Die opgestane Here openbaar sy mag aan sy aanstaande knegte

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 21
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 21: 1-14

LITURGIE:
L. Lukas 5: 1-11
Ps. 111: 1, 2
Ps. 111: 5
Ps. 67: 1, 2
SB. 28: 2
Ps. 90: 9

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die verhaal van ons teks word omsluit deur die mededeling van Johannes dat die Here Jesus hier aan sy dissipels "verskyn" het. So begin vs. 1: "Na hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tiberias, en Hy het sò verskyn.... ". En so eindig dit in vs. 14: "Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode".

Die woordjie "verskyn" in ons vertaling is maar 'n swak weergawe van die Griekse woordjie wat Johannes gebruik het. Ons moet liewerste lees: "openbaar". En openbaar beteken hier: Hy wou sy dissipels nog meer leer oor Homself. Hy wou hulle nog duideliker maak Wie en Wat Hy is. En wat hulle van Hom mag verwag.

Hierdie verhaal is alreeds die derde keer wat Jesus Homself na sy opstanding aan sy dissipels openbaar. En daarvoor vra Johannes met sy mededeling sowel aan die begin as aan die einde van hierdie geskiedenis nadruklik ons aandag.

Johannes was feitlik al klaar met sy evangeliebeskrywing. Hy het al die heerlikheid van die Woord wat vlees geword het, alreeds aan ons gewys. En na die ver-gaande belydenis van Tomas, die laaste dissipel wat nog oortuig moes word: "My Here en my God!", het Johannes sy verhaal in eerste instansie al afgesluit: Daar sou nog baie meer beskrywe kon word, maar dit wat Johannes nou beskrywe het, moet meer as voldoende wees om te kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God. En die wat dit glo, het die lewe in sy Naam.

Maar toe het Johannes tog nog die geskiedenis van ons teks aan sy relaas toegevoeg. Blykbaar het hom later daardie eienaardige visvangs en daardie merkwaardige maaltyd vervolgens nog ingeval wat opsetlik deur die opgestane Christus nog voor sy hemelvaart gereël was om Homself nog 'n keer aan sy dissipels te openbaar. En hierdie openbaring het vir Johannes so oortuigend gewees dat hy naderhand besluit om ook dit nog aan ons deur te gee.

En as ons diè bedoeling van hierdie verhaal in die oog hou, kom ons al gou agter wàt die dissipels nog oor Jesus moes leer. Hulle moes leer om in Hom te glo en op Hom te vertrou as die Hère, as die Meester wat oor mag beskik wat ver bo menslike maatstawe uitgaan. U moet maar kyk: dit begin by die wonderlike visvangs tot hulle deur te dring (vs. 7): "Dit is die Here!". En aan die maaltyd is hulle heeltemal seker (vs. 12): dit is die Here.

En so ver wou Jesus hulle ook hê. Hy het hierdie eienaardige ontmoeting op tou gesit om hulle so ver te kry dat hulle Hom as die Here, as die Man met goddelike mag sou gaan ken.

Hulle het dit nodig gehad. Hierdie dissipels sou mos sy knegte wees. Bouers aan sy kerk. Aanstonds sou Hy hulle in die wêreld uitstuur. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook".

Maar hierdie knegte moet nog baie leer met die oog op hulle aanstaande taak. Hulle moet van hul eie onmag en terselfdertyd van die almag van hul Here deurdronge raak.

Daarom hierdie geskiedenis, hierdie selfopenbaring.

Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

DIE OPGESTANE HERE OPENBAAR SY MAG AAN SY AANSTAANDE KNEGTE

Ons sal sien hoedat Hy as Here sy knegte

  1. BEVEEL
  2. BESKAAM
  3. BEMOEDIG.

1. Die verhaal van ons teks speel hom af by die see van Tiberias, wat ons ook ken as die meer van Galilea of die meer Gennesaret.

Dit is nie 'n toevalligheid nie. Dit is 'n bewuste keuse van die Here wanneer Hy Homself as die Magtige aan sy toekomstige knegte wil openbaar. Die dissipels is hier op sy bevel. Direk na die opstanding was dit die opdrag gewees: terug na Galilea, en daar sal Ek julle sien. Terug na die begin.

Ja, terug na die begin. Want die dissipels ken hierdie see. Dit is die ou vertroude water waarop hulle heelwat ure deurgebring het toe hulle nog hulle vissersbedryf uitgeoefen het. Dit is ook die water waarop hulle vir die eerste keer met die mag van hulle Here te make gekry het, toe Hy met net een bevel hul leë nette vol visse gemaak het.

Ons het dit gelees in Lukas 5, die verhaal waaraan hierdie geskiedenis so sterk herinner. Toe het dit begin, drie jaar gelede. Toe het daardie wonderlike visvangs die ommekeer in hul lewe geword. Toe die nette oorvol was en hulle dus 'n beste handel gehad het daardie dag- juis toe het hulle die skuitjies op die land getrek, alles, heel daardie handel vis, agtergelaat en Hom gevolg. Hulle het Jesus van Nasaret as hulle Here aanvaar. Hulle het gehoor gegee aan sy oproep om van nou af mense te vang. Voortaan sou hulle Hom volg.

En nou is hulle weer hier, omtrent drie jaar later waarin hulle van die een verbasing in die ander geval het. Drie jaar waarin hulle hul Here van lyding to heerlikheid sien kom het. Hulle Here het in die graf ingegaan, maar Hy het ook weer daaruit gekom. Hy was dood en het weer lewend geword. En Hy het hulle na hierdie plek terug gestuur, waar hulle op sy verdere bevele moet wag.

U verstaan wel dat dit nie per toeval is dat die dissipels juis op hierdie plek weer terug is nie. Christus het daardie dissipels teruggebring op die plek waar dit eendag alles begin het, omdat Hy nou, na sy opstanding, aan daardie begin wil aanknoop.

Hulle sal opnuut 'n wonderlike visvangs belewe. As 'n herinnering aan die eerste een. Om vir hulle te laat weet dat hul Here sy ou opdrag nie vergeet het nie: hulle moet vissers van mense word.

Maar dit is hierdie keer meer as maar net 'n herhaling van diè eerste keer. Die dissipels sal moet leer dat hulle nie maar net terug by die begin is nie. Maar dat hulle Here inmiddels 'n hele end verder met hulle gekom het. Dat sy opstanding plaasgevind het en sy hemelvaart aanstaande is. Dat Hy daarom hulle by hul opdrag om van nou af mense te vang voortaan ànders tersyde sal staan as vroeër.

Daarop wil Christus heel eerste hul aandag toespits wanneer Hy sy dissipels by die see van Tiberias weer gaan ontmoet.

Want wat gebeur:

Petrus besluit om die skuit weer in die water in te skuif. Hoekom werkloos wag as die water wenk? Hoekom nie weer 'n keer probeer om 'n bietjie vis in die nette te kry nie? Hulle het mos hulle ou job nog nie verleer nie.

Sy ou maats Jakobus en Johannes van Sebedeüs, Natanael en Tomas en nog twee dissipels gaan saam, en daardie hele nag probeer hulle om 'n paar visse in hul nette te vang. Maar sonder resultaat.

En dan staan Jesus skielik op die strand, vroeg in die môre, en 'n oomblik later klink daar dieselfde bevel soos drie jaar gelede: "Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry". Net soos destyds.

Maar daar is een groot verskil, vertel Johannes. Hierdie keer weet die dissipels nie dat dit Jesus is nie. Hulle herken Hom nie aan sy gestalte nie, nie aan sy stem nie, slefs nie dadelik aan sy woordkeus nie. Vir hulle is daardie man op die strand, wat vra of hulle dalk 'n paar vissies by sy brood kan gee, 'n volslae vreemde, 'n vroeë reisiger of soiets. Kort en duidelik bring hulle Hom dan ook aan sy verstand dat Hy van hulle geen vis moet verwag nie. Hulle het die hele nag niks gevang nie.

Maar hoe is dit moontlik dat hulle hul eie Here nie eien nie? Hulle het mos so lank met Hom opgetrek? Hulle het sy stem mos so dikwels gehoor?

Dit is hier dieselfde ding as by die Emmausgangers, broeders en susters. Daardie mans het 'n hele wandeling met Jesus gemaak en 'n hele preek van Hom gehoor sonder om in Hom hulle Here te herken. Want, so lees ons in die Bybel: "hulle oë is weerhou sodat hulle Hom nie kon herken nie". Dit was nie maar domme kortsigtigheid van daardie mans nie. Christus self het hulle oë vir die herkenning toegesluit. Hulle mòg Hom nie dadelik aan sy voorkoms en sy stem herken nie. Maar hulle moes Hom uit sy Woord wat Hy aan hulle voorgehou het, gaan herken.

So het dit ook met Maria Magdalena gegaan op die opstandingsmôre: Jesus het vlak voor haar gestaan, maar sy het Hom nie geëien nie. Sy het gedink Hy is die tuinier.

Dieselfde vind ons ook hier by die see van Tiberias. Opsetlik vertoon die Here Hom aan sy dissipels as 'n onbekende vreemdeling en voorkom Hy dat Hy dadelik herken word. Weer is daar diè aanvanklike afstand wat eers geleidelik oorbrug word.

Dit is nie so moeilik om te verstaan hoekom die Here so maak nie. Hierin lê 'n belangrike les vir die dissipels. Dit duur nie meer so lank nie of die dag van die hemelvaart breek aan. Christus sal nie hier op aarde bly nie, maar Hy gaan terug na sy troon in die hemel. Vanaf daardie dag sal sy knegte sy liggaamlike verskyning nie meer daagliks by hulle hê nie. En hulle sal die klank van sy stem eeue lank nie meer hoor nie.

Die dissipels moet daarop voorbereid wees. Hulle sal noù moet leer dat hulle Here daar is, ook as hulle Hom nie sien en sy stem nie hoor nie. Dit sal nou tot hulle moet deurdring dat sy bevel bly, ook as die Here self onsigbaar is. En in daardie bevel sal Hy tog self altyd by hulle wees!

Sy woord is belangrik, nie sy stem nie.

Dit moes die Emmausgangers leer.

En diè les maak Christus nou aan sy dissipels duidelik.

Dis hoekom Hy vereers 'n vreemde reisiger bly wat die snaakse advies gee om hulle geluk 'n keer aan die ander kant van die skuit te probeer. Daardie advies, wat hier soos 'n bevel klink- dit moet by die dissipels die afstand tussen hulle en hul Here oorbrug. Het hulle so'n selfde situasie nie al 'n keer eerder meegemaak nie? Onthou hulle nie meer nie? Drie jaar gelede, toe hul Here hulle geroep het om vissers van mense te word. Dieselfde situasie, dieselfde bevel ssos destyds.

En wanneer hulle ook hierdie keer aan die tog wel snaakse bevel gehoor gee en hulle die net skielik nie meer kan trek vanweë die menigte van visse, dàn breek die herkenning deur. Johannes roep vir Petrus: "Dit is die Here!" En Petrus bedink hom nie maar trek sy bokleed aan -jy kan mos nie in jou onderklere voor jou Here verskyn nie- en spring in die water om maar so gou as moontlik op die strand te wees.

Dit, gemeente, is die eerste les van hierdie verhaal. As die dissipels die bevel van hulle Here maar ken en gehoorsaam is- dan sal hulle sy mag ervaar. Dan word die nette vol. Dan sal hulle tasbaar ervaar dat hulle Here daarby is, al sien hulle ook nie sy verskyning nie en al hoor hulle ook geen stemgeluid nie.

Daar lê en wag 'n groot taak vir hulle: mense vang vir Christus. Hulle moet die wêreld in, tot aan die uiterste van die aarde, en orals mense tot Christus roep. En dit word nou baie moeiliker as in die afgelope drie jaar. Toe was hulle Her altyd by hulle, sigbaar en hoorbaar en Hy het hulle telkens weer moed gegee om aan te gaan.

Maar nou vertrek Hy aanstonds hemel toe en dan moet hulle skynbaar sonder Hom verder. Maar hulle mag daarvan seker wees: die wat die bevel van die Here opvolg, sal ervaar dat Hy met sy mag nog altyd daarby is. Dan kom daar seën op die werk.

Die dissipels hèt dit agtergekom, broeders en susters. Petrus, Johannes en die ander dissipels. Hulle kòn mense vang op die bevel van hul Here en hulle het vol nette gekry, en daaraan het hulle geweet dat hulle Here, alhoewel onsigbaar, daarby was.

Daarvan is die hele kerkgeskiedenis vol. Daar waar die bevel van die Here uigevoer is, het Hy sy mag geopenbaar. Daar hèt geloof, bekering, kerkplanting en kerkgroei gekom.

Dus moet ook ons vandag nog die les uit hierdie verhaal leer, gemeente. Ons hoef maar net te luister na die bevel van ons Here. Al lyk dit partykeer ook onbegonne werk, al is die teëstand ook hoe groot, die wat gehoorsaam met die bevel van Christus aan die werk spring, kry 'n wonderlike seën op sy werk.

2. Maar nou volg die tweede les van hierdie selfopenbaring van die opgestane Here. En dit is 'n beskamende les vir sy knegte.

Die dissipels het die net vol gekry. Oorvol. Petrus het direk entoesiasties oorboord gespring, sy Here tegemoet. Die ander het bietjie nugterder gebly en gesorg dat die skuit met sy lading op die land gekom het.

Nou kon die Here dan sy vissie by sy brood kry. En ook wel 10 visse as Hy dit wou gehad het.

Maar dan kom daar die vreemde, onverwagte ding vir die dissipels: "Toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en.... vis daarop lê, en brood" (vs. 9). Hulle sal met verbasing daarna gekyk het.

Eers vra om 'n vissie by jou brood, en dan sukkel jy om 'n swaar net sonder skeure op die land te kry en wanneer jy eindelik daar is met jou visse, blyk dit dat hy wat jou al diè moeite besorg het met sy vraag om vis lankal hèt wat hy gevra het! Alles lê klaar daar. Nie net brood nie, maar ook vis.

U sal u die reaksie van die dissipels wel kan voorstel.

Maar u sal ook wel verstaan waaròm die Here so gemaak het en sy aanstaande knegte op hierdie eienaardige verrassing onthaal het. Daarin lê die beskamende les dat Christus nie van die ywer van sy knegte afhanklik is nie. Hùlle het die hele nag niks gevang nie. Met hulle hele geswoeg en inspanning het hulle geen vis in hul nette gekry nie. Selfs nie een nie. Dit was hulle Here wat in een simpele demonstrasie van sy mag hul nette volgemaak het. Maar laat hulle dit dan ook nie vergeet nie, noudat Hy vir hulle om vis gevra het. Dit wat hulle nou vir Hom bring, is rêrig nie hulle eie vangs nie. En die Here kan ook sonder hulle wel kry wat Hy wil hê. Hy het vir hulle gevra, maar voor en aleer hulle Hom bring, hèt Hy dit klaar.

Hulle mag dit nooit vergeet nie wanneer hulle netnou vissers van mense geword het. Nie hulle sorg daarvoor dat die nette vol word nie, nie hulle besorg Christus die vangs nie. Hyself sal hulle altyd voor bly. Hy sal altyd die Eerste wees. Hy bly die Here wat oor groot mag beskik. Hulle is slegs kleine knegte. Hulle moet verstaan dat dit 'n eresaak is dat hulle aan die groot werk van hul Here mag saamdoen. Nooit kom hulle op die eerste plek nie. Nooit sal hulle onmisbaar wees vir die voortgang van die werk nie. Dit is 'n eer as jy mag saamdoen, maar ook sonder jou kom die werk wel klaar.

Dis diè dat hulle ook maar nooit in hul eie krag, hul eie moontlikhede moet vertrou nie, maar altyd in die mag van hul Here moet bly glo.

'n Baie belangrike les, ook vir ons vandag nog, broeders en susters. Ons moet as knegte nooit krampagtig meen die Here is vir sy groot doel van ons en van ons ywer en inspanning afhanklik nie. Asof ons dit vir Hom moes verwesentlik.

Dit geld vir alle arbeid vir die Here in die Kerk en in die diens van sy Koninkryk. Daar lê baie werk en die Here vra ons volledige oorgawe daaraan. Maar terselfdertyd mag ons besig wees in die rustige gevoel dat Hy self wel sal sorg dat sy werk klaar kom. Niemand van ons moet van homself dink dat die Here sonder hom of haar nie sal regkom nie. Asof die Here hom of haar wel baie dankbaar mag wees.

Christus was ons almal lankal voor! Hy het ons nie eintlik nodig nie. Hy is nie van ons afhanklik nie. En selfs wanneer Hy ons inskakel, bly die resultaat sy werk.

3. As ons dit bly raaksien, word dit 'n ryke saak om te mag werk vir hierdie Here wat, alhoewel Hy nie van ons afhanklik is nie, nogtans ons by sy groot werk wil gebruik.

Want Christus wat dit ook sonder ons wel kan doen, wìl dit nie sonder ons doen nie.

Dit is die laaste wat die dissipels uit die wonderlike openbaring van die mag van hulle Here by die see van Tiberias geleer het.

Daar lê lankal vis op die koolvuur wat Christus aangelê het, maar desondanks sê die Here vir hulle: "Bring van die visse wat julle nou gevang het". Lê julle visse maar daarby, Petrus. Lê maar van hulle langs die ander op die koolvuur.

En u verstaan: in daardie simpele aansporing lê 'n ryke bemoediging: die werk, die moeite, die sorg van die dissipels word deur hulle Here dus nie verag nie! Hy skakel dit in, laat dit meetel en dit is vir Hom tog waardevol.

Hulle moet nou nie dink dat al hul moeite tog nie sinvol is nie. Hulle mag vir hul komende taak weet dat hulle as vissers van mense regtig nie sinloos sal besigwees nie. As hulle getrou hul werk op Christus se bevel doen, kom daarop 'n ryke seën wat deur Christus ook in rekening gebring word.

Ook dit mag ons weet vandag: Christus, wat nie van ons afhanklik is nie, vrà nogtans ons inspanning vir sy saak. En Hy gebruik dit ook. Dit tel saam vir die uiteindelike resultaat. Daar is niemand wat hom tevergeefs opoffer vir die saak van Christus nie.

Hoe 'n bemoedigende wetenskap by die werk wat vanweë verskeie teleurstellings en teëslae partykeer maar sinloos lyk!

Vol verwondering het die dissipels die maaltyd gebruik met hul Here wat so indrukwekkend sy mag aan hulle gewys het. Daar was nou geen twyfel meer oor sy identiteit nie. Niemand het meer durf vra hoekom Hy juis so, as 'n vreemdeling, na hulle toe gekom het hierdie oggend. "Want hulle wis dat dit die Here was". Jesus het daar nog altyd met 'n onbekende voorkoms en stem by hulle gesit. Maar hulle het Hom darem almal geëien. Want die bewyse van sy mag het mos voor hulle gelê: die vis op die vuur saam met die vis uit hul nette. En hulle mog 'n voorsmaak op die feesmaal in die Koninkryk van Christus vier, saam met hul Here. 'n Eenvoudige maaltyd, maar terselfdertyd 'n maaltyd vol beloftes. Sò sal dit dus voortaan wees: as hulle die bevel van hul Here maar bly ken en gehoorsaam, as hulle maar net maak soos Hy opgedra het, as hulle gelowig aan die werk spring, nie krampagtig nie en ewemin vol eiedunk, dan loop dit eendag uit op 'n fees met hul Here. Op sy fees waarin Hy hulle betrek.

Met diè bemoediging mag ook ons vandag lewe en werk, gemeente. Die werk mag partymaal swaar wees en ons Here mag vir ons gevoel partymaal ver weg wees, die resultaat mag soms in ons oë teleurstellend wees, maar as ons daarvan bewus bly in Wie se diens ons werk: die diens van die Here in die hemel, wat die werk feitlik al klaar gedoen het, dan kan ons gehoorsaam en vol verwagting aan gaan.

Want die resultaat sal eendag 'n fees wees!

AMEN.

(Pretoria, 30 April 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)