PREEK OOR SONDAG 34, VR EN ANTW 94 EN 95 HK
LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 96: 1, 2, 3, 5
Gebed
L. 1 Kor 8: 4- 6, 10: 14-22 & 1 Joh 5: 19-21
Ps 97: 4, 6
Prediking
Ps 16: 1, 2, 5
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps 135: 2, 9, 10, 11
Seën
Is die Eerste Gebod nie 'n bietje 'n oorbodige gebod nie, broeders en susters?
"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie", sê die HERE.
'n Mens kan verstaan dat die HERE geen ander god langs Hom, en nog minder in sy plek duld. Hy wil alles in almal wees.
Maar daar bestaan mos nie ander gode nie?
Ons het gelees dat die apostel Paulus in sy brief aan die gemeente te Korinthe geskryf het: "Ons weet dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. " Daar is miskien sogenaamde gode, tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit Wie alles is, en ons tot Hom; en een Here Jesus Christus, deur Wie alles is, en ons deur Hom.
Ja, die HERE praat in die Bybel Self so oor die afgode. Kyk maar saam met my in Jesaja se profesieë, hoofstuk 41. Daar daag die HERE, vanaf vs 21, die sogenaamde gode van die heidene uit om hulle met Hom te meet. Kan hulle die toekoms voorspel? Laat hulle iets doen, goed of kwaad, maak nie saak nie (vs23) sodat ons verbaas kan staan en kan weet dat julle gode is, sê die HERE.
Maar meteens daarop sê Hy: "Kyk, julle is niks, en julle werk is niks. "
En aan die einde van daardie perikoop weereens (vs 29): "Hulle is almal niks, hulle werke is niks, wind en nietigheid is daardie gegote beelde. "
Dis dié dat daar deur digters en profete onder God se volk so dikwels die spot gedrywe is met die nikswerd afgode. Mense haal 'n boom uit die bos, bewerk hom met byl en beitel en van die spaanders wat daarby val, maak hulle 'n vuurtjie om daarop hul potjie te kook en om hulle daarby te verwarm. Maar van dit wat onder sy hande oorbly fabriseer hulle 'n god waarvoor hulle kniel en bid en offers bring.
Belaglik: die helfte van die boom het hulle in die vuur verbrand, voor die ander helfte buig hulle in aanbidding neer!
Voor 'n dooie beeld, 'n lewelose stuk hout:
Ore het hy, maar dié 's doof
vir die klank van stem of taal;
en die neus van afgodshoof
kan nie ruik of asemhaal.
Hande het hy -alkant vas-
vingers wat nie voel of tas.
Nou ja, hoekom is die HERE dan so bekommerd dat ons afgode sou gaan dien? Van derglike dooie dinge hoef Hy mos geen konkurrensie te vrees nie?
As u so sou dink, ken u nie uself nie, broeders en susters; en dan ken u ook nie die wêreld waarin u leef nie.
Dieselfde profete wat so smalend die spot gedryf het met die dooie afgode, moes terselfdertyd 'n sware stryd teen daardie afgode stry.
Dieselfde Paulus wat in sy brief aan die Korinthiërs geskrywe het dat afgode niks is nie, skryf 'n paar bladsy later in daardie einste brief die dringende oproep om te "vlug vir die afgodediens". En ook die apostel Johannes het sy brief afgesluit met die alarmerende waarskuwing: "My kinders, bewaar julleself van die afgode!"
Ons moet die afgode nou ook weer nie onderskat nie.
Wanneer Johannes daardie woorde neerskryf, het hy vlak daarvoor geskryf: "Ons weet dat ons uit God gebore is, maar dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê. "
Ja, ons weet dit. Maar staan u nog daar by stil, broeders en susters?
Daar mag dan miskien nie afgode bestaan nie - die Bose bestaan wel! En sy mag hier op aarde is groter as wat ons meestal besef. Hy is nog steeds op 'n manier "die owerste van hierdie wêreld" soos ons Here Jesus Christus Self hom 'n keer genoem het. Hy voer hier 'n skrikbewind met sy leër van ontelbare onsigbare duiwelse geeste. Orals hier op aarde, ook in u en my lewe, is daar onsigbare magte besig wat probeer om ons aandag so in beslag te neem dat daar vir die HERE g'n plek oorbly nie. Hulle probeer ons beset, sodat ons besete van iets raak en van die HERE vergeet.
En daarvoor gebruik hulle afgode. Afgode is die infiltrante waarmee die Bose in 'n mens se lewe binnedring en dit in sy greep probeer kry.
Daardie afgode is meestal maar heel gewone sígbare dinge van hierdie wêreld; dinge wat as sulks nie verkeerd is nie; dinge wat die HERE Self geskep het; dinge wat die mens in God se skepping mog ontdek en ontwikkel. Maar die bose geeste, die trawante van die duiwel, laat dit so 'n plek in ons lewe kry, dat dit God se plek inneem. Ja, dat dít 'n god vir ons word.
Die Korinthiërs aan wie Paulus sy brief geskrywe het byvoorbeeld, het gewonder of 'n mens mag deelneem aan partytjies wat in 'n saal by 'n afgodstempel gehou is. En of dit verkeerd was om dan vleis te eet wat eers op die altaar van die afgod gewy was.
Daar bestaan mos nie afgode nie? Ons glo mos dat die HERE die Enigste God is en sy Seun Jesus Christus?
Nou ja, dan is vir 'n Christen so 'n feessaal mos 'n gewone ruimte wat God die HERE geskep het om in te kan verkeer; en die stukkie vleis maar net gewone vleis wat God aan die mens gee om dankbaar te geniet.
Paulus stem saam dat die sogenaamde gode van die heidene in der waarheid niks is nie. Maar hy stem nie saam dat dus ook 'n afgodstempel vir 'n kind van God 'n onskuldige plek en die afgodsvleis onskuldige voedsel is nie.
Want wie so meen, vergeet dat daar wél duiwels bestaan! Dié vergeet dat die duiwelse geeste ook gewone vleis en 'n vierkante ruimte van bakstene kan inskakel om kinders van die HERE in sy ban te kry en tot afgodery te verlei.
Die Bose met sy duiwels het dit na die sondeval reggekry dat die mens 'n magdom van sulke afgode in sy lewe 'n belangrike plek gegee het. Dat hulle na verloop van tyd selfs name daaraan begin gee het. En daardie afgode begin aanbid het asof dit regtig 'n bestaande persoon met bomenslike mag was.
U ken uit die Bybel natuurlik wel name van afgode soos Baäl en Astarte.
Eintlik het die heidense Kaäniete oorspronklik maar net geworstel met die gawe van die vrugbaarheid: hoe kry ons die beste oeste? Hoe brei ons vee so sterk moontlik uit? Hoe kry ons genoeg en gesonde kinders? Omdat hulle die HERE uit hul lewe uitgeban het, het die vrugbaarheid vir hulle 'n geheimsinnige mag geword waarvan hulle in baie opsigte afhanklik was. En so het daardie gheimsinnige mag algaande 'n god vir hulle geword en het hulle daaraan selfs 'n naam gegee.
Ander volke het die son as 'n god aanbid omdat daardie wonderlike bron van lig en warmte aan die hemel so 'n oorheersende rol in die menselewe inneem.
Die Grieke en Romeine later het vir allerhande onderdele van die lewe 'n afsonderlike afgod in die lewe geroep: 'n god van die hemel en 'n god van die see, 'n god vir die oorlog en 'n godin vir die liefde, 'n godin van die landbou en 'n godin vir die musiek, 'n god van wet en orde en 'n god van handel en verkeer......
En u hoor: dis alles dinge wat ons hemelse God en Vader geskep het en wat as sulks nie sleg is nie. Dinge wat ons dankbaar uit sy hand mag ontvang en tot sy eer gebruik.
Maar as die duiwel dit regkry om dit op so 'n wyse tussen God en ons in te skuif dat ons nog maar net daardie dinge sien, maar nie meer die Skepper daarvan nie, word dit sommer 'n afgod vir ons: 'n middel waardeur die duiwel ons by God wegtrek.
U dink ons sal as moderne mense nie gou meer soos daardie primitiewe heidene, tot so 'n afgodery verval nie? Maar moenie 'n fout maak nie. Paulus en Johannes se waarskuwing: "ontvlug die afgode!" het vir ons nie nog steeds ewe noodsaaklik gebly.
Die Here Jesus het byv. gewaarsku dat die geld wat daagliks deur ons vingers gaan, so 'n afgod vir ons kan word. Hy het hierdie afgod selfs 'n naam gegee: "Mammon", wat soiets soos "Sekerheid, vastigheid" beteken.
As sulks is geld maar net 'n ruilmiddel. En die sekerheid en vastigheid wat dit bied, is maar baie betreklik. Diefstal, inflasie, 'n nuwe Kommunistiese regering wat beslag lê op al jou sorgvuldig bymekaargemaakte geld...... dit waarvan jy gedink het jy kan daarop staatmaak, kan jou sommer in die steek laat.
Nogtans het geld vir miljoene mense 'n afgod geword waardeur hulle hul volledig laat beheers. Geldsug dryf mense na dobbelmasjiene, laat hulle Inthubakaarte koop by die poskantoor. Geldsug bring mense tot korrupsie en diefstal. Geldsug veroorsaak afguns, haat en nyd in gesinne en families.
En dit gebeur regtig waar nie net in die wêreld nie, broeders en susters. Dit gebeur in die kerk. Afgod Mammon verstik ook die goeie saad van God se Woord en laat gedoopte verbondskinders afgly na die wêreld.
En die duiwel lag in sy vuis.
En wat van afgod Sport? Daar is niks verkeerd met die beoefening van 'n sport as sodanig nie. 'n Sportiewe wedstryd kan 'n ontspannende en verrykende ervaring wees.
Maar vir hoeveel mense het sport die een en die al geword? Sodat die krieketoorwinning van die Springbokke meer indruk maak as die verskriklike aardbewing in Los Angeles.
Sport het so 'n afgod geword dat sommige hoërskoolkinders vrystelling van belangrike leervakke kry as hulle uitstaande sportprestasies vir hul skool lewer.
Sportwedstrye het die heiliging van die Here se dag uitgehol en mense uit die kerk weggehou. Sport kan ook onder ons so 'n mag word dat kinders daarvoor wegbly van die Katkisasies en die Vereniging en op die Sondag nie van die televisie af kan wegbly nie.
Ek noem nog 'n voorbeeld: ook Studie kan sommer tot 'n afgod word. Die drang om hoë slaagsyfers en onderskeidings te haal, om eervolle vermeldings te kry, om te kan spog met grade en diploma's kan 'n obsessie in iemand se lewe word waardeur hy of sy al hoe meer in beslag geneem word.
En ook hierdie afgod gaan nie aan die kerk se deure verby nie. Hoe dikwels moes ek al meemaak dat katkisante in toets- of eksamenweke nie eers een uurtjie katkisasie kon bywoon nie. Want, o, die eksamen, die eksamen....
Maar ewegoed kan vakansie, ontspanning en stokperdjies afgodery vir ons word. As ons naamlik daaraan soveel tyd en soveel geld bestee, dat dit in geen verhouding meer staan tot tyd wat ons aan die ondersoek van God se Woord en die geld wat ons Sondags in die kollekte gee.
So kan onder die invloed van die duiwelse geeste enige ding wat ons in hierdie wêreld uit God se hand ontvang, 'n afgod word: jou verloofde, u huwelik, u kinders, u radio of televisie, drank of seks, 'n politieke leier, 'n mediese dokter. Enigiets.
Die Kategismus noem ook towery en waarseëry.
U weet natuurlik: dié sake was in Israel ten strengste verbied. God se volk moes daarvan heeltemal wegbly.
Want moenie dink dat daardie towery en waarseggery blote kaf, verneukery was nie. Soos dit vandag nog steeds nie maar net misleiding en truuks is nie. Of maar net verbeelding, suggestie.
Daar is mense wat meteen so reageer as hulle hoor van okkulte verskynsels, soos dat in 'n kamer 'n onsigbare hand met koppies begin gooi, of dat 'n glasie rondbeweeg op 'n papierbord waarop letters geskryf is en op so 'n wyse woorde spel.
God se Woord dwing ons egter om daarmee rekening te hou dat derglike dinge regtig kan gebeur, deur die werking van die duiwel se bose geeste.
Dis dié dat die HERE dit so streng verbied het onder sy volk.
Ons lees byv in Deut 13 -miskien moet u gou met my saamkyk- dat dit kan gebeur dat iemand wat homself as 'n profeet of 'n visionêr voordoen, maar jou van die HERE afvallig wil maak, jou probeer beïndruk deur 'n opvallende teken of wonder aan te kondig. Jy moet dan nie verbaas wees as daardie teken ook uitkom nie.
Trouens, die Israeliete het in Egipte al meegemaak dat die Egiptiese towenaars 'n hele ruk in staat was om dieselfde indrukwekkende tekens as Moses en Aäron te verrig: ook hulle kon 'n kierie in 'n slang verander, en water in bloed...
Ook in die NT lees ons nog van derglike paranormale verskynsels waartoe sommige mense in staat was. Filippus loop in Samaria 'n heidense magiër Simon raak, wat in staat was om opsienbarende toorkunste te verrig waarmee hy die mense verbyster het. Paulus word op die eiland Ciprus teëgewerk deur die towenaar Elimas.
Ja, die Bybel berei ons daarop voor dat ons totaan Christus se wederkoms met sulke indrukwekkende verskynsels te make sal kry waarmee die duiwel ons aandag van God wil aftrek.
Ons moet natuurlik wel onderskei.
Nie alles wat uitsonderlik en buitengewoon is, is duiwels nie. Ons kan nioe sommer ook 'n magnetiseur, of 'n homeopaat, of iemand wat 'n heldersiende is, direk tot 'n instrument van die Bose verklaar nie.
Daardie gawes mag ons beskou as moontlikhede wat die HERE ook in sy skepping gelê het en wat Hy slegs by uitsondering aan mense gegee het.
By derglike mense hang alles daarvan af hoé hulle hul gawe gebruik: tot hul eie eer, of tot eer van hul God en Skepper en tot heil van hul naaste?
Hulle kan dit heeltemal verkeerd gebruik: om daarmee baie geld te verdien en om wêreld beroemd te word. Hulle kan dit ook beskeie gebruik slegs om ander mense se lyding te verlig of selfs weg te neem; of, in die geval van 'n heldersiende, om 'n moord te help oplos of 'n vermiste persoon te help vind.
En ook ons eie houding teenoor mense met derglike paranormale gawes is belangrik: beskou ons hulle slegs as middele in die hand van die HERE, of bewonder ons hulle met 'n afgodiese verering?
Juis by heldersiendes en sieners bestaan die gevaar dat ons ons in so 'n mate deur hul woorde onrustig laat maak, dat ons die rus wat die HERE vir ons in sy Woord bied, verloor. Dis hoekom die HERE alle vorme van toekomsvoorspelling vir sy kinders taboe verklaar het.
Nie omdat 'n siener maar net fantaseer en onsin praat nie. In sommige gevalle kom hul voorspelling ook uit. Mense vandag wys mos aan dat allerhande voorspellings van 'n man van al 'n paar eeue terug, Nostrodamus, nog steeds besig is om uit te kom. Ek durf nie te sê dat dit alles maar net twak is nie.
Maar ek moet wel vir u sê, gemeente: as ons aan derglike toekomsvoorspellers gehoor gee, word ons algaande doof vir dit wat ons hemelse Vader oor ons toekoms voorsê het. Ons ruil al hoe meer die sekerheid en veiligheid wat daar by die HERE se beloftes is, in en gaan nuwe sekerhede soek by die sieners.
Ons lê ons lewe nie langer gelowig en vol vertroue in God se hande nie, maar probeer om dit self so goed en so kwaad as dit moontlik is in te rig volgens die voorspellings wat ons voorgehou is.
En u sal verstaan: oor dieselfde rede moet ons wegbly van mense wat ons toekoms wil voorspel uit die lyne in ons hand of die maandelikse sterrestand.
Dit is afgodery waarmee die duiwel ons vertroue van die God aftrek en ons sodoende van Homself probeer lostrek.
Die afgode sit orals, gemeente. En ons behoort dit te wéét. Soos die apostel Johannes gesê het: "Ons weet dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê. "
Ons moet nooit hulle bestaan probeer ontken en hulle gevaar onderskat nie. Orals dring die afgode op en as ons nie pasop nie, dring hulle ook in- in ons huise en ons gesinne en in ons lewens.
Hulle lyk baie onskuldig. Dikwels ook baie aantreklik. Dit maak hulle juis so gevaarlik. Afgode is in eerste instansie nie lastig, nie veeleisend nie. Hulle bevredig ons natuurlike begeertes. Afgode ken geen gebooie nie, God wel.
Maar as hulle ons eenkeer in beslag geneem het, tiranniseer hulle ons lewe; ons raak aan hulle verslaaf en sodoende sleep hulle ons saam na die verderf.
"Kinders, pas tog op", waarsku daarom die apostel Johannes- en u hoor die kommer en die bewoënheid in daardie woorde: "Kindertjies" staan daar eintlik. Dis die taal van iemand wat weet hoe swak en weerloos God se kinders is. Kinders, moenie argeloos of onnosel wees nie. As julle die afgode in jul lewe toelaat, sal die egte God daaruit verdwyn.
Maar hoe kan ons ons teen die afgodediens bewapen, broeders en susters? Hoe kan ons aan die mag van die Bose ontkom en God die een en die al in ons lewe laat bly?
Wel, slegs as ons vashou aan dit wat ons weet!
Daarom skryf Johannes aan die einde van sy brief: "Ons weet dat óns uit God is en die hele wêreld in die Bose lê. " Ons ken tog 'n beter wêreld as die bedrieglike wêreld waarmee die Bose ons probeer mislei?
"Ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand, insig, gegee het om die Waaragtige te ken".
Ons ken vir Jesus Christus wat gekom het om ons uit die greep van die duiwel en die afgode te verlos. Ons ken die Seun van God wat ons oë en ons hart kom oopmaak het vir die "Waaragtige": sy hemelse vader wat ook ons hemelse Vader wil wees.
Ons het deur Jesus Christus die Vader weer leer ken as die Waaragtige, die enigste egte, betroubare God by wie 'n mens vir ewig veilig kan voel. Hy bedrieg nie, Hy stel nooit teleur nie, Hy is die enigste Wese in hemel en op aarde op Wie ons volkome kan staatmaak.
Ons het Hom tog leer ken, broeders en susters?
Ja, meer nog, skryf Johannes: "ons is ín die Waaragtige"! Hierdie ewig betroubare God en ons, nietige en ontroue mensies, ons behoort bymekaar. Hy in ons en ons in Hom. Ons kan nie meer sonder Hom lewe nie, ons hoéf ook nie meer sonder Hom te lewe nie. In Jesus Christus, ons Middelaar, mag ons daagliks lewe in die direkte gemeenskap met die ewige God.
Die Bose neem sy mense saam na die dood.
Maar ons kry van die waaragtige God die ewige lewe.
Ook in moeilike dae vol onsekerheid en stryd, ook in lyding en pyn, is Hy by ons met sy betroubare beloftes dat Hy ons sal deurhelp. Selfs as die dood kom, sal Hy ons in die lewe bewaar, ja, in die ewige lewe indra.
Dit wéét ons tog? , sê Johannes.
Nou ja, as u dit nie vergeet nie, as u, soos die Kategismus hier sê, daarmee besig bly dat u "die enige ware God reg leer ken", dan kan daar mos in u lewe nie meer plek vir afgode wees nie?
Wie God se oneindige grootheid gesien het, laat hom mos nie meer deur 'n afgod beïndruk nie? !
Wie die HERE as die Waaragtige, die volkome betroubare God, leer ken het, laat homself tog nie meer bedrieg deur die afgode nie?
Wie die egte goud van God se goedheid gesien het, vir dié het die klatergoud van die afgode tog geen aantrekkingskrag meer nie? !
Wie, om dit met daardie ander apostel, Paulus, te sê, aan die tafel van Christus mog sit en daar die gemeenskap met God mog ervaar, wil tog niks meer met die afgode te make hê nie?
Wie daar die volheid van God se liefde in Jesus Christus gevoel het, weet tog hoe leeg die lewe is wat 'n afgod bied?
As ons dus maar vervul is van die kennis van die Waaragtige God, hoef ons vir die afgode nie bang te wees nie.
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)