Ps 42: 1, 2, 3
Ps 52: 1-4
Geloofsbel
Ps 35: 1, 4, 12
Lees: Psalm 52
Teks: Sondag 43
Brs en srs, sns en dgtrs!
Vanaand moet ons praat oor die 9e gebod. Oor leuen en waarheid. Op die eerste gesig lyk dit nogal duidelik waaroor dit gaan. Jy moet eerlik wees in die lewe. Jy mag vir mekaar nie lieg nie.
En wat is dan lieg?
Dit is om iets te sê wat nie in ooreenstemming met die feite is nie. As ek hier beweer, die son skyn buitekant maar as 'n mens dan self gaan kyk en hy ontdek dit reën, dan het ek 'n onwaarheid gespreek. En as ek dit opsetlik gedoen het om die ander te mislei dan is dit selfs 'n leuen.
Hierdie onderskeid lyk redelik eenvoudig.
Iets is waar of iets is nie waar nie.
As iets nie waar is nie, dan staan ons vinnig klaar met die oordeel: dus dit is 'n leuen. En jy mag nie lieg nie. Klaar.
Maar ongelukkig is dit nie altyd so eenvoudig nie.
Op hierdie gebied moet ons ons laat onderwys deur die Bybel.
As ons dit doen ontdek ons dat waarheid en leuen nie slegs bepaal word deur wel of nie in ooreenstemming met die feite nie, maar dat waarheid en leuen ook iets te doen het met die verhouding waarin jy tot jou naaste staan.
As daar 'n feit is wat as feit onontkenbaar is, maar wat by bekendmaking daarvan skade doen aan jou naaste, dan noem die bybel so'n feit 'n leuen.
Die omgekeerde is ook dinkbaar. In die Bybel kan 'n leuen wat jy gebruik tot behoud van jou naaste geprys word as 'n waarheid.
Dink 'n slag aan Ragab, die hoer uit Jerigo.
Met haar leuen oor die twee verspieders van Israel red sy hulle lewe.
Daarom is waarheid en leuen in die Bybel woorde wat hul betekenis ontleen aan die gevolge wat hulle teweegbring in die gemeenskap van mense.
Woorde wat die gemeenskap skade doen, word beskou as leuens.
Woorde wat die gemeenskap bou geld as waarheid.
Dit wil ons vanmiddag sien in die prediking van die woord van God onder die tema:
In die 9e gebod beskerm God die gemeenskap van die mense
- die leuen breek die gemeenskap af
- die waarheid bou die gemeenskap op.
Dit is 'n betekenisvolle ding dat die Here in sy reddingswerk nie sommer losse individue verlos nie, maar dat Hy vir Hom 'n volk verlos. Soos Hy in die N.T. vir Hom 'n gemeente vergader.
Daardie mense saam is deur die Here opgeneem in sy verbond.
En daarmee vorm hulle dus ook saam 'n gemeenskap.
Hulle behoort by mekaar. Hulle deel in dieselfde gawes van verlossing.
Maar hierdie gemeenskap is 'n gemeenskap van sondige mense. Daarom is die gemeenskap baie kwesbaar.
Binne die gemeensakp tree God dan ook op as wetgewer. Dink maar aan die tien Gebooie. Met name die gebooie wat iets sê oor die omgang met mekaar. Onderwerp jou aan gesag bo jou, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie.
Hiermee beveilig God dus die onderlinge samelewing.
Nadat God dit gedoen het kom daar nog iets ekstras by.
Hy beveilig die reg wat Hy afgekondig het.
Hy stel regters aan wat moet oordeel in allerhande probleme en meningsverskille tussen mense.
Daardie regters was in hul uitsprake vir 'n groot deel afhanklik van getuienisse wat deur ander mense gelewer is.
En daarom is die 9e gebod so'n vreeslik belangrike gebod.
Jy mag geen vals getuienis spreek nie.
Die reg was in Israel 'n heilige saak.
Elke woord wat jy voor die regbank spreek is beskou as 'n woord onder ede. 'n Woord gespreek reg voor die gehoor van God.
In tye van afval in Israel het God dikwels profete gestuur. Hul ernstigste klag was altyd dat die reg verbreek word. Daar is nie meer reg in Israel nie. Die reg van die arme, die wees en die weduwee word vertrap.
Die reg van die sterkste en die rykste het oorgeneem.
Waar dit die geval is in Israel word die Verbond van God verbreek.
Want die leuen ontbind die samelewing.
En dit is presies wat die teëstander van God, die Satan graag sien.
As God gemeenskap stig onder sy volk is Satan daar graag by om die werk te verbreek.
Hy wil niks liewer as die gemeenskap van mense stukkend breek. Veral die gemeenskap van die heiliges natuurlik.
Die kategismus noem dit die eie werk van die duiwel. Dit is nou kenmerkend duiwelswerk om deur die leuen die gemeenskap te ontbind.
Immers, hoe het die sonde in die wêreld gekom, gemeente?
Deur 'n slegte daad?
Was daar nie eers 'n leuenagtige woord nie?
Het God so en so gesê? Maar bedoel Hy nie iets anders nie?
Adam en Eva het toe die leuenwoord geglo. Die gevolge was rampsalig.
Hulle het saam 'n volmaakte gemeenskap gehad. Maar daarna? Hulle het mekaar nie meer verstaan nie.
En eerder was die gemeenskap met die Here al opgebreek deur hul geloof in die leuen.
Leuen en bedrog breek die samelewing af.
Dit is duidelik.
Maar 'n mens kan ook deur 'n korrekte feiteweergawe sy naaste skade toebring. En daarmee die duiwel in die kaart speel.
Daarvan het ons ook 'n hele paar voorbeelde in die Bybel.
Een daarvan in die psalm wat ons gelees het. Psalm 52.
Dit is 'n onderwysing van Dawid.
'n Leersame les na aanleiding van 'n sekere gebeurtenis.
Die opskrif vertel vir ons waaroor dit gaan.
Doëg die Edomiet het vir Saul vertel dat Dawid by Ahimeleg gekom het en dat Ahimeleg vir Dawid gehelp het.
Ongetwyfeld ken U hierdie geskiedenis. Na 'n laaste ontmoeting met sy vriend Jonatan is duidelik dat Dawid alleen nog maar kan vlug as hy sy lewe wil red. Op sy vlugpad kom hy in die dorpie Nob. Op die oomblik staan daar die ark van God en Ahimeleg doen daar diens as priester. Dawid vra dan van Ahimeleg om kos en ook om die swaard van Goliat wat daar bewaar word.
Maar Doëg die Edomiet het dit gesien. Hy sien 'n geleentheid om by Saul 'n goeie beurt te maak. Hy kies vir hom 'n geskikte tyd uit en gaan dan vir Saul begroet. Saul wat boos is oor die ontkoming van Dawid koel dan sy woede op Ahimeleg en sy familie. Hy dood van hulle 85 mense. Mans vroue en kinders.
'n Verskriklik en sinloos bloedbad.
As Dawid van die geskiedenis te hore kom deur Abjatar, die enigste van die priesterseuns wat ontkom het, is hy diep ontsteld en dig dan in sy verdriet en woede Psalm 52.
Wat beroem jy jou in die kwaad o geweldige?
Watter dapper daad het jy daar verrig, Doëg!
85 onskuldige mense het jy vermoor!
Jou tong beraam onheil sooos 'n geslypte skeermes.
Nie sy swaard het die slagoffers gemaak nie, maar Doëgs tong!
Jy werker van bedrog! Jy hou meer van die leuen as om geregtigheid te spreek.
Gemeente, hier staan nou wat ek in die inleiding bedoel het.
Doëg se feiteweergawe was korrek.
Dawid was by Ahimeleg en is deur Ahimeleg voortgehelp.
Dit was feite!
Seker feite. En tog was dit bedrieglike taal.
Lees vers 6: Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong!
Doëg se woorde het vir Ahimeleg die lewe gekos.
En daarom was dit leuen. Gemeenskap opbrekende leuen.
In psalm 52: 5 stel Dawid die leuen teenoor geregtigheid spreek.
Geregtigheid is 'n begrip in 'n verhouding.
Dit bou die verhouding. Geregtigheid het alles te doen met trou teenoor jou naaste.
Het Dawid al die feite gegee toe hy by Ahimeleg kom?
Nee. Hy het gesê ek is op reis met 'n dringende opdrag van die koning. Daar was nie tyd om padkos saam te bring nie. Help my asseblief!
Was dit waar?
Na ons gevoel nie eintlik nie.
Dawid was nie op reis in opdrag van koning Saul nie. Hy was op die vlug vir koning Saul.
Hoekom het hy dit nie vir Ahimeleg gesê nie?
Ek dink Dawid wou vir Ahimeleg beskerm.
Sê nou hy het gesê: Saul wil my doodmaak, Ahimeleg. Ek vlug nou vir hom!
Dan sou Ahimeleg in 'n baie moeilike posisie wees.
Wat moes hy dan doen? Dan moes hy kies. Vir Dawid of vir Saul.
Hoe kon hy dit in so'n oomblik van haas hanteer?
Daarom het Dawid vir hom nie die feite vertel nie.
Ter beskerming van Ahimeleg. So het Dawid die geregtigheid gedien.
Maar Doëg het gepraat waar hy moes geswyg het.
Daarom is hy na bybelse maatstaf 'n leuenaar.
Hy het met 'n bedrieglike tong gespreek. Hy het self voordeel gesoek in die ondergang van 'n ander.
Kom ons leer iets van hierdie onderwysing van Dawid, gemeente.
En wel dit: die 9e gebod mag jy nooit losmaak van die liefde tot God en die naaste nie.
Jy kry van die mense wat meen dat hulle maar alles moet sê wat hulle in gedagte kom. Die waarheid kan maar gesê word.
Nou verstaan ons wat daarmee verkeerd is.
Dit is nie 'n spreke uit liefde nie.
Dit bou nie die gemeenskap nie, maar dit breek die gemeenskap eerder af.
Die Bybel ons 'n heel ander pad die pad van die liefde.
Die liefde bedek tal van dinge.
Die liefde weet wanneer om te swyg en wanneer om te praat.
Om oor mekaar slegte dinge te vertel is 'n stokperdjie wat blykbaar in ons almal sit. Almal weet, dit is verkeerd, maar voor jy weet is jy weer volop besig om te skinder oor mekaar.
Dit lyk wel 'n onuitroeibare kwaad.
Ons moet ook nie dink dat ons dit by onsself wel kan oorwin nie. Die tong is 'n onberekenbare kwaad vol dodelike gif.
Laat ons onself dit maar voortdurend bewus wees.
As ons skinder is ons besig om die gemeenskap met die ander op te breek. Jy saai 'n saad van wantroue teen ander mense.
Die skade wat jy daarmee aanrig is altyd baie groter as wat jy self dink. 'n Bose tong is die grootste bederwer van blydskap in die kerk.
Laat ons onsself daarin maar oefen om altyd positief te praat. Oor almal met wie ons in een gemeenskap saamlewe.
Of dit nou in die kerk is of in die gesin of op die skool of by die werk. Om negatief te praat oor mense en dinge het altyd 'n negatief effek. Ook al dink jy dat dit vir jou self voordeel oplewer.
Dawid het die vloek van God oor Doëg se kwaadsprekery ingeroep. God sal jou vir ewig verwerp! Bedrieër!
Daar sien jy die uiterste konsekwensie van die leuen. As jy ruimte aan hom gee in jou lewe, sal jy tenslotte deur God self uit sy gemeenskap verwyder word.
Laat ons daarvoor waak en teen onsself stry om nie die gemeenskap waarvoor Jesus Christus sy kosbare bloed gestort het op te mors nie.
2. Die gemeenskap word deur die waarheid opgebou
God word aan sy woord nooit ontrou nie. So sing ons in een van die Psalms. Op Hom kan jy altyd aan.
Gemeente aan hierdie trou en betroubaarheid van God dank ons ons lewe.
God se waarheid is die lewe.
In God se staan vir die waarheid skenk Hy vir ons die lewe.
Hy maak ons lewe moontlik. Ook die lewe met mekaar.
Ons het al gesien dat 'n mens deur sy woorde die gemeenskap waarin God ons gestel het stukkend kan maak.
Maar die omgekeerde is ook geldig. Deur waarheid en geregtigheid word die gemeenskap opgebou.
Waarheid is mos op soek na die behoud van die broeder.
Om mekaar in waarheid te behandel, is dat ons op die regte tyd die regte woord kan spreek.
Dit kan 'n waarskuwende woord wees.
As jy jou broeder liefhet, maar jy sien hy gee homself nou oor aan die kwaad, dan moet jy praat. As jy dan swyg is jy 'n leuenaar. Want jy het geweet hy doen verkeerd en jy het nie 'n woord tot sy behoud gespreek nie.
Waarheid kan ook 'n bemoedigende woord wees. Ook al is die feite nie aan jou kant nie, kan dit tog 'n woord van waarheid wees om 'n ander te vertroos.
Byvoorbeeld: iemand het 'n probleem. Hy worstel daarmee. Jy sê vir hom: Man, ek is seker daar gaan vir jou 'n oplossing kom. Maar op die oomblik self het jy ook geen enkele sekerheid waaraan jy die bemoedigende woord ontleen.
Lieg jy dan? Nee jy ondersteun jou broer. Dit is waarheid.
Stel iemand is besig om bankrot te gaan. Jy weet dit. Hy weet dit. Gaan dit help om te sê: Man ek is seker, daar gaan vandag of more een of ander ding gebeur wat jou sal red van die finansiele ondergang!?
Dan is dit 'n leuen. Daarmee help jy die persoon niks nie.
Of hy sal jou nie glo nie. Hy besef jy vertel onsin.
Of hy glo jou en raak vervolgens teleurgestel. Hy voel hom agteraf bedroë.
Die enigste waarheid wat jy hom in so'n situasie kan vertel en moet vertel is dat daar na sy eventuele bankrotskap nog 'n God is wat vir hom sorg en dat hy moet vertrou dat die Here weer nuwe moontlikhede sal gee. Dan het jy iemand inderwaarheid gehelp.
Wat van 'n christen gevra word is dat hy sal wandel in die waarheid. Dit het in die eerste plek met jou woorde te doen.
Maar daaraan onmiddellik verbonde jou dade.
Kyk, daar is baie mense wat van die woord van God en van die kerk niks wil weet nie. Hoekom nie?
Omdat hulle in die lewe van christene 'n klomp skynheiligheid raakgesien het.
Skynheiligheid. Daar het jy die woord. Skyn bedrieg.
Skyn is leuenagtig. Skynheiligheid is met die mond beweer dat jy deur Christus verlos is. Maar jou dade praat 'n ander taal. Jou dade bewys jou 'n mens wat uitsluitlik op sy eie belange let en daardie belange voorrang gee tot skade van die ander.
Wel, dan het jy 'n vals getuienis gegee teenoor jou naaste.
Die Naam van Jesus Christus het skade gely. Die duiwel kan tevrede wees.
Om te wandel in die waarheid is om met woord en daad die ander die waarheid voor te hou van die werk van Jesus Christus.
En ook om self voortdurend te leef uit die waarheid.
Dan moet jy 'n stryd voer om nee te se vir jou self.
'n Stryd om die leuenwerk van die duiwel te verbreek.
Daarvoor het 'n mens veel genade nodig.
En veel gebed om vervulling met die Heilige Gees.
Amen.
28 Junie 92
(kyk in preek)