PREEK OOR ROMEINE 5: 1-11
Votum en seëngroet
Ps. 85: 1
Geloofsbelydenis
Ps. 85: 4
Kort Nagmaalsformulier
Ps. 65: 3 terwyl die tafel gereed gemaak word
viering Nagmaal, gevolg deur danksegging
Ps. 65: 2 by die afsluiting van die tafel
Dankgebed
Kollekte
Ps. 32: 1, 4
Prediking oor Rom. 5: 1-11
SB.10: 1, 2
Gebed
SB.10: 3-6
Slotseën
Broeders en susters,
Dit staan daar wel baie vanselfsprekend, in vs. 1 van ons teks: "Ons het vrede by God... ". Maar so heel vanselfsprekend is dit darem nie. Ons het vandag by die Nagmaalstafel weereens daarby stil gestaan.
Dié vrede was nie altyd daar nie.
Die woord "vrede" wat Paulus hier aan die begin van hoofstuk 5 neerskryf, glans teen die donker agtergrond van die vorige hoofstukke. Daarin het dit bepaald nie vredig toe gegaan nie. Die apostel moes waarsku vir God se toorn wat van die hemel af dreigend saampak bo alle goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense.
Toorn wat mense vir hulleself bymekaar maak vir die groot oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek.
Paulus moes waarsku vir lyding en benoudheid wat sal kom oor die lewe van elke mens wat kwaad doen.
Daar was glad nie vrede nie.
Ons was vir God: goddelose, sondaars en dus: vyande.
Ons het eeue lank al in oorlog met God geleef. Alreeds vanaf die paradys. Daar het die bom gebars. Daar het ons hoogverraad gepleeg. Ons het die verbond met ons God en Koning gebreek. En ons het gekies vir 'n bondgenootskap met die bose, sodat ons 'n komplete wêreldoorlog teen God ontketen het.
Is dit dus 'n wonder dat ons God se toorn ontketen het? Wat het ons van daardie oomblik af anders verdien as dat God Hom nou ook ons vyand betoon?
'n Totale vernietiging sou ons verdiende loon wees!
Dit was God se verordening, sy regverdige eis, het Paulus in 1: 32 geskryf, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien.
'n Geweldige wêreldbrand sou alreeds al die lewe op aarde kon vernietig het- dit sou 'n regverdige reaksie van 'n toornige God gewees het. 'n Totale ontploffing sou 'n einde kon gemaak het aan 'n wêreld waarin die mens die duiwel op die troon gehelp het.
Teen dié agtergrond moet u daardie woordjie "vrede" in ons teks lees, gemeente. Daardie woordjie staan daar allermins vanselfsprekend.
Maar dit stáán darem daar! Paulus mog dit tog neerskrywe: "Ons het vréde met God... ".
Want ons hét vrede! Deur ons Here Jesus Christus. Hy het in ons plek aan God se regverdige eis voldoen. Hy het die dood wat ons verdien het, van ons oorgeneem en in ons plek gesterf. Dit was Hy van Wie Jesaja alreeds geprofeteer het (ons het dit vanmôre aan die tafel gelees): "die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom".
Hy het Homself as Bemiddelaar tussen God en ons opgewerp en versoening bewerk tussen daardie twee wat vyande was.
Moet maar eens daarop let, hoe dat in ons teksverse daardie woord "versoening" aan die slot 'n sentrale rol gaan speel. Ons het vrede met God, danksy die versoening deur ons Here Jesus Christus. Christus is Sélf ons vrede, skryf Paulus êrens in sy brief aan die gemeente te Efese. Ons Here en Heiland staan in eie Persoon Borg vir hierdie vrede. Hy was dit ook wat in die aand van die dag van sy opstanding sy kerk kon begroet met die veelbetekenende woorde: "Vrede vir julle!". Nie net 'n goedkope "Sjaloom" nie. Maar: nou het die vrede waarvan die engele alreeds by my geboorte gesing het, gekom. Die vrede met God is geteken en met my bloed beseël.
Danksy Jesus Christus is daar, vir elkeen wat glo in sy versoenende bloed, vrede met God.
God se toorn wat ons kon verskroei het, is afgekeer. Dit is al gekoel op sy Seun.
Ons is nie langer: vyande nie. Nie meer sondaars en goddelose nie. Maar ons is geregverdig, versoen. Die verbond met die duiwel is deurbreek en ons is weer Gód se volk. En God is weer óns God, voor Wie ons sonder verskrikking mag verskyn. Die pad terug is deur Christus oopgemaak. Die toegangspaaie na God se Koninkryk is nie langer versper nie. Daar is weer vry verkeer met God moontlik. En vanaf die dag van Golgotha mag ons weer onder God se regering lewe- 'n lewe in vrede.
Ons lewe lê nie langer onder die beangstigende perspektief van God se brandende toorn nie. Ons het nou die geweldige perspektief van die ewige vreugde. Ons kan nou weer veel verder kyk as wat ons eie klein lewentjie lank is en as wat die horison van hierdie wêreld ver is. Ons het deur die herstelde vrede met God uitsig ontvang op die lewe in heerlikheid op die nuwe aarde wat eendag uit die puinhope van die ou wêreld sal herrys.
Daar sal nog wel 'n laaste ontlading van God se toorn kom, oor almal wat die versoening deur Christus se bloed afgewys en in hul goddeloosheid volhard het. Oor hulle almal kom op die ou end tog die wêreldbrand, die eindafrekening, die nekslag wat geen genadeslag sal wees nie.
Maar ons, wat deur Christus se bloed geregverdig is, word gered van die toorn, gemeente. Die wêreldbrand sal vir ons nie die oordeelsdag wees nie. Ons is die wêreldvrede te wagte, trane wat afgevee is, die oorvloed van vreugde waarvan ons vandag in die nagmaal die voorsmaak geproe het.
Kort en goed: die hemel op aarde. Heerlik!
Dit is die perspektief waarin ons nou mag roem. Christus het vir sy kerk 'n oneindige vooruitsig gegee. Ons lewe hoef nie langer onder die beklemming van angs vir die toekoms te lê nie. Ons hoef nie krampagtig te probeer om die wêreldvrede op allerlei maniere veilig te stel nie. Ons weet mos dat die vrede lank al veilig gestel is, deur die groot Vredesaktivis, ons Here Jesus Christus. Hy sal wel daarvoor sorg dat ook die laaste reste van die besettingsleër van die bose op die ou end vernietig word. Die sondereste wat nog in ons lewe oorgebly het, sal verwyder word. En die vrede wat vandag al daar is, kry 'n heerlike vervolg.
Ja, ons sê dit wel met 'n groot stelligheid, broeders en susters. Maar as ons eerlik is, moet ons erken dat ons dikwels nog maar weinig daarvan agterkom dat ons vrede met God en die uitsig op 'n lewe in heerlikheid het. Wat sien ons daarvan??
As God op Golgotha 'n nuwe begin met ons gemaak het, as Christus 'n nuwe toekoms vir ons oopgemaak het- wat blyk dan daarvan?
Lê nie ook ons lewe nog in baie opsigte onder 'n beklemming nie? Ons kry mos saam met die ander ook volop ons deel van die ellende waarvan hierdie wêreld vol is? Ook ons het alle rede om met die digter van Psalm 90 te sê: "Die dae van ons jare- daarin is 70 jaar, of as ons baie sterk is, 80 jaar. Maar die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet".
Is dit nie dikwels om moedeloos en neerslagtig van te raak nie?
Wanneer dit in weerwil van die vrede met God nou darem nog altyd so ellendig is- kom dit dan wel ooit reg? ! Is God feitlik wel vír ons? Is sy toorn wel gestil. Of is God nog altyd teen ons?
Ons lees in ons teks in vs. 3, broeders en susters: "ons roem ook in die verdrukkinge".
Dis 'n baie sterk woord, maar so kan en mag dit wees. Selfs as die een teleurstelling na die ander, die een teëslag na die ander, die een verdriet na die ander ons neerdruk -want dit beteken daardie woord "verdrukkinge" eintlik: alles wat jou neerdruk, bedruk maak- bly ons nog roem. Dan bly ons nog ons dank'bre psalms van vrede met God en die oneindige uitsig wat ons daardeur het, sing.
Daar staan hier 'n sterk uitdrukking, het ek gesê.
Want daar staan nog niet eens dat ons ten spyte van verdrukking, dus al kom daar ook baie tekeurstellings en verdriet, bly roem nie. Maar Paulus het geskrywe dat ons as gevolg van dié verdrukkinge nog meer gaan roem. Wanneer ons baie swaarkry gee dit vir ons des te meer redes om te roem.
Dit klink snaaks, ek weet.
Maar kinders van die HERE mag weet dat selfs teëslag vir ons voordeel oplewer. Ons mag glo dat God die verdrukkinge -dus alles wat ons neerdruk- gebruik om ons met des te meer spanning te laat uitsien na die heerlike toekoms wat Hy in die vooruitsig gestel het. Ook ons moeite werk mee ten goede.
Want hoe alles ook al mag teëval: dit kry ons nie klein nie. Ja, dit hou ons wel klein: klein teenoor ons groot en regverdige God. Dit herinner ons aanhoudend aan ons skuld teenoor Hom en sy genade oor ons. Maar juis daarom hou ons dit al hoe kragtiger vol dat God tog alles reg sal maak. Ons raak maar net al hoe meer oortuig daarvan dat die vrede alleen by God te vinde is. Selfs die grootste ellende neem ons ons uitsig nie af nie, maar versterk ons maar net daarin. Dit bewerk by ons maar net 'n volharding in die geloof.
En ons hou goeie hoop. Want ons hoop kan nie te pletter loop nie. Ons hoop laat ons nie beskaamd staan nie. Dit kóm reg!
Maar hoekom is ons daarvan so seker, ja toenemend sekerder? Hoe weet ons so stellig dat ons hoop ons nie beskaam nie?
Wel, gemeente, ons weet mos van God se genadige inisiatief om vrede te bereik. Ons ontleen aan daardie inisiatief ons perspektief.
Hoe het mos ons vrede met God tot stand gekom?
Nie as gevolg van langdurige vredesbesprekings tussen albei die partye nie. Ook nie ten gevolge van 'n tweesydige ontwapening of 'n skietstilstand nie.
Dit was van begin tot end God se werk.
Nie sonder rede nie praat Paulus in vs. 2 van ons teks van "hierdie genade waarin ons staan". God het op 'n wonderlike wyse genade aan ons bewys. Hy het van sy kant die inisitief tot vrede geneem, in 'n vergaande liefde vir ons.
Ons het daarvoor tog 'n oog gekry? Daarvoor het die Heilige Gees van God deur die Evangelie ons 'n oog gegéé. Hy het ons hart daarmee vervul. "Die Heilige Gees het die liefde van God in ons harte uitgestort", skryf Paulus in vs. 5. En dit wil sê: die Heilige Gees het ons deur die Evangelie in die Bybel en ook deur die sakrament van die nagmaal op die hoogte gebring van God se liefdesinisiatief en ons dit op die hart gebind.
Hierdie liefde dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom sou lewe. Dit was mos eers regtig liefde: ons het God nie liefgehad nie, maar Hy het ons liefgehad en sy Seun gegee as 'n versoening vir ons sondes.
Deur die Heilige Gees weet ons nou daarvan. En ons hart is vol daarvan.
Ons weet van Golgotha, waar God gewys het hoe lief Hy ons het.
Ja, wéét u nog daarvan, broeders en susters, seuns en dogters? Natuurlik, u weet dat God sy Seun vir ons bevryding opgeoffer het. Ons is vandag weer uitvoerig daaraan herinner.
Maar voel u nog wel wat dit wil sê???
Christus het vir ons gesterf- ons weet dit as vertroude klanke. Maar besef u nog watter unieke wonder dit was?
Ons teks vra daarvoor aandag in vs. 7:
'n mens kom al nie maklik so ver dat hy homself opoffer vir 'n goeie en regverdige mens nie, of vir 'n regverdige saak nie. In so'n geval word van so iemand alreeds die uiterste gevra.
Maar dit kán gebeur, dit het ook wel gebeur. U kan maar dink aan die Tweede Wêreldoorlog. Talle mense het toe hul lewe gegee om ander te red. In die geveg, of in 'n konsentrasiekamp as hulle hulself aangebied het in die plek van 'n ander om te sterwe.
Maar dan was dit tog altyd nog: vir 'n vriend, of 'n familielid, vir 'n medestryder, vir jou volk en jou bondgenote.
Maar moenie vergeet nie: òns was vir God en Christus: vyande! Deur ons bondgenootskap met die duiwel het ons onself mos tot goddelose en sondaars gemaak. "Swak" sê Paulus ook, in vs. 6, en dit wil sê: waardeloos en onaantreklik. Mense sonder ruggraat. Nikswerd mense. Ons het gemene saak met die vyand gemaak, hoogverraad gepleeg. En vir sulke mense offer jy jou tog nie op nie? ! Sulke mense verdien niks anders nie as om uitgeskakel, uit die weg geruim te word.
Maar pleks daarvan het Christus op God se ininsiatief Hom juis daarvoor ingeset om ons te red! Om ons met God te versoen het Christus vir sulke goddelose gesterf. God het bewys hoé lief Hy ons het, daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog vyande, sondaars was. God het sy Seun vir ons opgeoffer toe daar, in soverre dit aan ons gelê het, hoegenaamd geen rede was om ons nog genadig te wees nie. So lief het God ons toé alreeds gehad, dat Hy so ver wou gaan!
Maar as ons dit tot ons laat deurdring, as ons hart daarvan vol word- dan staan dit vir ons tog vas dat Golgotha nie sonder gevolg kan bly nie? Kan die God van Golgotha ons nog ooit weer loslaat?
Wanneer God ons toe alreeds so liefgehad het, sou Hy Hom dan nou van ons afwend? Wanneer God toe op eie inisiatief daardie wonderlike weg gekies het om ons te bevry en om ons pleks van vyande weer tot sy volk te maak- sou Hy ons dan nou nog aan ons lot kan oorlaat en onder die ellende laat beswyk? Sou ons dan nou nog deur sy toorn getugtig word?
Dit kan eenvoudig nie wees nie!
Die vrede wat God toe gesoek en gevind het, kan nie sonder gevolg bly nie. Ja, wanneer God se Seun vir ons die dood wou ingaan om ons te red, toe ons in God se oë niks anders nie as vyande kon wees, sou hierdie Seun van God dan nou, nou dat Hy uit die dood mog weerkeer en by God in die hemel ons Voorspreker geword het, skielik glad nie meer vir ons omgee nie?
Dit kan eenvoudig nie wees nie!
Dit is presies andersom: wanneer God toe alreeds Hom so in liefde wou ontferm, sal Hy nou sekerlik so maak.
Wanneer Christus toe alreeds alles vir ons oorgehad het, sal Hy nou sekerlik so maak.
Wanneer God toe so die inisiatief geneem het, moet dit wel 'n hoopvolle perspektief gee.
Broeders en susters, die laaste deel van ons teksverse, daardie sterk stelling van Paulus om duidelik te maak dat ons in ons hoop, in ons verwagtings nie teleurgestel sal word nie, ken u natuurlik. Ons het dit vanaand nog weer gehoor: dit staan ook in die lofprysing na die viering van die heilige nagmaal in ons formulier.
Met hierdie woorde word die viering van Christus se dood, die fees van versoening, afgesluit.
Met hierdie woorde word die gemeente van Christus na die nagmaalsviering weer huis toe gestuur. En weer die wêreld ingestuur.
Dit was 'n goeie greep van die opstellers van hierdie formulier om na die nagmaal hierdie woord van Paulus vir ons saam te gee huis toe. Want hierdie woord kan ons daarvoor bewaar dat ons die nagmaal beleef as 'n roes wat ons net 'n oomblik bo die moeites en kommernisse en narighede van die lewe uitlig- as 'n kort ontvlugting van die wrede werklikheid waarin ons net-nou, by die huis, onvermydelik weer terugval.
Want die heilige Nagmaal is nie deur Christus ingestel om ons vir 'n kort rukkie bo die aldaagse lewe waarin daar soveel kommernisse en narighede ons bestorm, uit te lig, en om ons daarna dadelik weer daarin te laat terugval nie.
Die Nagmaal is juis vir ons gegee om ons omhoog te trek op die vlak waarop ons mag en moet bly, ook as ons die kerk weer verlaat. Die vlak waarop ons die lewe, in weerwil van alle teenslae, weer aandurf. Die vlak van die herstelde vrede met God.
God het die nagmaal as 'n internasionale herdenkingsmonument van vrede en bevryding gegee, wat ons herinner aan Hom wat vir ons wat vyande was, gesterf het.
En daardie monument leer ons by herhaling, en het dit ook vandag weer gedoen, om in 'n wêreld wat van sonde ontplof en te midde van mense wat met angs en bewe die toekoms tegemoet sien, rustig te roem: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons, sondaars, vyande, oorgegee het- hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie, noudat ons weer heeltemal sy volk is? Volledig versoen. Ons het tog vréde met God?
Wat kan ons dan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is?
AMEN.
(Pretoria, 13 Mei 1990)
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)