.

Hy wil graag daagliks hoor, hoe jy vra vir sy krag en hulp.

Hy wil hoor, dat jy Hom vertrou dat Hy die beste vir jou sal doen.

 

Wat ‘n voorreg, dat ons so direk kan praat met ons Vader in die hemel.

Danksy Jesus Christus se koms na die aarde, danksy wat Hy vir ons oor die Vader openbaar het, weet ons dat ons hemelse Vader altyd gereed staan om te luister.

 

Tema: Die gebed as direkte kommunikasielyn tussen aarde en hemel

1 Die vernaamste uiting van dankbaarheid

2 Randvoorwaardes vir ‘n gebed

 

1 Uiting van dankbaarheid

Gebed is onmisbaar in die omgang met God.

Om te bid is aan die een kant buitengewoon eenvoudig – mens het niks daarvoor nodig nie.

Maar andersyds kan bid ook baie moeilik wees.

Bid is in elk geval nie iets wat vanselfsprekend is nie.

Dit is iets wat mens moet leer.

So het die dissipels destyds vir hulle Heiland gevra: “Here, leer ons bid.”

Vir hierdie vraag hoef ons ons ook nie te skaam nie.

Elke mens moet leer bid.

Bid is nie iets wat aangebore is nie.

Dit is God wat ons sover bring dat ons begin bid.

Hy skep die gebed in ons hart deur sy Heilige Gees.

Bid is moontlik, omdat Hy die inisiatief geneem het om kontak met ons te soek.

Ons gebed is slegs moontlik omdat Hy eers met ons gepraat het.

Ons gebed is ‘n antwoord op wat Hy vir ons gesê het.

Die kommunikasielyn van hemel na die aarde is tweeërlei, soos die Nederlandse Geloofsbelydenis dit verwoord:

God praat met ons deur sy skepping, voorsieninge onderhouding en regering van die hele wêreld.

Maar God praat met ons nog direkter deur sy Woord.

Hy het tot ons gespreek deur sy Seun.

En deur sy Seun nader ons nou ook tot Hom, die hoogheilige God.

In gebed.

Gebed, dit is die kommunikasielyn vanaf die aarde na die hemel.

Ons kom tot Hom in die besef dat ons in onsself hulploos is, sondaars.

Maar in Christus het ons tog die voorreg om voor Hom te mag verskyn.

In Christus mag ons selfs op vertroulike wyse met ons hemelse Vader omgaan.

 

Die moontlikheid om te kan bid is dus veranker in die middelaarswerk van Christus.

Christus het alles reeds vir ons in orde gemaak.

Dit is met hierdie besef dat Sondag 45 vra:

Waarom is die gebed vir Christene nodig?

Christene het tog al redding, vergewing, deur Christus ontvang?

Hoekom moet ons weer vir iets vra wat ons al het?

Maar die antwoord kom dan uit ‘n heel ander hoek.

Om te bid is nie in die eerste plek om te vra nie.

Om te bid is in die eerste plek om dankbaarheid te toon.

Die gebed is die vernaamste deel van die dankbaarheid.

Dit is die mooiste wat God by sy kinders sien.

Opreg dankbaar wees.

Dat sy kinders die geskenk uit sy hand aanneem en Hom daarvoor bedank!

Om dankbaar te wees is vir ons dikwels moeilik.

As iemand iets totaal gratis vir ons gee, het ons in ons die neiging dat ons iets terug wil doen.

Maar die woord dankbaarheid wil sê dat jy aanvaar dat dit nie nodig is om iets terug te doen nie.

En wat kan ‘n mens eintlik vir God terugdoen?

Elke mens is totaal van Hom afhanklik.

Die gebed is ‘n uiting daarvan.

Die gebedshouding is die houding van afhanklikheid.

Ons het self niks nie.

Ons kan self niks nie.

‘n Bidder is ‘n bedelaar.

Wel ‘n dankbare bedelaar.

Met leë hande kom ek na U toe.

Ek kan U niks aanbied nie.

Ek dank U dat ek van u goeie gawes mag lewe.

 

‘n Bedelaar leef op genade, van dit wat hy gratis ontvang.

Terugbetaal is nie moontlik nie.

Die belote gedagte aan terugbetaling devalueer die begrip genade.

Want genade beteken: alles kom van God.

Elkeen wat bid, ontvang, sê Jesus in Mattheüs 7(:8).

As ‘n sondige pa op aarde al die neiging het om net die beste vir sy kind te gee, hoeveel te meer die hemelse Vader!

Hy skenk julle – sê Jesus – die Heilige Gees.

Deur die werking van sy Gees kry ons ‘n kompleet nuwe lewe.

Hy leer ons om ‘n biddende lewe te lei.

Die Gees kom ons swakhede te hulp.

Die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge (Rom 8:26).

Die Heilige Gees lê ons selfs die woorde in die mond.

Hy plaas selfs die dankgebed in ons mond vir die genade wat ons mog ontvang.

Soos dit soms genoem word:

Vir genade is genade nodig.

Dit is iets wat ons nie kan verstaan nie.

‘n Geheimenis.

Maar so werk God in ons, en so mag ons dit ervaar.

Daarom is die HERE ook nie afhanklik van ons woorde van dank nie.

Genade op genade.

Onbegryplik, maar wel heerlik!

 

(Tema: Die gebed as direkte kommunikasielyn tussen aarde en hemel

1 Die vernaamste uiting van dankbaarheid)

 

2. Randvoorwaardes vir ‘n gebed

In v/a 117 word ‘n paar randvoorwaardes genoem waaraan ‘n gebed moet voldoen.

Nie alles wat ‘n gebed genoem word, is ‘n gebed nie.

Nie alle gebede behaag God nie.

In die Bybel vind ons volgens die Kategismus drie minimale vereistes, drie randvoorwaardes, waaraan ‘n gebed moet voldoen, om God te behaag en deur Hom verhoor te word.

Die eerste is dat ons die enigste ware God moet aanroep.

Dus nie ‘n afgod, soos die heidene doen nie.

Vir ons bestaan die gevaar dat ons vir onsself ‘n beeld van God skep in ons gedagtes, volgens ons eie behoeftes.

Dit is aan die einde van die dag ook ‘n afgod.

‘n God wat bloot ons belange dien en ons wense vervul.

Om ‘n voorbeeld te noem:

Daar is predikante wat geen probleem daarmee het om gay of lesbiese mense te trou nie.

In die troudiens sal hulle dan bid of God die paartjie wil seën.

Tot wie bid sulke predikante eintlik?

Hulle bid tot hulle afgod.

Hulle selfuitgedinkte god wat na hulle mening dit goed vind dat homoseksuele mense trou.

Ek is seker u sal self aan nog meer voorbeelde kan dink van hoe mense hulle eie godsbeelde skep.

My god vind dit goed dat ek ongetroud saamwoon.

My god het geen probleem daarmee as ek ryk mense se geld steel nie.

My god ... ensovoorts.

Sulke gebede bereik God nie.

Hulle is gerig tot afgode, wat mense self uitgedink het.

Afgode is doof en stom.

Hulle het wel oë, maar dis mensgemaakte oë.

Dus kan hulle nie sien nie.

Hulle het wel ‘n neus, maar dis mensgemaak.

Dus kan dit nie ruik nie.

Hulle het wel ore, maar die kan niks verstaan nie.

Hulle het wel voete, maar hulle kan nie loop nie.

Hulle het hande, maar dis mensgemaak, dus nutteloos.

Dink aan wat ons nounet uit Psalm 115 gelees en gesing het.

 

Om seker te weet dat ons tot die enige ware God bid, is ons op sy eie openbaring aangewese, die Bybel.

Daarin laat Hy Homself ken.

Ons kan eers bid, nadat ons goed na sy Woord geluister het.

Sodat ons weet, tot Wie ons bid.

Ons moet Hom eers aan die Woord laat kom in ons lewe.

Om te bid sonder om die boodskap van die Skrif in ag te neem, is nie bid nie.

Dan hou ons net ‘n uiterlike vorm in stand.

Dan is bid niks meer as net ‘n ritueel nie.

Dalk het dit dan nog psigologies ‘n soort waarde.

Mense wat hulleself inbeeld dat God aan hulle kant is.

Maar in werklikheid is die teendeel die geval.

Soos Psalm 115 ons leer oor so ‘n afgod:

Dan sal elkeen wat daarop vertrou, en heel sy toekoms op ‘n afgod bou, net soos die afgod wees – nietig!

 

Wat mag ons dan wel bid?

Alles, sê die Kategismus, wat God ons beveel het.

Hier kom baie duidelik na vore, dat ons moet leer om te bid.

Die randvoorwaardes vir wat ‘n gebed is, dit leer ons uit die Bybel.

Luister na God se Woord is onmisbaar vir jou gebedslewe.

Dit is dus die eerste randvoorwaarde.

Eers luister.

God leer ken soos Hy Homself aan jou bekend maak in die Bybel.

 

Die tweede randvoorwaarde is, sê antwoord 117, dat jy jou nood en ellende reg en grondig ken.

Sodat jy jou voor sy majesteit kan verootmoedig.

In ander woorde: dat jy besef dat jy ‘n bedelaar is.

‘n Sondaar.

Ons het alles verloor.

Sou ons op onsself aangewese wees, sou ons heeltemal verlore wees.

Van die heerlikheid waarmee God ons geskep het, het niks oorgebly nie.

Ons is doemwaardig.

Dit is ons nood en ellende.

Hierdie besef van ons ellende is nie aangebore nie.

Ook hier is ons weer op God se Woord aangewese.

Dit is die Heilige Gees wat ons oortuig van ons ellende.

Hy sal “die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel”, sê Jesus toe Hy die Trooster beloof het (Joh 16:8).

Die Gees bring ons sover dat ons ons ellende erken.

Erken gaan dieper as net ken.

Genoeg rede tot verootmoediging.

As ons bid, nader ons as nietige klein mense tot God, welbewus van ons nood en ellende.

Dit is dus die tweede randvoorwaarde.

Die regte kennis van jouself, soos die Woord van God dit aan jou openbaar.

 

Dan die laaste en belangrikse randvoorwaarde as ons nederig tot God nader in ons gebed, is dat ons dit dan doen in die Naam van Jesus Christus.

Deur sy Naam mag ons, al is ons bewus van ons ellende, tog vrymoedig tot Hom nader.

God is groot en heilig en almagtig – dit is die eerste randvoorwaarde dat ons dit besef.

Ons is klein, ellendig en onrein – dit is die tweede randvoorwaarde dat ons dit besef.

Hieruit sou logieserwys volg dat daar nooit kontak tot stand sal kan kom tussen God en mens nie.

Maar juis dit maak randvoorwaarde 3 moontlik.

As ons bid in die Naam van Jesus Christus.

Dit veroorsaak dat ons – hoewel ons dit nie waardig is nie – tog verhoor word.

Om te bid in Jesus se Naam beteken nie net dat ons kanse goed is om verhoor te word nie.

Die Kategismus praat oor die vaste grond onder ons verhoring.

Ons bid nie op eie gesag nie.

Jy plaas nie jou eie handtekening onder jou gebed nie.

In jou eie naam kan jy nie tot God nader nie.

Ons sondaar wees is die groot obstakel.

Maar ons plaas Christus se handtekening onder ons gebed.

Christus gee elkeen van ons – jonk en oud – die reg om sy handtekening – sy Naam – te gebruik onder aan ons eie gebed.

Dit gee nie net ‘n statistiese waarskynlikheid op verhoring nie.

Dit is ‘n vaste grond.

Mens kan dit ook noem: die fondament.

Daar is sekerheid van verhoring.

God sal, omdat sy Seun dit namens ons vra, verseker na ons luister.

God sal net die beste vir ons doen.

Sê dit elke keer weer vir jouself.

Sê dit vir jouself as jy voel die hemel is van koper.

Sê dit ook vir jouself as jy dink God doen die omgekeerde as wat jy gevra het.

Danksy Christus doen God net die beste vir ons.

 

Ons as mense is geneig om vinnig kritiek te hê op die kommunikasielyn tussen hemel en aarde.

In ‘n tyd van telefoon en internet, ‘n tyd waar mense elke minuut van die dag bereikbaar is, word ons te maklik ongeduldig.

Vroeër het mense ‘n brief geskryf en moes vier maande vir ‘n antwoord wag.

Vandag bel mens in sekondes na die ander kant van die wêreld.

In ons tyd dreig ons om ongeduldig met God te word.

God, waar bly u antwoord?

God, waarom reageer U nie vinnig nie?

In so’n tyd vergeet ons al te maklik hoekom die kommunikasie tussen hemel en aarde eintlik stroef verloop.

Ons vergeet gemaksonthalwe hoe dit vroeër was.

Vroeër, voor die sondeval, toe God met Adam in die paradys gewandel het.

Ongedwonge en direk kon hy met God praat.

Dit lê nie aan God dat sedertdien die kommunikasie moeisaam verloop nie.

Laat ons telkens weer bewus word van die drie randvoorwaardes:

Besef jou eie ellende en sondigheid.

Besef God se grootheid en heiligheid.

En dan word mens dankbaar dat daar desondanks kommunikasie moontlik is, danksy die Naam van Jesus Christus.

Solank ons lewe in die gebroke aardse bedeling, sal die situasie voortduur, dat ons nie soos destyds in die paradys van aangesig tot aangesig kan kommunikeer nie.

Die fout lê nie daar Bo nie, maar hieronder.

Danksy Christus is die kommunikasie herstel.

Dat daar kommunikasie is, is al ‘n wonder.

Dat God in sy Seun op aarde gekom het.

Dat Hy die Vader aan ons openbaar het.

Dat Hy die moontlikheid tot gebed gegee het, as kommunikasielyn van onder af boontoe.

 

Later, as ons kom te sterwe, as ons die sondige lewe agter ons laat, as ons deurgang vind via die dood na die ewige lewe, vanaf daardie oomblik sal die kommunikasie anders verloop.

Dan sal vir hulle wat in Christus ontslaap het, die kommunikasie weer optimaal wees.

Voor God se aangesig mag ons dan wees en alles van Hom vra.

Geen blokkades van sondigheid meer nie.

Geen siekte of dood, geen miskommunikasie sal daar meer wees nie.

Dan sal ons weer ten volle met ons God kan wandel.

Dan sal ons saam met Christus kan uitsien na die dag waarop die Vader alles sal herstel.

Die laaste dag, as sy heerlikheid weer ten volle ook op aarde sal neerdaal.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Sb 28:1-4

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Skriflesing: Psalm 115

Ps 115:1,2

Skriflesing: Lukas 11:1-13

Ps 115:3-5

Gebed

Kollekte

Ps 115:6-9

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 45

Preek

Sb 20:6-8

Gebed

Ps 138:2-4

Seën