Psalm 86

Psalm 86

1.  HEER, my God, ontferm U oor my,
luister na my stem, verhoor my!
'k Is ellendig, diep in nood,
gans en al van hulp ontbloot.
O bewaar my, U 's almagtig;
maak my weer u guns deelagtig;
red u kneg, verlos my nou,
waar 'k alleen op U vertrou.

2.  Wie is tog, soos U, weldadig?
Wees my dan, o HEER, genadig,
want my roepstem en geklag
klim tot U die ganse dag.
Hoor my in my sielsverlange;
gee my vreugde en vreugdesange;
want ek hef my hart en oog,
troue God, tot U omhoog.

3.  HEER, u goedheid is die lewe;
U sal mild ons skuld vergewe;
wie U aanroep in die nood,
vind u guns oneindig groot.
HEER, my God, ontferm U oor my,
luister as ek roep, verhoor my!
Merk uit goedheid, as ek spreek,
op die stem waarmee ek smeek.

4.  'k Is gewoond in bange dae
my benoudheid U te klae:
U, o HEER, is dan naby,
U verhoor en antwoord my.
By die gode, hoog in ere,
is daar niemand soos die HERE;
en geen aardse werk hou stand
by die werke van sy hand.

5.  Al die volke in heidenlande -
eie maaksel van u hande -
sal hul neerbuig voor U, HEER,
en u Naam aanbiddend eer.
Want u grootheid ken geen perke;
U alleen doen wonderwerke:
daar 's geen God naas U, geeneen,
U is God, ja, U alleen!

6.  Leer my na u wil te handel,
'k sal dan in u waarheid wandel;
neig my hart en voeg dit saam
tot die vrese van u Naam.
HEER, ek hef my hart na bowe,
nuwe sangstem sal U lowe,
nuwe dank sal voor U rys -
'k sal u Naam vir ewig prys.

7.  'k Is behoeftig en ellendig,
maar u guns, oor my onendig,
het my siel - omlaag gedruk -
uit die dieptes uitgeruk.
O my God, 'n hele skare
trotsaards en geweldenare
soek my siel en span die boog -
daar 's geen Godsvrees voor hul oog.

8.  Maar barmhartig en lankmoedig,
groot van goedheid en oorvloedig
in genade, en altoos trou 
is die HEER wat my behou.
Wend U tot my in ontferming,
red my, toon my u beskerming!
Hoor my, HEER, 'n seun is dit
van u diensmaagd wat hier bid.

9.  Doen 'n teken my ten goede,
dat my haters in hul woede,
kan aanskou hoe U my red
en my troos op my gebed.