Die gebed om die koms van die ryk van God

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 48 H. K.

Tweede bede: Laat U koninkryk kom, o Here!

Lees: Openbaring 19: 11 - 21
Teks: Sondag 48 H. K.
Sing: Ps. 89: 1 en 4
na wet Sb 49: 4
na belydenis Ps 35: 3
Ps 122: 1 en 2
Sb 28: 2
Ps 31: 1 en 3

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ons het net nou daardie magtige visioen uit Openbaring 19 saam gelees. Johannes sien 'n wit perd wat die wereld instuiwe. In Openbaring is wit die kleur van die oorwinning. Die Ruiter op die perd word die getroue en betroubare genoem, met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy voorkoms is majesteitlik. Sy oe het soos vuur gevlam, op sy kop was daar baie heerserskrone.

Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: Die Woord van God. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref. Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: Die Koning van die konings en die Here van die heersers.

Dis duidelik dat Johannes visioner, Christus in sy oorwinnings-gang deur die wereld geskiedenis, sien. Die Ruiter het groot spoed en alle teenstand word plat geloop. Wie sal Hom kan keer? Ons dink partymaal wat sal van die saak van Christus in hierdie wereld tereg kom? Ons lewe in 'n wereld waar die ongeloof steeds vinniger groei. Baie het op die geloof en die kerk hul rug gedraai. Tog, hierdie Ruiter wat tot oorwinning uitgery het, oorwin.

Dis dieselfde Ruiter wat Johannes in Openbaring 6 ook al gesien het wat as oorwinnaar uitgegaan het om te oorwin. Aan Hom moet ons dink as ons Heiland, ons in die 'Onse Vader' leer bid:: Laat u koninkryk kom. Dis om die oorwinnende krag van Jesus Christus en sy ryk wat hier gebid word. Hy leer ons, om dwars teen alle teenstand in, om die koms van sy ryk te bid. Dit gaan nou daarom dat ons hierdie Ruiter in sy oorwinnings-spoed byhou.

In die 'Onse Vader' het Christus hierdie bede 'n eie plek gegee. Eers het ons gebid: Laat u Naam geheilig word. Dit gaan voorop. Hoe sal ons ook om die koms van sy ryk kan bid as ons sy Naam nie eers heilig nie? Die heiliging van die Naam van God sal ons altyd in ons gebede sentraal stel. In die derde bede bid ons dat die ryk van God metterdaad op ons lewe beslag le, deurdat die wil van God gedoen word. Tussen die eerste en derde bede het Christus ons hierdie tweede bede op die lippe gele.

Ons bid daarin: Here God, laat u heerlik koninkryk oor die hele wereld kom. Laat die Ruiter op die wit perd uitry en alle teenstanders uit die pad vee. Werp die ryk van Satan neer en laat u ryk oorwin.

Wil ons daartoe deur u Woord en Gees regeer. Laat die hele aarde met u vrees vervul word, totdat die volkomenheid van u ryk kom en U alles sal wees in almal. Ons spreek nou oor:

DIE GEBED OM DIE KOMS VAN DIE RYK VAN GOD

  1. Deur ons persoonlike lewe;
  2. Deur die kerklike lewe;
  3. Met uitsig op die voleinding.

I Christus leer ons hier bid: Laat u koninkryk kom, laat die koninkryk van God kom. Jaseker, God is Koning. In die psalms word daar indrukwekkend oor gespreek. Byvoorbeeld Psalm 93: "Die Here is Koning, Hy beklee Hom met majesteit. Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag. Die wereld staan vas, dit wankel nie. " Of Psalm 95: "Die Here is die magtige God die groot Koning oor al die gode. Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. " Hoor ook Psalm 97 jubel: " Die Here regeer, die aarde moet juig, al die baie eilande moet bly wees". Of Psalm 99: "Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag. Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag. "

So het die koningpsalms van die koninklike heerlikheid van God as die Skepper van hemel en aarde gesing. Om iets van die heerlikheid te sien moet ons die eerste hoofstukke van ons Bybel lees. Daarin word die heerlikheid van die Skepper beskrywe. Hy het hemel en aarde geskep en heers daaroor. Dit nie alleen nie. Hy het die mens as sy onderkoning oor sy aarde aangestel. In Gen. 1: 28 het God vir die mens gese: " Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voels in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip. " Hoor hoe Psalm 8 oor die onderkoningskap van die mens sing: "U laat hom heers oor die werke van u hande, U het alles aan hom onderwerp. " (vers 7) So het God oor die skepping, met die mens as onderkoning, geregeer.

Ons ou gereformeerde teoloe het hierdie koningskap van die Here oor alle dinge: 'Die koningskap van sy mag' genoem. Magtig het God in die begin van ons mensheids-geskiedenis geregeer. Nie alleen oor die aarde nie, maar ook oor die hemel het sy heerskappy hom uitgestrek. Legioene van engele het daar die lof van Hom wat op die troon sit gesing. So was dit in die begin van die wereld geskiedenis, so het die egter nie gebly nie. Daar het opstand, rebellie, teen God, die koning van die wereld, gekom.

Dis nie om dowwe neute dat in sondag 48 die Satan as die grote vyand van God geteken word nie. As ons daar opgeroep word om te bid: Vernietig die werke van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen U verhef. Dis hy wat van die begin af die mensemoordenaar is. In die hemel het hy 'n jaloerse blik na die troon van God gewerp. Afguns en hoogmoed het in die skitterende troongees opgestaan. Hy het as God wil wees.

Op daardie oomblik het daar rewolusie onder troongeeste van God in die hemel uitgebreek. Die duiwel het kans gesien om die mens in sy val saam te sleep. Die onderkoning van God het teenoor sy Skepper gaan staan. Die opstand het hom van die hemel na die aarde verplaas. In sy val het hy Adam en die ganse mensheid saam gevat.

In Openbaring 12 lees ons hoe, na die hemelvaart van Christus, Migael en sy engele teen die draak en sy engele oorlog gevoer het. Die duiwel is oorwin en op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. Dan lees ons in vers 12 dat die duiwel met groot woede na die aarde neergedaal het omdat hy weet dat sy tyd min is. Die demoniese kragte en die stroom van goddeloosheid wat met die val oor die wereld losgebreek het, word nou verhewig. En die geskiedenis laat sien dat die aktiwiteit van Satan steeds meer toeneem namate die dag van onse Here Jesus Christus nader kom.

Is God dan geen Koning meer, het Satan die heerlike koninkryk van God vernietig? Het die koningpsalms ten onregte die majesteit van God besing? Het die owerste van hierdie wereld oorwin? Gemeente, ons God sou geen God wees nie as dit die einde sou wees. God is Koning en Hy laat Hom die koningskap nie ontneem nie. Inderdaad die Satan het owerste van hierdie wereld geword deur die mens, die onderkoning van God, agter hom te kry.

God het egter onmiddelik na die sondeval vir Hom 'n vastrapplek in hierdie wereld gevestig. In die moederbelofte van Gen. 3: 15 dat die nageslag van die vrou vir die duiwel die kop sal vermorsel, word die koninkryk aangekondig. Deur hierdie belofte het God direk begin om vir Christus in hierdie wereld in te bring. Die hele Ou-Testament laat sien hoe die koninkryk van van God toe reeds in hierdie wereld deurgebreek het. Maar gemeente, dit was toe nie meer net die koninkryk van Gods mag nie, maar dit het nou om die heerskappy oor die harte van mense gegaan. God neem nou deur sy krag sondige weerbarstige mense harte in beslag.

In die begin van die preek het ons gesien dat die ou gereformeerde teoloe die skepping die koninkryk van die mag van God genoem het. Wel, hulle het die oorwin van sondige menseharte met die sprekende naam van: die koninkryk van die genade van God, aangedui. Dis raak getipeer! Ons moet egter wel bedink dat die regering van die skepping van God onverminderd voort gegaan het. God het na die sondeval nie as koning van hierdie wereld afgetree nie, maar Hy het sy mag teen die woed en raas van die Satan in, staande gehou en deurgeset.

Nie deur die mensheid saam met die duiwel en sy engele ewig te verdoem nie, maar o wonder van genade deur sy mag toe te spits op die genadig oorwin van mense harte wat van nature die duiwel wil volg! As ons teen die agtergrond van die worsteling van God met die duiwel om mense harte, die Ou-Testament lees. Sien ons daarin aan die eenkant, die heerlikheid van God in sy genadevolle heerskappy oor mense harte en aan die anderkant hoe die duiwel sy volgelinge mobiliseer.

Dink aan die toring van Babel, in sondige hoogmoed het hulle 'n stad en toring gebou om vir hulle self 'n naam op die aarde te maak. Maar God het hulle oor die aarde verstrooi. Dink aan die wereldryke soos Egipte, Assirie en Babilon. Hoe het Egipte met alle mag geprobeer om Israel te vernietig. En Assirie wat gese het: "Sal ek nie met Jerusalem en sy gode kan doen wat ek met Samaria en sy gode gedoen het nie? " (Jes. 10: 11) Maar die Here se in vers 19: "Die bome wat in die bos, Assirie, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel. " Dink ook aan Nebukadnesar met sy trotse wereldryk wat tog vergaan het. Die vastrapplek van God, Israel was baie swak en kwesbaar.

Aan daardie kwesbare Israel het eeue lank die koninkryk van God gehang. Maar God het aangehou gemeente, en deur alles heen na die koms van die Messias heengewerk. Hy het die duiwel geen kans gegee om sy ryk te verbreek nie. Sy Seun die Messias het in die wereld ingekom. In ons Heiland het die koninkryk van God in lewende lywe voor ons te staan gekom. Seker dit was 'n ander koninkryk as wat Israel verwag het.

Israel het van 'n aards koninkryk gedroom, gelyk aan die ander koninkryke van die wereld. Hulle het die herstel van die ryk van koning Dawid verwag, wat die mag van die romeinse wereldryk sou verbreek. Daar was geen verwagting van die koninkryk van die genade van God in Jesus Christus nie. As die Fariseers vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God, die aardse ryk wat hulle verwag, kom. Word hulle pragtig op hul dwaling gewys as Christus vir hulle se; "Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan se: Kyk, hier is dit! of: Daar is dit, nie want die koninkryk van God is hier by julle. "

Met die genade karakter van die koninkryk van God wat in Jesus Christus persoonlik gekom het, het ook Johannes die doper sy moeite geken. Toe Johannes in die tronk hoor van die prediking en wonders wat Jesus doen, maar niks van 'n byl wat in magtige toorn gehanteer word nie, het hy sy dissipels gestuur om te vra: "Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? " Sy antwoord was: "Gaan vertel vir Johannes wat julle sien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie. "

So het ons Heiland laat sien hoe die koninkryk van God in Hom, in die verkondiging van blye boodskap en vergewing van sondes, baanbreek. In sy wonders het Christus die verlossende krag van die ryk van God geopenbaar. Die wonders is daarop toegespits dat die herstel van die lewe deur die genade van God sigbaar gemaak word. Die diepgang van die tweede bede in die 'Onse Vader' is nou vir ons sigbaar. Ons sien hoe die dissipels voor ons Heiland staan en hoor hoe Hy hulle leer bid: Laat U koninkryk kom!

Met hierdie bede het Christus sy dissipels vir die ryk wat kom, geannekseer. Deur sy genade het Hy op hulle harte beslag gele. Hulle is deur hierdie bede vir die ryk van God ingeset, vir die sendingsopdrag wat nou nou vir hulle gegee word: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. " Lyf hulle in by my ryk en onthou Ek staan agter julle by die worsteling om my ryk in hierdie wereld te laat kom.

Die boek Handelinge van die Apostels laat sien hoe die krag van die ryk van Christus deurset. Die hele boek kan met die woord spoed getipeer word. Vinnig brei die ryk hom van Jerusalem tot in Rome, die hart van die wereldryk, uit. Dit rol soos die klip wat Nebukadnesar gesien het, voort. Ons mag hier ook aan die Ruiter op die wit perd dink. Met sy oorwinnaarskroon storm Hy deur die geskiedenis om verder te oorwin. Daar is niks wat Hom kan ophou nie. Gemeente in sy spoed wil Hy ook ons in die spoed van die koninkryk saamvat. Daarby word nou deur antwoord 123 aangesluit.

Net soos by die eerste bede word ook hierdie bede van die 'Onse Vader' in enkele afsonderlike bedes opgesplit. Die eerste: Regeer ons so deur u Woord en u Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan u onderwerp. Dis die Ruiter op die wit perd uit Openbaring wat ons by die hand neem. Hy vat ons in sy spoed saam. Weg uit ons draadsittery en eenkant staan. Hy het ons nodig. Vir die magtige saak van Christus word ons in hierdie wereld gemobiliseer.

Eintlik bid ons met hierdie bede teen onsself in. Ons wat ons so maklik eenkant hou en deur ons eie sake in beslag geneem word, bid nou Here vat ons in die spoed van u ryk saam. Ons het so min vir u ryk oor, maar regeer u ons deur u Woord en Gees, dat die ou mens verbreek word. Vernuwe ons hart so dat dit vir die koms van u koninkryk sal brand. Hier bid ons teen alle selfvoldaanheid en draadsittery in ons lewe, in.

Ons bid regeer 'ons' deur u Woord en Gees en nie regeer die heidene of die ongelowiges nie. Ons bid regeer ons kerkmense deur u Woord en Gees. Die kategismus verwys daarby na Psalm 119: 5 "Ag, was my wee maar vas om u insettinge te onderhou!" Is dit wat in ons hart lewe? Bid ons die bede van Psalm 86: 11 "Leer my, Here, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam. "

II So leer Christus ons in hierdie tweede bede bid. Dat ons persoonlik met heel ons hart by die voortgang van die koninkryk ingeskakel word. Daar het antwoord 123 nie gestop nie, maar ons bid ook; bewaar en vermeerder u kerk; vernietig die werke van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen U verhef.

Ja nou mag die vraag op ons tong brand, maar wat het die kerk nou met die koninkryk van God uit te waai? Die spontaan en entoesias vir Christus in sy koninkryk werk word pastymaal deur Christene teenoor die passiewe en starre instituut van die kerk geplaas. Die kerk raak uit die tyd. Kerk toe gaan preke beluister en kakisasieklasse loop wat het dit met die spoed van die Ruiter op die wit perd te doen?

Gemeente dit het alles met die Ruiter te doen, dit kan nie beter gese word nie. Let op die twee woorde langs mekaar 'bewaar en vermeerder' u kerk. Dit word deur ons gebid met die oog op die koms van die konninkryk. Tereg is opgemerk dat die kerk die vuurherd van die koninkryk is. Hoe sal die koninkryk kan kom, hoe sal Christus harte vir sy ryk in hierdie wereld win, as daar geen kerk is nie?

In die kerk word harte vir Christus gewin en behou, deurdat elke sondag die evangelie verkondig word. Daar word die sakramente bedien. Daar het Christus die gawes van ampsdraers geskenk om sy kudde byeen te vergader. Vanuit die kerk send Christus sy christene uit om vir sy ryk te stry. Die twee woorde 'bewaar en vermeerder' u kerk, is 'n span wat mekaar aanvul. Die kerk kan nie vermeerder word as sy nie eers vergader en bewaar word nie. 'n Mens kan mos nie vir vermeerdering stry as daar nie bewaar word nie?

Ons leer hier die vereniging van die statiese met die dinamiese bely. Ons mag ons nie op net een van die twee blind staar nie. Hulle is in die kerkvergaderende werk deur Hom saamgevoeg. Hy bewaar en vermeerder sy kerk. In hierdie bede bid ons vir beide.

Ons bid in hierdie tyd van afval van die geloof en kerkverlating, Here bewaar u kerk. Bewaar by die fondament van apostels en profete. Here laat die dwaling en kettery geen vastrapplek in u kerk kry nie. Wil haar by die suiwere prediking van die Evangelie bewaar. As daar so vir die bewaring van die kerk gebid word, sal ons ook nie anders kan as om ons met al ons kragte vir die opbou van die gemeente in te set nie.

Dan sal ons onsself met al die gawes wat Christus aan elkeen van ons skenk vir die opbou van die liggaam van Christus gee. Daar is in die kerk so baie werk te doen. Nie alleen in ampsdiens nie, maar ook in siekes en eensames besoek. Onderling mekaar deur Bybelstudie opbou. Die sorg vir die voortgang van die kerklike lewe nie alleen deur finansiele offers nie maar deur al ons gawes in te set. So bid ons met hierdie bede teen alle kerklike onverskilligheid.

Daarlangs bid ons ook Here, vermeerder u kerk. Dit is die dinamiese in die bede om die koms van die koninkryk. Daardie element in die werk van kerkvergadering deur Christus moet ons nie aan Pinkstergroepe en evangeliese groepe oorlaat nie. Dis nie waar dat die opwekkingsfeer in die pinksterbeweging saliger is as 'n kerkdiens met Woordbediening nie.

Want ons moet daarop let dat ons met antwoord 123 steeds bid vir u kerk! Ons bid nie vir ons kerk, ons eie begeertes nie. Ons bid vir die kerk van Christus. Met ons gebed le ons die kerk van God vir die troon van God neer, en vra: Here vermeerder u kerk. As ons net om bewaring bid en daarvir stry dan kan ons maklik met ons eie intieme klub te vrede word. Daardeur sal verrdorring en verstarring intree.

Daarom bid ons ook: Here bewaar ons vir daardie kerkisme, laat ons blik ruim bly dat ons nie alleen by bewaring vas haak nie maar ook die vermeerdering op die hart dra. Maak ons aktief in die werk van sending of evangelisasie. Gee dat ons getuienis in die politiek en sosiale lewe gehoor word. Laat ons as u gemeente nie by die ou dinge bly net omdat hul oud is nie. Laat ons ook nie die nuwe soek omdat dit nuut is nie. Leer ons Here ons oe vir u weg oop te hou.

In hierdie bede bid ons ook vir die jeug van die kerk van Christus. Here wil ook in hierdie tyd aan die lammers van u kudde dink. Daar is so baie verlyding deur die normloosheid wat hand oor hand toeneem. Here hulle is die kinders van u verbond, laat ook in en deur hulle u koninkryk kom. Leer ons om so met u kerkjeug om te gaan dat ons hulle nie afstoot nie, maar dat ons met aandag na hulle vrae luister. Leer ons die regte antwoorde wat hulle in u wee laat volhard. Die kategismus verwys na Psalm 122 "Bid om die vrede vir Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet rustig lewe. " Laat daar geen generasie kloof ontstaan maar gee dat oud en jonk mekaar vashou, laat die vrede in Jerusalem blom.

So bid ons in die tweede bede om die voortgang van die koninkryk. Daarby bid ons ook teen alle bose magte wat die kerk van God bedreig. Strydverdig word dit geformuleer: Vernietig die werke van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen u verhef, en verder ook alle bose planne wat teen u heilige Woord bedink word. Die manne wat die kategismus opgestel het, het goed geweet hoe die kerk deur die duiwel bedreig word. Hulle het die duiwel ernstig opgeneem, daarmee gereken dat hy daar is en uiterst aktief besig sal wees.

Daarin het hulle langs Luther gestaan, wat sy inkpot teen die muur gegooi het waar hy gemeen het dat hy die duiwel sien. Vernietig, laat Ursinus en Olevianus ons hier smeek, vernietig die werke van die duiwel. Teenoor die koninkryk van God staan die werke van satan. Die koninkryk is 'n heerlike eenheid. Die duiwel daarteenoor het net werke, insidentele aggressie. Antwoord 123 noem 1 aspek van die werke van Satan, naamlik: vernietig ook alle bose planne wat teen u heilig Woord bedink word.

Ons word opgeroep om ons teen die satan te verweer. Ons weet, daar is baie moderne christene wat nie meer van 'n duiwel wil weet nie. Dis 'n verouderde geloof se hulle! Hoogstens wil hul nog van die sataniese, die demoniese, praat. Die Skrif leer ons egter wel anders. Agter die demoniese moet ons die gees uit die afgrond sien staan. Here bid ons verbreek sy bose werke, vernietig die planne wat hy teen u kerk smee. Here God die wereld is vol van chaos en geweld. U teenstander wil deur geweld en terreur hierdie wereld vernietig. Keer dit teen hom, o Here.

Here God, u weet hoe hy jonge lewes verwoes deur verslawing en vreeslike siektes. Here God verydel sy bose planne wat hy teen u heilig Woord bedink. Die manne wat hierdie woorde geskryf het, het in die turbulente sestiende eeu van marteling en vervolging geweet. Elke eeu het sy eie openbaring van sataniese magte. Daar is alle rede om ook vandag as gemeente van Jesus Christus teen die bose planne van die duiwel te bid.

III Dis indrukwekkend soos antwoord 123 eindig: Uit die midde van die deur satan bedreigde wereld, reik die gebed van die kerk van God na die einde, deur te bid: totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles sal wees in almal. In hierdie tweede bede bid ons ook om die triomf van die koninkryk van God. Laat U koninkryk kom, leer Christus vir ons om te bid. Dit beteken ook: Here ons staan vandag nog midde in die stryd, waar U ons aan die front geplaas het. Maar bedink: op die klere by sy heupe van die Ruiter op die wit perd is daar 'n naam geskrywe, naamlik: "Die Koning van die konings en die Here van die heersers" Hy sal die dier uit die see en die valse profeet oorrompel en lewendig in die vuurpoel gooi, wat met swael brand. Vir Christus is die oorwinning!

Broeders en susters leef, stry, en bid ons vanuit hierdie vooruitsig? Reik ons gebed hom uit na die grote dag van Jesus Christus? Want die gebed dring ons ook tot selfbeproewing. Staan ons in ons gebede en in ons lewe ooreenkomstig ons gebed aan die front van Christus? As dit nie so is nie dan is dit nou die tyd van ons lewe om ons lewe in die gebed te hersien. Om ons tot strydbare burgers van die ryk van ons Koning te bekeer.

Laat U koninkryk kom. Here God, laat hierdie wereld tot voleinding kom. Laat die dag van U Seun spoedig kom. Here God, ons verlang na die dag. Ons verlang om U aangesig, U goddelik en heerlik aangesig te sien. Laat U koninkryk tog kom o Here?

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)