Miga handhaaf sy oordeelsprediking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Miga 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 9: 1-8
Ps 115: 1, 2
Ps 115: 6, 7, 8
Ps 38: 1, 2, 15, 17
Ps 89: 6, 7, 11
Teks: Miga 2: 7-11

Geliefde gemeente,

Verlede week het ons gehoor hoe die profeet Miga vir die volk Israel met 'n skerp oordeelsaankondiging moet kom.

Die maghebbers in Israel het die geregtigheid in die land verbreek. Daarop sal die Here teenmaatreels neem. Hy gaan die geregtigheid in die land herstel.

As mense onheil bedink teen hul naaste, dan sal God dit teenoor hulle doen.

As hulle mense hul erfdeel afvat, dan vat God alles van hulle af.

So doen God geregtigheid teenoor hulle wat hulle skuldig maak aan magsmisbruik ten behoewe van hulleself.

U kan U ongetwyfeld voorstel dat die mense teen wie Miga op so'n manier profeteer, glad nie van sy prediking gehou het nie.

Hulle protesteer dan ook teen Miga se oordeelsprediking. Hulle verwerp sy onheilsprofesie.

In die verse van ons teks van vandag, die verse 7-11 van Miga 2 reageer Miga daar weer op. Hy verwerk dit wat deur sy teestanders gese is en onderstreep nogmaals dat die oordeel van die Here definitief gaan kom. Juis vanwee hul verset teen Miga se prediking.

Immers as jy alle waarskuwings wat aan jou adres gerig word steeds verwerp dan kan jy alleen maar jou ondergang tegemoet sien.

Ons tema vir die preek van vanoggend is:

Miga handhaaf sy oordeelsprediking

  1. hul woorde is lee woorde
  2. hul dade veroordeel hulle

Ons het vanoggend 'n moeilike Skrifgedeelte. Dit is nie alleen vir ons moeilik te verstaan nie, maar ook vir bybelverklaarders en selfs vir bybelvertalers stel die teks vir 'n klomp probleme. Dit kan al blyk uit die groot verskille wat in die verskillende bybelvertalings van hierdie gedeelte voorkom. Ons moet dan ook maar verwag dat verskillende details van ons teks 'n bietjie onduidelik sal bly, maar die hooflyn van Miga se betoog is tog nog steeds goed te volg.

Daar het dus protes teen Miga se prediking gekom. Heel begryplik eintlik. Niemand hou daarvan om deur 'n ander so skerp op sy foute gewys te word nie.

En hulle hou seker nie daarvan dat hierdie Miga beweer dat God die Here Hom teen hulle gekeer het nie. Miga het mos gese dat die Here onheil gaan bedink teen die maghebbers in Israel omdat hulle die reg en die geregtigheid in die land vertrap het.

Miga het selfs gese dat die Here hulle vir altyd uit die beloofde land sal verstoot. En dit is natuurlik heeltemal onaanvaarbaar vir hulle.

Dit is nie alleen dat hulle nie van sy prediking hou nie, maar hulle het selfs teologiese argumente om Migas woorde te weerle.

Hulle se: Miga, so mag jy nie profeteer nie. Weet jy wel teen wie jy praat? Jy praat teen die volk van die Here!En soos jy praat mag 'n mens nie oor die volk van God praat nie.

Moet nie profeteer nie!

Hierdie reaksie van die deur die prediking van Miga aangesprokenes is eintlik heel verklaarbaar. Hulle wil hulself regverdig. Dit is 'n outomatiese reaksie van 'n mens wat vermanend toegespreek word. Jy gaan onmiddellik in die verdediging. Jy kan dit al raaksien by 'n klein kind met wie jy boos moet praat. Hy sal hom onmiddellik begin verdedig. Is nie!

Miga bly stil!

Dis wat hulle se.

Hulle haal selfs argumente uit die Bybel aan om die profesie van Miga te verwerp.

Miga noem dit in vers 7. Uit wat hy daar se kan ons ongeveer die argumente van sy teestanders rekonstrueer. Hulle het iets soos dit gese: Ons is mos die huis van Jakob!

Hierdie aanduiding van Israel is inderdaad 'n bekende uitdrukking uit die Bybel. Die uitdrukking word dikwels gebruik as 'n aanduiding van die volk as die uitverkore volk van die Here. Onthou b. v. 'n woord soos: Jakob het ek liefgehad, maar Esou het ek gehaat!

Dit was uit die aard van die saak in Israel 'n bekende en geliefde uitdrukking. Ons is die uitverkore volk van die Here en daarom is ons veilig. Die Here sal dus vir ons bestendig heil gee!

Wel teen hierdie manier van dink en praat protesteer Miga met al die krag wat in hom is.

Mag dit gese word, o huis van Jakob: Sou die Here dan ongeduldig wees? Hierdie woorde is aanhalings deur Miga van die woorde wat sy teenstanders gebruik het. Hulle se: Sou die Here dan ongeduldig wees?

Is dit sy dade?

God maak tog nie so met sy volk nie?

Hulle kan wel 'n bybel vol bewystekste aanhaal om dit te ondersteun. Immers dit staan keer op keer daar. God is lankmoedig. God is genadig. God is barmhartig. God is groot van goedertierenheid. Dit is alles bekende belydenisformules vir die volk Israel.

Maar Miga deursien dit.

Hul beroep op die Skrifte is puur tradisioneel. Eeuelank is dit steeds weer geprofeteer: Israel sal deur die Here gered word. Hy sal sy volk te hulp kom in enige nood.

En daarby het hulle veilig gevoel. Met ons kan niks gebeur nie. Ons het mos die beloftes van God.

Maar Miga wys hierdie argumentasie van die hand.

'Ons het beloftes van God!'?

Maar God se beloftes is tog nie afsprake waaraan Hy juridies gebonde is nie? Dit is tog nie so dat God nou eenmaal sy handtekening onder 'n akte gesit het en nou kan Hy daar nie meer van af nie? Nooit!

So werk dit nie met God se beloftes nie.

Want dan het jy die Verbond van God tot 'n dooie regskundige aangeleentheid gemaak. En daarvoor laat God Hom nie gebruik nie.

Nie deur Israel nie maar ook vandag nie deur die kerk nie.

Jy kry allerhande vorme van godsdienstigheid waarby mense pragtige redenerings kan opbou uit die Woord en die beloftes van God.

En tog is hulle nie werklik besig om die Here te dien nie. Feitlik is hulle met al hul godsdienstigheid besig met die handhawing van hulself. Hulle is baie besig met verdediging van eie tradisies. Want daarin vind hulle die veiligheid van hul bestaan. Hulle hou daarvan om die bekende geykte dinge te doen wat hulle oor die jare gedoen het. Dit is dan hul manier van godsdienstig wees. In hierdie tradisies en vaste gebruike vind hulle hul sekerheid.

God se Woord en die prediking daarvan mag dan ook enkel dien om hulself te bevestig in menings wat hulle lankal gehad het.

Dit gebeur tot vandag toe. Hoe ernstig mense ook oor hul geloof is, dit vrywaar hulle geensins van hierdie tipe godsdienstigheid nie.

Wat daar eintlik gebeur is dit: die sekerheid van die geloof word omgebou tot die sekuriteit van die kerklidmaatskap.

En dit is vir die lewe uit die geloof 'n lewensgevaarlike situasie. Veral omdat die mense met wie dit gebeur dit self glad nie besef nie. Hulle is self diep daarvan oortuig dat met hulle nie baie verkeerd is nie.

Die maghebbers in Jerusalem was ernstig in hul beroep op God se beloftes. Moontlik was heelwat van hulle direk betrokke by die diens in die tempel. Immers Jerusalem het binne sy mure 'n groot aantal priesterfamilies gehuisves.

Dus hulle het terdee geweet waarvan hulle praat.

En tog was hulle Skrifberoep nie reg nie.

Hulle het hulself verskans in die veiligheid van formalistiese redenerings. Dan kan jy alles vertel oor Verbond en Doop. Oor verkiesing en kerk, maar dit is vir jou nie meer werklikhede waarvoor jy huiwer nie, sake wat jy steeds weer deur die krag van die Heilige Gees in geloof moet gryp nie, maar dit het geword tot sake wat nou maar so is.

En almal wat 'n bietjie anders is as jy kan jy vanuit jou veilige vesting verdoemend veroordeel. En die ergste van al is, jy is jou dit self nie eens bewus nie. So oortuig is jy van jou eie siening. Daardie siening is reg. My pa het ook al so gedink, daar is geen rede om my mening te hersien nie.

So het die leiers van Israel geredeneer.

Miga kan wel huil as hy hulle so hoor praat.

Want hy besef hoe leeg daardie woorde is. Dit is slegs 'n voorgewel van godsdienstigheid, maar daaragter is net leegte. Hul woorde is hol, soos holle vate klink hulle.

Wat kan Miga nou nog se? Hoe sal hy hierdie mense nou nog kan bereik?

Immers as jy sover is dan kan jy nie meer werklik na God se Woord luister nie. Terwyl die profeet nog praat skud jy al jou kop en probeer vas jou teewerpings te formuleer.

As jy so luister dan raak jy nooit meer werklik verontrus deur die prediking nie, dan kan jy jou nie meer laat wakker skud nie.

Miga, Miga, hoe onbereikbaar kan die volk van die Here word!

2. hul dade veroordeel hulle

By die begin van vers 8 tree 'n vertaalprobleem op waaroor ek vir u iets moet vertel.

'Maar reeds vroeer het my volk vyandig opgetree. '

Soos dit hier staan maak die woorde weinig sin.

Miga kla hier die maghebbers in die stede aan dat hulle die volk uitbuit. Met 'n klein wysiging van die teks kan ons dit ook so lees: Maar julle het teenoor my volk as vyande opgetree.

Dan maak die woord van Miga skielik baie sin.

Immers dan word weer die leiding van Jerusalem aangespreek. Maar dan kla die Here hulle aan dat hulle nie soos 'n goeie owerheid betaam die volk gedien het nie maar dat hulle die volk uitgebuit het om hulself te bevoordeel.

So het die regering van die land as vyand van sy eie volk opgetree.

Vermoedelik het hulle namelik aan Miga verwyt dat hy optree as 'n vyand van Israel deur met sulke doemwoorde aan te kom.

Maar se Migas dan: Ek is nie die vyand van die volk nie en ook die Here is nie die vyand van sy volk nie, maar julle!

Dit blyk mos uit wat julle doen!

Julle pluk die mantel af van mense wat totaal onskuldig is.

Julle verdryf die vroue van my volk uit die huis wat hulle liefhet. Miga doel daarmee op die praktyk dat weduwees summier uit hul huise gesit is as hulle man by sy dood skulde nagelaat het. En in die tyd het amper almal skulde gehad. Dus iemand wat weduwee geword het, het nie 'n kat se kans gehad nie.

Ewemin haar kinders. As daar skulde was wat nie onmiddellik betaal kon word nie dan is die weduwee uit haar huis gesit. Die familie-erfdeel is verbeurd verklaar en die kinders is as skuldslawe deur die skuldeiser in sy personeel opgeneem, waaruit hulle nooit meer kon vrykom nie.

Dit alles was binne die bestaande wetgewing in Israel heeltemal wettelik. Oor die ellende wat daarmee oor die mense kom het die skuldeisers maar net hul skouers opgetrek: Jammer vir julle, maar wet is wet.

Verstaan u nou waarom Miga se dat hul beroep op die beloftes van God maar net lee woorde is?

Wat help dit om te praat van die geduld van God as jy so ongeduldig met jou naaste omgaan?

Wat help dit om te vertrou op die barmhartigheid van God, as jy geen enkele poging doen om aan jou naaste barmhartigheid te bewys nie?

Natuurlik jou redenerings om die barmhartigheid nie te betoon nie sal wel geldig wees. Dit help niks om 'n bedelaar 'n aalmoes te gee nie, hy verdrink dit maar net. Dit is heeltemal waar. Ongelukkig wel.

Of: Ek het self deur hard te werk in die lewe vooruit gekom. Laat 'n ander dit ook doen. Dan het hy geen hulp meer nodig nie. Daarby ek het my eie probleme.

Dit is alles waar en geldig.

En tog, die Here se jy sal na jou dade geoordeel word.

Elkeen sal geoordeel word op wat hy werklik gedoen het vir die saak en vir die Naam van Jesus Christus op aarde.

En dit beteken dat dit altyd nodig is om dringend na jouself te kyk. Wat doen jy nou? Waarin is jy nou werklik anders as jou kollega op jou werk? Is al verskil dat jy op Sondag twee keer kerktoe gaan, en dat jy elke maand 'n goeie bydrae gee vir die instandhouding van die erediens?

Onthou goed die benadrukking van die belang van wat jy werklik doen, doen niks af aan die feit dat jy deur genade gered moet word nie. Dit doen ook niks af aan die feit dat ons vir ons heil uitsluitlik aangewese is op die beloftes van God nie.

Nee, dit gaan hierom: Uit jou dade sal blyk of jy werklik van genade alleen geleef het.

Aan dit wat jy se en dit wat jy doen kan gesien word of jy werklik op die beloftes van God durf te bou, of dat jy op talle ander plekke jou sekerheid en jou veiligheid gesoek het. B.v. in jou redenerings oor God, of in die feit van jou lidmaatskap van die kerk, of in jou materiele sekerhede.

Omn werklik sekerheid te ontvang in jou geloof sal jy moet leer afsien van jouself.

Jy moet nie jou sekerheid soek in jou waarhede oor God nie, maar jou moet jou onderwerp aan God se waarheid oor jou!

Om dit werklik te doen sal vir jou dikwels 'n stuk selfverloening kos. Dan sal jy dikwels 'n taak op jou moet neem waavan jy nie hou nie.

Jy mag as gelowige God aan sy woord hou. Dit moet selfs.

Maar dan moet jy jouself ook steeds aan sy woord hou. En dit beteken dat jy bereid moet wees op grond van die dringende getuienis van die Woord jou menings te hersien, jou lewenstyl te verander, jou belangstellings te laat korrigeer, jou uitgawepatroon by te stuur.

Dit alles is ontsaglik moeilik vir 'n mens. Want elke mens is maar geheg aan sy eie gewoontes en sy eie sienings.

Daarom is daar altyd die versoeking om jou teen 'n profetiese woord van God af te skerm met 'n beroep op b. v. bybeltekste, soos die leiers in Jerusalem gedoen het.

Want dit is moontlik en dit is 'n baie reele gevaar om jou met die Bybel in die hand heeltemal te konformeer aan die gees van die tyd.

Miga noem dit 'n bedwelming.

As iemand wind najaag en bedrieglik lieg en se: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank -dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees!

Miga bedoel met so 'n bedrieglike profeet 'n vorm van profesie of van prediking waarby jy die mense na die mond praat. Dit is mos wat hulle graag wil hoor. So 'n profeet kan reken op die agting en die applous van baie.

Dit is dus moontlik dat prediking, ernstig gemeende prediking tog so 'n tipe bedwelming kan wees. Dan word mense gerusgestel met woorde uit die Bybel terwyl die eintlike sake nie aan- geroer word nie.

Dit is wel wat vroeer dikwels genoem is: dan preek jy mense met 'n ingebeelde hemel die hel in.

Laat ons maar bid dat ons daarvoor bewaar sal word. Dan moet ons dus met mekaar altyd krities bly op onsself. Op ons eie kerklike lewe, op ons persoonlike lewe, op die prediking van die woord van God, kortom op heel ons staan as kinders van God in hierdie wereld. Want uit ons dade sal ons geoordeel word.

In ons werke sal blyk of ons werklik buig voor die Here en sy Woord of dat ons onsself op 'n slim manier onbereikbaar gemaak het vir die evangelie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)