PREEK OOR LUKAS 8: 19-21
LITURGIE:
SB.33: 1
Wet
SB.33: 3
Gebed
L. Lukas 8: 4-21
Prediking
Ps. 133: 1, 2
Ps. 43: 3
Gebed
Kollekte
Ps. 84: 1, 2
Broeders en susters,
Dit sal niemand van u snaaks op die ore val dat ek u vanoggend só aanspreek nie: "broeders en susters". As ek sou begin het met die woorde: "geagte dames en here.. ", sou u waarskynlik wel gewonder het wat gaan nou aan.
Dis mos ons gewoonte om mekaar so te noem in die kerk: broeders en susters. So spreek ek u in die preke aan, so praat ons ook oor mekaar: Broeder A is ernstig siek, suster B het gister 'n baba gekry......
Dit val so vertroud op ons ore dat ons die besonderheid van hierdie aanspraak nie eens meer hoor nie. Want dit ís besonder! Iemand vir wie die spraakgebruik van die kerk heeltemal vreemd is, sal hom dadelik daaroor verbaas dat ons vir mekaar broeders en susters noem. Ons is mos nie almal familie van mekaar nie? Tussen heelparty lidmate bestaan daar die die geringste bloedverwantskap.
Daar bestaan egter 'n baie sterker band as dié van die bloed wat ons as broeders en susters saambind: die gemeenskaplike band aan ons Vader in die hemel en aan sy Seun, ons Broer Jesus Christus. Die almagtige God wil ons Vader wees. En sy Eniggebore Seun het Homself nie geskaam om ons sy broeders en susters te noem nie. Ons vorm saam God se huisgesin wat op 'n reëlmatige basis om sy tafel sit om die band aan Hom en aan mekaar weer ekstra te beleef, (soos ons dit ook volgende week weer hoop te doen. )
Oor dié familieband wil ek vanoggend met u nadink wanneer ek u die boodskap van ons teks verkondig.
Dis hierdie boodskap:
DIE SEUN VAN GOD WYS ONS DIE WARE TUISTE
DIÉ TUISTE WORD GEVORM
- NIE DEUR DIE ROEP VAN DIE BLOED VAN MOEDER NIE
- MAAR DEUR DIE HOOR NA DIE WOORD VAN VADER.
1. U sou uit ons teks die indruk kon kry dat vir ons Here Jesus Christus die huisgesin van sy Vader in die hemel so belangrik is, dat Hy nog skaars omgegee het vir die huisgesin van sy aardse moeder. Hy wou nie eens moeite doen om hulle te sien nie.
Is dit nie wat ons teks vertel nie?
Christus is weer in Galilea, Markus vertel dat Hy terug is in sy eie stad Kapaernaüm, in sy eie huis wat Hy daar bekom het, en daar is talle mense wat gekom het om na sy onderwys te luister. Soos dit eerder gebeur het: daar was soveel mense dat 'n mens van buite af nie eens na binne kon kom nie.
Maar dan staan Maria en Jesus se halfbroers skielik daar buite. Hulle het gehoor dat Hy weer 'n rukkie tuis is en hulle wil Hom graag weer 'n keer ontmoet.
Selfs hulle kan nie deur die menigte mense kom nie sodat hulle via die mense wat in die huis is die boodskap mondeling laat oordra: U familie staan buite en wil U graag sien.
Wel, hoe maak 'n mens as jy by jou werk skielik die berig kry dat jou ma of jou vrou vir jou wag om jou 'n oomblik te kan sien? Jy gaan mos dadelik soontoe?
Maar wat lees ons van die Here Jesus: Hy sê vir die mense wat die boodskap aan Hom oordra: "Wie is my moeder? En wie is my broers? My moeder en my broers is die wat die Woord van God hoor en dit doen".
Het ons Here heeltemal onverskillig gestaan teenoor sy aardse familie?
Nee, gemeente, dié afleiding mag ons uit ons teks nie maak nie. Uit alles wat die Skrif daaroor vertel, blyk dit dat ons Heiland die band van die bloed wel deeglik gewaardeer en geëer het. God Self het mos daardie band geskep. Uit die staanspoor uit het God die huisgesin ingeskakel om die aarde te bevolk en om sy Koninkryk te bou. Hy is dit Self wat ouers en kinders aan mekaar gee en so ook broers en sussies. En Hy het in sy Wet ook hierdie woord vasgelê: "Eer jou vader en jou moeder... ".
Christus het daardie woord van God se wet nie verag nie. Hy het die gesinslewe nie geminag nie. Hy het by sy koms in die wêreld selfs daarvoor gekies om in 'n normale gesin groot te word met 'n pa en 'n ma en boeties en sussies. Maria moes nie as 'n ongetroude vrou aan haar kind wat deur die Heilige Gees verwek was, geboorte skenk en daarna so gou as moontlik afstand van Hom doen nie. Nee, Josef moes met haar trou en 'n gesin stig. Na die geboorte van Jesus moes Maria ook nie 'n onbevlekte maagd bly, soos in die Rooms Katolieke kerk in stryd met die Skrif geleer word nie, maar daar mog meer kinders in haar gesin gebore word. Josef en Maria het 'n behoorlike gesin gehad. Matteüs en Markus noem die name van tenminste vier broers van die Here Jesus: Jacobus, Josef, Judas en Simon, terwyl hulle daarnaas ook nog melding maak van sussies. In so'n gesellige gesin wou ons Heiland opgroei. As 'n mens onder die mense verkeer.
Ook toe Hy ouer geword het, het Hy onderdanig gebly aan sy moeder en sy vader Josef. Hy het wel op twaalfjarige leeftyd langer in die tempel gebly as wat Josef en Maria wou gehad het - Hy moes mos in die huis met die dinge van sy hemelse Vader besig wees!- maar van enige opstandige verset teen die ouderlike gesag was daar geen sprake nie. Inteendeel, Hy het Homself ook toe weer onderdanig en gewillig aan die reëls van die gesinslewe onderwerp.
Selfs toe Hy sy publieke optrede in Israel begin het, het Christus Hom nie opsetlik van sy bloedverwante losgemaak nie. Wel moes Hy sy moeder teregwys toe sy haarself tydens die bruilofsfees in Kana met sy sake wou inlaat, maar ons lees darem direk daarna dat in Johannes 2 dat moeder en broers met Jesus saamgaan as Hy van Kana weer na Kapernaüm terug reis. Die familieband het blykbaar goed gebly. Jesus soek geen verwydering nie.
Dat daar wel algaande verwydering gegroei het, is aan die familie self te wyte. Jesus se moeder en broers en susters verstaan onvoldoende Wie hul Seun en Broer is. Hulle ken nie uit die Skrifte die pad wat die Eniggebore Seun van die Vader in die hemel moet loop om die hele huisgesin van God te red nie. Dat dit die pad na 'n kruis moet wees- dit verstaan hulle nie. Hulle het gedink Hy is op pad na die kroon. En dan groei daar 'n verwydering tussen Jesus en die huisgesin van sy moeder wat Hom ongetwyfeld baie verdriet besorg het.
Is dit dan dalk die agtergrond van Jesus se eienaardige reaksie in ons teks, gemeente. Hou Hy die familie van sy moeder opsetlik op 'n afstand omdat hulle geen rekening hou met die program van sy Vader nie?
Daar is heelwat uitleggers wat ons teks teen dié agtergrond lees. Hulle lei uit die verband waarin Markus hierdie geskiedenis vertel, af dat Jesus se familie nie sommer vir 'n kuiertjie gekom het nie, maar dat hulle Jesus wil saamneem huis toe vir 'n gedwonge rusperiode. Want sy optrede in Israel die laaste tyd word al hoe snaakser. Die Joodse teologiese leiers meen alreeds Hy is deur die duiwel besete. En hulle kry self ook die indruk dat Hy oorspanne is. Dus moet hulle hul familielid teen Homself in beskerming neem en huis toe haal om tot rus te kom.
Hulle ongeloof sou dus so groot wees, dat hulle Hom selfs van sy ampswerk wou afhou. Groot sou dan ook die lyding vir ons Heiland wees dat sy eie familie Hom so misken.
En teen dié agtergrond sou dit natuurlik baie verstaanbaar wees dat Christus sy bloedverwante gewoon by die deur laat staan en sê: wie is My familie? Dié mense daar buite? ! Nee, die egte familie sit hier binne!
Die uitleggers wat so ons teks tees, het egter iets uit Markus 3 afgelei wat ook daar so nie staan nie, gemeente. Ek kan op daardie eksgetiese saak nou nie uitvoerig ingaan nie, maar hulle lê in Markus 3 ten onregte 'n verbinding tussen twee dinge wat Markus daar vertel. As u in Matt. 12 en in ons teks in Lukas 8 kyk, lees u ook niks van so'n drastiese optrede van Jesus se familie om Hom met geweld huis toe te wil haal nie.
Ons moet dus nie te veel agter die begeerte van Jesus se familie om Hom te wil sien, soek nie. Hulle wil Hom maar net graag weer 'n keer ontmoet.
Waarskynlik wou ons Heiland ook sy familie wel graag weer 'n slag sien en spreek, en het Hy sy onderwys vir daardie dag ook so gou as moontlik afgerond.
Nogtans breek Christus nie dirèk sy onderwys af om buite toe te kan gaan nie. Maar Hy gryp die verskyning van sy familie aan om éérs vir sy leerlinge 'n belangrike ding te leer. Hulle het natuurlik verwag Hy vra dadelik verskoning noudat sy familie vir Hom wag. Jou familie kom mos op die eerste plek. Maar dan mag hulle weet, en dit sal ook sy moeder en broers moet leer, dat die egte familie nie deur die bloed van sy moeder nie, maar deur die Woord van sy Vader gesmee word. Die mense dink: sy familie staan buite, nou moet ons seker maar padgee. Maar dan sê Christus: nee, julle hier binne is die ware familie; en dus moet Ek nie na buite, na my moeder en my broers toe nie, maar moet hulle na binne kom, na julle toe en saam sit en luister na die woord van ons hemelse Vader. Ek is lief vir my ma en my broers en susters. Maar God se kerkgesin is die ware tuiste en selfs die mees sterke bande soos die band van die bloed is daaraan ondergeskik.
So wys God se Seun hier aan ons die ware tuiste. Hy roep ons op om by Hom en sy hemelse Vader ons tuiste te soek. Jy mag dankbaar wees as jy 'n liefhebbende moeder en vader hier op aarde het, familie met wie jy saamverbonde voel. Maar daardie band van die bloed bly, hoe mooi en sterk ook al, altyd kwesbaar en breekbaar. In hierdie sondige samelewing kan selfs familie in haat en nyd teenoor mekaar te staan kom en heeltemal uitmekaar groei. En anders skeur die dood eendag daardie bande wreed stukkend. As jy egter kind van Vader in die hemel mag wees, het jy die ware geluk gevind. By Vader tuis vind ons 'n rus en geluk wat selfs die mooiste en mees vreedsame gesinne nie kan bied nie. Daar bloei die lewe op en word weer soos dit eendag in die paradys was. Daar ontvang jy familie wat jy tot in ewigheid nie weer sal verloor nie.
Natuurlik roep Christus ons hiermee nie op om maar ons rug te draai op ons familie nie. Hy nooi ons slegs om as gesinne en families nie tevrede te wees met die band aan mekaar nie, maar om ons saam deur die band aan Vader in die hemel nog ekstra sterk aan mekaar te laat verbind. Hy roep ons op om nie as almal afsonderlike gesinne in ons eie huise weg te kruip nie, maar om almal saam in die kerk ons ware tuiste te soek. Om ook ons huisgesinne te laat deel uitmaak van God se kerkgesin. Eers dan sal ons die egte en ewige geluk vind.
Ja, dan kán dit gebeur dat u voor 'n moeilike keuse te staan kom, broeders en susters. As naamlik jou familie met 'n kleine f nie saam met jou volop wil deel uitmaak van daardie Familie met 'n groot F nie. Dan moet jy kies tussen jou mense op aarde ter wille wees óf jou Vader in die hemel gehoorsaam wees. En dan het ons nie eintlik 'n keuse nie. Dan mag die roep van die bloed van moeder nooit die hoor na die Woord van Vader oorstem nie. Want Christus het ook 'n keer vir sy dissipels gesê -u lees dit in Lukas 14: 26- "As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie".
Dan kan dit gebeur dat 'n kind van God as enigste in die gesin van sy ouers homself onttrek aan 'n kerkgemeenskap waarin die ampsdraers nie meer betroubare huisbewaarders vir God se kinders is nie. Dan kan dit gebeur dat jy op heelwat punte in die konkrete lewe jou teenoor jou eie familie moet opstel of selfs duidelik afstand moet neem tot jou eie man of vrou, jou eie pa of ma. Dit kan gebeur dat 'n kind van God 'n verlowing verbreek en met daardie ander geen gesin durf te vorm nie omdat die belangrikste band, die aan God en Christus, nie voldoende gevoel en beleef word nie.
Dit kan trane kos, en u familie mag dit ook gerus agterkom. Hulle moét dit selfs weet dat u so'n keuse teen die familie nie koud en onbewoë doen nie. U sal ook dan nog altyd u familie moet bly soek. Dit bly mos die begeerte van u hele hart om ook hulle eendag te kan verwelkom in die tuiste wat u in die kerk gevind het.
Dalk sal u familie u geloofskeuse nooit kan verstaan nie en sal u 'n toenemende verwydering nie kan keer nie, wat u ook al probeer. Maar dan is daar die troos van hierdie woord van Christus, wat Markus vir ons opgeteken het in hoofstuk 10: 29, 30: "Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou, in hierdie tyd honderdmaal soveel terug: huise en broers en susters en moeders en kinders...... ". Mense met wie jy hoegenaamd geen bloedverwantskap het, kan in die kerk voor jou meer gaan beteken as jou eie broers en susters. Susters in die kerk kan soos 'n moeder vir jou word, mans soos 'n vader.
Maar die allerbelangrikste is: die God van die hemel en die aarde Self wil jou liefhebbende Vader wees en sy goddelike Seun Jesus Christus is jou sorgsame broer.
2. Maar as ons in die huisgesin van God ons tuiste wil bly vind, sal ons dus wel met volharding na die Woord van God moet bly luister en dit doen.
Daarvan wil ek in my tweede punt nog iets meer sê.
Want Christus wys in ons teks ook nadruklik aan hoedat die huisgesin van Vader in die hemel tot stand kom en in stand bly: deur die hoor na sy Woord.
Die Woord wat ons oproep om op te hou om in onsself te glo en onsself oor te gee aan die Redder van ons lewe, God se Seun Jesus Christus.
Christus het baie aandag gevra vir die belang van die hoor na die woord van sy Vader. Sowel by Lukas as by Mattheüs en Markus word die geskiedenis van ons teksverse direk verbind met die gelykenis waarin die Woord van God met 'n saad wat ons lewe vrugbaar wil maak, vergelyk word. Of jy 'n vrugbare plant vir die Koninkryk van God sal word- dit hang daarvan af hoe dat jy dié saad ontvang. Dit is dus: hoe dat jy hoor! Kyk ook vs. 18 voor ons teks: "Pas dan op hoe julle hoort!".
Die apostel Petrus het later in sy eerste brief, hoofstuk 1, God se Woord ook met saad vergelyk, maar dan met die saad van 'n man wat 'n kind verwek. Die Woord van God is nie slegs soos saad wat ons tot vrugbare plante vir God se Koninkryk laat uitgroei nie, maar ook 'n saad wat ons tot kinders van die
Koninkryk maak. Weergebore kinders, wat weer in liefde lewe met Vader in die hemel en al die broeders en susters.
Maar daardie nuwe lewe word dus verwek as ons hoor na die Woord van ons hemelse Vader. En dit doen. So het u en ek tog Vader in die hemel leer ken, broeders en susters? So het ons tog mekaar leer ken? Ons sou mekaar anders dalk nooit raakgeloop het nie. Ons sou wellig nie eens vriende van mekaar geword het nie. Ons is, soos ons hier by mekaar is, mos 'n klomp mense met totaal verskillende agtergronde en met radikaal uiteenlopende karakters. Nogtans noem ons mekaar broeder en suster. Wat bring ons saam en bind ons saam, gemeente? 'n Gemeenskaplike Hollandse agtergrond? U weet mos van beter! 'n Bepaalde gemeenskaplike intellektuele vlak? 'n Ooreenkomende lewensopvatting? Liefde tot 'n gesamentlike leiersfiguur?
Nee, saam het ons God in die hemel as ons Vader leer ken en die Here Jesus Christus as ons Broer. Deur te hoor na die Woord van God. Ons het begin om volgens daardie Woord te doen en na te laat. En dit het ons ook na mekaar toe gedryf, 'n herkenning by mekaar gegee, ja daar het selfs 'n sterk liefde vir mekaar gegroei. Ten spyte van baie verskille wat daar gebly het. Ons het ook in mekaar nou baie ontvang. En hoe beter ons luister, des te meer kan ons vir mekaar gaan beteken. Ons kan aan mekaar meer gaan hê as aan die liefste pa of ma of aan die wonderlikste broer of sus.
Die hoor na God se Woord en die gehoorsaamheid daaraan kan ons ook alleen bymekaar hou, broeders en susters. So gou ons ophou om aan God se Woord die eerste en die laaste woord te gee in ons lewe, raak ons mekaar onvermydelik kwyt. Dan begin direk die vrede en die eensgesindheid te verdwyn, dan is die rus en die liefde vir mekaar weg. Dan kies elkeen sy eie koers weer en val ons soos 'n hoop sand uitmekaar. Dan is ook enige versoeningspoging sinloos, want slegs bekering tot Vader se Woord kan ons weer by mekaar terugbring.
Daarom sal ons ons liefde vir mekaar as broeders en susters ook die meeste hierin moet laat blyk, dat ons mekaar telkens weer wys op die Woord en die wil van Vader in die hemel. Ons hou die kerkgesin nie in stand, as ons mekaar maar bietjie vrylaat en mekaar se sondes goedpraat nie. Ons is dan in feite reeds besig om mekaar los te laat.
Soek dan mekaar met die Woord van ons Vader in die hemel. Veral ook dié broeders en susters waarvan u weet dat hulle nie meer so veel omgee vir God se kerkgesin nie en besig is om hul rug te draai op hul tuiste in die kerk; broeders en susters waarvan u vermoed dat hulle (volgende week) sal makeer aan die nagmaalstafel waaraan ons groot Broer ons nog des te sterker aan Homself en aan sy Vader en so ook aan mekaar wil verbind.
Jy laat mos 'n broer of 'n suster van jou nie sommer los nie? En waar sal hulle bly as hulle nie meer in die kerk hul tuiste soek nie?
Wie nie by God sy tuiste soek nie, sal dit nêrens meer vind nie!
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)