Die regsinnige leer is nou uiteengesit.
1. Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: Die volharding van die ware gelowiges is nie die gevolg van die uitverkiesing of 'n gawe van God wat deur die dood van Christus verwerf is nie. Dit is 'n voorwaarde (soos hulle sê) van die nuwe verbond wat die mens, voor sy finale uitverkiesing en regverdiging, deur sy vrye wil moet volbring.
Die Sinode leer: Die Heilige Skrif getuig immers dat volharding die gevolg van die uitverkiesing is en dat dit deur die krag van die dood, die opstanding en die voorbidding van Christus aan die uitverkorenes gegee word: Die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard (Rom. 11:7); ook Rom. 8:32-35: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, Ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus?
2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God gee die gelowige wel genoeg krag om te volhard en is bereid om dit in hom te bewaar, mits die mens sy plig doen. Al is alles wat nodig is om in die geloof te volhard en wat God wil gebruik om die geloof te bewaar, ook in werking gestel, dan nog hang dit altyd van die wil van die wil af of die mens sal volhard of nie sal volhard nie.
Die Sinode leer: Hierdie mening is duidelik 'n Pelagiaanse dwaling. Terwyl dit die mense vry wil maak, maak dit van hulle ketters. Dit is ook in stryd met die deurlopende getuienis van die evangeliese leer wat die mens alle stof tot roem ontneem en die lof vir hierdie weldaad alleen aan die genade van God toeskryf. Dit is verder ook in stryd met die uitspraak van die apostel: Dit is God wat ons ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here, Jesus Christis onberispelik te wees (1 Kor. 1:8).
3. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan nie alleen heeltemal en onherroeplik uit die regverdigende geloof, die genade en saligheid uitval nie maar val inderdaad ook dikwels daaruit en gaan vir ewig verlore.
Die Sinode leer: Hierdie opvatting maak juis die genade van die regverdiging en die wedergeboorte en die voortdurende bewaring deur Christus kragteloos. Dit is ook in stryd met die nadruklike woorde van die apostel Paulus: As Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, veel meer dan sal ons, noudat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn ( 1 Kor. 5:8 - 9), en van die apostel Johannes: Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore (1 Joh.3:9). Net so is dit in teëspraak met die woorde van Jesus Christus: Ek gee my skape die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Joh. 10:28-29).
4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan die sonde tot die dood, of dié teen die Heilige Gees, begaan.
Die Sinode leer: Dieselfde apostel Johannes, nadat hy in 1 Joh. 5:16-17 melding gemaak het van hulle wat tot die dood sondig, en verbied het om vir hulle te bid, voeg dadelik in v. 18 daarby: Ons weet dat elkeen wat uit God gebore, is, nie sondig (naamlik met so 'n sonde) nie, maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie (1 Joh. 5:18).
5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan in hierdie lewe geen sekerheid van die toekomstige volharding sonder 'n besondere openbaring besit nie.
Die Sinode leer: Deur hierdie leer word die vaste troos wat die ware gelowiges in hierdie lewe het, weggeneem en die twyfel van die pousgesindes weer in die kerk ingevoer. Die Heilige Skrif lei egter hierdie sekerheid nie telkens uit 'n besondere en buitengewone openbaring af nie maar uit die kenmerke wat aan die kinders van God eie is, en uit die standhoudende beloftes van God. Dit kom veral na vore by die apostel Paulus in Rom. 8:39: Geen skepsel sal ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus onse Here is nie, en by Johannes: Hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, em Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het (1 Joh. 3:24).
6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die leer van die sekerheid van die volharding en van die saligheid is, kragtens sy eie aard en wese, 'n kussing vir die sondige natuur en skadelik vir die godsvrug, goeie sedes, gebede en ander heilige handelinge. Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om daaraan te twyfel.
Die Sinode leer: Daarmee wys hulle immers dat hulle die krag van die Goddelike genade en die werking van die Heilige Gees wat in ons woon, nie ken nie. Ook weerspreek hulle die apostel Johannes, wat met uitdruklike woorde die teendeel in sy eerste brief leer: Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:2-3). Buitendien word hulle weerlê deur die voorbeeld van die heiliges van die Ou en die Nuwe Testament. Hoewel hulle van hulle volharding en saligheid seker was, het hulle nogtans in die gebede en ander geloofshandelinge volhard.
7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die geloof van hulle wat slegs 'n tyd lank glo, verskil net in tydsduur van die regverdigende en saligmakende geloof.
Die Sinode leer: Christus stel immers self duidelik in Matt. 13:20 en Luk. 8:13 en volgende verse nog 'n drieledige onderskeid vas tussen hulle wat net 'n tyd lank glo, en die ware gelowiges. Hy sê: Eersgenoemdes ontvang die saad op rotsagtige grond, maar die gelowiges in goeie grond of in goeie harte; eersgenoemdes is sonder wortel, maar die gelowiges het 'n vaste wortel; eersgenoemdes dra nie vrug nie, maar die gelowiges dra met standvastigheid of volharding in verskillende mate hulle vrugte.
8. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit is nie ongerymd dat die mens sy eerste wedergeboorte verloor en daarna weer, selfs baiekeer weergebore word nie.
Die Sinode leer: Met hierdie leer ontken hulle die onverderflikheid van die saad van God waardeur ons weergebore word, en kom hulle in stryd met die getuienis van die apostel Petrus: Julle wat wedergebore is, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike (1 Pet. 1:23).
9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het nêrens gebid dat die gelowiges in die geloof onfeilbaar sou volhard nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek Christus self, wat sê: Ek het vir jou gebid, Petrus, dat jou geloof nie mag ophou nie (Luk. 22:32); en die evangelis Johannes, wat getuig dat Christus nie alleen vir die apostels gebid het nie, maar ook vir almal wat deur hulle woord sou glo: Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, en: Ek bid nie dat U hulle, uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar (Joh. 17:11, 15, 20).