Nagmaalsoordenking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 73
Preek Inhoud: 

Nagmaalsoordenking Psalm 73: 28a

'Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. '

Hierdie teks, gemeente, is natuurlik 'n pragtige teks vir 'n Nagmaalsviering.

Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.

Immers, hoe wonderlik naby is ons by die Here as ons die Heilige Nagmaal vier.

Tog is hier wel rede om vir onsself 'n paar vrae te vra. Ons stel twee vrae:

Kan ons dit regtig se vandag?

Dit is vir my goed om naby die Here te wees.

En as daar nou sondes in jou lewe is wat jy nie wil bely of kan bely nie? Bly jy dan nie maar liewers 'n bietjie uit die buurt van die Here nie?

Dan mag dit in die algemeen goed wees om naby die Here te wees, maar dan is dit vir jou dalk beter om Hom maar nie so naby onder die oe te kom nie.

Kortom, hierdie woord roep ons op tot selfbeproewing met betrekking tot ons sondes.

Ons sal eers werklik ons sondes moet bely en vir vergewing soek voordat ons hierdie woorde kan nase: Dit is vir my goed om naby die Here te wees.

Ek wil 'n tweede vraag vra: Hoeveel ervaar ons van hierdie woorde in ons eie lewe?

Kyk om te se, dit is vir my goed om naby die Here wees, dit kan jy op 'n heel oppervlakkige, onnadenkende manier doen.

Daarom is dit goed om hierdie woord te oorweeg in die lig van heel die psalm.

Asaf, die digter van hierdie psalm, begin met die woorde: Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.

Wel, dit is 'n belydenis wat almal sal saamstem. Daarop rus mos ons geloof, op die goedheid van die Here.

Dit is 'n soortgelyke belydenis as: Christus bewaar sy kerk.

Van kleinsaf het ons so geleer. Dus dit sal ons almal maklik kan nase: Christus bewaar sy kerk.

Wel, netso was dit in Israel 'n algemene belydenis: God is goed vir Israel. Natuurlik is Hy! Hy is mos die God van Israel!

Maar hierdie belydenis wat almal so vanselfsprekend saamse kom nou by die digter in 'n geweldige krisis.

Lees maar in vers twee: Maar, wat my aangaan, amper het ek uitgegly. Amper het ek hierdie belydenis net so oortuig ontken as wat ek hom eerste uitgespreek het.

Wat het gebeur?

Wel, die digter het sy belydenis getoets op die feite.

En wat sien hy dan?

Sien hy inderdaad dat die Here goed is vir hulle wat hul hart rein hou?

Ongelukkig, nee. Hy sien selfs die omgekeerde. Hulle wat spot met God, met hulle gaan dit goed. Hulle het nie die probleme wat die vrome pla nie. Hulle vaar wel. Hulle is ryk. Hulle het aan geen ding gebrek nie. Hulle is weliswaar ryk op koste van die mense wat hulle uitbuit, maar daar is niemand wat dit afstraf nie. Ongehinder kan hulle hul gang maar gaan.

En dan kom die digter tot die eerlike erkenning: Ek het afgunstig geraak.

Kyk, hoe gaan dit met die goddelose?

Hy bedrieg sy naaste, hy pleeg geweld.

Maar dit gaan goed met hom! Hy geniet die lewe. Hy is gesond en spekvet.

Maar ek, ek wat so gebid het, ek wat altyd my aan die wet van die Here gehou het, ek ly gebrek, ek sug onder siekte en kwale.

Wat span ek my in om na die gebooie van God te lewe terwyl dit my niks help nie? Eerder die teendeel.

En daar kom nog by die spotlag van die goddelose.

Dit maak dit heeltemal onverdraaglik.

Dit alles by mekaar het by die digter die twyfelvraag laat ontstaan: Is daar wel 'n God wat sien?

Is daar wel 'n rede vir my vertroue op die Here?

Is God wel goed vir die wat rein van hart is?

Ag gemeente, ek hoop u herken hierdie vrae van Asaf as u eie vrae.

Laat ons van gelowiges tog nie die wandenkbeeld he dat hulle nooit hul vrae of hul twyfels oor die goedheid en die leiding van die Here in hul lewe het nie.

'n Christen gaan nie met 'n superieure glimlag verby aan hierdie vrae asof hom dit nie raak nie. Dit is nie so dat die belydenis van vers 1: Waarlik, God is goed vir Israel, nooit deur ons bevraagteken word nie.

As jy wel so dink het jy vermoedelik nog maar baie min lewenservaring of jy is te oppervlakkig om jouself hierdie tipe vrae te vra.

Maar Asaf stel hulle wel. Hy worstel met die aanvegtinge in sy geloof. Hy glo in die goedheid van die Here, maar dit hef nie sy vrae en twyfels op nie.

Laat ons daarom maar langs Asaf gaan staan vandag. Sy vrae is ook ons vrae, sy stryd is ook ons stryd.

Maar ons het nog 'n rede om langs Asaf te gaan staan. Hierdie rede: Sy belydenis is ook ons belydenis.

Asaf glo in die goedheid van God. Hy glo dat God omsien na hulle wat rein van hart is.

En daarom bly Hy nie staan by sy vrae nie, maar hy gaan verder.

Hy vra hom af: Wat is die einde van die goddelose?

Hoe loop dit met hom af?

En dan sien hy die antwoord: Die goddelose vergaan! Hy val tenslotte onder die oordeel van God. Hy kom in die verderf.

Maar ek, ek bly by die Here.

En waarom? Omdat die Here my hand gevat het. Die Here het my by die arm geneem en lei my.

En dit is die sekerheid van my lewe.

Want as ek nou alles op 'n ry sit en oorweeg, wat is dan die belangrikste in die lewe?

Is dit rykdom? Is dit mag? Is dit eer van mense?

Ag, wat beteken dit alles as die Here nie daar is nie?

Wat beteken geld, goed, gesondheid buite die Here om?

Dit kan mos jou lewe geen sin gee nie.

Asaf, brs en srs, het deur al die groot lewensvrae gegaan.

Hy het tenslotte maar een antwoord.

Daar is een ding wat saak maak in die lewe.

Dit is die nabyheid van die Here.

Dit is die ervaring dat die Here jou hand neem en jou lei.

Dit is om gemeenskap te beleef met God.

En dit is juis wat die Here vir ons aan die Nagmaalstafel wil skenk. Gemeenskap met Hom.

Onder die O.T waarin Asaf geleef het is die belewing van gemeenskap met God onmiddellik aan die Heiligdom verbind. Die tempel, waar God amper tasbaar aanwesig was.

Daar het jy die troos gevind van vergewing van jou sondes, van hernude sekerheid in jou geloof.

Vandag vind ons die Here se nabyheid in ons omgang met die Middelaar Jesus Christus.

Hy bied ons gemeenskap aan in die viering van die Heilige Nagmaal.

Daar leer ons dit weer te se en oor en oor te herhaal: Wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.

Almal wat hier aan die Nagmaalstafel kom het sy eie lewenservarings en kan sy eie lewensverhaal vertel. Sommige het nog maar min om te vertel. As jy jong en onervare is dan was daar moontlik nog nie soveel stryd in jou lewe met moeilike lewensvrae nie, ander kan ure praat oor hul ervarings. Oor hul verwagtings en oor hul teleurstellings.

Maar die Here wil ons hier almal langs mekaar neersit.

Hy wil vir ons elkeen die ervaring gee: Dit is goed om naby My te wees.

Proe en smaak dat die Here goed is!

En na hierdie Psalm besef ons wel dat die Here se goedheid nie uitsluitlik afgelei moet word uit ons aardse omstandighede nie. Nee, sy goedheid is 'n geloofsaak.

Wie sy vertroue op God stel word nie beskaam nie.

Hy word getroos.

Ook in moeilike tye sal hy ondervind: die hand van die Here is naby. Hy neem my by die hand en lei my.

Laat jou lei deur daardie hand en proe dit self: Die Here is goed!

En se dit vandag vir mekaar: Wat my aangaan: dit is vir my goed om naby God te wees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)