'n Christen is anders

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Efésiërs 4
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 140: 1, 6, 10, 11
Skb 25: 1, 2, 3, 4
Ps 139: 12
Ps 25: 6, 7, 8
Ps 125: 1-7
Lees: Efese 4: 17-32
Teks: Efese 4: 17-20

Brs en srs!

Gij geheel anders! Dit is vir baie van u 'n bekende teks wat u nog onthou uit die nederlandse vertaling.

Dit kom uit Efese 4: 20. In ons vertaling is dit weergegee met: " Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. " Of in die Ou Vertaling: " Maar so het julle Christus nie leer ken nie. "

Gij geheel anders! Ek het vroeër nie baie van hierdie woorde gehou nie. Dit is dikwels gebruik om jou as kind allerhande dinge te verbied.

As jy vra, hoekom mag ek nie soontoe gaan nie, of dit of dat doen nie, dan kon jy as antwoord kry: Gij geheel anders!

Self het ek altyd gevoel dit is nie 'n egte argument nie. Dit gaan in 'n christelike gesin tog nie daarom om maar net anders as ander mense te wees nie. Daar moet tog 'n rede wees hoekom dan.

As alle mense in 'n huis bly is 'n christen tog nie verplig om wille van sy anderswees, dat hy in 'n tent moet bly b. v.

Of as alle seuns met 'n lang broek skooltoe moet gaan dan moet ek 'n kortbroek dra want: Gij geheel anders!

Soos ek nou insien is hierdie "anders wees" inderdaad op sigself glad nie 'n argument nie. Jy moet nie anders wees net om anders te wil wees nie.

Die anders wees is iets wat moet voortvloei uit die feit dat jy Christus leer ken het.

Dat jy Christus leer ken het, dit bring in jou lewe 'n groot verandering.

Daar is 'n diep kloof tussen die lewe met Christus en die lewe sonder Christus.

Dit is 'n verskil wat nie eers in die lewe na hierdie lewe sigbaar sal word nie. By voorbeeld: 'n christen sal later in die hemel kom maar 'n ongelowige nie.

Nee, die verskil word vandag reeds oorduidelik sigbaar.

Dit is wat Paulus in ons teks van vanoggend duidelik wil maak.

As die verskil in ons daaglike lewensstyl nie duidelik is nie, dan is daar iewers iets grondig verkeerd.

Want as Christen hoef jy werklik nie te soek om anders te wees nie.

Jy is anders.

As jy tenminste Christus werklik leer ken het.

Ons tema vir die preek is:

'n Christen is anders.

  1. Die leegheid van 'n lewe sonder Christus
  2. Die volheid van 'n lewe met Christus

In hierdie brief aan die Efesiërs werk Paulus aan die opbou van die gemeente. Daartoe het hy reeds 'n hele paar kernsake van die geloof aan die orde gestel.

Vanaf vers 25 van hoofstuk 4 kom Paulus met 'n aantal heel praktiese aanwysings. In die nuwe vertaling begin daar 'n nuwe gedeelte onder die titel " Riglyne vir die nuwe lewe".

Net voorafgaande aan hierdie praktiese riglyne kry ons eers nog 'n soort inleiding. In hierdie inleiding verduidelik Paulus dat dit vir 'n christen nie gaan slegs oor 'n verwagting met betrekking tot die hiernamaals nie, maar dat die geloof in Jesus Christus hier en nou groot gevolge vir jou daaglikse lewe het.

'n Geloof sonder werke is namelik nie geloof nie.

En nou weet ons wel dat uit 'n opregte geloof vanself vrugte van dankbaarheid voortvloei, maar tog het ons ook behoefte aan nou en dan 'n praktiese aanwysing.

En dan gaan dit veral oor bewusmaking van ons eie swakhede.

'n Mens kan soms sekere dinge heeltemal verkeerd doen en daarmee skade doen aan die naam van Christus terwyl hy dit self nie so besef nie. Dit doen ons almal. U, ek, enigiemand.

En dan kan jy dankbaar wees dat iemand jou 'n slag op soiets wys. Jy moet jou van jou swakheid namelik eers bewus wees voordat jy iets daaraan kan doen.

Dit geld nie net vir elkeen van ons persoonlik nie dit gebeur ook met 'n hele gemeente. Ons kan b. v. as gemeente 'n sekere lewensstyl handhaaf waarmee onsself niks fout vind nie. Totdat 'n buitestaander kom en kritiese vrae begin vra oor ons optrede.

En dan is dit vreeslik belangrik dat ons luister. Dat ons ons besin of dit dan werklik so is.

Ons moet nou maar van ons foute bewus gemaak word as ons verder wil groei.

Wel, dit is waarmee Paulus besig is in Efese 4.

Dus onthou goed, Paulus gaan nie die evangelie van genade wat hy eers verkondig het, nou weer vervang deur allerhande nuwe wette in te voer nie, maar hy gee net aanwysings op watter terreine van die lewe die vernuwende werk van Christus sigbaar sal word. Sodat ons in die gemeente nie onbewus deurgaan met 'n lewe en 'n lewensstyl waaruit God geen eer kan ontvang nie.

Dus Paulus gee in die volgend gedeelte nie 'n nuwe wet nie, maar hy vertel oor die nuwe mens.

Maar voordat hy die nuwe mens uitteken, voordat hy die prentjie van 'n egte christen op die doek weergee, werk hy eers aan 'n kontraskleur. Hy skets die donker agtergrond van 'n lewe sonder Christus. Hy gee insig in die duistere magte wat in 'n menselewe oorneem as jy jou nie deur Christus laat lei nie.

Wanneer hy dit gedoen het kan hy daardeur helder lig laat val op die nuwe mens. Die nuwe mens se lewe en strewe word skielik duidelik vanweë die sterk kontras met die lewe sonder Christus.

"In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle. "

Met hierdie woorde het ons die toonhoogte van ons teks. Dit gaan hier oor baie ernstige en dringende sake.

"Moenie langer soos heidene leef nie. "

Dit kan nie langer nie, sê Paulus hier. Blykbaar het hier en daar in Efese die gedagte geleef dat dit wel moontlik was.

Dat die geloof in Christus iets van die Sondag is. Hulle het gedink geloof is 'n oortuiging wat jy met mekaar het en bespreek, maar dit is nie iets wat jou daaglikse lewe onmiddellik raak nie.

As jy op Maandag weer in die lewe staan dan geld daar nou maar ander wette en reëls as in die kerk. Want jy is tenslotte 'n mens en jy leef in die wêreld.

Teenoor hierdie tipe dinke roep Paulus: Nee! Onmoontlik!

Want in die wêreld rondom jou, die wêreld waarin jy daagliks leef heers nie die wet van Christus nie, maar leef mense na eie wette. En dit beteken hulle leef in duisternis!

'n Diep donker duisternis.

Baie duisterder as wat ons dit insien.

Kyk ons is gou geneig om te dink, ag die verskil tussen 'n gelowige en 'n ongelowige is prakties tog nie so vreeslik groot nie.

Jy ken wel mense, hulle is nou nie meer by 'n kerk nie, maar so deur die week is hulle tog ook nie so sleg soos wat ons nou en dan in die kerk hoor nie. Is die boosheid van die wêreld soos ons dit noem, eintlik nie 'n bietjie oordrewe nie?

Nee, roep Paulus, in die Naam van die Here het ek iets om te sê.

Dit gaan nie daaroor hoe ons na mense van die wêreld kyk nie, maar hoe God hulle beoordeel.

In ons oë is hulle dalk nog nie so sleg nie, maar in God se oë is hulle op 'n totaal verkeerde pad.

As Paulus die lewe omskryf van mense sonder Christus dan hoor ons nogal wat:

" Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, hulle volhard hardnekkig in hul onkunde. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met 'n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is te doen. "

Ons wil nie op al die dinge wat Paulus hier sê ingaan nie anders kan niemand die preek nog volg nie. Ek kan net sommer 'n paar dinge aanstip.

Paulus noem hier nadruklik die verduistering van die verstand. Dit gaan hier oor die onderskeidingsvermoë van 'n mens. Oor dit wat jy al redenerende met jou verstand kan bereik.

Gewoonlik is ons nogal optimisties daaroor.

Jy kan insien dat dit mense wat nie in 'n God glo nie, op sedelike vlak heeltemal kan misgaan, maar eintlik voel ons tog: met ons verstand is op sig niks verkeerd nie. As iets vir ons verstand redelik aanvaarbaar en begrypelik voorkom, dan moet dit waar wees. Hierdie vertroue op ons eie dinkvermoë, ook wel genoem rasionalisme het onweerspreeklik in ons westerse kultuur baie opgelewer aan vernuwings en verbeterings van die mens se omstandighede.

Elke dag werk ons met ons verstand. Ons dink na oor dinge, ons redeneer allerhande sake uit en voel daarmee kom ons baie ver.

Ek sal die laaste wees om dit te ontken.

Gesonde verstand kan 'n mens vir 'n klomp verkeerde besluite behoed.

En tog moet ons ons afvra: Hoe gesond is ons gesonde verstand eintlik?

Dis nie ek, gemeente, maar dit is die Here wat baie krities daaroor is.

'n Mens sonder God kan dink en redeneer, maar pasop, jou verstand kannie die einde van alle teenspraak wees nie.

Want menslike gedagtes sonder God lei tot niks.

Die mense se verstand is verduister.

Dit kan jou geen deel aan die lewe wat God skenk gee nie.

Ons eie dinkvermoë fluister ons soms in: Dit moet moontlik wees om sonder God of sonder 'n wet van God in hierdie wêreld reg te kom.

Maar dit is onmoontlik sê die Here. Buite My kan jy net in jou onkunde volhard. Hoe meer jy dink van jou eie wysheid, hoe meer Ek dit beoordeel as dwaasheid.

Wat jy lewe noem, is in My oë dood.

Wat jy as lig beskou is nie meer as duisternis nie.

Wat jy dink dit is die vreugde van die lewe, beskou ek as opmorsing van jou lewe.

Waar bring jou eie dinke jou?

Vers 19: Jy raak afgestomp, jy gee jou met 'n onversadigbare drang oor aan losbandigheid om al wat vuil is te doen.

Afgestomp, jy kan nie meer onderskei wat regtig die moeite wed is nie. Jy merk nie eers dat jy, met dit wat jy doen, besig is om jou lewe op te mors nie. So ongevoelig het jy geword vir dit wat God met die lewe bedoel het.

'n Onversadigbare drang na losbandigheid. Dit is waar die lewe sonder God tenslotte by uit kom. Dit kan afhangende van jou opvoeding of die maatskappy waarin jy lewe korter of langer duur, maar op die ou end beland jy daar.

Onversadigbaar. Tenslotte is daar niks meer wat jou nog werklik bevrediging kan gee nie. Jy gaan onder in die jag na genot.

Paulus hoef in Efese nie ver te soek om hierdie tipe lewensstyl aan te kan wys nie.

U onthou dat die heidense bevolking van Efese die godin Diana ook wel genoem: Artemis, hartstogtelik gedien het? Paulus self was indertyd in groot moeilikheid daaroor toe die silwersmede van die stad geprotesteer het teen die verkondiging van die Naam van Jesus Christus in Efese.

Wel, hierdie godin was 'n vrugbaarheidsgodin. Rondom haar was 'n erediens georganiseer waarin seks 'n oorheersende rol gespeel het. Daarna verwys Paulus hier as hy praat oor die onversadigbare drang na bandeloosheid.

Waar geen besef is van 'n norm van God vir die lewe, gee die mense hulle oor aan hulle eie luste en dan kan dit tot die vreeslikste taferele kom. Genotsug en wellus gaan die lewe bepaal.

Geen normbesef, genotsug en wellus. So kenmerk Paulus die lewe in die heidense Efese.

Is dit sover van die leefwyse van baie mense van ons tyd af?

Wat is gewoonlik maar die onderwerpe van gesprek tussen mense wat met mekaar op 'n kantoor werk?

Sport, seks, lekker eet, lekker drink, vakansie. Dan het ons dit wel so ongeveer.

Begryp my goed. Op sigself is daar niks verkeerd met sport, seks, lekker eet en drink, of vakansieplanne nie.

Maar dit gaan wel daaroor hoe jy oor daardie sake praat.

Of watter plek dit in jou lewe inneem.

Is dit regtig al waar dit in die lewe oor gaan?

Is dit al waaroor jy kan praat?

Gaan dit regtig daarom dat jy van hierdie goed so veel as moontlik moet probeer geniet?

Maar dan is jy soos die heiden wat Paulus in ons teks beskryf.

Jy is afgestomp en koester 'n onversadigbare drang na bandeloosheid. Dit is die leegheid van 'n lewe sonder God.

Dit, brs en srs, is die wêreld waarin ons lewe.

Letop, ek sê dit nie om u te laat voel: "Kyk, so sleg is nou die wêreld daarbuite. Gelukkig is ons hier binne in die kerk. Buite is dit verkeerd. Binne is dit reg. "

Nee, dit gaan my daarom dat ons goed besef dit is die wêreld waarin ons leef. 'n Wêreld waarbinne ons almal ons heeltemal op ons gemak voel. Want met die sake waarmee die wêreld so besig is, hou ons ons ook baie besig.

En nou is dit ons roeping om in hierdie wêreld christen te wees.

Om ons in hierdie wêreld tog te onderskei. Nie omdat net graag anders wil wees nie. maar omdat die leegheid van die lewe sonder God by ons gevul word met die Here Jesus Christus.

Daaroor in punt 2:

2. Die volheid van 'n lewe met Christus

Maar julle het Christus nie so leer ken nie.

Hier kom nou die sterk kontras waarvan ek eerder gepraat het.

So lyk die lewe sonder Christus.

Maar julle lewe nou met Christus.

Julle het Hom leer ken.

En waar jy Hom leer ken het, gaan jy Hom liefhê.

En dit is wat alles gaan verander.

Kyk, ons het gesê, die lewe sonder God gaan op in 'n onversadigbare drang na seks, lekker kos, lekker drank, vakansievermaak.

Is christelike lewe nou daarvan afsien? Dus geen seks, geen lekker voedsel en drank, geen vakansie pret?

Daar was baie christene wat so gedink het. Hulle het van al hul natuurlike verlangens afgesien en het gemeen dat hulle so wel by die vereiste heiligheid in Christus sou uitkom.

Maar dit het nooit gewerk nie. Of maar baie ten dele. Allerhande wette en voorskrifte gaan jou werklik nie by Christus uitbring nie.

Nee, jy het Christus leer ken. eintlik staan hier: Jy het Christus geleer.

Dus dit is nie dat jy oor hom iets geleer het. Jy leer nie net iets oor Christus nie. Soos 'n mens b. v. iets oor Paul Kruger kan leer.

Nee, jy het Christus geleer. Jy het hom leer ken.

En daardeur het Hy vir jou die belangrikste persoon in jou lewe geword. Jy het sy krag in jou lewe leer ontdek. Jy het die krag van sy woord ervaar. En dit is wat van jou 'n ander mens gemaak het.

Hy, Jesus Christus is dit wat jou lewe gevul het.

Om Hom gaan dit alles.

Dus dit gaan hier nie oor 'n ander lewenstyl op sigself nie, maar dit gaan om Christus. Jy het Hom leer ken. En dit maak van jou 'n ander mens.

Kyk om 'n paar aanpassings in jou lewensstyl te maak dit sê op sig nie baie nie. Dit kan 'n mens oor allerhande redes doen. Maar dit gaan daarom dat jy jou lewe en jou lewensstyl verander omdat jy Christus leer ken het.

En dit maak dat jy anders omgaan met die sake wat ek sopas genoem het as kenmerk van 'n lewe sonder God.

Jy leer met jou seksualiteit omgaan as 'n geskenk van God. Jy vra wat sy bedoeling daarmee is en jy probeer die saak tot eer van jou God te hanteer.

Losbandigheid moet dan verander word na selfbeheersing.

En as dit gaan oor kos en drank, dan kan dit nie anders of 'n christen gaan daarmee anders om. Dit is nie die doel van jou lewe om soveel as moontlik te eet nie. Of soveel as moontlik drank te gebruik sodat dit nog net nie aanstoot gee nie.

Ook hier moet ons menslike neiging tot losbandigheid verander word na 'n houding van selfdissipline.

Waar dit gebeur is ons gespreksonderwerpe dan nie meer uitsluitend die besigheid wat ons doen, wat ons afwissel met die vakansies wat ons kan hou.

Maar ons is so vervul van die lewe met Christus dat ons dit graag met 'n ander wil deel.

So het ons Christus leer ken.

Het ons, brs en srs?

Het ons reeds ons menslike genotsug beteuel deur Christus eerste te stel?

Of is ons net so vol van ons wêreldse genoeëns as 'n ander?

Probeer ons dalk twee here tegelyk dien?

Uit ons religieuse plig is ons lid van die kerk. En that's it!

Moenie meer van ons verwag met betrekking tot 'n christelike lewenstyl nie!

Ons stuur ons kinders na 'n gereformeerde skool. En daarmee voel ons, het ons ons plig gedoen ten aansien van die opvoeding van ons kinders. Het ons?

Is dit al wat ons kinders aan ons kan sien met betrekking tot die feit dat ons inderdaad Christus leer ken het?

Gemeente, as ek oor hierdie dinge begin nadink besef ek skielik dat ons almal in daardie opsig nog maar heeltemal aan die begin van die pad staan.

Het die volheid van die lewe in Christus werklik al prakties vorm in u lewe begin aanneem?

Of is ons lewensstyl amper net so leeg as die lewe van mense sonder God?

Laat ons terugkeer na 'n hartlike geloof in Jesus Christus.

In die opsig is ons ongelooflik bevoorregte mense.

Ons het kostelike beloftes van die Here ontvang.

Die volheid van sy heil.

Hy het selfs sy Heilige Gees vir ons beskikbaar gestel.

Wie durf waar dit die geval is met 'n leeg lewe voor sy aangesig verskyn?

Gemeente as ons geloof insak moet ons maar reken dat ons morele lewe ook insak. Dan kom jy agter dan word skielik allerhande sake problematies.

Dan gaan die ongebondenheid ons parte speel.

Dan word ons gegryp deur die begeerte na meer.

Dan word skielik allerhande verleidings vir ons te veel.

Ons is nie meer opgewasse teen seksuele verleidings nie.

Ons kan nie meer "Nee!" sê teen finansiële verleidings nie.

Dan begin die begeerte in ons oorneem.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Bekeer julle. Keer terug na die geloof.

En ontdek watter vreugde dit is om te lewe met die Here Jesus Christus. Ontdek watter vervulling dit gee om in sy diens jou lewe te bestee.

Dan sal jy vanself ervaar eers in Christus ontvang jy die volle lewe.

Amen.

17 Okt 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)