Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook 'n egte menslike siel om so 'n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb 2:14), dat Hy, wat die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand 2:30 en Rom 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Luk 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jes 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het in alle opsigte - maar sonder sonde - aan sy broers gelyk geword het (Heb 2:17 en Heb 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt 1:23).
Fil. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.