PREEK OOR SONDAG 47 H K
LITURGIE:
Soggens:
Votum en seëngroet
Ps. 19: 1,2
Wet
Ps. 19:7
Doopsformulier
Ps. 115: 8,9
Gebed
Lees Psalm 19
Prediking
Ps. 74: 13, 16
Bevestiging ampsdraers
Ps. 86:6
Gebed
Kollekte
Ps. 145: 1,6,7,12
Seën
Saans:
Votum en seëngroet
Ps. 19:1,2
Gebed
Lees Psalm 19
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
óf: Ps. 74: 13,16 na die preek
Geloofsbelydenis
Ps. 115:9
Gebed
Kollekte
Ps. 145:1,6,7,12
Seën
Broeders en susters,
"Here, leer ons bid", het Christus se dissipels eendag vir Hom gevra.
Hulle het hul Here sélf hoor en sien bid en blykbaar het hulle hul eie gebed in vergelyking daarmee so armsalig gevind dat hulle om 'n kursus in bid gevra het.
Die Here Jesus het die vraag van sy dissipels ernstig opgeneem en inderdaad vir hulle 'n les in bid gegee. Hy het vir hulle 'n opsomming gegee van dit wat in 'n gebed van 'n kind van God 'n plek behoort te kry.
Hy het dit ook in die vórm van 'n gebed gegiet, sodat ons vandag nog dié kort en kragtige gebed nabid: die "Onse Vader".
Daardie ses bedes, met 'n lofprysing as afsluiting, is egter nie soseer as 'n formulier nie, as wel as 'n voorbeeld bedoel, broeders en susters. Dit gaan nie help om maar net die "Onse Vader" elke dag op te sê nie. Dan word ons gebed nog sommer 'n sleur sonder betekenis. Nee, dis beter om daardie kort ses bedes van die "Onse Vader" telkens weer te oorweeg en vervolgens in eie bewoordinge daardie elemente wat Christus vir ons geleer het, in ons gebed 'n plek te gee.
Daarby is die uitleg in ons Kategismus van die bedes van die "Onse Vader" 'n pragtige hulpmiddel.
Wanneer ons vanoggend fokus op dit wat Christus vooraan plaas in sy gebedsonderwys, blyk dit meteens dat dit glad nie oorbodig is om te léér bid nie.
Want dit wat in Christus se onderrig die eerste plek kry, daaraan gee ons selde die eerste plek. Ja, ons gee dit dikwels selfs glad nie 'n plek nie.
Selfs in ons gebede blyk dit nog hoe diep die sonde in ons lewe wortelgeskiet het. Selfs in ons gebede blyk dit hoe selfgesentreerd die mens van nature geword het.
Ons eie sake staan meestal maar sentraal. Ons bid om kos en klere, om gesondheid en 'n goeie vergadering, vir ons familie en vriende, om 'n geseënde kerkdiens en natuurlik ook om vergewinbg van ons sondes.
Maar hoe dikwels bid ons of die HERE die eer mag ontvang wat Hom toekom?
Daar word in ons land van tyd tot tyd spesiale bidstonde gehou om reën. Maar is daar al ooit 'n bidstond belê om die heiliging van God se groot Naam wat allerweë in hierdie land ontheilig word?
Kom ons vra vanoggend saam: "Here, leer ons bid", en ons luister na die onderwysing in God se Woord oor dit wat in ons gebed vooraan behoort te staan.
Ek kan dit so saamvat
DIE HEILIGING VAN GOD SE NAAM BEHOORT IN ONS GEBED VOORAAN TE STAAN.
Ek moet dan vir u aanwys dat ons met dié bede twee dinge vra.
Ons vra daarmee:
- VOEG DIE MENS WEER AS 'N LEESBARE LETTER IN U BOEK
- VERWYDER DIE WAT ONBRUIKBAAR BLY, MAAR UIT U BOEK
1. Ons bely in Art. 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat hierdie wêreld voor ons oë "soos 'n mooi boek is waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien. ".
Ons wonderlike planeet wat aarde heet, maar ook die wye heelal daaromheen met sy ontelbare sterre en planete, dit is alles saam een groot verhaal oor God die HERE, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, ons Vader.
Met dié bedoeling het die HERE die wye wêreld om ons heen tot lewe geroep.
God het sy Naam op alle wande van hierdie wêreld geskryf. Die son, die maan en die sterre, die fluitende voëls en die bulkende beeste, die berge en die bosveld, die see en die woestyne, dit alles spel vir ons die naam van die HERE.
Dit vertel vir ons hoe groot en goed Hy is, hoe almagtig en hoe wys.
Die ruime hemelrond vertel met bly mond
Gods heerlikheid en eer,
en, wonderbaar deurglans, vermeld die wye trans
die werke van die HEER.
Selfs die kleinste insekte skryf God se Naam.
Ken u die bekende gedig van die vlaamse digter Guido Gezelle, broeders en susters, oor die skrywertjie- daardie watertorretjie wat heen en weer skiet oor die water?
Die digter wat die gewerskaf van hierdie goggatjie 'n rukkie gadegeslaan het, vra in sy gedig aan so'n waterkewer: wat skryf jy daar eintlik?
En dan antwoord daardie skrywertjie: ons skryf die een les wat ons Meester vir ons geleer het; net daardie een ding. Kan jy dit nie lees nie? Is jy so bot?
Ons skryf, en herskryf, en skryf weer die heilige Naam van ons God!
Ook die waterkewertjie wat oor die water heen en weer skryf, maak mee die groot boek leesbaar wat ons vertel van die heilige Naam van ons God.
Maar die mooiste en duidelikste letter in hierdie boek oor God moes die mens wees, gemeente. Veral die mense moes in God se skepping sigbaar maak hoe groot God die HERE is. Dit was uit die staanspoor die doel en die sin van ons lewe: God se Naam mee grootmaak op aarde. Soos die waterkewertjie op die wateroppervlak so moes die mens op die hele oppervlakte van die aarde skryf, herskryf en nog weereens skryf die heilige Naam van sy God. In sy hele lewe wys hoe groot en goed die HERE is, sy Skepper en Vader. En saam met sy hemelse Vader die boek van sy skepping nog mooier maak.
Boonop was die mens meer as alle ander skepsele: die mens was nie net letter in God se boek nie, hy was terselfdertyd leser. Hy het 'n verstand ontvang om met ander oë in hierdie wêreld rond te kyk as die ander skepsele. Hy kon God se groot Naam herken in die natuur rondom hom en in sy eie lewe. En hy het 'n mond en 'n tong ontvang om te reageer op dit wat hy orals om hom heen raakgeloop het: "O HERE, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"
Maar toe het die dag gekom dat die mens geen letter meer wou wees in daardie pragtige boek oor God nie. Hy wou daardie boek nie eens meer lees nie. Hy het begin om 'n boek oor homself te skrywe, vol van die naam van die mens. Maar dit het 'n afstootlike boek geword vol swart bladsye.
Deur hierdie eiewyse aktiwiteite het die mens ook in die boek van God, waarin hy nog wel deeglik sy plek behou het, orals vuil kolle veroorsaak. Want die mens doen vanaf die dag van die sondeval verwoede pogings om die Naam van God orals uit te vee op aarde om pleks daarvan sy eie naam te skrywe.
God kon toe alle mense vir goed uit sy boek uitgewis het. Hy kon sy boek gesuiwer het deur alle mense uit sy skepping te verwyder.
Maar Hy het nie. Hy het sy Eniggebore Seun as 'n mens in sy wêreld gestuur. As 'n "letter" wat duideliker en indrukwekkender as enige mens voor Hom God se grootheid op aarde tot uitdrukking gebring het. Christus was Self 'n oop boek, op elke bladsy volgeskrywe met die heilige Naam van sy Vader. Hy het in lewe en in sterwe Hom daarvoor beywer dat ook ons weer leesbare letters in die boek van God se grootheid sou word. Hy het ons kom loskoop uit die mag van die duiwel, en so ook uit die mag van die eiewysheid en selfgesentreerdheid om ons met sy Heilige Gees te kan vervul. Hy wil ons weer invoeg op ons oorspronklike plek in God se skepping: ons moet weer mense wees wat leef om God te loof.
Dis dié dat Hy dít as die allereerste bede op ons lippe gelê het, toe sy dissipels vir Hom gevra het: "Here, leer ons bid": "Vader, laat u Naam geheilig word!". Met ander woorde:
U het, toe ons mense u mooi boek beklad het, dit nie teleurgesteld weggelooi nie. U het ons mense selfs nie sommer almal uit u boek verwyder nie. U het begin om alle gemors daaruit te veryder. En U sal nie rus nie voordat alle letters weer op hulle plek staan en u Naam mooier as tevore op alle bladsye vorentoe spring. Voeg ook ons dan weer op ons plek, Vader. Laat nie net die hoë hemelrond met blye mond God se eer en heerlikheid vertel nie, maar ook ons, ja, enige mens hier op aarde. Maak dat nie net die watertor 'n skrywertjie is wat wil skryf en herskryf en bly skryf die heilige Naam van sy God nie; maar dat ook alle mense weer u nooit volprese Naam wil spel.
As ons so weer bid, broeders en susters, vra ons volgens die Kategismus allereers dat ons God weer reg mag ken.
Voordat ons Hom sal kan prys, moet ons mos weet Wie die HERE is.
Die Kategismus formuleer nadruklik so: "Gee allereers dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke". Daar is talle mense wat nog wel wil erken dat daar seker maar 'n bo-menslike krag aan die oorsprong van hierdie wêreld gestaan het. Daar is eweneens talle mense wat aanvaar dat daar op 'n manier steeds goddelike kragte in die natuur werksaam is.
Maar die HERE wil hê ons moet nie net bepaalde krágte van Hom opmerk nie, maar ons moet Hom sélf weer ken. Ons moet Hom persoonlik ken as ons God en Vader met 'n indrukwekkende Naam, 'n reputasie soos geen ander nie.
Dus moet daardie ander boek oop: die Bybel, waarin die HERE Hom nog duideliker en meer volkome aan ons bekend maak, meer as genoeg om in hierdie lewe tot sy eer en tot ons eie saligheid te kan lewe.
Wie bid: "Vader, laat u Naam geheilig word", vra dus allereers: help my om u Woord reg te lees en te verstaan en U daaruit al hoe beter te leer ken. Gee my ouders wat my nie net 'n godsdiensteorie of 'n klomp kerklike reëls en gedragskodes bybring nie, maar wat my U leer ken uit u Woord as my almagtige, wyse, goeie, regverdige en barmhartige Vader.
Gee my ampsdraers wat my met behulp van u Woord telkens weer voor U plaas en met U konfronteer, sodat U al hoe meer 'n lewende werklikheid in my lewe word.
Eers as ons die HERE uit die boek van die Skriftuur leer ken het, sal ons Hom ook uit die boek van die natuur weer gaan ken. Dan verloor die natuur waarin ons daagliks mag verkeer, alle vanselfsprekendheid vir ons en kom die HERE self weer na ons toe in die werke van sy hande. Dan leer ons dit weer om te sê, soos die digter van Psalm 104: nie: die son gaan op nie, maar: God trek sy kleed weer aan om aan die werk te gaan; nie: wat is die hemel bo ons weer mooi blou nie, maar: God het die hemel weer soos 'n tentdoek uitgespan om daaronder by ons te woon, om hierdie wêreld tot sy tabernakel te maak.
Ons sê dan heel gewoon: God maak van die wolke sy wa, die winde is sy boodskappers. Ons sien dit netnou in Desember konkreet aan die kus: Gód het vir die waters 'n grens gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer bedek nie.
Ja, ons sien die HERE terug in die groen gras, die watervalle in die berge, die altyd boeiende dierewêreld en daar kom weer soos vanself 'n loflied op ons lippe: "HERE, my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed!"
Maar uit die Bybel leer ons die HERE vandag ook ken as die Herskepper van sy wêreld, as die Vader van ons Here Jesus Christus.
Hy is nie meer net die God wat met een Woord uit niks 'n paradys tevoorskyn geroep het nie; Hy het inmiddels ook Naam gemaak as die God wat deur sy Woord besig is om 'n nuwe paradys voor te berei. En as u mooi lees en luister sal u Hom so ook in hierdie wêreld, ja, in u eie lewe besig sien. God vergader deur sy Woord vandaag 'n kerk, 'n versameling eiewyse en goddelose sondaars, aan wie Hy vergewing van al hul sondes skenk en in wie Hy in nuwe lewe losmaak: 'n lewe waarin Hy weer alles in almal sal wees, 'n lewe waarin die liefde weer die harte regeer.
En veral as ons die HERE so al hoe beter leer ken, moét ons wel sy heilige Naam verwonderd prys: "Loof die HERE, o my siel, en al wat binne-in my is sy heilige Naam. Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie. Loof die God wat al jou ongeregtigheid vergeef..... "
Dan leer ons Hom selfs prys in al die ellende en beproewinge wat Hy oor die menselewe uitstort. Want ons weet nou maar alte goed dat ons nie beter verdien het nie. Maar ons weet ook dat ons hemelse Vader dit alles gebruik om ons nog meer in sy genade en regverdigheid te laat roem. Ons herken ons regverdige God in die rampe wat Hy oor die aarde laat losbreek, ons sien sy hand in die oorloë en staatsgrepe en opstande wat orals in die wêreld plaasvind. Ons weet dat ons dit nodig het om die diepte van ons sondeval te leer verstaan, om alle selfgesentreerdheid af te leer en met Job te kan sê: "Die HERE het gegee, die HERE het geneem- wie is ek om daaroor opstandig te kla? Die Naam van die HERE sy geloofd. ". Ons moet sover kom dat ons selfs op ons sterfbed dit die apostel Paulus na kan sê: "Want as ons lewe, leef ons tot eer van die HERE. En as ons sterwe, sterf ons tot eer van die HERE".
Maar dan kan ons dit ook nie meer aanvaar dat daar nog soveel ander mense in hierdie wêreld is, wat ons hemelse Vader in hierdie wêreld en in hul eie lewe glad nie raaksien nie en daarom sy Naam doodswyg of opsetlik belaster.
Ons gebed: "Vader, laat u Naam geheilig word", word dan ook 'n ywer in ons om ander mense na Vader terug te roep, om saam met Christus die Naam van Vader aan nog soveel ander mense in hierdie wêreld te openbaar. Die Evangelisasie- en Sendingwerk is vir ons dan nie meer die besigheid van 'n kommissie en 'n paar spesiale predikante nie, maar dit is vir ons 'n noodsaaklike werk waarby elke kind van Vader heeltemal betrokke is. Vader se Naam is daarmee gemoeid!
Ons kan dit ook nie meer aanhoor as daar sleggepraat word van ons Skepper en Vader nie. Dan word ons mond as 't ware oopgebreek en voel ons gedwing om Vader se heilige Naam te verdedig. As daar sleggepraat word van God se kerk, as God se Woord misbruik of vermink word- watter kind van God kan dan bly swyg?
Maar as ons so weer 'n oog gekry het vir die Naam van die HERE wat ons orals uit die boek van hierdie wêreld tegemoet kom; en as ons wil hê dat nog talle mense met ons daarvoor 'n oog moet gaan kry, moet ons ook self weer letters word wat God se grootheid leesbaar maak. Dan moet dit in ons lewe nie by woorde bly nie, maar moet die daad by die woord gevoeg word. Dan moet ook ons lewe, net soos Christus, al hoe meer 'n oop boek word, 'n leesbare aanbevelingsbrief van God se goeie Naam en faam. Dan word ons gebed "Laat u Naam geheilig word" soos vanself ook die bede: Vader, gee dat die mense dit ook uit my lewe kan agterkom dat U God is en hoedat U God is. Gee, HERE, dat ek my hele lewe, nie net my gedagtes en woorde nie, maar ook my dade daarop sal rig dat U Naam geëer en geprys word. Maak ook my, net soos daardie waterkewer, maar tot 'n skrywertjie wat maar net wil skryf en herskryf die heilige Naam van my God. Maar dan in 'n baie duideliker handskrif nog as daardie waterdiertjie, omdat U my vernuwe na die beeld van U groot Seun. Omdat ek baie ryker moontlikhede het om u grootheid tot uitdrukking te bring as daardie goggatjie.
Die wat so bid, word sorgvuldig in al sy doen en late. Die vra by alles: hoe kan ek hiermee die HERE die meeste eer: by die vriende en die lewensmaat wat hy kies, by die ywer waarmee hy sy eksamens voorberei, by die daaglikse werk agter die lessenaar of rekenaar, in die fabriek of in die kombuis, by die musiek wat hy luister en die lektuur wat hy lees, by die keuse van sy vakansieplek en die manier waarop hy sy ontspanning soek. Nie selfsugtige eiebelang gee meer die deurslag nie, maar God se eer. So duidelik dat dit vir ander mense opval en hulle daardeur aangetrek word.
Nee, niemand van ons is nog 'n volmaakte letter in die boek van God se grootheid nie, broeders en susters. Daar moet nog baie in ons lewe verander voordat dit so ver is. Maar die begeerte om so verander te word, is reeds daar! En juis daarom bid ons ook! Daarom het Christus ons geleer om dit die eerste plek te gee in ons gebede. Hierdie noodsaaklike verandering- dit moet vir ons die allerbelangrikste in ons lewe wees. Want dit is vir die HERE die allerbelangrikste. Hy is die heilige God, dit is: die God wat sélf aanhoudend ywer vir sy eer. Ons kan alleen sy kind wees as ons saam met Hom daarvoor weer wil ywer; as ons leesbare letters in die boek van sy grootheid wil wees.
2. Wie dit nie wil wees nie, wie homself nie deur sy Heilige Gees al hoe meer as leesbare letter weer in God se boek wil laat invoeg nie, sal deur die HERE eendag as onbruikbaar uit sy boek verwyder word. Dan sal die HERE op dié manier sy Naam heilig!
Daarvan wil ek tenslotte nog kortliks iets sê.
Die Kategismus noem dit nie afsonderlik in Sondag 47 nie, maar in die Bybel lees ons dit wel op verskeie plekke. Die HERE heilig sy Naam deur op ons gebed ons toenemend met sy Heilige Gees te vervul en ons so te verander dat Hy weer deur ons gedagtes, woorde en werke geprys word.
Maar die HERE heilig sy Naam óók op aarde deur mense wat Hom nie wíl prys nie, uit hierdie wêreld weg te slaan. Met ander woorde: as dit nie goedskiks gaan nie, gaan dit kwaadskiks!
'n Aangrypende voorbeeld daarvan is die skielike dood van die twee seuns van die hoëpriester Aaron: Nadab en Abihu. Hulle was geroepe om in Israel te ywer vir die eer van die HERE deur die volk te leer om God se erediens stiptelik te onderhou. Maar toe hulle sélf aan die HERE se voorskrifte ongehoorsaam was, is hulle deur die vuur van die HERE verteer. Die HERE het toe deur Moses laat weet: Ek het My nou as die Heilige laat ken, die God wat self sy eer hooghou, en voor die oë van die volk het Ek My nou verheerlik.
Later het Moses en Aaron self die slagoffer van God se heiligheid geword. Toe hulle nie die eer van die HERE hooggehou het voor die volk nie, en in drif oor die moeite wat die volk vir húlle telkens besorg het, op die rots geslaan het om daaruit water te laat vloei, moes ook hulle sterwe. Hulle mog die beloofde land nie ingaan nie.
'n Ander voorbeeld is die vernietiging deur die HERE self van die grootste deel van sy volk in die ballingskap in Babel.
As Israel sy heilige Naam nie wil hooghou onder die nasies, verdwyn Israel van die aardbodem. So sal God dan sélf sy Naam hooghou.
So moet ons die HERE vandag ook ken, broeders en susters. En ons moet besef dat ons ook in plaas van sy Heilige Gees sy heilige toorn kan oproep met ons gebed: Vader, laat u Naam geheilig word!.
Dit is vir die HERE onverdraaglik as sy Naam om ons ontwil nie geëer en geprys word nie, maar juis gelaster en beswadder.
Dit gebeur byvoorbeeld, so leer die apostel Paulus dit vir ons in Rom. 2, as ons as christene aan ander mense leer dat hulle nie mag steel en bedrieg nie, maar onedrwyl self wel steel en bedrieg. As ons vroom sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, maar onderwyl met mooi verskonings self wel egbreuk pleeg.
As ons so aanleiding gee om met God en sy kerk te spot, sal die HERE wel deur sy oordeel sy Naam heilig hou.
Die bede: Laat u Naam geheilig word is 'n noodsaaklike gebed in 'n sondige wêreld. Dis ook 'n gebed waarop wonderlike kragte van vernuwing in ons lewe tot ontplooiing kan kom.
Maar dis ook 'n gevaarlike gebed. Want met dieselfde gebed maak ons ook die oordele van God los oor alle onheiligheid wat daar nog in hierdie wêreld oorbly, ten spyte van die werk van die Heilige Gees.
Ons bid die oordele los oor hierdie wêreld vol goddeloosheid. Die boek Openbaring maak dit vir ons duidelik. God laat Homself deur ons gebede stimuleer om sy eer hoog te hou in hierdie wêreld en daarom alle teenstanders op die ou end van die aarde af weg te vee.
Maar ons kan ook oor ons eie lewe, ons kerklike lewe, ons huwelikslewe, ons gesinslewe God se oordeel losbid as ons wel getrou die "Onse Vader" bid met daarin ook die woorde: "Laat u naam geheilig word", maar terselfdertyd willens en wetens 'n onheilige lewe bly lei.
'n Gebed is meer as net 'n paar woorde. As u nie die daad by die woord voeg, sal God sélf dit doen.
Want God verdra dit nie as daar letters in die boek van sy grootheid bly staan wat die boodskap daarvan breek nie. Sulke letters word deur God tenslotte uit sy boek verwyder.
Moet dus weet wat u bid, broeders en susters!
"Here, leer ons bid!"- dit was 'n goéie vraag van Christus se dissipels eendag.
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)