Skrifberyming 20
1. Bo 'n strandelose en donker see
van eindelose wêreldwee
verhef die skepsel hom -
die kop hooguit, om deur die nag
te speur wanneer die gloriedag
van al Gods kinders kom.
2. Die skepping, uit die oer-ou tyd,
is slaaf van die verganklikheid,
maar nie gewillig; nee,
ter wille van die mensekind,
van eeuskuld is die band gebind,
die lydensboei gesmee.
3. Die ganse skepping het in druk
altyd weer aan die boei geruk,
sterk-smagtend na die tyd
dat hy weer los van die verderf
die vryheid met Gods kind sal erf
in onverganklikheid.
4. Ons weet die ganse skepping sug -
geluidloos deur die hoë lug
en afgrond diep benee,
maar yslik as die stormwind brul,
die slagdier in sy bloedplas krul
en kerm die eewge wee.
5. Maar ons ook wat die eerst'lingsvrug
uit God se Gees ontvang, ons sug;
dit lyk so ver nog af
dat ons ons kindsdeel vol sal kry,
dat ons van die verderf'nis vry,
sal oprys uit die graf.
6. Ons sug, want daar 's geen oogbewys!
Maar hoop het ons weer op laat rys
in die ontkomingstryd;
want as ons sien, hoop ons nie meer;
maar as ons hoop dan leef ons weer
en wag in lydsaamheid.
7. En is ons swak en moedeloos,
dan kom die Heil'ge Gees ons troos.
Gods duif, so hoog van vlug,
het diep gedaal om saam te smeek,
in donker dal saam uit te breek
in diepe bidgesug.
8. En God wat in die hart kan lees,
die ken die sugstem van die Gees
en neig in guns sy oor;
en het die Gees met regte bee
vir ons by God weer ingetree,
dan 's ons gebed verhoor.