PREEK OOR SONDAG 41 HK
LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 128: 1, 2, 3, 4
Gebed
(L.) Hooglied l: 5-14 & 2: 15 & 6: 8-9 & 7: 1-13 & 8: 11, 12
Sondag 41 HK
Ps. 119: 60
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 92: 6, 7
Seën
Broeders en susters,
Ons moet dus vanaand weer fokus op die seksualiteit, op die feit dat ons God ons as man of as vrou geskep het, as seun of as meisie, met die wonderlike, maar soms ook beangstigende verlangens wat dit meebring.
Ons moet fokus op God se bedoeling met die seksualiteit. En op die gevare wat daar sinds die sondeval aan verbonde is.
Die Skrif bied baie aanknopingspunte om oor die seksualiteit te praat.
Ek het vanaand die boek Hooglied met u oopgemaak.
In hierdie lied sing 'n seun en dogter wat besig is om man en vrou, getroude man en vrou te raak, die hoogste lied. 'n Liefdeslied. Hulle besing hul liefde vir mekaar, hul verlange na mekaar, ook hul liggaamlike aantrekkingskrag op mekaar.
Daar word in hierdie liefdeslied baie reguit oor die seksualiteit gepraat.
Op so'n wyse dat ons broeders en susters in vroeër dae skaars kon glo dat dit regtig oor die gewone liefdelewe tussen 'n man en 'n vrou gegaan het. Hulle het daarom hierdie boekie vergeestelik. Hulle het gesê: die man in Hooglied is nie sommer 'n willekeurige man nie; dis ons Here Jesus Christus, die Bruidegom van sy kerk. Die vrou of meisie in die Hooglied is dus ook nie sommer 'n willekeurige meisie nie, maar die Kerk, Christus se bruid. Hier sing Christus en sy kerk van húl liefde vir mekaar en húl verlange na mekaar. En dis dus glad nie 'n seksuele, liggaamlike verlange na mekaar nie, maar 'n hoëre, geestlike verlange.
'n Mens moet egter heelwat plooi in die Hooglied om al die uitdrukkings wat onmiskenbaar liggaamlike bedoel is, te vergeestelik. Gereformeerde eksegete van die laaste tyd aanvaar daarom nugter dat hier wel deeglik van die aantrekkingskrag en die liefdelewe tussen twee heel gewone mense gesing word.
En hoekom ook nie?
Die geheimsinnige en boeiende aantrekkingskrag tussen 'n man en 'n vrou is mos as sodanig nie sondig nie. Dit is 'n wonderlike geskenk van God wat Hy alreeds by die skepping van die mens in ons gelê het. Adam het daarvan al gesing toe hy van die HERE 'n vrou met wie hy een vlees mog wees, gekry het. 'n Seun en 'n dogter mag hulleself daardeur laat lei, daardeur vuur en vlam raak, en op die ou end die volle vreugde daarvan in die huwelik geniet.
As dit maar op die regte wyse gebruik word.
Want dit is natuurlik die ding: hoe word die seksualiteit, die aantrekkingskrag op mekaar gebruik? Die apostel Paulus het in sy eerste brief aan Timotheüs geskrywe dat alles wat deur God geskape is, ook die huwelik en die liefdelewe daarin, goed is, en dat niks daarvan verwerplik is nie- maar dan moet dit wel "geheilig word deur God se Woord en die gebed". As God se skeppingsgawes, ook die gawe van die seksualiteit, nie in die ontdekkende lig van God se Woord en onder aanhoudend gebed gebruik word nie, word die liefdevuur 'n gevaarlike brand met verwoestende gevolge.
Daarom is hierdie klein Bybelboekie, die Hooglied, in die Bybel opgeneem. Dit wil ons help om op die regte wyse, in geloof, as kinders van die HERE met die geskenk van ons man-wees en vrou-wees om te gaan.
En daarom neem ons vanaand hierdie boekie as uitgangpunt om saam die betekenis van die Sewende gebod te verstaan.
Kom ek vat my boodskap so saam:
DIE LIEFDELEWE MAG BY ONS 'N LIED LOSMAAK
- VIR GOD
- TEENOOR DIE WÊRELD
- DEUR CHRISTUS
1. In ons wêreld word daar meestal net skelm oor die aantrekkingskrag tussen 'n man en 'n vrou gepraat. Of in die vorm van dubbelsinnige grappies.
Asof die seksualiteit eintlik 'n snaakse en onfatsoenlike ding is.
Hoe bevrydend en verfrissend is dit dan om twee jongmense in die Hooglied oor hul liefdeslewe te hoor sing!
Hulle is glad nie skelm of skaam nie. Hulle spot ook nie met die verlange na mekaar, ook na mekaar se liggaamlike aanraking nie.
Vrymoedig besing die man die sierlike gestalte van sy geliefde: haar gesig, haar hare, haar blinkwit tande, haar hals, haar borste, haar heupe, ja alles. Maar hy raak nie een keer plat en grof in sy beskrywing nie, maar soek na die mooiste vergelykings om sy verrukking onder woorde te bring.
Haar verrukking oor sy liggaamsbou is nie minder nie. Ook sy beskryf openhartig en in beeldende bewoordings wat haar in sy gestalte aantrek en verteder.
Hulle twee besing vol verwondering dit wat God geskape het, ook die liggaamlike skoonheid wat God geskep het.
Omdat hulle van mekaar hou, van mekaar as mens, van mekaar se persoonlikheid, hou hulle ook van mekaar se liggame. Dit mag mos?
Hulle ken ook wel die gevare wat die seksualiteit vir sondige mense kan veroorsaak. Hulle weet dat die wonderlike aantrekkingskrag ook 'n gevaarlike vuur kan word en dat mense in die naam van die liefde baie stukkend kan maak.
Hoor maar hoedat die meisie die "dogters van Jerusalem " op wek om in die liefde en die liggaamlike verlange niks te forseer nie. Liefde vra geduld, liefde moet groei. Hooglied 2: 7: "Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke en by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie". Voordat die tyd daarvoor ryp is nie, vertaal die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
Hierdie waarskuwing klink nog 'n paar maal soos 'n refrein deur hierdie liefdeslied.
Die twee hoofrolspelers in die Hooglied eerbiedig ook die speelruimte wat die HERE vir die liefdespel van man en vrou gestel het. Ons liggaam is nie 'n gebruiksvoorwerp wat ons maar aan enigiemand beskikbaar kan stel nie. Die liefdespel behoort in die veilige omheining van 'n huwelik tuis. Daar waar man en vrou lewenslange trou aan mekaar beloof het.
Daarom het die meisie haarself mooi opgepas en vir die ware Jakob bewaar.
Kyk hoe beskryf sy dit in hoofstuk 8: 10. In vs. 8 en 9 vertel haar broers hoedat hulle bekommerd was oor hul klein sussie. Hoe sal dit gaan as sy, ook liggaamlik, volwasse word? Sal sy enigiemand sommer in haar lewe binnelaat? Sal sy enige man sommer toelaat om tot die diepste geheime van haar lewe deur te dring. As dit so is sal hulle hul maatreëls tref!
Maar sulke maatreëls blyk nie nodig te wees nie. Die meisie maak van haar liggaam regtig nie 'n hotel nie. Inteendeel, sy het haarself tot 'n ondeurdringbare vesting gemaak. Haar borste was soos torings. Ja, dit trek die vyand wel onweerstaanbaar aan. Maar hy kry dit nie reg om tot daar deur te dring nie. Hierdie meisie is letterlik en figuurlik te hoog vir hom.
Eers toe hy gekom het aan wie sy haar hart verloor het, het sy haarself algaande oorgegee. In volle vrede.
So praat en sing hier twee jongmense oor hul liefdelewe. Suiwer. Volgens God se goeie norme.
Want hulle weet dat die seksuele aantrekkingskrag nie 'n plesierverskaffer is waarmee twee mense net hullesélf of mekáár mag bevredig nie. Hulle weet, deur God se Gees geleer, dat hulle die liefdespel slegs veilig kan speel as hulle bereid is om saam in hul huwelik in alles hulle God en Skepper te bevredig.
Dit word baie mooi duidelik in 'n bepaalde beeldspraak wat in hierdie lied gebruik word. Die sangers werk met allerlei metafore. Maar dalk het u dit al agtergekom toe ons so pas 'n aantal gedeeltes uit die Hooglied gelees het: 'n paar keer word die vrou, die meisie met 'n wingerd vergelyk.
In 1: 6 vertel sy dat sy as boeredogter moes saamhelp op die plaas van haar pa. Sy moes die wingerde oppas. Maar, vertel sy, "my eie wingerd het ek nie opgepas nie". En sy bedoel natuurlik: vanweë die harde werk wat sy daagliks moes verrig, in die brandende son waardeur haar vel heeltemal bruinerig verbrand het, het sy min tyd gehad om haarself, haar meisiesliggaam te kultiveer nie. Daar was nie tyd om ure voor die spieël met haar hare, met grimering en so meer besig te wees nie.
Ons het ook hoofstuk 7 gelees. Daar vergelyk die seun sy verloofde met 'n wingerd. Haar aantreklike gestalte maak hom heeltemal liries. Haar borste lyk vir hom soos trosse van die wingerdstok en hy is lus om hulle te gaan pluk.
As gevolg van hierdie metafoor word in die Hooglied ook die húwelik waarin die vrou-wees ten volle beleef mag word, met 'n wingerd vergelyk. Ons het in 2: 15 die oproep gelees om "die jakkalse te vang, die klein jakkalse wat die wingerde verniel". En ons sal daarby moet dink aan allerhande onplesierige sake wat die vreugde van die huwelikslewe, die liefdeslewe kan bederf. Soos onderlinge rusies, gevaarlike inmenging van buitestaanders in 'n huwelik........ Vang daardie jakkalse, sodat die huwelik gaaf bly.
Ons kan 'n vrou, en ook die liefdelewe, dus met 'n wingerd vergelyk.
'n Vrou kan bloei en kostlike vrugte voortbring waarvan haar man mag geniet. En dan mag ons ook gerus aan haar liggaam dink. Sy kan in haar oorgawe aan hom hom met haar liggaam bedwelm, dronk maak. En sy mag die ekstase beleef van sy verrukking oor haar.
In die Woord van God gebruik die HERE self egter ook dikwels die beeld van 'n wingerd vir sy kinders. Hy soek die vrug uit ons lewe! Hy soek ons liefde. Hy wil Hom oor ons oorgawe aan Hom verheug.
'n Vrou moet dus nie net 'n wingerd vir haar mán wil wees nie, maar allereers 'n vrugbare wingerd vir haar Gód. Sy moet nie allereers man wil behaag nie, maar haar God. Sy moet heel haar vroulikheid in diens wil stel van haar God, om vir Hom vrugbaar te wees, te groei en te bloei.
En 'n man moet in sy vrou nie net die vrugte en die vreugde vir homself soek nie, maar begeer om in die huwelik saam met haar vrugbaar vir die HERE te wees en vir Hom vreugde te verskaf.
Juis deur die liefde en sorg, deur die toewyding en leiding van haar man kan 'n vrou tot al hoe groter bloei kom. En andersom kan 'n vrou wat blom haar man baie vrugbaar en produktief in die HERE se diens maak.
Saam kan hulle die wonderlike vrugte voort te bring waarvoor juis die seksualiteit geskep is: kinders wat tot nuwe wingerde vir die HERE grootgemaak kan word. Daardie kinders mag nie soos wilde lote ontstaan en opgroei as gevolg van 'n toevallige bevrugting nie. Maar kinders moet as kosbare vrugte vir die HERE gekweek en liefdevol versorg word in die veilige klimaat van 'n trouverbond tussen man en vrou.
Dít is God se bedoeling met die seksualiteit.
Dit is die eerste ding wat die Heilige Gees ons deur middel van die Hooglied wil leer vanaand.
Besef u dit nog, gemeente? Julle, seuns en dogters?
Selfsugtige misbruik van die seksualiteit veroorsaak die ene verdriet. Al is daar ook kortstondige gevoelens van genot. Ons sien dit mos orals in die wêreld rondom ons?
Slegs as u ook met u liggaam vrugbaar wil wees vir ons God, is daar rede vir 'n lied. Dan mag u vrymoedig die hoogste lied op die liefde sing.
'n Lied wat God ook geniet!
2. Daardie lied vir God sal dan tegelyk 'n lied teenoor die wêreld wees. 'n proteslied teen die wyse waarop in die wêreld die seksualiteit misbruik word.
Het u geweet dat ook die Hooglied in die Bybel so'n proteslied is?
In ons Bybelvertaling word hierdie liefdeslied "Die Hooglied van Salomo" genoem. Maar die verklaarders het al hoe meer daarvan oortuig geraak dat Salomo nie self die skrywer van hierdie lied is nie. Inteendeel, hy word wel 'n aantal kere in die lied genoem, maar dan vervul hy nie so'n mooie rol nie. Die seun in ierdie liefdeslied vergelyk juis homself met koning Salomo en kom tot die gevolgtrekking dat hy, ten spyte van al Salomo se heerlikheid, baie beslis nie met hom wil ruil nie.
Dit is dan ook beter om die opskrif bo hierdie Bybelboek so te vertaal: "Die hooglied; oor Salomo".
Hierdie liefdeslied is naamlik tegelyk 'n proteslied oor dit wat koning Salomo, wat as ampsdraer die voorbeeld vir God se volk moes wees, met die huwelik en die seksualiteit gemaak het.
In die Hooglied spog 'n onbekende man met sy wingerd. Kyk maar hoofstuk 8: 11 en 12. Hy vergelyk homself met koning Salomo, die rykste koning wat ons uit die Bybel ken. Salomo het ook 'n wingerd, 'n groot enetjie wat hom baie geld oplewer. Maar hierdie man wil darem nie ruil nie. Salomo kan sy wingerd maar hou.
Dalk het Salomo regtig daardie wingerd gehad. Kroongrond. Baie geld werd. Met oppassers wat derduisende sikkels silwer vir die vrugte moes inbring. Self mog hulle 20% daarvan hou, 200 sikkels vir elke oppasser.
En dan sê die verliefde man in ons Hooglied dus: maar ek is darem ryker met my een vrou! Ek wil vir g'n geld van die wêreld met koning Salomo ruil nie. Ek voel my met my eie vrou beslis nie armer as die koning nie.
Maar ons kry die indruk dat die man wat hier so ryk met sy eie vrou is, nie net aan die koning se wingerd gedink het nie, maar eintlik aan sy harem. Salomo het mos baie vrouens gehad. Op die ou end meer as duisend. Pragtige vrouens, duur vrouens waarvoor 'n hoë bruidskat betaal moes word. Soveel, dat hy harem- oppassers nodig gehad het om al daardie dametjies te versorg.
Die plek wat in Hooglied 8: 11 genoem word, waar Salomo se wingerd sou gestaan het: "Baäl-Hamon", het tot nou toe in Palestina onvindbaar gebly. Dalk is dit in hierdie lied ook maar net 'n simboliese naam wat dui op al die vrouens wat Salomo gehad het. Baäl-Hamon beteken naamlik: "Heer oor 'n hele menigte".
En dan verstaan ons die verliefde man in die Hooglied nog beter: die koning het baie meer vrouens as wat hy self het, mooier vrouens dalk ook, met 'n deftige afkoms ens. Maar ons seun is glad nie afgunstig nie. Hy is met sy eie meisie die koning te ryk.
Salomo kan sy indrukwekkende en kosbare harem maar hou. En die harempersoneel mag daardie mooi vrouens gerus bly oppas. Hy het geen behoefte om te ruil nie.
Want die bruidegom in die Hooglied het die armoede van so'n harem leer raaksien. Hoe sou 'n mens met so'n harem regtig ryk kán wees? ! In die eerste plek bly daar mos altyd 'n groot afstand tussen jou en jou vrouens. Jy sien elkeen van hulle miskien nie eens een keer in 'n jaar nie! En ander mans moet jou vrouens oppas.
Maar boonop: water vrugte lewer so'n liefdeslewe op? !
Hoe kan 'n vrou op hierdie wyse nog 'n vrugbare wingerd vir haar God wees? En hoe kan jy as man aan 'n groter bloei van jou vrouens bydra?
So'n indrukwekkende versameling vrouens mag vir die ménse dalk 'n bewys van jou rykdom wees, maar teenoor die HERE staan jy met leë hande! Die enigste vrug wat soiets kan oplewer, is sonde. Vrugte vir die duiwel.
Soos ons inmiddels ook in Salomo se lewe gesien het: sy vrouens en sy wêreldse houding t. o. v. die seksualiteit het mos sy ondergang geword.
Dit is dus die tweede les wat ons uit hierdie klein maar fyn boekie in God se Woord moet leer, broeders en susters.
In ons beskaafde Westerse samelewing ken ons nie harems meer nie, en poligamie is by die wet verbied. Maar daar is nog altyd mans wat die een na die ander pragtige meisie in hul huis en in hul bed haal, en daar is steeds meisies wat bereid is om met telkens ander mans saam te gaan.
Ons moet maar nie verkyk aan daardie verleidelike wêreld rondom ons met uitdagende prikkelpoppies en verblindende mans nie.
Daardie wêreld het sy gevaarlike aantrekkingskrag, soos Salomo se harem ongetwyfeld tot die verbeelding van baie mans in daardie dae gespreek het.
Ons kan diep in ons hart partymaal afgunstig raak op sulke mense.
Dit lyk asof hulle darem die volle vrug van die seksualiteit geniet!
Maar dan wil God se Woord in die Hooglied ons help om nie kortsigtig te wees nie. Want hoe arm is so'n liefdeslewe! Dit is nie eens liefde nie: dit is net selfgesentreerde bevrediging van jou hartstogte. Die ander is maar net 'n gebruiksvoorwerp wat jy eenkant gooi as jy 'n beter een kan kry.
Dit maak die lewe onvrugbaar. Dit bring net vrugte vir die dood voort. Die lofsang op die leidelewe verstom al gou.
Hoe ryk is dan die man met sy een vrou, die vrou van sy jeug aan wie hy lewenslange trou beloof het. Sy vrou wat dalk nie so pragtig lyk soos die dametjies in allerhande blaaie en op die t. v. nie; sy vrou aan wie jy kan sien dat sy al 'n aantal swangerskappe agter die rug het; sy vrou wat heel eenvoudig haar werk in die kombuis of agter die naaimasjien doen, wat by die huis is as die kinders uit die skool uit kom. Maar 'n vrou wat al hoe meer saam met hom, en ook alléén met hom, groei en bloei in 'n vrugbaar lewe vir die HERE.
En hoe ryk is die vrou wat 'n man van die HERE ontvang het wat haar nie net vanweë haar liggaamlike bates gekies het nie, maar wat haar gekies het omdat hy saam met haar sy lewe lank vir die HERE vrugte wil dra.
Ja, jy kan nog beter ongetroud bly en sonder enige seksuele ervaring, maar in 'n vrugbare lewe vir God, as om in telkens ander los verhoudings maar net vrugte vir die duiwel op te lewer.
3. En nou nog een ding: hoe kan 'n sondige mens, hoe kan twee sondige mense in hul huwelik vrugbaar wees vir God? Hoe kan ons die moeilike geskenk van die seksualiteit so leer gebruik en bly gebruik dat dit 'n suiwere lied by ons bly losmaak?
Ons lees in Johannes 15, waar die Here Jesus Christus ook ons lewe met lote in 'n wingerd vergelyk, dat Hy sê: "Sonder My kan julle niks doen nie!". Ons is van onsself dooie onvrugbare lote. Ons kan uit ons eie, ook met ons seksualiteit, maar net bitter vrugte, ja, die ene ellende veroorsaak.
Daar is net een manier om weer vrugbaar te kan word: Jesus sê: "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in Hom, hy dra veel vrug".
Eers as ons by die Seun van God ingelyf word deur in Hom te glo, kan ons lewe dus weer vrugbaar raak vir sy Vader.
Hy het ons met siel én liggaam vrygekoop uit die heerskappy van die duiwel om ons weer vrugbaar te maak vir sy Vader.
Daarom, broeders en susters, en ook julle seuns en dogters, soek die bevrediging van al u verlangens buite u self, in Jesus Christus. Laat sy Woord u lewe regeer. Laat sy Woord ook die belewing van u man-wees of vrou-wees regeer en suiwer hou. Laat sy Heilige Gees u lewe vrugbaar maak.
Dan is u, getroud of ongetroud, die koning te ryk. En dan sing ons saam die hoogste lied.
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)