Psalm 39
1. Ek het gesê: Ek wil my weg bewaar,
geen klaagtoon oor my tong laat gaan;
in onheil wil 'k my mond en spraak bedwing,
terwyl die vyand voor my staan;
sodat hy in sy ongeduld oor my
geen vreugde of voordeel sal verkry.
2. In stilheid was ek stom, ek het geswyg
ook van wat goed is, maar my smart
is aangewakker tot 'n lydensvlam,
en daar was hitte in my hart
by my gesug, sodat my tong moes spreek,
maar met die stem van een wat smeek:
3. O HEER, ontdek my lewensend aan my;
my dae is by U getel.
En leer my tog hoe kort van duur ek is:
'n handbreed is my tyd geste;
'n ademtog en - ek is dit weer kwyt!
Ja, elke mens is nietigheid.
4. Gaan nie die mens net soos 'n skim daarheen,
net soos 'n skadu wat verdwyn?
Hul woel vergeefs, hul bring verniet byeen
wat vir die oog begeerlik skyn.
En niemand weet wie ná sy dood sal erf
wat hy met soveel sorg verwerf.
5. En nou, wat is dit waar ek nog op wag?
Ek hoop op U alleen, o God!
Red my van skuld, die oorsaak van my smart,
en laat die dwaas nie met my spot;
dan swyg ek stil, want U het dit gedoen;
ek wil my met u wil versoen.
6. Te swaar is die bestryding van u hand.
Wend u kastyding van my af!
As U die mens in u gestrengheid tref,
dan welk sy skoonheid by u straf.
Net soos 'n weefsel wat die mot verteer -
so nietig is die mens, o HEER!
7. Hoor my gebed, merk op my hulpgeroep,
wanneer 'k my trane voor U skrei.
Ek is 'n vreemd'ling wat maar kom en gaan,
soos ook my vaders was voor my.
Maak my weer vrolik, wend u toornblik af
voordat ek heengaan na die graf.