Psalm 30

Psalm 30

1.  Ek sal met hart en mond, o HEER,
u roem verkondig en u eer;
U het in guns na my gebed
geluister en my uitgered,
sodat die man wat my bestry het,
nie oor my smart hom kon verbly het.

2.  My God, U het my op my klag
genees, en al my smart versag;
U het my siel, deur angs beroer,
diep uit die graf weer opgevoer,
U het my om die wederstrewer
nie aan die grafkuil oorgelewer.

3.  Sing nou, Gods gunsgenote, bly,
'n danklied aan die HEER gewy.
Spreek lof, bring in gedagtenis
sy Naam wat hoog en heilig is!
Al laat Hy ons 'n oomblik bewe,
sy goedheid duur ons ganse lewe.

4.  Die droefheid wat ons hart verskeur,
wanneer ons saans mistroostig treur
en uitbreek in ons jammerklag -
sal, soos die pelgrim, net vernag;
want nouliks blink die môreglore
of jubelsange word gebore.

5.  Ek het gesê in voorspoedstyd:
"Ek wankel nie in ewigheid."
Want, HEER, u guns het my bewaak,
U het my rotsberg vasgemaak.
Maar sluit U net vir my u oë -
dan beef my berg, van skrik bewoë.

6.  Toe was, o HEER, my hart weer week;
ek het geroep en U gesmeek:
"Moet ek dan sterf? Sal ooit my stof
die mond kan open tot u lof?
Sal dit die luister van u waarheid
ooit kan verkondig in sy klaarheid?"

7.  Hoor, HEER; betoon u guns aan my!
Hoor, troue Helper, wees naby
wanneer ek biddend op U wag!
Toe het die HEER my rougeklag
verander in die jubelreie
van sangers op hul feesgetye.

8.  In plaas van rou en harteleed
het U met blydskap my omkleed;
my sak het U ontbind, my weer met vreugde omgord, sodat my eer
nie swyg: U bring ek al die ere,
U sal ek ewig loof, o HERE!