Psalm 42
1. Soos 'n hert in dorre streke
skreeuend dors na die genot
van die helder waterbeke,
skreeu my siel na U, o God!
Ja, my siel dors na die HEER,
na die Lewensbron; wanneer
sal 'k, ná swerftog en benouing,
God weer sien in klare aanskouing?
2. Trane stort ek in my klagte,
want die spotters vra vir my:
"Waar 's jou God?" My dae en nagte
gaan in droefenis verby.
Nog hoor ek die feesgedruis
wat weerklink het om u Huis,
Toe 'k 'n skaar daarheen gelei het,
my met hul in God verbly het.
3. O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as die vyand jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal 'k my verlustig.
4. 'k Dink aan God in donker dae
uit die land van die Jordaan;
Hermon hoor my kerme en klae,
met die klein gebergte, aan.
Weedom gryp my binnenste aan,
as u water oor my gaan,
as ek, in my smart bedolwe,
wegsink in u watergolwe.
5. Maar die HEER sal in my lewe
weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
want ek bly die HEER verwag;
my gebed sal opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe.
6. HEER, my Rots, op U betrou ek.
Waarom dan vergeet U my?
Ganse dae en nagte rou ek
onder druk en dwing'landy;
want ek hoor die vyand spreek
wat my met sy spot deursteek,
en my toeroep met veragting:
"Waar 's die God van jou verwagting?"
7. O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as dié spotstem jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal 'k my verlustig.