Artikel 72 Doel van die tug
Die kerklike tug sal na die Woord van God en tot sy eer bedien word.
Die doel hiervan is dat die sondaar met God en sy naaste versoen word, en dat die aanstoot uit die gemeente van Christus weggeneem word.
Artikel 73 Onderlinge toesig
As iemand afwyk van die suiwer leer of hom in sy lewe wangedra, en dit 'n geheime saak is wat geen openbare aanstoot gee nie, sal die reël wat Christus duidelik in Mattheüs 18 voorskryf, nagekom word.
Artikel 74 Aanmelding by die kerkraad
Geheime sondes mag nie aan die kerkraad bekend gemaak word as die sondaar na persoonlike, broederlike vermaning of na vermaning met een of twee getuies, berou toon nie.
Wanneer iemand volgens die reël van Mattheüs 18 oor 'n geheime sonde vermaan is en daaraan geen gehoor gee nie, of wanneer iemand 'n openbare sonde gepleeg het, sal dit aan die kerkraad meegedeel word.
Artikel 75 Skuldbelydenis by bekering
As iemand hom van 'n openbare sonde of van 'n geheime sonde wat aan die kerkraad gemeld moes word, bekeer, sal die kerkraad sy skuldbelydenis aanvaar indien hy voldoende tekens van berou toon. Die kerkraad sal beoordeel of die gemeente van hierdie skuldbelydenis in kennis gestel moet word.
Artikel 76 Tugmaatreëls
Die kerkraad sal toegang tot die nagmaal van die Here weier aan diegene wat die kerklike vermaning hardnekkig verwerp, of wat 'n openbare, of in ander opsigte ernstige sonde, begaan het.
Indien hy na talryke daaropvolgende vermanings geen teken van berou toon nie, sal die kerkraad as uiterste maatreël tot ekskommunikasie oorgaan, waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.
Niemand mag geëkskommuniseer word sonder die instemming van die klassis nie.
Artikel 77 Afkondigings tydens die prosedure
Voordat die kerkraad - na die ontsegging van die nagmaal en die daaropvolgende vermanings - tot ekskommunikasie oorgaan, sal hy die hardnekkigheid van die sondaar aan die gemeente bekend maak. Daarby sal sy sondes genoem word asook die vele pogings om hom tot inkeer te bring deur bestraffing, ontsegging van die nagmaal en talryke vermanings. Die gemeente sal aangespoor word om hom aan te spreek en vir hom te bid.
Hiervoor sal drie maal 'n afkondiging gemaak word. Om die sondaar nog te ontsien, sal sy naam in die eerste afkondiging nie genoem word nie.
By die tweede afkondiging sal sy naam wel genoem word met die instemming, volgens artikel 76, van die klassis.
By die derde afkondiging sal die kerkraad aan die gemeente bekendmaak dat hy uit die gemeenskap van die kerk gesluit sal word as hy hom nie bekeer nie; so sal die ekskommunikasie die stilswyende instemming van die gemeente hê.
Die kerkraad sal oor die tydsverloop tussen die afkondigings beslis.
Artikel 78 Heropneming van geëkskommuniseerdes
As 'n geëkskommuniseerde langs die weg van berou weer in die gemeente opgeneem wil word, sal dit aan die gemeente bekendgemaak word.
As niemand hierteen beswaar maak nie, sal hy na verloop van minstens drie Sondae weer opgeneem word, na die doen van openbare skuldbelydenis, waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.
Artikel 79 Tug oor ampsdraers
As predikante die kerklike vermaning verwerp, of as hulle 'n openbare of in ander opsigte ernstige sonde begaan, sal hulle geskors word op grond van die oordeel van hulle kerkraad en dié van die naburige gemeente, soos deur die klassis bepaal.
Die klassis moet met advies van die deputate van die partikuliere sinode, soos in artikel 14 genoem, oordeel of hulle afgesit moet word.
As ouderlinge of diakens hulle aan een van die genoemde sondes skuldig maak, is die oordeel van hulle kerkraad en dié van die naburige gemeente, voldoende vir hulle skorsing of afsetting.
Artikel 80 Sondes wat tug oor ampsdraers noodsaaklik maak
Ernstige sondes wat rede vir skorsing of afsetting van ampsdraers is, is in die besonder die volgende: die aanhang van valse leer, openbare skeurmakery, godslastering, simonie, ontroue diensverlating of indringing in die dienswerk van 'n ander, meineed, egbreuk, ontug, diefstal, geweldpleging, gereelde dronkenskap en onregmatige selfverryking. Verder moet hierby alle sondes en ernstige misdade wat by ander lidmate rede vir ekskommunikasie is, gereken word.
Artikel 81 Onderlinge toesig van die ampsdraers
Die predikante, ouderlinge en diakens sal onderling christelike sensuur uitoefen en mekaar insake die bediening van hulle amp aanspoor en vriendelik teregwys.
Artikel 82 Tug oor dooplidmate
Die kerkraad sal iemand wat as kind die doop ontvang het, vermaan as hy as volwassene nalaat om openbare geloofsbelydenis af te lê, of ook in ander opsigte aan sy roeping tot nuwe gehoorsaamheid in die verbond van God ontrou is. Indien hy die vermaning van die kerkraad hardnekkig verwerp, en daarby duidelik laat blyk dat hy afkerig is van die verbond en onverskillig of selfs vyandig teenoor die diens van die Here staan, sal dit met instemming van die klassis aan die gemeente bekendgemaak word. By die afkondiging sal die kerkraad sy naam noem en ook 'n tydperk vasstel. Die gemeente sal aangespoor word om hom aan te spreek en om vir hom te bid. As hy in die genoemde tydperk geen teken van opregte berou toon nie, sal die kerkraad hom in 'n erediens uit die gemeenskap van die kerk sluit, waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.
Indien hy na hierdie ekskommunikasie tot bekering kom en weer by die gemeenskap van die kerk wil aansluit, sal hy deur middel van openbare geloofsbelydenis toegelaat word, nadat die kerkraad sy bekering aan die gemeente bekendgemaak het.